Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 1/1 bl. 24-29
  • Ons het van ons jeug af aan ons Skepper gedink

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het van ons jeug af aan ons Skepper gedink
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My Christelike erfenis
  • Ons vind baat by goeie voorbeelde
  • Ons woon streekbyeenkomste by
  • Die voltydse bediening
  • Opleiding wat ons lewenslank sou bybly
  • Die huwelik en voortgesette diens
  • Skool en ons nuwe toewysing
  • Verdere seëninge
  • Baie waarvoor ek dankbaar is
  • Die vele take van moeders
    Ontwaak!—2002
  • Alles net as gevolg van ’n glimlag!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • My suksesvolle soeke na die betekenis van die lewe
    Ontwaak!—1995
  • Liefde identifiseer ware Christene — Ons moet ons kosbare eenheid beskerm
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 1/1 bl. 24-29

Lewensverhaal

Ons het van ons jeug af aan ons Skepper gedink

SOOS VERTEL DEUR DAVID Z. HIBSHMAN

“As ek die einde van my lewe bereik het, hoop ek werklik dat ek aan Jehovah getrou gebly het. Ek smeek hom om na my David om te sien. Dankie vir hom, Jehovah, en vir ons huwelik. So wonderlik, so gelukkig!”

STEL jou my emosies voor toe ek hierdie laaste inskrywing in my vrou se dagboek gevind het nadat ek haar in Maart 1992 begrawe het. Net vyf maande tevore het ons Helen se 60ste herdenking in die voltydse bediening gevier.

Ek onthou die dag in 1931 duidelik toe ek en Helen langs mekaar gesit het by die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, VSA. Helen was nog nie eers 14 jaar oud nie, maar sy het selfs meer as ek besef hoe betekenisvol daardie gebeurtenis was. Helen se entoesiasme vir die bediening is kort daarna geopenbaar toe sy en haar weduwee-moeder pioniers geword het, soos voltydse evangeliedienaars onder Jehovah se Getuies genoem word. Hulle het hulle gerieflike huis opgegee om die predikingswerk in die plattelandse gebiede van die suidelike Verenigde State te doen.

My Christelike erfenis

In 1910 het my ouers met hulle twee klein kindertjies van die oostelike deel van Pennsilvanië na Grove City, in die westelike deel van die staat, getrek. Daar het hulle ’n deposito op ’n beskeie huisie gemaak en bedrywige lede van die Gereformeerde Kerk geword. Kort daarna het William Evans, ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, hulle besoek. My pa, wat toe maar net in sy middeltwintigerjare was, en my ma, wat vyf jaar jonger was, het na hierdie vriendelike Wallieser geluister en hom vir ’n maaltyd genooi. Weldra het hulle die Bybelwaarhede aangeneem wat hulle geleer het.

Om nader aan die gemeente te wees, het my pa met die gesin sowat 40 kilometer na die dorp Sharon getrek. ’n Paar maande later, in 1911 of 1912, is my pa en ma gedoop. Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, het die dooptoespraak gehou. Ek is op 4 Desember 1916 gebore, toe my ouers reeds vier kinders gehad het. Toe ek gebore is, is daar gesê: “Nog ’n broer om lief te hê.” Vandaar my naam, David, wat “Geliefde” beteken.

Toe ek vier weke oud was, is ek na my eerste streekbyeenkoms geneem. In daardie vroeë dae het my pa en my ouer broers etlike kilometers na die gemeentelike vergaderinge geloop, terwyl my ma my en my suster op die trem geneem het. Vergaderinge het uit oggend- en middagsessies bestaan. By die huis het ons gesprekke dikwels gedraai om artikels in Die Wagtoring en The Golden Age, ’n vroeëre naam vir die Ontwaak!

Ons vind baat by goeie voorbeelde

Baie pelgrims, soos reisende sprekers destyds genoem is, het ons gemeente besoek. Hulle het gewoonlik ’n dag of wat saam met ons deurgebring. Een spreker wat ek baie goed onthou, is Walter J. Thorn, wat aan sy Grootse Skepper gedink het in ‘die dae van sy jonkheid’ (Prediker 12:1). Toe ek ’n seuntjie was, het ek saam met my pa gegaan om die “Fotodrama van die Skepping” te vertoon, ’n beeld- en klankopname wat uit vier dele bestaan het en oor die geskiedenis van die mensdom gehandel het.

Hoewel broer Evans en sy vrou, Miriam, nie kinders gehad het nie, het hulle vir ons gesin geestelike ouers en grootouers geword. William het my pa altyd as “Seun” aangespreek, en hy en Miriam het die evangelisasiegees by ons gesin ingeboesem. In die vroeë deel van die 20ste eeu het broer Evans ’n paar keer na Wallis teruggegaan om Bybelwaarheid na die gebied om Swansea te neem. Daar het hy as die prediker van Amerika bekend gestaan.

In 1928 het broer Evans uit sy sekulêre werk bedank en in die heuwels van Wes-Virginië die predikingswerk begin doen. My twee ouer broers, die 21-jarige Clarence en die 19-jarige Carl, het saam met hom gegaan. Ons seuns het al vier baie jare in die voltydse bediening deurgebring. Trouens, ons almal het in ons jong dae as reisende opsieners van Jehovah se Getuies gedien. Nie lank gelede nie het my ma se jongste suster, Mary, wat nou diep in haar negentigerjare is, vir my geskryf: “Hoe dankbaar is ons almal tog dat broer Evans ’n ywer vir die bediening gehad het en Grove City besoek het!” Tannie Mary is nog iemand wat sedert haar jeug aan haar Skepper gedink het.

Ons woon streekbyeenkomste by

Net my pa en Clarence kon die geskiedkundige streekbyeenkoms by Cedar Point, Ohio, in 1922 bywoon. Maar teen 1924 het ons ’n motor gehad, en ons hele gesin het na die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, gegaan. Daar is van ons kinders verwag om ons eie spaargeld te gebruik om gedurende die agt dae lange byeenkoms vir ons maaltye te betaal. My ouers se beskouing was dat almal in die gesin moes leer om hulleself te onderhou. Ons het dus hoenders en konyne geteel en byekorwe gehad, en ons seuns het almal koerante afgelewer.

Toe die tyd aanbreek vir die streekbyeenkoms in 1927 in Toronto, Kanada, het ons ’n ses maande oue bababoetie, Paul, gehad. Ek moes by die huis bly en met die hulp van ’n getroude tante na Paul kyk, terwyl my ouers saam met die ander kinders na Toronto gegaan het. Ek is beloon met tien dollar (R40), wat ek gebruik het om vir my ’n nuwe pak klere te koop. Ons is altyd geleer om netjies geklee te wees vir vergaderinge en om ons klere op te pas.

Teen die tyd dat ons die onvergeetlike streekbyeenkoms in 1931 in Columbus, Ohio, bygewoon het, was Clarence en Carl getroud en het hulle saam met hulle vrouens pionierdiens gedoen. Hulle het elkeen in ’n tuisgemaakte woonwa gebly. Carl is met Claire Houston van Wheeling, Wes-Virginië, getroud, en dit is waarom ek by die streekbyeenkoms in Columbus langs Claire se jonger suster, Helen, gesit het.

Die voltydse bediening

Ek het in 1932 toe ek 15 was my hoërskoolopleiding voltooi en die volgende jaar ’n gebruikte motor afgelewer by my broer Clarence, wat in Suid-Carolina pionierdiens gedoen het. Ek het vir die pionierdiens aansoek gedoen en saam met Clarence en sy vrou begin werk. Helen het op daardie stadium in Hopkinsville, Kentucky, aan die pionierdiens deelgeneem, en ek het vir die eerste keer aan haar geskryf. Sy het my brief beantwoord en gevra: “Is jy ’n pionier?”

In my brief—Helen het dit gehou tot haar dood toe byna 60 jaar later—het ek geantwoord: “Ek is, en ek hoop dat ek altyd een kan wees.” In daardie brief het ek vir Helen vertel hoe ek die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld in my predikingswerk aan geestelikes en regsgeleerdes gegee het.

In 1933 het my pa vir my ’n tent op wiele gemaak—’n woonwa wat 2,4 meter lank en 2 meter wyd was met kante van seil wat om dun stutpale gepas het en met ’n venster voor en agter. Dit was vir die volgende vier jaar van pionierdiens my beskeie woonplek.

In Maart 1934 het Clarence en Carl, hulle vrouens, Helen en haar moeder, Clarence se skoonsuster en ek—agt van ons—weswaarts gegaan om die streekbyeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, by te woon. Party het in my woonwa gery en geslaap. Ek het in die motor geslaap, terwyl die res verblyf gehuur het. Aangesien ons probleme met die motor gehad het, het ons op die tweede dag van die sesdaagse streekbyeenkoms in Los Angeles aangekom. Daar kon ek en Helen, op 26 Maart, uiteindelik ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer.

By die streekbyeenkoms het Joseph F. Rutherford, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, persoonlik met al die pioniers ’n vergadering gehou. Hy het ons aangemoedig en gesê dat ons moedige stryders vir Bybelwaarheid is. By daardie geleentheid is voorsiening gemaak om pioniers geldelik by te staan sodat hulle hulle bediening kon voortsit.

Opleiding wat ons lewenslank sou bybly

Toe ons van die streekbyeenkoms in Los Angeles af teruggekeer het, het ons almal die Koninkryksboodskap aan mense in hele distrikte in Suid-Carolina, Virginië, Wes-Virginië en Kentucky verkondig. Jare later het Helen van hierdie tyd geskryf: “Daar was nie ’n gemeente wat ons kon ondersteun nie, ook nie vriende om te help nie, omdat ons weliswaar vreemdelinge in ’n vreemde land was. Maar ek weet nou dat ek opleiding gekry het. Ek het ryk geword.”

Sy het gevra: “Wat doen ’n jong meisie met haar tyd wanneer sy nie by haar vriende en haar huis is nie? Wel, dit was nie so erg nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit verveeld was nie. Ek het baie gelees. Ons het nooit nagelaat om ons Bybellektuur te lees en te studeer nie. Ek het na aan my moeder gebly en geleer om die geld wat ons gehad het te behartig, die inkopies te doen, pap bande om te ruil, te kook, naaldwerk te doen en die predikingswerk te doen. Ek is oor niks spyt nie en sou dit met graagte weer doen.”

Helen en haar moeder was daarmee tevrede om daardie jare in ’n klein woonwa te bly, hoewel haar moeder ’n mooi huis besit het. Ná die streekbyeenkoms in 1937 in Columbus, Ohio, het Helen se moeder se gesondheid versleg en is sy in die hospitaal opgeneem. Sy het in November 1937 in haar toewysing in Philippi, Wes-Virginië, gesterf.

Die huwelik en voortgesette diens

Ek en Helen is op 10 Junie 1938 gedurende ’n eenvoudige plegtigheid getroud in die huis waarin sy gebore is in Elm Grove, naby Wheeling, Wes-Virginië. Ons liewe broer Evans, wat ons gesin etlike jare voor ek gebore is met Bybelwaarheid in aanraking gebring het, het die troutoespraak gehou. Ná die troue was ek en Helen van plan om weer in die oostelike deel van Kentucky aan die pionierdiens deel te neem, maar tot ons groot verbasing is ons genooi om sonewerk te doen. Hierdie werk het behels dat ons groepe van Jehovah se Getuies in die westelike deel van Kentucky en dele van Tennessee besoek om hulle in hulle bediening te help. Daar was toe net sowat 75 van hierdie Koninkryksverkondigers in al die plekke wat ons besoek het.

Op daardie tydstip het nasionalisme die denke van baie beïnvloed, en ek het verwag dat ek binnekort weens my Christelike neutraliteit in die tronk gesit sou word (Jesaja 2:4). Maar danksy my predikingsbedrywighede het ek ’n klassifikasie van die dienspligraad ontvang wat my in staat gestel het om voort te gaan in die voltydse bediening.

Toe ons met die reisende bediening begin het, het byna almal iets gesê oor hoe jonk ons was. In Hopkinsville, Kentucky, het ’n Christensuster Helen omhels en gevra: “Onthou jy my?” In 1933 het Helen vir haar getuig by die plaaswinkel wat haar man bestuur het. Sy was ’n Sondagskoolonderwyseres, maar nadat sy die boek gelees het wat Helen by haar gelaat het, het sy voor die klas opgestaan en om verskoning gevra omdat sy hulle onskriftuurlike leerstellings geleer het. Nadat sy uit die kerk bedank het, het sy Bybelwaarhede in haar gemeenskap begin verkondig. Ek en Helen het drie jaar lank in die westelike deel van Kentucky gedien, en daardie suster en haar man het hulle huis ons huis gemaak.

In daardie dae het ons klein plaaslike byeenkomste gehad, en A. H. Macmillan het een van hierdie byeenkomste bedien. Hy het in Helen se ouers se huis gebly toe Helen ’n kind was, en daarom het hy verkies om gedurende die byeenkoms saam met ons in ons vyf meter lange woonwa te bly, waar ons ’n ekstra bed gehad het. Hy het ook in die dae van sy jonkheid aan sy Grootse Skepper gedink, aangesien hy sy lewe in 1900, toe hy 23 jaar oud was, aan Jehovah toegewy het.

In November 1941 is die werk van die reisende broers tydelik gestaak, en ek is as ’n pionier na Hazard, Kentucky, gestuur. Ons het weer eens saam met my broer Carl en sy vrou, Claire, gewerk. Hier het Joseph Houston, Helen se neef, by ons aangesluit en pionierdiens begin doen. Hy was byna 50 jaar lank in die voltydse bediening, maar hy het skielik in 1992 aan ’n hartaanval gesterf terwyl hy getrou gedien het by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York.

In 1943 is ons na Rockville, Connecticut, gestuur. Dit was vir my en Helen as ’t ware ’n ander wêreld, aangesien ons daaraan gewoond was om in die suide die predikingswerk te doen. In Rockville het Helen gereeld meer as 20 tuisbybelstudies per week gehou. Uiteindelik het ons ’n beskeie kamertjie gehuur vir ’n Koninkryksaal, en die kern van ’n klein gemeente is georganiseer.

Terwyl ons in Rockville gedien het, is ons genooi om die vyfde klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, by te woon. Ons was baie bly toe ons uitvind dat Aubrey en Bertha Bivens, vriende van ons pionierdae in Kentucky, ons klasmaats sou wees.

Skool en ons nuwe toewysing

Hoewel ons nog redelik jonk was, was die meeste van ons klasmaats selfs jonger. Ja, hulle het gedurende hulle jeug aan hulle Grootse Skepper gedink. Ons graduering was in Julie 1945, net toe die Tweede Wêreldoorlog ten einde geloop het. Terwyl ons vir ons sendingtoewysings gewag het, het ons saam met die Flatbush-gemeente in Brooklyn, New York, gewerk. Eindelik het ons op 21 Oktober 1946, saam met ses ander klasmaats, waaronder die Bivense, na ons nuwe tuiste in Guatemalastad, Guatemala, gevlieg. Op daardie stadium was daar minder as 50 Getuies van Jehovah in daardie hele Sentraal-Amerikaanse land.

In April 1949 is ’n paar van ons as sendelinge gestuur na Quetzaltenango, die tweede grootste en belangrikste stad in die land. Hierdie stad is meer as 2 300 meter bo seevlak geleë, en die berglug is fris en suiwer. Helen het ons werk hier opgesom deur te skryf: “Dit was ons voorreg om in tientalle dorpies die predikingswerk te doen. Ons het ongeveer vieruur in die oggend opgestaan en met ’n bus (wat dikwels oprolbare seile pleks van vensters gehad het) na ’n afgeleë dorp gegaan. Daar het ons ongeveer agt uur lank velddiens gedoen voordat ons in die aand teruggekeer het.” Vandag is daar gemeentes in baie van hierdie plekke, insluitende ses in Quetzaltenango.

Weldra was daar ’n behoefte aan sendelinge in Puerto Barrios aan die Karibiese kus, die derde grootste stad in Guatemala. Ons geliefde vriende die Bivense, saam met wie ons vyf jaar lank in Guatemala gedien het, was onder diegene wat na hierdie nuwe toewysing gestuur is. Die afskeid was baie swaar en het ’n leemte in ons lewe gelaat. Met net ek en Helen wat in die sendinghuis oorgebly het, het ons na ’n klein woonstel getrek. In 1955 het ek en Helen ’n nuwe toewysing in die meer tropiese stad Mazatenango aanvaar. My jongste broer, Paul, en sy vrou, Dolores, wat in 1953 aan Gilead gegradueer het, het daar gedien net voordat ons daar aangekom het.

Teen 1958 was daar meer as 700 Getuies, 20 gemeentes en drie kringe in Guatemala. Ek en Helen het weer reisende werk gedoen waarin ons klein groepies Getuies besoek het asook verskeie gemeentes, insluitende die een in Quetzaltenango. Toe, in Augustus 1959, is ons gevra om terug te keer na Guatemalastad, waar ons by die takkantoor gewoon het. Ek het die toewysing ontvang om by die takkantoor te werk, terwyl Helen ’n verdere 16 jaar met sendingdiens voortgegaan het. Toe het sy ook in die takkantoor begin werk.

Verdere seëninge

Jare gelede het dit gelyk asof ek altyd die jongste was onder diegene wat Jehovah dien. Nou is ek dikwels die oudste, soos dit die geval was toe ek die skool vir takkomiteelede by Patterson, New York, in 1996 bygewoon het. Net soos ek gedurende my jeug soveel hulp van bejaardes ontvang het, was dit in onlangse dekades my voorreg om talle jongmense te help wie se begeerte dit is om gedurende hulle jeug aan hulle Skepper te dink.

Jehovah gaan voort om seëninge oor sy volk hier in Guatemala uit te stort. In 1999 was daar meer as 60 gemeentes in Guatemalastad. En in die noorde, suide, ooste en weste is daar baie meer gemeentes en duisende verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk. Die minder as 50 Koninkryksverkondigers wat hier was toe ons sowat 53 jaar gelede hier aangekom het, het toegeneem tot baie meer as 19 000!

Baie waarvoor ek dankbaar is

Niemand gaan deur die lewe sonder probleme nie, maar ons kan altyd ons ‘sorg op die HERE werp’ (Psalm 55:23). Hy onderskraag ons dikwels deur middel van die ondersteuning van liefdevolle maats. ’n Paar jaar voor haar dood, het Helen my byvoorbeeld ’n klein geraamde plaat gegee waarop die Bybelteks in Hebreërs 6:10 gegraveer is: ‘God is nie onregverdig sodat hy nie let op jou werk en die liefde wat jy teenoor Hom geopenbaar het deurdat jy Sy volk gedien het en nog dien nie.’—Weymouth.

Haar aangehegte briefie het deels gesê: “My skat, daar is so min wat ek jou kan gee, behalwe AL MY LIEFDE . . . Hierdie teks is so gepas vir jou, en ek wil hê dat jy dit op jou lessenaar moet sit, nie omdat ek dit vir jou gegee het nie, maar omdat dit op jou van toepassing is in jou lang jare van diens.” Tot vandag toe is die plaat op my lessenaar in my kantoor in die Guatemala-takkantoor.

Ek het Jehovah van my jeug af gedien, en nou op my gevorderde leeftyd dank ek Jehovah vir my goeie gesondheid wat my in staat stel om my toegewese pligte te behartig. Terwyl ek gereeld die Bybel lees, kom ek dikwels tekste teë wat ek dink my dierbare Helen in haar Bybel sou onderstreep het. Dit het by my opgekom toe ek weer Psalm 48:14 (NW) gelees het: “Hierdie God is ons God tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig. Hy sal ons lei totdat ons sterf.”

Dit is vir my ’n plesier om ander te vertel van die visioen van die opstandingsdag wanneer mense van alle voormalige nasies hulle geliefdes uit die dood in ’n nuwe wêreld sal verwelkom. Wat ’n vooruitsig tog! Watter trane van vreugde sal dan tog gestort word wanneer ons onthou dat Jehovah inderdaad die God is “wat die terneergedruktes vertroos”!—2 Korintiërs 7:6.

[Prent op bladsy 25]

Kloksgewys van links bo: My ma, pa, tannie Eva en my broers Carl en Clarence, 1910

[Prente op bladsy 26]

Saam met Helen in 1947 en in 1992

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel