Die boek Daniël word verduidelik!
BYEENKOMSGANGERS was gretig om hulle eie eksemplaar te kry van die nuwe boek met 320 bladsye, Gee ag op Daniël se profesie! Hoe het hulle oor die boek gevoel? Kyk na wat party gesê het.
“Soos die meeste tieners geniet ek dit nie werklik om antieke geskiedenis te bestudeer nie. Toe ek dus my eksemplaar van die nuwe boek Gee ag op Daniël se profesie! ontvang het, het ek nie juis baie daarna uitgesien om dit te lees nie, maar ek het probeer. Ek het beslis die verkeerde gesindheid gehad! Dit is een van die beste boeke wat ek nog gelees het. Dit is werklik boeiend! Ek voel nie meer asof ek oor ’n verslag lees wat duisende jare gelede gebeur het nie. Vir die eerste keer voel ek dat ek myself in Daniël se plek kan stel. Ek kan my werklik indink hoe hy moes gevoel het toe hy van sy gesin af weggeneem is, na ’n vreemde land gestuur is en sy onkreukbaarheid herhaaldelik getoets is. Baie dankie vir hierdie boek.”—Anya.
“Wat my die meeste help, is die onmiskenbare boodskap dat Jehovah heeltemal in beheer is van sake wat sy volk raak. Deur middel van Daniël se visioene en drome en dié van ander wat hy uitgelê het, is dit duidelik dat ons God nooit sal toelaat dat enigiets meer of minder sal gebeur as wat hy hom voorgeneem het nie. Dit versterk ons hoop in die profetiese afbeeldings wat in die Bybel gevind word aangaande die nuwe wêreld wat hy tot stand gaan bring.”—Chester.
“Ek het baie gehou van die manier waarop julle Daniël laat lewe het. Die manier waarop julle die aandag op sy sorge en bekommernisse gevestig het, het my laat voel dat ek hom beter ken. Ek kon beter verstaan waarom Jehovah so lief vir hom was. Gedurende al sy beproewinge en vervolginge was hy nie oor homself bekommerd nie. Wat vir hom van die grootste belang was, was Jehovah en Sy wonderlike naam. Baie dankie dat julle hierdie punte laat uitstaan het.”—Joy.
“Dit is net waarvoor ons gewag het! Daar is nog nooit voorheen gewys hoeveel van die boek Daniël werklik op elkeen van ons van toepassing is nie. Nadat ek die nuwe boek byna deurgelees het die aand nadat ek dit ontvang het, moes ek eenvoudig stop en Jehovah in gebed bedank.”—Mark.
“Ons het nie verwag dat dit so ’n groot impak op ons kinders sou hê nie. Hulle is vyf en drie jaar oud. . . . Hoewel die verhale van Daniël, Hananja, Misael en Asarja nog altyd onder hulle gunstelingverhale in My boek met Bybelverhale was, het die aanbieding in die Daniël se profesie-boek ’n indruk op hulle gemaak wat ons nie verwag het nie. Al is hulle so jonk lyk dit asof hulle hulle met hierdie regverdige jong manne kan vereenselwig. Watter wonderlike rolmodelle het ons kinders tog! Wat ’n uitstekende hulpmiddel het julle ons tog gegee! Dankie, baie dankie!”—Bethel.
“Ek het gevoel asof ek daar saam met die jong Hebreeuse seuns was terwyl hulle die toetse van hulle geloof verduur het; en dit het my aangespoor om my eie geloof te ondersoek. Die hersieningsvenster met die titel “Wat het jy geleer?” laat die hoofstukke se inhoud in ’n mens se hart insink. Weer eens dankie vir nog ’n meesterstuk.”—Lydia.