Ons is die soort wat geloof het
Die Christelike hoop word in Senegal verkondig
VIS is al sedert vervloë tye ’n stapelvoedsel. Mense vang al duisende jare lank vis in die aarde se oseane, mere en riviere. Party van Jesus Christus se apostels was vissers op die See van Galilea. Maar Jesus het hulle van ’n nuwe soort visserswerk bewus gemaak. Dit was geestelike visserswerk waarby nie net die vissers baat sou vind nie, maar ook die visse.
Jesus het vir die visserman Petrus die volgende hieroor gesê: “Van nou af sal jy mense lewend vang” (Lukas 5:10). Hierdie soort visserswerk word vandag in meer as 230 lande gedoen, insluitende Senegal (Matteus 24:14). Hier verkondig hedendaagse “vissers van mense” hulle Christelike hoop moedig aan ander.—Matteus 4:19.
Senegal is aan die mees westelike punt van Afrika geleë. Dit strek van die sandwoestyngebiede wat aan die Sahara grens in die noorde, tot by die klam woude van die Casamance-streek in die suide. Senegal is ’n land waar skroeiende woestynwinde sowel as koel, verfrissende briese van die Atlantiese Oseaan af waai. Meer as negemiljoen mense woon hier. Die inwoners van Senegal is bekend vir hulle gasvryheid. Die meeste is nie verklaarde Christene nie. Baie is skaapwagters, terwyl ander beeste, kamele en bokke oppas. Daar is ook boere, wat grondboontjies, katoen en rys verbou. Ja, en daar is ook vissers, wat nette vol vis trek uit die Atlantiese Oseaan en uit die talle groot riviere wat deur die land kronkel. Die vissersbedryf speel ’n belangrike rol in die ekonomie van Senegal. Trouens, die beroemde nasionale gereg is ceebu jën, ’n smaaklike gereg van rys, vis en groente.
“Vissers van mense”
Daar is 863 ywerige verkondigers van God se Koninkryk in Senegal. Geestelike visserswerk het in die vroeë 1950’s hier begin. ’n Takkantoor van die Wagtoringgenootskap is in 1965 in Dakar, die hoofstad, geopen. “Vissers”, of sendelinge, uit verskeie afgeleë lande het begin aankom. “Visvangbedrywighede” het begin, en die verkondiging van die Christelike hoop in Senegal het geleidelik vooruitgegaan. Nuwe takfasiliteite is uiteindelik in Almadies gebou, in die buitewyke van Dakar, en dit is in Junie 1999 aan Jehovah toegewy. Watter vreugdevolle tyd was dit tog!
Die uitdaging om die waarheid aan te neem
Die boodskap van hoop in God se Woord word gereeld verkondig aan mense uit ’n groot verskeidenheid agtergronde, en sommige het gunstig daarop gereageer. Hoewel baie van hulle geen kennis van die Bybel het nie, maak dit hulle bly om te leer dat die beloftes wat Jehovah God aan die getroue profete van die ou tyd gemaak het binnekort vervul gaan word.
Dit verg dikwels moed om ’n ferm standpunt vir Christelike beginsels in te neem, veral wanneer gesinstradisies en -gebruike in die gedrang is. Veelwywery word byvoorbeeld deur baie in Senegal beoefen. Kyk byvoorbeeld na die geval van ’n man wat twee vrouens gehad het toe hy die Bybel begin bestudeer het. Sou hy die moed hê om die Christelike waarheid aan te neem en volgens die skriftuurlike vereiste te lewe om die man van net een vrou te wees? (1 Timoteus 3:2). En sou hy by die vrou van sy jeug bly, die vrou met wie hy eerste getrou het? Dit is wat hy gedoen het, en hy dien nou as ’n ywerige ouer man in een van die groter gemeentes in die Dakar-omgewing. Sy eerste vrou, sowel as al 12 sy kinders, 10 by sy eerste vrou en 2 by sy voormalige tweede vrou, het ook die waarheid aangeneem.
Iets anders wat dit dalk vir mense moeilik maak om die Christelike hoop aan te neem, is ongeletterdheid. Beteken dit dat ’n ongeletterde nie die waarheid kan aanneem en uitleef nie? Glad nie. Kyk na die voorbeeld van Marie, ’n hardwerkende moeder van agt jong kinders. Sy het gou gesien hoe belangrik dit is om elke dag ’n Bybelteks met haar kinders te bespreek voordat hulle skool toe en sy werk toe gaan. Maar hoe kon sy dit doen, aangesien sy nie kon lees nie? Vroeg elke oggend het sy die boekie Ondersoek die Skrif elke dag geneem en langs die sanderige straat voor haar huis gestaan. Sy het die mense wat daar verbygeloop het, gevra of hulle kan lees. Wanneer sy iemand gekry het wat kan lees, het sy die boekie vir hom gegee en in erns gesê: “Ek kan nie lees nie. Sal jy dus asseblief hierdie deel vandag vir my lees?” Sy het aandagtig geluister terwyl hy lees. Dan het sy die verbyganger bedank en vinnig in haar huis ingegaan en ’n lewendige bespreking van die teks met haar kinders gehad voordat hulle skool toe moes gaan!
Alle soorte mense reageer
In Senegal kan mense gevind word waar hulle in die strate sit en vis, groente of vrugte op die mark verkoop of waar hulle onder ’n reusagtige kremetartboom sit en ataya drink, ’n ietwat bitter groen tee. Twee broers, wat vasbeslote was om die goeie nuus te verkondig aan almal wat hulle ontmoet, het met ’n gestremde man gepraat wat in die straat gebedel het. Nadat hulle hom gegroet het, het hulle gesê: “Baie mense gee vir jou geld, maar hulle neem nie tyd om met jou te praat nie. Ons het gekom om met jou te praat oor iets baie belangriks wat jou toekoms raak.” Die bedelaar was verbaas. “Ons wil jou graag ’n vraag vra”, het die broers verder gesê. “Waarom dink jy is daar soveel lyding in die wêreld?” “Dit is God se wil”, het die bedelaar geantwoord.
Die broers het toe met hom uit die Skrif geredeneer en Openbaring 21:4 verduidelik. Die bedelaar was diep geraak deur hierdie boodskap van hoop en deur die feit dat iemand genoeg in hom belanggestel het om die tyd te neem om die Bybel met hom te bespreek. Sy oë het vol trane geskiet. Pleks van geld te vra, het hy die broers gesmeek om al die munte te neem wat hy in sy blikkie gehad het! Hy het so sterk daarop aangedring dat dit die aandag van al die verbygangers getrek het. Ná ’n groot gesukkel het die broers hom oorreed om die geld te hou. Hy het uiteindelik ingestem, maar het daarop aangedring dat hulle hom weer besoek.
Die groot universiteit in Dakar dra ook by tot die vangs in die geestelike visnet. ’n Mediese student hier met die naam Jean-Louis het die Bybel begin studeer. Hy het die waarheid gou aangeneem, sy lewe aan Jehovah toegewy en hom laat doop. Hy wou God baie graag as ’n voltydse pionier dien, maar hy het ook sy studie in die geneeskunde baie geniet. Weens ’n kontrak met sy geboorteland was hy verplig om sy studie te voltooi. Maar hy het terselfdertyd as ’n hulppionier begin dien. Kort nadat hy sy graad as ’n gekwalifiseerde dokter gekry het, is hy genooi om in ’n groot Bethelhuis in Afrika as die gesin se dokter te dien. ’n Ander jong man met wie die Getuies by die Universiteit van Dakar in aanraking gekom het, dien ook nou saam met die Bethelgesin in sy geboorteland.
Die geestelike visserswerk in Senegal is beslis lonend. Die Bybellektuur van Jehovah se Getuies word baie waardeer en word nou in die plaaslike taal Wolof uitgegee. Talle opregtes van hart reageer met dankbaarheid wanneer hulle die goeie nuus in hulle moedertaal hoor. Met Jehovah se seën sal daar ongetwyfeld nog talle simboliese visse gevang word namate Senegal se ywerige “vissers van mense” voortgaan om die Christelike hoop getrou en moedig te verkondig.
[Kaart/Prent op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SENEGAL
[Prent]
Die Christelike hoop word in Senegal verkondig
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.