Koninkryksverkondigers berig
Gelukkige gesinslewe trek ander na God toe
JEHOVAH het Josef met groot wysheid en onderskeidingsvermoë geseën (Handelinge 7:10). Daarom was Josef se insig “goed in die oë van Farao en van al sy dienaars”.—Genesis 41:37.
Net so ook gee Jehovah vandag aan sy volk insig en onderskeidingsvermoë deur middel van hulle studie van die Bybel (2 Timoteus 3:16, 17). Hierdie wysheid en onderskeidingsvermoë bring goeie vrugte voort namate Bybelraad toegepas word. Hulle goeie gedrag is dikwels ‘goed in die oë van diegene wat dit sien’, soos die volgende ondervindinge uit Zimbabwe toelig.
• ’n Vrou het langs Getuies van Jehovah gewoon. Hoewel sy nie van die Getuies gehou het nie, het sy hulle gedrag, veral hulle gesinslewe, bewonder. Sy het gesien dat die man en vrou ’n baie goeie verhouding het en dat hulle kinders gehoorsaam is. Sy het veral opgemerk dat die man baie lief is vir sy vrou.
In party Afrikakulture is dit die algemene opvatting dat ’n man vir sy vrou lief is as sy toormiddels gebruik het om hom “mak te maak”. Die vrou het dus die Getuievrou genader en haar gevra: “Sal jy asseblief vir my die toormiddel gee wat jy vir jou man gegee het sodat my man ook so lief vir my sal wees soos jou man vir jou is?” Die Getuie het geantwoord: “Ja, beslis, ek sal dit môremiddag vir jou bring.”
Die volgende dag het die suster haar buurvrou met haar “toormiddel” besoek. Wat was dit? Dit was die Bybel, tesame met die publikasie Kennis wat tot die ewige lewe lei. Nadat sy inligting uit die Kennis-boek bespreek het oor die onderwerp “Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer”, het sy vir die vrou gesê: “Dit is die ‘toormiddel’ wat ek en my man gebruik om mekaar ‘mak te maak’, en dit is waarom ons baie lief is vir mekaar.” ’n Bybelstudie is begin, en die vrou het vinnig vordering gemaak en haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
• Twee spesiale pioniers wat na ’n klein gemeente naby die noordoostelike grens van Zimbabwe en Mosambiek gestuur is, het twee weke lank nie uitgegaan in die huis-tot-huis-bediening nie. Waarom nie? Omdat mense na hulle toe gekom het om te hoor wat hulle vir mense sê. Een van die pioniers vertel wat hiertoe gelei het: “Ons het 15 kilometer afgelê om ’n weeklikse tuisbybelstudie met ’n belangstellende te hou. Dit was nie maklik vir ons om by hierdie gebied uit te kom nie. Ons moes deur modder stap, en ons moes riviere oorsteek wat in vloed was en waarvan die water skouerdiep was. Dit het beteken dat ons ons klere en skoene op ons kop moes balanseer, versigtig deur die rivier moes loop en dan aan die ander kant weer ons klere moes aantrek.
“Die belangstellende se bure was baie beïndruk deur ons ywer. Een van die mense wat ons dopgehou het, was die leier van ’n plaaslike godsdiensorganisasie. Hy het vir sy volgelinge gesê: ‘Wil julle nie ook so ywerig wees soos daardie twee jong mans wat Jehovah se Getuies is nie?’ Die volgende dag het baie van sy volgelinge na ons huis toe gekom om uit te vind waarom ons so volhard in wat ons doen. En gedurende die volgende twee weke het ons soveel besoekers gehad dat ons nie eens tyd gehad het om vir ons kos te maak nie!”
Een van die persone wat die pioniers gedurende hierdie twee weke by hulle huis besoek het, was die godsdiensleier. Kan jy jou die pioniers se blydskap voorstel toe hy tot ’n tuisbybelstudie ingestem het!