Lewensverhaal
Ek dien met ’n selfopofferende gees
SOOS VERTEL DEUR DON RENDELL
My ma is in 1927 oorlede toe ek maar vyf jaar oud was. Tog het haar geloof my lewe grootliks beïnvloed. Hoe was dit moontlik?
MY MA was ’n ywerige lid van die Anglikaanse Kerk toe sy met my pa, ’n beroepsoldaat, getroud is. Dit was voor die Eerste Wêreldoorlog. Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek, en my ma het ’n meningsverskil met haar predikant gehad omdat hy van sy preekstoel af soldate probeer werf het. Die geestelike se antwoord? “Gaan huis toe en moenie jou oor hierdie vrae bekommer nie!” Dit het haar nie tevrede gestel nie.
In 1917, toe die oorlog op sy hewigste was, het my ma na die “Fotodrama van die Skepping” gaan kyk. Sy was oortuig dat sy die waarheid gevind het en het onmiddellik haar kerk verlaat om met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, te assosieer. Sy het die vergaderinge bygewoon van ’n gemeente in Yeovil, die dorp naaste aan ons dorpie, Wes-Coker, in die Engelse graafskap Somerset.
My ma het kort daarna haar drie susters van haar nuutgevonde geloof vertel. Ouer lede van die Yeovil-gemeente het my vertel hoe my ma en haar suster Millie ywerig met fietse deur ons uitgestrekte plattelandse gebied gery het en die Bybelstudiehulpe Studies in the Scriptures versprei het. Maar ongelukkig was my ma die laaste 18 maande van haar lewe bedlêend weens tering, waarvoor daar destyds geen geneesmiddel was nie.
Ware selfopoffering
Tant Millie, wat op daardie tydstip by ons gebly het, het my ma versorg toe sy siek geword het en na my en my sewejarige suster Joan omgesien. Toe my ma oorlede is, het tant Millie onmiddellik aangebied om vir ons kinders te sorg. My pa, wat verlig was om van hierdie verantwoordelikheid bevry te word, het geredelik ingestem dat tant Millie permanent by ons kom bly.
Ons het baie lief geword vir ons tante en was bly dat sy by ons sou woon. Maar waarom het sy hierdie besluit geneem? Baie jare later het tant Millie ons vertel dat sy geweet het sy het ’n verpligting om te bou op die grondslag wat my ma gelê het—om vir my en Joan Bybelwaarhede te leer—iets wat sy besef het ons pa nooit sou doen nie, aangesien hy glad nie in godsdiens belanggestel het nie.
Later het ons ook besef dat tant Millie ’n ander baie persoonlike besluit geneem het. Sodat sy behoorlik na ons kon omsien, sou sy nooit trou nie. Sulke selfopoffering! Ek en Joan het alle rede om innig dankbaar teenoor haar te wees. Alles wat tant Millie ons geleer het en die voortreflike voorbeeld wat sy gestel het, het ons bygebly.
’n Tyd vir besluite
Ek en Joan het die skool van die Anglikaanse Kerk op die dorp bygewoon waar tant Millie by die skoolhoof ’n ferm standpunt ingeneem het oor ons godsdiensonderrig. Wanneer die ander kinders in gelid kerk toe moes stap, het ons huis toe gegaan, en wanneer die predikant skool toe gekom het om godsdiensonderrig te gee, het ons eenkant gesit waar ons Bybeltekste uit die kop moes leer. Dit het my goed te pas gekom, aangesien hierdie teksgedeeltes onuitwisbaar op my verstand ingeprent is.
Ek het skool verlaat toe ek 14 jaar oud was om ’n vier jaar lange vakleerlingskap by ’n plaaslike kaasfabriek te volg. Ek het ook geleer om klavier te speel, en musiek en baldans het my stokperdjies geword. Hoewel Bybelwaarheid in my hart was, het dit my nog nie gemotiveer nie. Toe, op ’n dag in Maart 1940, het ’n bejaarde Getuie my genooi om saam met haar na ’n byeenkoms in Swindon te gaan, sowat 110 kilometer van ons af. Albert D. Schroeder, die presiderende bedienaar van Jehovah se Getuies in Brittanje, het die openbare toespraak gehou. Daardie byeenkoms was ’n keerpunt in my lewe.
Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed. Wat het ek met my lewe gedoen? Ek het besluit om na die Yeovil-Koninkryksaal terug te gaan. By die eerste vergadering wat ek bygewoon het, is straatgetuieniswerk ingestel. Ondanks my beperkte kennis het ek aangebied om aan hierdie bedrywigheid deel te neem, tot die verbasing van baie sogenaamde vriende wat my gespot het wanneer hulle by my verbygeloop het!
In Junie 1940 is ek in die stad Bristol gedoop. Ek het binne ’n maand as ’n gewone pionier—’n voltydse evangeliedienaar—begin dien. Hoe bly was ek tog toe my suster, ’n rukkie later, ook haar toewyding deur waterdoop gesimboliseer het!
Pionierdiens tydens die oorlog
’n Jaar nadat die oorlog begin het, het ek dokumente ontvang waarin die weermag my opgeroep het. Omdat ek in Yeovil as ’n gewetensbeswaarde geregistreer het, moes ek in Bristol voor ’n tribunaal verskyn. Ek het by John Wynn aangesluit en in Cinderford, in die graafskap Gloucester, en daarna in Haverfordwest en Carmarthen, Wallis, gepionier.a Later, by ’n verhoor in Carmarthen, is ek tot drie maande in die Swansea-gevangenis gevonnis, en ook ’n boete van £25 opgelê—’n groot som geld in daardie dae. Gevolglik is ek tot ’n verdere drie maande gevonnis omdat ek nie hierdie boete betaal het nie.
By ’n derde verhoor is ek gevra: “Weet jy nie dat die Bybel sê: ‘Betaal . . . aan die keiser wat die keiser toekom’ nie?” “Ja”, het ek geantwoord, “ek weet, ek sal egter graag daardie teks wil voltooi: ‘en aan God wat God toekom’. Dit is wat ek doen” (Matteus 22:21, Afrikaanse Bybel, 1953). ’n Paar weke later het ek ’n brief ontvang waarin ek van militêre diens vrygestel is.
Vroeg in 1945 is ek genooi om deel van die Londense Bethelgesin te word. Die volgende winter het Nathan H. Knorr, wat die leiding geneem het in die organisering van die wêreldwye predikingswerk, en sy sekretaris, Milton G. Henschel, Londen besoek. Agt jong broers van Brittanje is vir sendingopleiding in die agtste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead ingeskryf, en ek was een van hulle.
Sendingtoewysings
Op 23 Mei 1946 het ons uit die klein Korniese hawe Fowey vertrek op ’n Liberty-skip wat in die oorlogstyd gebou is. Die hawemeester, kaptein Collins, was een van Jehovah se Getuies, en toe ons die kaai verlaat, het hy ’n sirene laat blaas. Ons almal het natuurlik gemengde gevoelens gehad toe ons die Engelse kuslyn sien verdwyn. Ons vaart oor die Atlantiese Oseaan was baie rof, maar 13 dae later het ons veilig in die Verenigde State aangekom.
Dit was ’n onvergeetlike ondervinding om vanaf 4 tot 11 Augustus 1946 die internasionale “Blye Nasies”- Teokratiese Byeenkoms van agt dae in Cleveland, Ohio, by te woon. Daar was agtduisend byeenkomsgangers teenwoordig, waaronder 302 afgevaardigdes van 32 ander lande. By daardie byeenkoms is die tydskrif Ontwaak!b en die Bybelstudiehulp “Laat God waaragtig wees” aan die geesdriftige skare vrygestel.
Ons het in 1947 aan Gilead gegradueer, en ek en Bill Copson is na Egipte gestuur. Maar voordat ons vertrek het, het ek die voorreg gehad om goeie kantooropleiding van Richard Abrahamson by die Brooklynse Bethel te ontvang. Ons het in Aleksandrië aan wal gegaan, en ek het gou aan die Midde-Oosterse lewenswyse gewoond geraak. Dit was egter ’n uitdaging om Arabies te leer, en ek moes van getuieniskaarte in vier tale gebruik maak.
Bill Copson het sewe jaar lank daar gebly, maar hulle wou nie my visum ná die eerste jaar hernieu nie, en ek moes toe die land verlaat. Ek beskou daardie jaar van sendingdiens as die produktiefste in my lewe. Ek het die voorreg gehad om elke week meer as 20 tuisbybelstudies te hou, en party van diegene wat destyds die waarheid geleer het, is nog steeds bedrywige lowers van Jehovah. Van Egipte af is ek na Siprus gestuur.
Siprus en Israel
Ek het begin om ’n nuwe taal, Grieks, te leer en met die plaaslike dialek vertroud te raak. ’n Rukkie later, toe Anthony Sideris na Griekeland verplaas is, is ek aangestel om na die werk in Siprus om te sien. Op daardie tydstip het die Siprus-takkantoor ook oor Israel toesig gehou, en saam met ander broers het ek die voorreg gehad om van tyd tot tyd die paar Getuies daar te besoek.
Met my eerste besoek aan Israel het ons ’n klein byeenkoms in ’n restaurant in Haifa gehou wat deur 50 of 60 mense bygewoon is. Deur die volksgroepe te skei, het ons die byeenkomsprogram in ses verskillende tale gehou! By ’n ander geleentheid kon ek in Jerusalem ’n film vertoon wat deur Jehovah se Getuies gemaak is, en ek het ’n openbare toespraak gehou waaroor ’n Engelse koerant gunstige kommentaar gelewer het.
Op daardie stadium was daar ongeveer 100 Getuies in Siprus, en hulle moes hard stry vir hulle geloof. Oproerige skares wat deur priesters van die Grieks Ortodokse Kerk gelei is, het ons byeenkomste ontwrig, en dit was vir my iets heeltemal nuuts om onder die klippe gesteek te word wanneer ons op die platteland getuig. Ek moes leer om my vinnig uit die voete te maak! Onder sulke hewige teenstand was dit geloofversterkend dat meer sendelinge na die eiland gestuur is. Dennis en Mavis Matthews saam met Joan Hulley en Beryl Heywood het in Famagusta by my aangesluit, terwyl Tom en Mary Goulden en Nina Constanti, ’n Siprioot wat in Londen gebore is, na Limassol gegaan het. Bill Copson is op dieselfde tyd na Siprus verplaas, waar Bert en Beryl Vaisey later by hom aangesluit het.
Ek pas my aan by veranderende omstandighede
Teen die einde van 1957 het ek siek geword en kon ek nie langer in my sendingtoewysing aanbly nie. Ek was hartseer, maar ter wille van my gesondheid het ek besluit om na Engeland terug te keer, waar ek tot 1960 gepionier het. My suster en haar man was so gaaf om aan my huisvesting te gee, maar dinge het verander. Joan se omstandighede het al hoe moeiliker geraak. Buiten dat sy na haar man en dogtertjie moes omsien, het sy, gedurende die 17 jaar van my afwesigheid, liefdevol vir ons pa en tant Millie gesorg, wat teen daardie tyd bejaard en siek was. Dit het duidelik geword dat ek my tante se voorbeeld van selfopoffering moes volg, en daarom het ek by my suster gebly tot my tante sowel as my pa se dood.
Dit sou so maklik gewees het om my in Engeland te vestig, maar ná ’n kort ruskansie, het ek verplig gevoel om na my toewysing toe terug te keer. Jehovah se organisasie het op stuk van sake ’n klomp geld aan my opleiding bestee, nie waar nie? Daarom het ek in 1972 self na Siprus teruggekeer om weer daar te pionier.
Nathan H. Knorr het gekom om te reël dat ’n byeenkoms die volgende jaar gehou word. Toe hy uitvind dat ek teruggekeer het, het hy aanbeveel dat ek as kringopsiener vir die hele eiland aangestel word, ’n voorreg wat ek vier jaar lank gehad het. Die toewysing was ’n geweldige uitdaging, aangesien dit beteken het dat ek die meeste van die tyd Grieks sou moes praat.
’n Moeilike tyd
Ek het in die dorpie Karakoumi, net oos van Kyrenia aan die noordkus, ’n huis gedeel met Paul Andreou, ’n Griekssprekende Getuie van Siprus. Die Siprus-takkantoor was in Nicosia, suid van die Kyrenia-berge. Vroeg in Julie 1974 was ek in Nicosia toe ’n staatsgreep uitgevoer is om president Makarios uit sy amp te onthef en ek gesien het hoe sy paleis in vlamme opgaan. Toe dit veilig was om te reis, is ek vinnig terug na Kyrenia, waar ons besig was om vir ’n kringbyeenkoms voor te berei. Twee dae later het ek die eerste bom in die hawe hoor ontplof, en die lug was vol helikopters wat invallende troepe van Turkye af gebring het.
Aangesien ek ’n Britse burger was, het Turkse soldate my na die buitewyke van Nicosia geneem, waar ek ondervra is deur personeel van die Verenigde Nasies wat met die takkantoor in aanraking gekom het. Ek het toe te staan gekom voor die angswekkende taak om tussen ’n massa telefoon- en elektriese kabels deur te loop na die verlate huise aan die anderkant van niemandsland. Hoe bly was ek tog dat my kommunikasielyn met Jehovah God nie verbreek kon word nie! My gebede het my onderskraag deur een van die aakligste ondervindinge in my lewe.
Ek het al my besittings verloor, maar ek was bly om veilig by die takkantoor te wees. Hierdie situasie was egter van korte duur. Binne dae het die invalsmagte beheer oor die noordelike derde van die eiland verkry. Bethel moes ontruim word, en ons is na Limassol verskuif. Ek was bly om daar saam met ’n komitee te werk wat op die been gebring is om na die 300 broers om te sien wat deur die onrus geraak is, waarvan baie hulle huise verloor het.
Nuwe toewysings
In Januarie 1981 het die Bestuursliggaam my gevra om na Griekeland toe te gaan en by die Bethelgesin in Atene aan te sluit, maar teen die einde van die jaar was ek terug in Siprus waar ek as die koördineerder van die Takkomitee aangestel is. Andreas Kontoyiorgis en sy vrou, Maro, Sipriote wat van Londen af gestuur is, was “’n versterkende hulp” vir my.—Kolossense 4:11.
Aan die einde van ’n sonebesoek in 1984 deur Theodore Jaracz, het ek ’n brief van die Bestuursliggaam ontvang wat bloot gesê het: “Wanneer broer Jaracz klaar is, wil ons asseblief hê dat jy hom na Griekeland vergesel.” Geen rede is verstrek nie, maar toe ons in Griekeland aankom, is nog ’n brief van die Bestuursliggaam aan die Takkomitee voorgelees, waarin ek as koördineerder van die Takkomitee in daardie land aangestel is.
Op daardie stadium was daar etlike voorvalle van afvalligheid. Daar was ook talle aanklagte van onwettige proselitisme. Jehovah se volk is daagliks in hegtenis geneem en voor die hof gedaag. Wat ’n voorreg was dit tog om broers en susters te leer ken wie se onkreukbaarheid die toets van die tyd deurstaan het! Party se sake is later voor die Europese Hof van Menseregte verhoor, met wonderlike resultate wat ’n goeie uitwerking op die predikingswerk in Griekeland gehad het.c
Terwyl ek in Griekeland gedien het, het ek onvergeetlike byeenkomste in Atene, Tessalonika en die eilande Rodos en Kreta bygewoon. Dit was vier gelukkige, produktiewe jare, maar nog ’n verandering het voorgelê—’n terugkeer na Siprus in 1988.
Siprus en terug na Griekeland
Gedurende my afwesigheid het die broers in Siprus nuwe takkantoorfasiliteite bekom in Nissou, ’n paar kilometer van Nicosia af, en Carey Barber, van die Brooklyn-hoofkwartier van Jehovah se Getuies, het die toewydingstoespraak gehou. Dinge was nou rustiger op die eiland, en ek was bly om terug te wees—maar dit sou nie lank so bly nie.
Die Bestuursliggaam het planne goedgekeur om ’n nuwe Bethelhuis in Griekeland te bou, ’n paar kilometer noord van Atene. Aangesien ek Engels en Grieks kon praat, is ek in 1990 genooi om terug te keer en op die nuwe bouperseel as tolk te werk vir die gesin internasionale knegte wat daar gewerk het. Ek onthou nog die vreugde om in die somer soggens sesuur op die bouperseel te wees en die honderde Griekse broers en susters te verwelkom wat aangebied het om as vrywilligers saam met die gesin konstruksiewerkers te kom werk! Herinneringe aan hulle vreugde en ywer sal my altyd bybly.
Grieks-Ortodokse priesters en hulle ondersteuners het toegang tot die bouperseel probeer kry om ons werk te ontwrig, maar Jehovah het ons gebede verhoor en ons beskerm. Ek het aangebly tot die projek voltooi is en gesien hoe die nuwe Bethelhuis op 13 April 1991 toegewy is.
Ek ondersteun my dierbare suster
Die volgende jaar het ek vir ’n vakansie na Engeland teruggekeer en by my suster en haar man gebly. Ongelukkig het my swaer, terwyl ek daar was, twee hartaanvalle gehad en gesterf. Joan het my gedurende my sendingdiens baie lojaal ondersteun. Daar het omtrent nie ’n week verbygegaan dat sy nie vir my ’n aanmoedigende brief geskryf het nie. Wat ’n seën is sulke kontak tog vir enige sendeling! Nou was sy ’n weduwee wie se gesondheid agteruitgegaan het en wat steun nodig gehad het. Wat moes ek doen?
Joan se dogter, Thelma, en haar man het reeds na ’n ander getroue weduwee in hulle gemeente, ’n niggie van ons, omgesien wat terminaal siek was. Nadat ek baie oor die saak gebid het, het ek besluit dat ek moes bly om na Joan te help omsien. Die aanpassing was nie maklik nie, maar ek het die voorreg om as ’n ouer man in Pen Mill, een van die twee Yeovil-gemeentes, te dien.
Broers saam met wie ek in die buiteland gedien het, bly gereeld in aanraking met my deur te bel en te skryf, en daaroor is ek baie dankbaar. Ek weet dat ek baie gou my reiskaartjies sal ontvang as ek ooit sou noem dat ek na Griekeland of Siprus wil terugkeer. Maar ek is nou 80 jaar oud, en my sig en my gesondheid is nie meer so goed nie. Dit is frustrerend om nie meer so aktief soos voorheen te wees nie, maar my jare van Betheldiens het my gehelp om talle goeie gewoontes aan te kweek wat my vandag goed te pas kom. Ek lees byvoorbeeld altyd die dagteks voor ontbyt. Ek het ook geleer om met mense klaar te kom en vir hulle lief te wees—die sleutel tot suksesvolle sendingdiens.
As ek terugkyk oor sowat 60 wonderlike jare waarin ek Jehovah geloof het, weet ek dat die voltydse bediening die grootste beskerming is en die beste opleiding bied. Ek kan Dawid se woorde aan Jehovah met my hele hart beaam: “U was vir my ’n veilige hoogte en ’n toevlugsoord in die dag van my benoudheid.”—Psalm 59:16.
[Voetnote]
a John Wynn se lewensverhaal, “My hart loop oor van dankbaarheid”, het in Die Wagtoring van 1 September 1997, bladsye 25-8, verskyn.
b Voorheen bekend as Vertroosting.
c Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1998, bladsye 20-1, en 1 September 1993, bladsye 27-31; die Ontwaak! van 8 Januarie 1998, bladsye 21-2, en 22 Maart 1997, bladsye 14-15.
[Kaarte op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GRIEKELAND
Atene
SIPRUS
Nicosia
Kyrenia
Famagusta
Limassol
[Prent op bladsy 21]
My ma in 1915
[Prent op bladsy 22]
Ek (vierde van links) saam met ander broers van die agtste klas van Gilead op die dak van die Brooklynse Bethel in 1946
[Prent op bladsy 23]
Saam met tant Millie nadat ek die eerste keer na Engeland teruggekeer het