Die Evangelies—Die debat gaan voort
Is die Evangelieverslae van Jesus Christus se geboorte waar?
Het hy die Bergpredikasie gehou?
Is Jesus werklik opgewek?
Het hy werklik gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”?—Johannes 14:6.
SULKE kwessies is deur sowat 80 geleerdes by die Jesus-seminaar bespreek, wat sedert 1985 twee keer per jaar gehou word. Hierdie groep geleerdes het hierdie vrae op ’n ongewone manier beantwoord. Deelnemers aan die seminaar moes stem oor elke verklaring wat in die Evangelies aan Jesus toegeskryf is. ’n Rooi stembriefie word gebruik as daar gemeen word dat die stelling wel deur Jesus gemaak is. ’n Pienk stembriefie beteken dat ’n stelling ooreenkom met iets wat Jesus moontlik gesê het. ’n Grys stembriefie wys dat die idees dalk soortgelyk is aan dié van Jesus, maar dat die stelling nie van hom af kom nie. ’n Swart stembriefie is heeltemal negatief en gee te kenne dat die stelling van latere tradisie afkomstig is.
Deur hierdie metode te volg, het diegene wat aan die Jesus-seminaar deelgeneem het al vier die punte wat aan die begin as vrae gemeld is, verwerp. Trouens, hulle het met ’n swart stembriefie gestem vir 82 persent van die woorde wat in die Evangelies aan Jesus toegeskryf word. Volgens hulle is net 16 persent van die gebeure wat in die Evangelies en ander geskrifte oor Jesus opgeteken is skynbaar eg.
Sulke kritiek teen die Evangelies is niks nuuts nie. ’n Aanval op die Evangelies het in 1774 verskyn toe ’n manuskrip met 1 400 bladsye van Hermann Reimarus, ’n professor in Oosterse tale in Hamburg, Duitsland, ná sy dood gepubliseer is. Daarin het Reimarus ernstige bedenkinge oor die historiese egtheid van die Evangelies geopper. Sy gevolgtrekkings is gebaseer op taalkundige ontleding en oënskynlike weersprekings wat in die vier Evangelieverslae van Jesus se lewe gevind is. Sedertdien het kritici dikwels die egtheid van die Evangelies in twyfel getrek en in sekere mate mense se vertroue in hierdie geskrifte ondermyn.
Die gemeenskaplike faktor wat hierdie geleerdes met mekaar verbind, is die feit dat hulle die Evangelieverslae beskou as godsdiensfiksie wat deur verskeie individue oorgelewer is. Die vrae wat gewoonlik deur skeptiese geleerdes geopper word, is: Het die oortuigings van die skrywers van die vier Evangelies dalk veroorsaak dat hulle op die ware feite voortgeborduur het? Het die politiek van die vroeë Christengemeenskap veroorsaak dat hulle Jesus se verhaal verander het of iets daarby gevoeg het? Watter dele van die Evangelies is waarskynlik eerlike verslaggewing en nie mites wat uitgedink is nie?
Mense wat in ’n ateïstiese of sekulêre gemeenskap grootgeword het, glo dat die Bybel—insluitende die Evangelies—’n boek vol legendes en mites is. Ander is weer geskok deur die Christendom se geskiedenis van bloedvergieting, onderdrukking, verdeeldheid en goddelose gedrag. Sulke mense sien geen rede waarom hulle enigsins ag moet gee op geskrifte wat in die Christendom as heilig beskou word nie. Hulle meen dat werke wat deur ’n skynheilige godsdiens voortgebring is niks anders as nuttelose fabels kan wees nie.
Wat dink jy? Moet jy toelaat dat party geleerdes wat die geskiedkundige egtheid van die Evangelies in twyfel trek soortgelyke twyfelgedagtes by jou laat ontstaan? Behoort bewerings dat die Evangelies mites is jou vertroue daarin te ondermyn? Moet die Christendom se rekord van goddelose dade veroorsaak dat jy die betroubaarheid van die Evangelies in twyfel trek? Ons nooi jou om ’n paar van die feite te ondersoek.
[Prent op bladsy 4]
Bevat die Evangelies fabels of feite?
[Erkenning]
Jesus wat op die see loop/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Agtergrond, bladsye 3-5 en 8: Met vergunning van: Freer Gallery of Art, Smithsonian Institution, Washington, D.C.