Die Evangelies—Geskiedenis of mite?
REGOOR die wêreld maak die verhaal van Jesus van Nasaret—’n jong man wat die verloop van die mensegeskiedenis verander het—deel uit van die samelewing. Dit is ’n deel van mense se formele en informele opleiding. Baie beskou die Evangelies as die oorsprong van tydlose waarhede en spreuke, soos “Laat jou Ja, Ja wees en jou Nee, Nee wees” (Matteus 5:37). Trouens, die Evangelieverslae was dalk die grondslag van lesse wat jou ouers jou geleer het, hetsy hulle Christene was of nie.
Vir miljoene opregte volgelinge van Christus beskryf die Evangelies die man vir wie hulle bereid is om te ly en te sterf. Die Evangelies het ook die grondslag en aansporing voorsien vir moed, volharding, geloof en hoop. Sou jy dan nie saamstem dat onweerlegbare getuienis nodig is om hierdie verslae as blote fiksie af te maak nie? As jy dink aan die kragtige invloed wat die Evangelieverslae op mense se denke en gedrag gehad het, sou jy nie daarop aandring dat iemand wat die egtheid daarvan in twyfel wou trek vir jou oortuigende bewyse gee nie?
Ons nooi jou om ’n aantal gedagteprikkelende vrae aangaande die Evangelies te ondersoek. Kyk self wat sekere studente van die Evangelies van hierdie kwessies dink, hoewel sommige van hulle nie bely dat hulle Christene is nie. Dan kan jy jou eie ingeligte gevolgtrekkings maak.
VRAE WAT JY MOET ONDERSOEK
◆ Kan die Evangelies ’n meesterlike verdigsel wees?
Robert Funk, die stigter van die Jesus-seminaar, sê: “Matteus, Markus, Lukas en Johannes het ‘die Messias so voorgestel’ dat hy kon aanpas by die Christelike leer wat ná die dood van Jesus ontstaan het.” Maar terwyl die Evangelies geskryf is, het baie van dié wat Jesus se woorde gehoor het, sy dade aanskou het en hom ná sy opstanding gesien het nog gelewe. Hulle het nie die Evangelieskrywers van enige vorm van bedrog beskuldig nie.
Dink aan die dood en opstanding van Christus. Dit is nie net die Evangelies wat betroubare verslae van Jesus se dood en opstanding bevat nie, maar die apostel Paulus se eerste kanonieke brief aan Christene in die eertydse Korinte bevat dit ook. Hy het geskryf: “Ek het, as een van die eerste dinge, aan julle oorgedra wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif; en dat hy aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf. Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, waarvan die meeste nou nog lewe, maar party ontslaap het. Daarna het hy aan Jakobus verskyn, toe aan al die apostels; maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn asof aan een wat te vroeg gebore is” (1 Korintiërs 15:3-8). Sulke getuies was bewaarders van historiese feite aangaande die lewe van Jesus.
Die vindingrykheid wat daar volgens hedendaagse kritici bestaan het, word nie in die Christelike Griekse Geskrifte gevind nie. Dit kom eerder voor in dokumente van die tweede eeu G.J. Sekere onskriftuurlike vertellings oor Christus het dus ontstaan toe ’n afvalligheid van die ware Christelike geloof ontwikkel het onder die gemeenskappe wat van die apostoliese gemeente vervreemd was.—Handelinge 20:28-30.
◆ Kan die Evangelies legendes wees?
Die skrywer en kritikus C. S. Lewis het dit moeilik gevind om die Evangelies as blote legendes te beskou. “As ’n literêre geskiedskrywer is ek vas oortuig dat die Evangelies alles behalwe legendes is”, het hy geskryf. “Dit is nie kunstig genoeg om legendes te wees nie. . . . Die grootste deel van Jesus se lewe is vir ons onbekend, en niemand wat ’n legende opbou, sou toelaat dat dit gebeur nie.” Dit is ook interessant dat die welbekende geskiedskrywer H. G. Wells, wat nooit beweer het dat hy ’n Christen is nie, erken het: “Al vier [Evangelieskrywers] skilder vir ons dieselfde beeld van ’n baie definitiewe persoonlikheid; dit het die . . . oortuiging wat met die werklikheid gepaardgaan.”
Dink aan ’n geval toe die verrese Jesus aan sy dissipels verskyn het. ’n Goeie legendeskrywer sou waarskynlik gesê het dat Jesus ’n skouspelagtige terugkeer gehad het, ’n gedenkwaardige toespraak gelewer het of deur lig en heerlikheid omhul was. Maar die Evangelieskrywers het eenvoudig gesê dat hy voor sy dissipels gestaan het. Toe het hy gevra: “Jong kinders, het julle nie miskien iets om te eet nie?” (Johannes 21:5). Die geleerde Gregg Easterbrook kom tot dié gevolgtrekking: “Dit is die soort besonderhede wat dui op ’n akkurate verslag, nie ’n mite wat uitgedink is nie.”
Die aantyging dat die Evangelies legendes is, is ook in stryd met die streng rabbynse onderrigmetode wat in gebruik was gedurende die tyd toe die Evangelies geskryf is. Met hierdie metode het ’n mens alles soos ’n papegaai geleer—dit gememoriseer deur oefening of herhaling. Dit steun die akkurate en sorgvuldige opskrifstelling van Jesus se woorde en dade eerder as die skepping van ’n weergawe waarop voortgeborduur is.
◆ As die Evangelies legendes was, kon hulle dan so gou ná die dood van Jesus saamgestel word?
Volgens beskikbare bewyse is die Evangelies tussen die jare 41 en 98 G.J. geskryf. Jesus het in die jaar 33 G.J. gesterf. Dit beteken dat die verslae van sy lewe in ’n betreklike kort tydjie ná die einde van sy bediening saamgestel is. Dit skep ’n groot probleem vir die argument dat die Evangelievertellings blote legendes is. Tyd is nodig sodat legendes kan ontwikkel. Kyk byvoorbeeld na die Iliade en die Odyssee deur die eertydse Griekse digter Homerus. Party beweer dat hierdie twee epiese legendes oor honderde jare ontwikkel en gevestig geraak het. Wat van die Evangelies?
In sy boek Caesar and Christ skryf die geskiedskrywer Will Durant: “As ’n paar eenvoudige manne . . . so ’n kragtige en aantreklike persoonlikheid, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende visioen van die broederskap van die mens kon skep, sou dit ’n wonderwerk wees wat veel groter is as enige van dié wat in die Evangelies opgeteken is. Ná twee eeue van Hoër Kritiek bly die hooftrekke van die lewe, karakter en leer van Christus redelik duidelik, en dit vorm die boeiendste aspek van die geskiedenis van die Westerse mens.”
◆ Is die Evangelies later verander om by die behoeftes van die vroeë Christengemeenskap aan te pas?
Party kritici voer aan dat die politiek van die vroeë Christengemeenskap veroorsaak het dat die Evangelieskrywers die verhaal van Jesus verander of iets daarby gevoeg het. Maar ’n noukeurige studie van die Evangelies toon dat dit glad nie gedokter is nie. As Evangelieverslae aangaande Jesus verander is as gevolg van eerste-eeuse Christen-intrige, waarom verskyn negatiewe opmerkings oor beide Jode en nie-Jode dan nog steeds in die teks?
’n Goeie voorbeeld word in Matteus 6:5-7 gevind waar Jesus se woorde aangehaal word: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die huigelaars wees nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die breë strate te staan en bid om deur die mense gesien te kan word. Voorwaar, ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning.” Dit was ongetwyfeld ’n veroordeling van die Joodse godsdiensleiers. Jesus het verder gesê: “Wanneer julle bid, moenie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies [die nie-Jode] nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik.” Deur Jesus so aan te haal, het die Evangelieskrywers nie bekeerlinge probeer maak nie. Hulle het bloot neergeskryf wat Jesus Christus werklik gesê het.
Kyk ook na die Evangelieverslae aangaande die vroue wat Jesus se graf besoek het en gesien het dat dit leeg is (Markus 16:1-8). Volgens Gregg Easterbrook “is getuienis deur vroue in die samelewing van die eertydse Midde-Ooste as wesenlik onbetroubaar beskou: twee manlike getuies was byvoorbeeld genoeg om ’n vrou aan egbreuk skuldig te bevind, terwyl geen vrou se getuienis ’n man skuldig kon verklaar het nie”. Trouens, Jesus se eie dissipels het nie die vroue geglo nie! (Lukas 24:11). Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat so ’n verhaal opsetlik versin sou word.
Die feit dat daar geen gelykenisse in die sendbriewe en in die boek Handelinge voorkom nie, bewys duidelik dat die gelykenisse in die Evangelies nie deur vroeë Christene ingevoeg is nie, maar deur Jesus self vertel is. Daarbenewens toon ’n sorgvuldige vergelyking van die Evangelies met die sendbriewe dat nie Paulus se woorde of dié van ander skrywers van die Griekse Geskrifte op ’n slinkse manier gewysig en aan Jesus toegeskryf is nie. As die vroeë Christengemeenskap wel so iets gedoen het, kan ons verwag dat ten minste sekere dinge wat in die sendbriewe opgeteken staan ook in die Evangelieverslae gevind sou word. Aangesien dit nie die geval is nie, kan ons beslis die gevolgtrekking maak dat die Evangelies oorspronklik en eg is.
◆ Wat van oënskynlike weersprekings in die Evangelies?
Kritici beweer al lank dat die Evangelies vol weersprekings is. Die geskiedskrywer Will Durant het die Evangelieverslae uit ’n suiwer objektiewe standpunt—as geskiedkundige dokumente—probeer ondersoek. Hoewel hy sê dat daar oënskynlike weersprekings daarin voorkom, maak hy die gevolgtrekking: “Die weersprekings is in klein besonderhede, nie in die kern nie; die sinoptiese evangelies stem in hooftrekke merkwaardig goed ooreen en vorm ’n konsekwente beeld van Christus.”
Oënskynlike weersprekings in die Evangelieverslae word dikwels maklik opgelos. Ter toeligting: Matteus 8:5 sê dat “’n leëroffisier na [Jesus] toe gekom en hom gesoebat” het om ’n dienskneg gesond te maak. In Lukas 7:3 lees ons dat die offisier “ouer manne van die Jode na [Jesus] toe gestuur [het] om hom te vra om te kom en [die] slaaf veilig deur te haal”. Die offisier het die ouer manne as sy verteenwoordigers gestuur. Matteus sê dus dat die leëroffisier self vir Jesus gesoebat het, aangesien die man sy versoek deur die ouer manne gerig het, wat as sy mondstuk gedien het. Dit is net een voorbeeld wat toon dat beweerde weersprekings in die Evangelies opgelos kan word.
Wat van die bewerings van hoër kritici dat die Evangelies nie aan die maatstaf vir ware geskiedenis voldoen nie? Durant sê verder: “In die geesdrif van sy ontdekkings het die Hoër Kritiek sulke streng toetse van egtheid op die Nuwe Testament toegepas dat honderd eertydse manne van aansien—bv. Hammoerabi, Dawid, Sokrates—daarvolgens net legendes sou wees. Ondanks die vooroordele en teologiese vooropgesette menings van die evangeliste teken hulle talle voorvalle aan wat blote versinners sou verswyg het—die wedywering tussen die apostels om vername plekke in die Koninkryk, hoe hulle gevlug het nadat Jesus in hegtenis geneem is, Petrus se verloëning . . . Niemand wat van hierdie tonele lees, kan twyfel aan die werklikheid van die figuur daaragter nie.”
◆ Verteenwoordig die hedendaagse Christelike godsdiens die Jesus van die Evangelies?
Die Jesus-seminaar het verklaar dat hulle navorsing oor die Evangelies “nie deur die voorskrifte van die kerkrade beperk word nie”. Maar die geskiedskrywer Wells het besef dat daar ’n baie groot kloof is tussen die leringe van Jesus soos dit in die Evangelies aangebied word en dié van die Christendom. Hy het geskryf: “Daar is geen bewyse dat die apostels van Jesus ooit van die Drie-eenheid gehoor het nie—ten minste nie van hom af nie. . . . [Jesus] het ook nie ’n woord oor die aanbidding van sy moeder Maria, onder die skyn van Isis, die Hemelkoningin, gesê nie. Alles wat in aanbidding en gebruik heel kenmerkend Christelik is, het hy geïgnoreer.” ’n Mens kan derhalwe nie die waarde van die Evangelies op grond van die leerstellings van die Christendom beoordeel nie.
WAT IS JOU GEVOLGTREKKING?
Wat dink jy, nadat jy die voorafgaande punte ondersoek het? Is daar werklike, oortuigende bewyse dat die Evangelies bloot mites is? Baie vind dat die vrae en bedenkinge wat oor die egtheid van die Evangelies geopper word wankelrig en onoortuigend is. As jy jou eie mening wil vorm, moet jy onbevooroordeeld wees wanneer jy die Evangelies lees (Handelinge 17:11). Wanneer jy kyk na die konsekwente, eerlike en akkurate manier waarop die Evangelies die persoonlikheid van Jesus beskryf, sal jy besef dat hierdie verslae beslis nie ’n versameling fabels is nie.a
As jy die Bybel noukeurig ondersoek en die raad daarin toepas, sal jy sien hoe dit jou lewe kan verbeter (Johannes 6:68). Dit is veral waar van Jesus se woorde wat in die Evangelies opgeteken is. Jy sal boonop daaruit kan leer van die wonderlike toekoms wat vir gehoorsame mense voorlê.—Johannes 3:16; 17:3, 17.
[Voetnoot]
a Sien hoofstukke 5 tot 7 van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., en die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Venster op bladsy 7]
Bewyse van betroubare verslaggewing
JARE gelede het ’n Australiese teksskrywer en voormalige Bybelkritikus erken: “Vir die eerste keer in my lewe het ek gedoen wat ’n verslaggewer gewoonlik heel eerste moet doen: ek het my feite nagegaan. . . . En ek was geskok, want wat ek [in die Evangelieverslae] gelees het, was nie legendes of naturalistiese fiksie nie. Dit was verslaggewing. Eerste- en tweedehandse verslae van uitsonderlike gebeurtenisse . . . Verslaggewing het ’n gevoel, en ’n mens kry daardie gevoel wanneer jy die Evangelies lees.”
E. M. Blaiklock, ’n professor in die klassieke aan die Universiteit van Auckland, het eweneens geredeneer: “Ek beweer dat ek ’n geskiedkundige is. My benadering tot die Klassieke is geskiedkundig. En ek kan julle verseker dat die verslae van die lewe, die dood en die opstanding van Christus meer bewyse van egtheid het as die meeste feite van die ou geskiedenis.”
[Kaart/Prente op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FENISIË
GALILEA
Jordaanrivier
JUDEA
[Prente]
‘Die verslae van die lewe, die dood meer bewyse van egtheid as die meeste en die opstanding van Christus het feite van die ou geskiedenis.’—PROFESSOR E. M. BLAIKLOCK
[Erkenning]
Kaarte op agtergrond: Gebaseer op ’n kaart waarvan die kopiereg voorbehou word deur: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel.