Hoe betroubaar is die Evangelies?
“Die evangelies moet nou beskou word as mites wat deur die vroeë Christene geskep is.”—Burton L. Mack, afgetrede professor in Nuwe-Testamentiese studies.
DIE professor wat hierbo aangehaal word, is nie die enigste persoon met hierdie beskouing nie. ’n Aantal geleerdes het die betroubaarheid bevraagteken van die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes—die Bybelverslae van Jesus se lewe en bediening. Waarom beskou sommige die Evangelies as mites? Moet hulle opinie jou laat twyfel of die Evangelies waar is? Kom ons ondersoek van die bewyse.
Die betroubaarheid van die Evangelies word bevraagteken
Gedurende die eerste 17 eeue van ons Gewone Jaartelling is die betroubaarheid van die Evangelies nooit ernstig bevraagteken nie. Maar veral sedert die 19de eeu beskou ’n aantal akademici die Evangelies as versinsels van mense en nie as verslae wat deur God geïnspireer is nie. Daarbenewens ontken hulle dat die Evangelieskrywers eerstehandse inligting oor Jesus gehad het en hou hulle vol dat sulke manne nie daartoe in staat was om ’n betroubare geskiedenisverslag op te teken nie. Verder maak hulle die gevolgtrekking dat die ooreenkomste in die struktuur en inhoud van die eerste drie Evangelies—wat soms beskryf word as sinopties, wat “dieselfde beskouing” beteken—toon dat die Evangelieskrywers in groot mate by mekaar afgeskryf het. Kritici het ook Jesus se wonderwerke sowel as sy opstanding soos dit in die Evangelies beskryf word, verwerp. Sommige het selfs beweer dat Jesus glad nie ’n geskiedkundige persoon is nie!
Hierdie selfde persone het tot die slotsom gekom dat Markus sy Evangelie eerste moes geskryf het, aangesien dit blykbaar min by die Evangelies van Matteus en Lukas byvoeg. Die kritici het ook aangeneem dat Matteus en Lukas die boek Markus gebruik het om hulle Evangelies saam te stel en dat hulle ’n bykomende bron geraadpleeg het—’n dokument wat die geleerdes Q noem (van die Duitse woord Quelle, of “bron”). Volgens die Bybelgeleerde A. F. J. Klijn het hierdie gewilde hipotese “die Evangelieskrywers verlaag tot samestellers van losstaande verhale”. So ’n opvatting impliseer eintlik dat die Evangelieskrywers plagiariste en miteskrywers was. Hierdie teorie het geloof in die goddelike inspirasie van die Bybel ondermyn.—2 Timoteus 3:16.
Het die Evangelieskrywers plagiaat gepleeg?
Bewys die ooreenkomste tussen die sinoptiese Evangelies werklik dat die skrywers eenvoudig by mekaar afgeskryf het? Nee. Waarom nie? Om maar een ding te noem, Jesus het vir sy dissipels belowe dat die heilige gees ‘hulle sou herinner aan alles wat hy hulle vertel het’ (Johannes 14:26). Dit is dus nie verbasend nie dat die Evangelieskrywers sommige van dieselfde gebeure onthou en neergeskryf het. Party Bybelskrywers het wel die werke van ander Bybelskrywers gelees en daarna verwys, maar dit dui op noukeurige navorsing, nie plagiaat nie (2 Petrus 3:15). Daarbenewens sê The Anchor Bible Dictionary: “Afhanklikheid van mondelinge tradisies kan maklik verklaar waarom Jesus se onvergeetlike woorde in identiese vorm neergeskryf is.”
Lukas het gesê dat hy met baie ooggetuies gepraat het en “alles van die begin af noukeurig nagespeur het” (Lukas 1:1-4). Klink dit soos iemand wat plagiaat gepleeg of mites uitgedink het? Inteendeel! Ná ’n deeglike ontleding van Lukas se geskrifte het die argeoloog William Ramsay gesê: “Lukas is ’n geskiedkundige van die eerste rang: die feite wat hy stel, is nie net betroubaar nie, maar hy het ook geweet hoe om geskiedkundige feite op te teken . . . Hierdie skrywer moet onder die heel beste geskiedkundiges gereken word.”
Die getuienis van die vroeë Kerkvaders, insluitende dié van die derde-eeuse teoloog Origines, gee ook te kenne dat die apostel Matteus die eerste was om ’n Evangelie te skryf. Origines het geskryf: “Die eerste is geskryf volgens Matteus, wat eers ’n belastinggaarder was, maar later ’n apostel van Jesus Christus, wat dit in Hebreeus geskryf het omdat dit vir die Joodse bekeerlinge bedoel was.” Dit was natuurlik nie vir Matteus, ’n apostel en ’n ooggetuie, nodig om die geskrifte van Markus, wat nie ’n ooggetuie was nie, af te skryf nie. Wat is dan die feite aangaande die bewerings dat Matteus en Lukas by Markus en ’n veronderstelde dokument wat Q genoem word, afgeskryf het?
Is die Evangelie van Markus eerste geskryf?
Die teorie dat Markus se Evangelie eerste geskryf is en vir Matteus en Lukas as ’n bron gedien het, is nie op “’n enkele logiese, onomstootlike argument” gegrond nie, erken The Anchor Bible Dictionary. Baie geleerdes voel nogtans dat Markus sy Evangelie geskryf het voordat Matteus en Lukas hulle s’n geskryf het omdat Markus na bewering min by die ander Evangelies byvoeg. Die 19de-eeuse Bybelgeleerde Johannes Kuhn het byvoorbeeld volgehou dat Markus se Evangelie eerste geskryf moes gewees het. Anders, het Kuhn gesê, “sal ’n mens jou moet voorstel dat Markus die twee boekrolle van Matteus en Lukas in klein stukkies opgesny het, dit saam in ’n pot gemeng het en sy Evangelie uit hierdie mengsel voortgebring het”.
Aangesien Markus se Evangelie die kortste is, is dit nie verbasend dat dit die minste unieke inligting bevat nie. Maar dit bewys nie dat dit eerste geskryf is nie. Verder is dit eenvoudig nie waar dat Markus niks by Matteus en Lukas byvoeg nie. In Markus se lewendige, aksiebelaaide verslag van Jesus se bediening is daar meer as 180 gedeeltes en fassinerende besonderhede wat nie in Matteus en Lukas gevind word nie, wat dit waarlik ’n unieke verslag van Jesus se lewe maak.—Sien die venster op bladsy 13.
Wat van die dokument Q?
Wat kan gesê word omtrent die dokument Q, wat volgens party vir Matteus en Lukas as ’n bron gedien het? James M. Robinson, ’n professor in godsdiens, sê: “Q is beslis die belangrikste Christelike teks wat ons het.” Daardie stelling is verbasend, aangesien die dokument Q nie vandag bestaan nie en niemand in werklikheid kan bewys dat dit ooit bestaan het nie! Die feit dat dit heeltemal verdwyn het, is selfs merkwaardiger omdat geleerdes beweer dat etlike afskrifte van die dokument in omloop moes gewees het. Daarbenewens het die Kerkvaders nooit uit die dokument Q aangehaal nie.
Dink hieraan. Daar word veronderstel dat Q bestaan het en dat dit die hipotese staaf dat Markus se Evangelie eerste geskryf is. Is dit nie ’n geval van een hipotese wat op ’n ander gebou is nie? Wanneer dit kom by sulke teorieë, is dit verstandig van ons om hierdie spreuk in gedagte te hou: “’n Eenvoudige mens glo elke woord wat hy hoor; ’n skerpsinnige mens verstaan dat bewyse nodig is.”—Spreuke 14:15, The New English Bible.
Die Evangelies—eg en betroubaar
Kritiese geleerdes het, deur middel van hulle bespiegelings en ongegronde hipoteses, baie mense daarvan afgelei om die betroubare Evangelieverslae van Jesus se lewe en bediening te ondersoek. Hierdie verslae toon duidelik dat die vroeë Christene nie Jesus se lewe, bediening, dood en opstanding as mites beskou het nie. Honderde ooggetuies het die waaragtigheid van hierdie feite bevestig. Hierdie vroeë Christene, wat bereid was om vervolging en die dood te verduur om Jesus te volg, het ten volle besef dat dit sinloos sou wees om ’n Christen te wees as Jesus se bediening en opstanding ’n blote fantasie was.—1 Korintiërs 15:3-8, 17, 19; 2 Timoteus 2:2.
George W. Buchanan, ’n professor in teologie, sê die volgende aangaande die geskil oor die hipoteses dat Markus se Evangelie na bewering eerste geskryf is en oor die raaiselagtige, verlore dokument Q: “As ’n Bybelstudent konsentreer op hipoteses oor die oorsprong [van die teks], trek dit sy aandag daarvan af om die teks self te bestudeer.” Daardie gedagte stem ooreen met die apostel Paulus se raad aan Timoteus om nie “aandag te skenk aan valse stories en aan geslagsregisters, wat op niks uitloop nie, maar wat eerder vrae vir navorsing lewer as enigiets in verband met geloof wat deur God uitgedeel word”.—1 Timoteus 1:4.
Die Evangelies is betroubaar. Dit bevat vertrouenswaardige verslae van ooggetuies. Dit is op deeglike navorsing gegrond. Dit voorsien talle fassinerende feite oor die lewe van Jesus Christus. Soos Timoteus van die ou tyd, sal ons dus verstandig wees as ons ag slaan op Paulus se woorde: “Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo.” Ons het grondige redes om te aanvaar dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is—insluitende die vier Evangelies.—2 Timoteus 3:14-17.
[Venster op bladsy 13]
As Markus nie geskryf is nie, sou ons nie geweet het nie dat . . .
Jesus diegene rondom hom met verontwaardiging aangekyk het, diep bedroef oor die ongevoeligheid van hulle hart (Markus 3:5)
Johannes en Jakobus die bynaam Boanerges gegee is (Markus 3:17)
die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, ál haar middele bestee het (Markus 5:26)
Herodias ’n wrok gekoester het teen Johannes die Doper en dat Herodes Johannes gevrees het en hom beskerm het (Markus 6:19, 20)
Jesus sy dissipels genooi het om ’n bietjie te rus (Markus 6:31)
die Fariseërs hulle hande tot by die elmboog gewas het (Markus 7:2-4)
Jesus die kinders in sy arms geneem het (Markus 10:16)
Jesus die jong heerser liefgekry het (Markus 10:21)
Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Jesus gevra het toe hulle alleen was (Markus 13:3)
’n jong man sy linnekleed agtergelaat het (Markus 14:51, 52)
Daarbenewens word een van Jesus se illustrasies en twee van sy wonderwerke net in die boek Markus gevind.—Markus 4:26-29; 7:32-37; 8:22-26.
Markus se Evangelie bevat baie meer eerstehandse besonderhede wat nie in die ander Evangelies gevind word nie. Ons waardering daarvoor sal sekerlik toeneem as ons tyd inruim om goed na te dink oor die waarde van al hierdie betekenisvolle besonderhede.