Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 9/1 bl. 26-30
  • Jehovah beloon altyd sy lojale knegte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah beloon altyd sy lojale knegte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë gesinslewe
  • Ek leer Jehovah ken
  • ’n Tyd van groot verandering vir ons
  • Baie meer musiek!
  • Opnames van die 1966-liedereboek
  • Nog lonende voorregte
  • ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die uitvoering van God se wil—my lewenslange vreugde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 9/1 bl. 26-30

Lewensverhaal

Jehovah beloon altyd sy lojale knegte

SOOS VERTEL DEUR VERNON DUNCOMBE

Ek het my laataandhappie klaar geëet en soos gewoonlik ’n sigaret aangesteek. Toe het ek vir my vrou, Aileen, gevra: “Hoe was die vergadering vanaand?”

SY HET geaarsel en toe gesê: “’n Brief is gelees wat die nuwe aanstellings aangekondig het, en jou naam is genoem. Jy gaan die klankkneg wees. Die laaste sin in die brief het gesê: ‘As enige van hierdie pasaangestelde broers tabak gebruik, is hulle verplig om aan die Genootskap te skryf om te sê dat hulle nie die aanstelling kan aanvaar nie.’”a Ek het geantwoord met ’n uitgerekte en besliste: “Wel-l-l! Dan is dit wat dit gesê het.”

Ek het op my tande gebyt en die sigaret in die asbakkie langs my doodgedruk. “Ek weet nie waarom ek vir hierdie aanstelling gekies is nie. Maar ek het nog nooit een geweier nie, en ek is nie van plan om nou te begin nie.” Ek het my voorgeneem om nooit weer te rook nie. Daardie besluit het ’n diepgaande uitwerking op my lewe as ’n Christen en as ’n musikant gehad. Kom ek beskryf ’n paar van die gebeure wat tot my voorneme gelei het.

Vroeë gesinslewe

Ek is op 21 September 1914, in Toronto, Kanada, gebore en was die oudste seun van liefdevolle en hardwerkende ouers, Vernon en Lila, wat gesorg het vir ’n gesin van vier seuns en twee dogters. Ná my het Yorke, toe Orlando, Douglas, Aileen en Coral gekom. Toe ek net nege jaar oud was, het my ma vir my ’n viool gegee en gereël dat ek musieklesse by die Harris-musiekskool neem. Ons gesin het swaar gekry, maar my ma en pa het altyd maniere gevind om my busgeld en skoolgeld te betaal. Later het ek musiekteorie en -harmonie by die Koninklike Musiekakademie in Toronto bestudeer, en op 12-jarige ouderdom het ek ingeskryf vir ’n stadsmusiekkompetisie in Massey Hall, die beroemde musiekouditorium in die middestad. Ek is as die wenner aangewys en het ’n pragtige viool in ’n tas van alligatorvel ontvang.

Mettertyd het ek ook die klavier en die basviool leer speel. ’n Groep van ons het dikwels op Vrydag- en Saterdagaande op klein partytjies of by danse van studenteverenigings gespeel. Dit was by een van hierdie danse dat ek Aileen ontmoet het. Gedurende my laaste jaar op hoërskool het ek saam met ’n hele paar orkeste in die stad gespeel. Nadat ek die skool verlaat het, is ek genooi om by die Ferde Mowry-orkes aan te sluit, en dit was tot 1943 toe ’n goeie, bestendige werk.

Ek leer Jehovah ken

My ouers het net voor die begin van die Eerste Wêreldoorlog die eerste keer met Bybelwaarheid in aanraking gekom, toe my pa as ’n uitstaller vir ’n afdelingswinkel in die middestad van Toronto gewerk het. In die eetsaal het hy geluister na gesprekke tussen twee ander werkers wat Bybelstudente was (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het), en dan het hy in die aand wanneer hy by die huis gekom het vir my ma vertel wat hy gehoor het. ’n Paar jaar later, in 1927, het die Bybelstudente ’n groot streekbyeenkoms in Toronto gehou by die Coliseum in die Kanadese Nasionale Uitstallingsterrein. Ons huis, wat twee blokke van die westelike ingang tot die terrein was, is gebruik om 25 mense uit Ohio, VSA, te huisves.

Daarna het een van die Bybelstudente, Ada Bletsoe, my ma gereeld begin besoek en die jongste lektuur by haar gelaat. Eendag het sy gesê: “Mev. Duncombe, ek laat nou al geruime tyd lektuur by jou. Het jy al ooit van die lektuur gelees?” Hoewel my ma besig was om ses kinders groot te maak, het sy haar voorgeneem om die tydskrifte van daardie tyd af te begin lees, en sy het nooit opgehou nie. Maar ek het nie veel aandag aan die lektuur geskenk nie. Ek het hard gewerk om my skoolopleiding te voltooi, en ek was baie betrokke by musiek.

In Junie 1935 is ek en Aileen in ’n Anglikaanse kerk getroud. Aangesien ek die Verenigde Kerk verlaat het toe ek 13 was, het ek nie ’n ander kerkverband gehad nie; ek het dus die trouregister as een van Jehovah se Getuies onderteken, hoewel ek nog nie ’n Getuie was nie.

Ons het daarna uitgesien om die een of ander tyd in die toekoms ’n gesin groot te maak en ons wou goeie ouers wees. Ons het dus saam die Nuwe Testament begin lees. Maar ondanks ons goeie bedoelings het ander dinge daarop inbreuk gemaak. Ons het ’n rukkie later weer probeer, en dieselfde het gebeur. Toe, in 1935, het ons ’n geskenkpakkie met die boek Die harp van God vir Kersfees ontvang. My vrou het gesê: “Dis nou vir jou ’n vreemde Kersgeskenk wat jou ma ons gestuur het.” Maar nadat ek werk toe is, het sy dit begin lees en gehou van wat sy gelees het. Ek was ’n hele ruk lank glad nie daarvan bewus nie. Wat ons verwagtinge betref om ’n gesin groot te maak, dit is toe nie verwesenlik nie. Ons babadogtertjie wat op 1 Februarie 1937 gebore is, het nie gelewe nie. Ons was verpletter!

Gedurende hierdie tyd het my familie ywerig aan die predikingswerk deelgeneem, en ek het uitgevind dat my pa die enigste Koninkryksverkondiger in die gesin was wat nog nie by iemand ’n intekening op die tydskrif Vertroosting (nou Ontwaak!) verkry het nie. Dit was die doelwit in die velddiens vir die maand. Hoewel ek nog nie een van die Genootskap se publikasies gelees het nie, het ek hom jammer gekry en gesê: “Goed, Pa, ek sal inteken, en dan sal Pa soos die ander kan wees.” Die somer het gekom en die orkes het uit die stad getrek om by ’n vakansieoord te gaan speel. Die Vertroosting het in die pos gevolg. Herfs het gekom en die orkes het teruggetrek na Toronto toe. Die tydskrifte het na ons nuwe posadres bly kom, en ek het nie eers een van hulle uit hulle omslag gehaal nie.

Gedurende een Kersvakansie het ek na die hoop tydskrifte gekyk en besluit dat ek ten minste party van hulle moet lees om te sien wat hulle te sê het, aangesien ek daarvoor betaal het. Die eerste een wat ek oopgemaak het, het my laat skrik. Dit het die politieke intrige en korrupsie van daardie tyd aan die kaak gestel. Ek het met my medemusikante begin praat oor wat ek gelees het. Maar hulle het nie geglo wat ek gesê het nie, en ek moes aanhou lees om my te verdedig. Onwetend het ek van Jehovah begin getuig. En sedertdien het ek nooit opgehou om die wonderlike Bybelpublikasies van “die getroue en verstandige slaaf” te lees nie.—Matteus 24:45.

Hoewel my werk my gedurende die week besig gehou het, het ek weldra Sondae die vergaderinge saam met Aileen bygewoon. Toe ons een Sondag in 1938 by die vergadering aankom, het twee bejaarde susters ons gegroet en die een het gesê: “Jong broer, het jy al jou standpunt vir Jehovah ingeneem? Jy weet, Armageddon is op hande!” Ek het geweet dat Jehovah die enigste ware God is, en ek was oortuig dat hierdie organisasie sy organisasie is. Ek wou deel wees daarvan, en daarom is ek op 15 Oktober 1938 gedoop. Aileen is ongeveer ses maande later gedoop. Ek is bly om te sê dat almal in my familie toegewyde knegte van Jehovah geword het.

Watter vreugde het ek tog geput uit omgang met God se volk! Ek het gou tuis gevoel onder hulle. Wanneer ek nie vergaderinge kon bywoon nie, wou ek altyd graag weet wat gebeur het. Die spesifieke aand waarna ek aan die begin verwys het, was ’n keerpunt in my diens aan Jehovah.

’n Tyd van groot verandering vir ons

Op 1 Mei 1943 het ons nog ’n betekenisvolle aanpassing in ons lewe gemaak. Ons het ons eerste groot streekbyeenkoms bygewoon, die Nuwe Wêreld- Teokratiese Byeenkoms in September 1942 in Cleveland, Ohio. Daar, te midde van ’n verskriklike wêreldoorlog, ’n oorlog met geen einde in sig nie, het ons gehoor hoe broer Knorr, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, moedig die boeiende openbare toespraak “Vrede—Kan dit duur?” hou. Ons onthou goed hoe hy uit Openbaring hoofstuk 17 getoon het dat daar ’n tydperk van vrede ná die oorlog sou wees waartydens ’n groot predikingswerk gedoen sou word.

Wat ons die meeste geraak het, was ’n toespraak wat broer Knorr vroeër gehou het: “Jefta en sy gelofte”. Daar is vir nog pioniers gevra! Ek en Aileen het vir mekaar gekyk en (tesame met baie ander op daardie tydstip) tegelyk gesê: “Dit is ons!” Ons het onmiddellik begin planne maak om ’n belangriker werk aan te pak.

’n Verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Kanada het sedert 4 Julie 1940 al bestaan. Toe ons op 1 Mei 1943 die pionierdiens betree het, was dit nog steeds onwettig om van Jehovah te getuig en om die Genootskap se lektuur in die velddiens aan te bied. In ons diens as Christene het ons net ons persoonlike eksemplaar van die King James-vertaling van die Bybel saamgedra. Net ’n paar dae nadat ons in ons eerste pioniertoewysing in Parry Sound, Ontario, aangekom het, is Stewart Mann, ’n ervare pionier, deur die takkantoor gestuur om saam met ons in die veld te werk. Wat ’n liefdevolle voorsiening! Broer Mann het ’n aangename geaardheid gehad en het maklik geglimlag. Ons het baie by hom geleer en daardie tyd geniet. Ons het al ’n hele paar Bybelstudies gehou toe die Genootskap ons na die stad Hamilton toe gestuur het. Ondanks die feit dat ek te oud was vir diensplig, is ek nie lank daarna nie opgeroep. My weiering om by die leër aan te sluit het daartoe gelei dat ek op 31 Desember 1943 in hegtenis geneem is. Nadat die formaliteite in die hof afgehandel is, is ek tot werk in ’n kamp vir alternatiewe diens gevonnis, waar ek tot Augustus 1945 gebly het.

Onmiddellik nadat ek vrygelaat is, het ek en Aileen ’n pioniertoewysing na Cornwall, Ontario, ontvang. Kort daarna is ons na Quebec gestuur op ’n spesiale magistraatshof-toewysing van die Genootskap se Regsafdeling. Dit was gedurende die Duplessis-era in Quebec toe die vervolging van Jehovah se Getuies veral hewig was. Ek was ’n paar dae elke week in vier verskillende howe om ons broers te help. Dit was opwindende en geloofversterkende tye.

Ná die streekbyeenkoms in Cleveland in 1946 is ons gevra om kring- en streekwerk te doen wat my en my vrou van kus tot kus laat reis het. Dinge het toe vinnig gebeur. In 1948 is ons na die 11de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi. Broer Albert Schroeder en Maxwell Friend was twee van ons instrukteurs, en ons klas van 108 studente het 40 gesalfdes ingesluit. Met soveel knegte van Jehovah teenwoordig wat hom al baie lank dien, was dit waarlik ’n wonderlike en lonende ondervinding!

Eendag het broer Knorr van Brooklyn af gekom en ons besoek. In sy toespraak het hy gevra of daar 25 vrywilligers is wat Japannees wil leer. Al 108 het ingewillig! Die president moes toe maar self kies wie geleer sou word. Ek dink Jehovah het die keuse gerig, want dit het so goed uitgewerk. Baie van die 25 wat gekies is en later die voorreg gehad het om die werk in Japan te begin, is nog steeds in hulle toewysing—ja, hulle is bejaard, maar nog steeds daar. Party, soos Lloyd en Melba Barry, het ander toewysings gekry. Lloyd was tot sy dood verlede jaar ’n lid van die Bestuursliggaam. Ons is saam met almal van hulle bly oor die beloning wat Jehovah gegee het.

Ons gradueringsdag het gekom, en ons toewysing was Jamaika. Maar omdat daar nog onbesliste hofsake in Quebec was, is ons gevra om na Kanada toe terug te keer.

Baie meer musiek!

Hoewel ek musiek ter wille van die pionierdiens agtergelaat het, het musiek my blykbaar nie verlaat nie. Die volgende jaar het die Genootskap se president, Nathan Knorr, en sy sekretaris, Milton Henschel, na Maple Leaf Gardens in Toronto gekom. Broer Knorr se openbare toespraak met die titel “Dit is later as wat jy dink!” het almal besiel. Vir die eerste keer is ek gevra om na die byeenkomsorkes om te sien. Ons het party van die gewilde liedere in die Koninkryksdiens—Liedereboek (1944) as walse verwerk. Dit het gelyk of die broers daarvan hou. Ons het Saterdagmiddag ná die sessie ons beplande program vir Sondag geoefen. Ek het vlugtig gesien hoe broer Henschel oor die arenavloer na ons toe aangestap kom, en ek het die orkes laat ophou speel sodat ek hom kon gaan ontmoet. Hy het gevra: “Hoeveel musikante het jy hier in jou orkes?” “Wanneer almal hier is, ongeveer 35”, het ek geantwoord. “Wel, jy gaan volgende somer in New York twee keer soveel hê”, het hy gesê.

Maar voordat daardie somer gekom het, is ek na Brooklyn toe genooi. Weens omstandighede kon Aileen aanvanklik nie saam met my kom nie. Die nuwe gebou by Columbia Heights 124 was nog nie klaar nie, en ek is dus ’n bed in die oorspronklike gebou gegee, in ’n klein kamertjie saam met twee gesalfde broers—’n bejaarde broer, broer Payne, en Karl Klein, wat ek toe vir die eerste keer ontmoet het. Was dit beknop? Ja. Ons het nietemin baie goed oor die weg gekom. Die ouer broers was lankmoedig en geduldig. Ek het my net stil probeer hou! Dit was ’n goeie les in wat God se gees kan verrig. Dit het vir my baie seëninge meegebring om broer Klein te ontmoet en saam met hom te werk! Hy was altyd goedhartig en behulpsaam. Ons het goed saamgewerk en is nou al meer as 50 jaar lank intieme vriende.

Dit was my voorreg om te help met die musiek by die streekbyeenkomste in Yankee-stadion in 1950, 1953, 1955 en 1958, sowel as om die verantwoordelikhede van die orkes met Al Kavelin te deel by die streekbyeenkoms wat in 1963 by die Rose Bowl in Pasadena, Kalifornië, gehou is. Gedurende die streekbyeenkoms by Yankee-stadion in 1953 is ’n musiekuitvoering Sondag voor die openbare toespraak aangebied. Erich Frost het Edith Shemionik (later Weigand), ’n sopraan, voorgestel, wat sy komposisie “Voorwaarts, Getuies!” op ons orkesbegeleiding gesing het. Daarna was ons baie opgewonde toe ons vir die eerste keer die sterk en pragtige stemme van ons Afrikabroers en -susters hoor. Harry Arnott, ’n sendeling, het ’n goeie bandopname van Noord-Rhodesië (nou Zambië) af vir ons luistergenot saamgebring. Die klank het die hele stadion gevul.

Opnames van die 1966-liedereboek

Onthou jy die liedereboek met die pienk vinielomslag, “Sing en begelei julself met musiek in julle hart”? Toe die werk daaraan amper klaar was, het broer Knorr gesê: “Ons gaan ’n paar opnames maak. Ek wil hê jy moet ’n orkessie saamstel, met net ’n paar viole en ’n paar fluite. Ek wil nie hê enigiemand moet ‘sy beuel blaas’ nie!” Die Koninkryksaal by Bethel sou ons ateljee wees, maar ons was ’n bietjie bekommerd om dit te gebruik. Wat sou gebeur as die klank van die kaal mure, geteëlde vloere en metaal opvoustoele weerklink? Wie kon ons help om onaangename klankprobleme op te los? Iemand het voorgestel: “Tommy Mitchell! Hy werk by die ABC-netwerkateljees.” Ons het met broer Mitchell in aanraking gekom, en hy sou ons met graagte help.

Die eerste Saterdagoggend waarop ons die opnames sou maak, het aangebreek, en terwyl die musikante voorgestel is, het ek gesien dat een van die broers ’n tromboontas dra. Ek het broer Knorr se waarskuwing onthou: “Ek wil nie hê enigiemand moet ‘sy beuel blaas’ nie!” Wat kon ek doen? Ek het die broer dopgehou terwyl hy sy tromboon uit die tas gehaal het, die skuifgedeelte ingeskuif het en begin opwarm het. Die broer was Tom Mitchell, en sy eerste paar note was baie mooi. Hy het die tromboon soos ’n viool laat klink! Ek het gedink: ‘Hierdie broer moet bly!’ Broer Knorr het nooit beswaar gemaak nie.

In daardie orkes het ons ’n groep uitstekende musikante gehad wat ook liefdevolle broers en susters was. Daar was geen primadonnas nie! Dit was ’n veeleisende taak om opnames te maak, maar niemand het gekla nie. Toe die werk klaar was, was daar trane; en daar is nog steeds ’n sterk band tussen almal wat deelgeneem het. Elkeen van ons het die voorreg geniet, en met Jehovah se hulp het ons die opnames gemaak.

Nog lonende voorregte

Ná soveel jaar geniet ek nog steeds die voltydse bediening. Daar was 28 jaar van toewysings in die kring- en streekwerk—waarvan ek elkeen geniet het. Daarna het ons vyf jaar lank toesig gehou oor die Norval-Byeenkomssaal in Ontario. Ek en Aileen was besig, aangesien ’n kringbyeenkoms elke naweek gehou is, sowel as anderstalige streekbyeenkomste. In 1979/80 het argitekte en ingenieurs die fasiliteite by die Byeenkomssaal gebruik terwyl hulle die Genootskap se toekomstige takkantoor in Halton Hills beplan het. Ná ons werk by die Byeenkomssaal het nog ’n toewysing wat met musiek verband gehou het daartoe gelei dat ons van 1982 tot 1984 in Brooklyn gewerk het.

My liewe vrou is op 17 Junie 1994 oorlede, net sewe dae ná ons 59ste huweliksherdenking. Ons het 51 jaar van toegewyde pionierdiens saam voltooi.

As ek nadink oor my talle ondervindinge in die lewe, onthou ek hoe die Bybel ’n baie waardevolle gids was. Partykeer gebruik ek Aileen se persoonlike Bybel en put ek groot genot daaruit om te sien wat haar hart geraak het—hele verse, spesifieke frases en individuele woorde wat sy gemerk het. Soos dit die geval met Aileen was, het ek ook tekste wat vir my spesiale betekenis het. Een gedeelte is die 137ste Psalm, wat hierdie pragtige gebed tot Jehovah bevat: “Mag ek nooit weer die harp kan speel nie as ek jou vergeet, o Jerusalem! Mag ek nooit weer kan sing nie as ek jou nie onthou nie, as ek nie aan jou dink as my grootste vreugde nie!” (Psalm 137:5, 6, Today’s English Version). Hoewel ek baie lief is vir musiek, put ek my grootste vreugde daaruit om Jehovah lojaal te dien, wat my met ’n vol en bevredigende lewe beloon het.

[Voetnoot]

a Die Wagtoring van 15 Augustus 1973 het verduidelik waarom iemand van toe af sou moes ophou rook voordat hy gedoop en een van Jehovah se Getuies kon word.

[Prent op bladsy 28]

Saam met Aileen in 1947

[Prent op bladsy 30]

By ’n vroeë opnamesessie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel