Ons is die soort wat geloof het
God se Koninkryk word op die Fidji-eilande aangekondig
JESUS CHRISTUS het eenkeer van twee paaie gepraat. Die een is wyd en lei na die dood. Die ander een is smal, maar lei na die lewe (Matteus 7:13, 14). Om mense te help om die regte pad te kies, het Jehovah God beskik dat die goeie nuus van die Koninkryk in die hele aarde verkondig word (Matteus 24:14). Oral hoor mense dus die Koninkryksboodskap, en party kies lewe deur “die soort [te word] wat geloof het tot die behoud van die siel” (Hebreërs 10:39). Ons nooi jou uit om te lees van die keuse wat party in Fidji en ander nabygeleë eilande van die Stille Suidsee gemaak het om te lewe.
Hulle het op Jehovah vertrou
Mere was nog op skool toe sy die Koninkryksboodskap vir die eerste keer in 1964 gehoor het. Vanweë haar afsondering op ’n afgeleë eiland het sy min kontak met Jehovah se Getuies gehad. Maar uiteindelik het sy die geleentheid gekry om juiste kennis van die Bybel op te doen. Teen daardie tyd was sy met ’n man getroud wat die stamhoof in sy dorpie was. As gevolg van Mere se besluit om volgens Bybelbeginsels te lewe, het haar man en sy familielede haar wreed behandel en het die mense van die dorp haar verwerp. Sy is nietemin in 1991 gedoop.
Kort daarna het die gesindheid van Mere se man, Josua, versag en het hy selfs begin om tydens Bybelbesprekings, wat Mere met hulle kinders gehad het, by te sit. Josua het opgehou om die Metodistekerk by te woon. As ’n stamhoof het hy egter nog steeds die leiding by weeklikse dorpsvergaderinge geneem. In die oë van die dorpenaars was Josua ontrou, want die Metodistekerk was ’n onafskeidbare deel van Fidjiaanse dorpslewe. Daarom het die plaaslike pastoor Josua aangespoor om na sy vorige geloof terug te keer.
Josua het moedig geantwoord dat hy en sy gesin hulle besluit gemaak het en dat hulle vasbeslote was om Jehovah God “met gees en waarheid” te aanbid (Johannes 4:24). By ’n daaropvolgende dorpsvergadering het die opperhoof beslis dat Josua en sy gesin as uitgeworpenes die dorpie moes verlaat. Hulle is sewe dae gegee om die eiland en hulle huis, hulle grond en oeste te verlaat—ja, alles wat hulle gehad het.
Geestelike broers op ’n ander eiland het bystand aan Josua en sy gesin verleen en hulle gehelp met ’n blyplek en grond wat hulle kon verbou. Josua en sy oudste seun is nou gedoop, en ’n ander seun dien as ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus. Mere het onlangs as ’n gewone pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) begin dien. Hulle keuse om Jehovah te dien, het tot ’n verlies van posisie en materiële besittings gelei, maar soos die apostel Paulus beskou hulle dit as niks in vergelyking met wat hulle gekry het nie.—Filippense 3:8.
’n Keuse waarby die gewete betrokke is
Die keuse om ’n Bybelopgeleide gewete te volg, vereis geloof en moed. Dit was beslis die geval met Suraang, ’n jong, pasgedoopte vrou wat op Tarawa, een van die eilande van Kiribati, woon. Suraang het toestemming gevra om van een aspek van haar werk as ’n verpleegster by die hospitaal verskoon te word. Die reaksie op haar versoek was ongunstig en het daartoe gelei dat sy na ’n afgeleë eiland gestuur is om na die klein mediese sentrum daar om te sien waar sy van ander van haar geloof afgesny is.
Op daardie eiland is dit gebruiklik vir alle nuwe aankomelinge om ’n offer aan die plaaslike “gees” te bring. Die mense glo dat versuim om dit te doen tot die dood sal lei. Aangesien Suraang geweier het om toe te laat dat hierdie daad van afgodediens vir haar en haar metgeselle uitgevoer word, het die dorpenaars gewag dat sy deur die gekrenkte gees verwurg moes word. Toe Suraang en haar metgeselle niks oorkom nie, het dit vir haar baie geleenthede geskep om ’n uitstekende getuienis te gee.
Maar Suraang se toetse was nie verby nie. Party van die jong manne van daardie eiland beskou dit as ’n uitdaging om jong vroue wat die eiland besoek te verlei. Suraang het egter hulle toenadering weerstaan en haar onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf. Trouens, sy was in staat om as ’n gewone pionier te dien, selfs al moes sy as ’n verpleegster dag en nag beskikbaar wees.
Voor ’n onthaal wat vir Suraang gehou is toe sy gereedgemaak het om die eiland te verlaat, het die hoofmanne van die dorpie gesê dat sy die eerste ware sendeling is wat hulle besoek het. Weens haar ferm standpunt vir Bybelbeginsels het ander op daardie eiland gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer.
Fisiese uitdagings
Party dorpies is so afgeleë dat Jehovah se knegte groot moeite moet doen om aan die veldbediening deel te neem en Christelike vergaderinge by te woon. Beskou die voorbeeld van vier gedoopte Getuies—een man en drie vroue—wat etlike ure vergaderinge toe en terug moet loop. Op hulle pad soontoe moet hulle drie riviere oorsteek, en weer as hulle terugkom. Wanneer die watervlak hoog is, swem die broer eers na die oorkant met ’n groot kookpot waarin hulle sakke, boeke en vergaderingklere is. Dan swem hy terug om die drie susters te help.
’n Ander groepie, wat die vergaderinge op die afgeleë eiland Nonouti in Kiribati bywoon, bied ander uitdagings die hoof. Die huis waarin hulle vergader, is net groot genoeg vir sewe of agt mense. Ander wat die vergadering bywoon, sit buite en kyk deur die ogiesdraad, wat die “mure” van die huisie vorm. Die vergaderplek is geleë waar ander dorpenaars verbygaan na hulle indrukwekkende kerke. Jehovah se knegte besef natuurlik dat dit mense is, nie geboue nie, wat waarlik begeerlik in God se oë is (Haggai 2:7, NW). Die enigste gedoopte suster op die eiland is bejaard en kan nie ver loop nie. Sy word nogtans in die bediening gehelp deur ’n jong vrou, ’n ongedoopte verkondiger wat haar in ’n stootkarretjie rondstoot. Hoeveel waardering toon hulle tog vir die waarheid!
Die meer as 2 100 verkondigers wat op die eilande van Fidji dien, is vasbeslote om voort te gaan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. En hulle is vol vertroue dat nog baie meer “die soort [sal word] wat geloof het tot die behoud van die siel”.
[Kaart op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Australië
Fidji