Die “goeie nuus” word verkondig op Australië se verre noordelike eilande
“HIERDIE goeie nuus van die koninkryk”, het Jesus gesê, “sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:14). Jehovah se Getuies gehoorsaam Jesus se opdrag en probeer mense met die Bybel se boodskap bereik, ongeag waar hulle woon (Matteus 28:19, 20). Hierdie werk word vrywillig gedoen, soms ten spyte van aansienlike ongerief en persoonlike onkoste.
Nathan en Carly het byvoorbeeld hulle sake gereël sodat hulle vir mense op die afgeleë eilande in die Torres-straat kan preek. In 2003 het ’n verteenwoordiger van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië hulle genooi om na Thursday-eiland te trek om saam met die plaaslike gemeente te werk. Hierdie eiland is net een skakel in die ketting van groen juwele wat die blou Stille Oseaan tussen Australië en Nieu-Guinee versier.
In 2007 het die gesin ’n ou pêrelduik-boot van hout gekoop met die naam Teisan-Y. Op eie onkoste het hulle die boot opgeknap en met Thursday-eiland as basis na tien van die mees afgeleë eilande begin reis om vir die bewoners te preek. Hierop volg ’n “Kaptein se logboek” oor ’n paar van hulle reise.
Januarie 2008: Vandag het ek met ’n skuitjie na Bamaga gereis—’n retoerreis van 80 kilometer—om ses plaaslike Getuies te gaan haal. Ons is nou op die Teisan-Y en vaar in die rigting van die eilande Warraber en Poruma. Die tenks is vol—5 500 liter brandstof teen $2,00 per liter. Die boot vaar baie stadig, teen ’n gemiddelde snelheid van slegs tien kilometer per uur. Maar die weer is pragtig—daar is skaars ’n rimpel op die oseaan.
Toe ons daar aankom, gooi ons anker langs die kus, laat ons ’n paar van ons bemanningslede wat familie op Warraber het, in die skuitjie klim en gaan sien ons die eiland se raadslid om toestemming te kry om te preek. Hy is ’n predikant in die plaaslike kerk, maar laat ons toe om met die bewoners te praat. Ons volg dieselfde roetine op Poruma en word toegelaat om te preek. Die mense is baie vriendelik en gretig om ons lektuur te lees. Ons begin baie Bybelstudies.
April 2008: Ons beplan ’n roete na Dauan, Saibai en Boigu—die drie verste eilande—naby die grens van Papoea-Nieu-Guinee (PNG). Die weer word baie sleg, en ons reis eerder na Mabuiag-eiland. Mabuiag is slegs 70 kilometer van ons tuishawe af, maar ons sal 140 kilometer afgelê het teen die tyd dat ons ons pad tussen die tientalle riwwe deur gevind het.
’n Reusegolf het die skuitjie van die Teisan-Y af weggeruk. Ons het die boot te midde van ontsaglike watermure omgedraai om dit te gaan haal. Die meeste aan boord is seesiek.
By Mabuiag ontvang ons toestemming om op die eiland te preek, en die plaaslike mense verwelkom ons so vriendelik dat ons kort voor lank van ons ongerief vergeet. Een vrou is so bly om ons boodskap te hoor dat sy nog lektuur aanvaar sodat sy dit kan uitstal by die plaaslike biblioteek, waar sy werk.
Mei tot Oktober 2008: As gevolg van weerstoestande kan ons nie die eilande bereik nie. Ons gebruik die tyd om plaaslik te preek, te werk en instandhoudingswerk aan die boot te doen.
Die boot het baie werk nodig, en daarom reis ons na die hawe van Weipa op die vasteland en trek die boot uit die water op ’n groot sleepwa. Dit is makliker gesê as gedaan! Getuies van die plaaslike gemeente bied hulle tyd aan om te help met werk soos loodgietery, verfwerk en houtwerk. Ander bring etes. Nog ander voorsien voorraad vir ons volgende predikingsreis. Hulle gasvryheid en hulp is van onskatbare waarde.
Desember 2008: Ons kies weer koers na Dauan, Saibai en Boigu. Met behulp van ons radar ontwyk ons tropiese storms, en ons vind ons pad deur die riwwe danksy ons koersaanwyser. Dit neem 12 uur om na Dauan te vaar, maar dit is die pragtigste eiland wat ons nog ooit gesien het. Die rotsagtige heuwels wat bo ons uittoring, is met wolke bedek. Die mense op Dauan luister aandagtig na ons, en ons reël om ons Bybelbesprekings oor die telefoon voort te sit nadat ons teruggekeer het huis toe.
’n Plaaslike vrou met die naam Lettie het op die een of ander manier ons tydskrifte in die hande gekry en die koepons gebruik om meer lektuur aan te vra. Die takkantoor in Australië het die items vir haar gestuur en ook aan ons gemeente ’n brief gestuur om te vra dat ons met haar in aanraking kom, indien moontlik. Uiteindelik vind ons Lettie, en ons is bly om ’n klein aandeel aan die bevrediging van haar geestelike behoeftes te hê.
Op die eiland Saibai weier die raadslid om ons toe te laat om vir die eilanders te preek. Maar hy laat wel toe dat bemanningslede wat familie op die eiland het, hulle besoek en met hulle praat. Ek het ’n kontrak met die regering om huise op Saibai te verf, en dit help om van ons onkoste te dek.
Een van ons susters met die naam Tassie kom van ’n dorpie in PNG wat net sowat vier kilometer van Saibai af is. Kragtens ’n verdrag met die Australiese regering kan bewoners van PNG na Saibai kom en handeldryf. Tassie sien baie mense van haar dorpie en het nie genoeg lektuur vir hulle almal nie. Dit is die eerste keer dat Tassie hulle weer sien vandat sy een van Jehovah se Getuies geword het. Ons keer terug na die boot en bring vir haar ’n karton lektuur, waarvan die meeste in die pidgin van PNG is, ’n taal wat as Tok Pisin bekend staan. Tassie verduidelik die Bybel se boodskap aan ’n groep van meer as 30 mense van PNG, en die belangstellendes maak die karton lektuur leeg. Die dorpie waarin hulle woon, kan slegs per boot bereik word en is dalk nog nooit deur Jehovah se Getuies besoek nie.
Dit is ’n uitdaging om die laaste eiland, Boigu, te bereik. Ons is omtrent vier kilometer van die kus af, en die water is slegs twee en ’n half meter diep. Die boot het ’n diepgang van 1,8 meter. Ek en een van die bemanningslede verken die gebied met die skuitjie om ’n deurgang na die eiland te vind. Dit sous, en ons is papnat! Dit neem twee uur om ’n roete te vind.
Wanneer ons daar aankom, vertel die verbaasde eilanders ons dat die kaarte wat ek het, onakkuraat is en dat nie eers die kuswag of die vloot in die gebied kom nie. Die raadslid weier toestemming om te preek, maar laat bemanningslede wat familie op die eiland het, toe om hulle te besoek en vir hulle te preek. Ons respekteer die raadslid se wense en besoek slegs familielede. Een man aanvaar die boek Wat leer die Bybel werklik?,a lees dit onmiddellik en begin vrae agter in sy Bybel neerskryf. Dieselfde man word later weer gekontak wanneer hy Thursday-eiland besoek.
Januarie 2009: Ons keer terug na die eilande Moa en Mabuiag om weer met diegene te praat wat in die Bybel se boodskap belangstelling getoon het. Op albei eilande word ons baie hartlik verwelkom. Baie in die dorpie St. Paul op Moa-eiland sê vir ons om nie so lank te wag totdat ons hulle weer besoek nie. Die raadslid sê dat ons gerus in die dorpie kan preek wanneer ons ook al wil.
Daar is 17 bewoonde eilande in die Torres-straat. Ons weet nie in watter mate ons almal sal kan bereik wat daarop woon nie. Maar ons almal in die gemeente hier op Australië se verre noordelike eilande is bly om te doen wat ons kan om ons Grootse Skepper, Jehovah, te loof.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AUSTRALIË
Weipa
Bamaga
EILANDE IN DIE TORRES-STRAAT
PAPOEA-NIEU-GUINEE
[Erkenning]
Based on NASA/Visible Earth imagery
[Kaart op bladsy 24, 25]
Bamaga
Thursday-eiland
Moa-eiland
Warraber-eiland
Poruma-eiland
Mabuiag-eiland
Saibai-eiland
Dauan-eiland
Boigu-eiland
PAPOEA-NIEU-GUINEE
[Erkenning]
Based on NASA/Visible Earth imagery
[Prent op bladsy 24]
Ons aankoms op Thursday-eiland
[Prent op bladsy 24]
Ons loop om mense op Saibai-eiland te besoek
[Prent op bladsy 25]
Die goeie nuus word in die Tok Pisin-taal verkondig