Lewensverhaal
Geseën met ’n spesiale erfenis
SOOS VERTEL DEUR CAROL ALLEN
Ek was alleen en het my pragtige nuwe boek styf vasgehou. Ek was baie bang, en trane het oor my wange gerol. Ek was per slot van rekening maar ’n klein dogtertjie van sewe jaar wat tussen tienduisende mense in ’n vreemde stad verlore geraak het!
ONLANGS, byna 60 jaar later, het ek hierdie ondervinding uit my kinderjare weer onthou asof dit gister gebeur het, toe ek en my man, Paul, die pragtige Wagtoring-onderrigsentrum by Patterson, New York, besoek het. Hy is daarheen genooi om die tweede klas van ’n skool vir reisende opsieners van Jehovah se Getuies by te woon.
Terwyl ons in die sonnige portaal rondgekyk het, het ek ’n groot uitstalling met die opskrif “STREEKBYEENKOMSTE” gesien. In die middel was ’n ou swart-en-wit-foto van kinders wat hulle eksemplare van die boek uit my kinderdae opgewonde waai! Ek het gou die byskrif by die foto gelees: “1941—Toe die oggendsessie in St. Louis, Missouri, begin het, was daar 15 000 kinders—tussen 5 en 18—reg voor die verhoog in die hoofarena. . . . Broer Rutherford het die vrystelling van die nuwe boek Kinders aangekondig.”
Elke kind het sy eie eksemplaar gekry. Die kinders het toe teruggegaan na waar hulle ouers gesit het—almal behalwe ek. Ek het verdwaal! ’n Vriendelike saalwagter het my opgetel en my op ’n hoë bydraebus neergesit en vir my gesê om na iemand te soek wat ek ken. Ek het beangs deur die skare gekyk wat by die breë trap afgestroom het. Skielik was daar iemand wat ek geken het! “Oom Bob! Oom Bob!” Ek is gevind! Bob Rainer het my gedra na waar my bekommerde ouers gewag het.
Vroeë gebeure wat my lewe gevorm het
Die uitstalling het my baie dinge laat onthou—gebeure wat my lewe gevorm het en daartoe gelei het dat ons ons by die lieflike fasiliteit by Patterson bevind het. Ek het begin dink aan gebeure van meer as honderd jaar gelede, dinge wat veral my grootouers en my ouers my vertel het.
In Desember 1894 het ’n voltydse bedienaar van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, my oupa aan vaderskant, Clayton J. Woodworth, by sy huis in Scranton, Pennsilvanië, VSA, besoek. Clayton was pas getroud. Hy het ’n brief aan die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Charles Taze Russell, geskryf, en dit is in The Watchtower van 15 Junie 1895 gepubliseer. Hy het verduidelik:
“Ons is ’n jong getroude paartjie wat ongeveer tien jaar lank lede van die nominale kerk was; maar ons is hopelik nou besig om uit die duisternis daarvan te kom tot in die lig van die nuwe dag wat nou vir die toegewyde kinders van die Allerhoogste aanbreek. . . . Lank voordat ons mekaar ontmoet het, was dit ons opregte begeerte om die Here te dien as sendelinge in ’n ander land, as dit sy wil is.”
Later, in 1903, het Sebastian en Catherine Kresge, my oupa- en oumagrootjie aan moederskant, gelukkig geluister na die Bybelboodskap wat deur twee verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap gebring is na die groot plaas waarop hulle gewoon het, in die pragtige Pocono-berge van Pennsilvanië. Hulle dogters, Cora en Mary, het ook daar gebly saam met hulle mans, Washington en Edmund Howell. Die verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap, Carl Hammerle en Ray Ratcliffe, het ’n hele week by hulle gebly en hulle baie dinge geleer. Al ses lede van hierdie gesin het geluister, gestudeer en gou ywerige Bybelstudente geword.
In daardie selfde jaar, 1903, het Cora en Washington Howell ’n dogter met die naam Catherine gehad. Hoe sy uiteindelik met my pa, Clayton J. Woodworth jr., getroud is, is ’n interessante en noemenswaardige verhaal, glo ek. Dit openbaar die liefdevolle insig en ouerlike besorgdheid van my oupa Clayton J. Woodworth sr.
My pa ontvang liefdevolle hulp
My pa, Clayton junior, is in 1906 in Scranton gebore, sowat 80 kilometer van die Howell-plaas af. In daardie vroeë jare het my oupa Woodworth die groot Howell-gesin goed leer ken en dikwels hulle kenmerkende gasvryheid geniet. Hy het die gemeente van Bybelstudente in daardie omgewing baie gehelp. Mettertyd is my oupa gevra om die huwelike van die drie Howell-seuns te voltrek, en met sy eie seun se welsyn in gedagte het hy gesorg dat hy hom na elkeen van hierdie troues toe saamneem.
My pa het toe nie aan die bediening van die Bybelstudente deelgeneem nie. Hoewel hy my oupa met sy motor geneem het om sy besoeke in die bediening te doen, het my pa, ondanks my oupa se aanmoediging, nie self deelgeneem nie. Op daardie stadium was my pa se belangstelling in musiek vir hom die belangrikste, en hy wou ’n professionele loopbaan begin.
Catherine, die dogter van Cora en Washington Howell, het ook ’n begaafde musikant geword; sy het klavier gespeel en lesse gegee. Maar toe die geleentheid hom voordoen om ’n professionele loopbaan na te streef, het sy dit van die hand gewys en aan die voltydse bediening begin deelneem. My oupa kon nie ’n beter metgesel vir sy seun in gedagte gehad het nie—ten minste nie uit my oogpunt nie! My pa is gedoop, en hy het ses maande later, in Junie 1931, met my ma getrou.
My oupa was altyd trots op sy seun se musikale vermoë. Hy was so bly toe my pa gevra is om die hoofmusikante van die groot byeenkomsorkes op te lei vir die internasionale byeenkoms in Cleveland, Ohio, in 1946. In die jare daarna het my pa die orkes by ’n hele paar ander streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies gedirigeer.
My oupa se verhoor en lewe in die tronk
In die portaal by Patterson het ek en Paul ook op die uitstalling afgekom met die foto wat op die volgende bladsy gesien word. Ek het onmiddellik die foto herken, aangesien my oupa my meer as 50 jaar gelede ’n afdruk daarvan gestuur het. Hy is die een wat heel regs staan.
Gedurende die patriotiese histerie waarmee die Eerste Wêreldoorlog gepaardgegaan het, is hierdie agt Bybelstudente—waaronder Joseph F. Rutherford (wat in die middel sit), die president van die Wagtoringgenootskap—ten onregte in die tronk gesit en sonder borgtog aangehou. Die aanklagte teen hulle was op grond van stellings in die sewende deel van Studies in the Scriptures, met die titel The Finished Mystery. Die stellings is verkeerdelik gesien as verklarings teen die deelname van die Verenigde State aan die Eerste Wêreldoorlog.
Oor ’n tydperk van baie jare het Charles Taze Russell die eerste ses dele van Studies in the Scriptures geskryf, maar hy is oorlede voordat hy die sewende deel kon skryf. Sy aantekeninge is dus vir my oupa en ’n ander Bybelstudent gegee, en hulle het die sewende deel geskryf. Dit is in 1917, voor die einde van die oorlog, vrygestel. Met die verhoor is my oupa en die meeste van die ander broers vier samelopende vonnisse van 20 jaar elk opgelê.
Die byskrif by die foto in Patterson se portaal verduidelik: “Nege maande nadat broer Rutherford en sy metgeselle gevonnis is—en na afloop van die oorlog—het die appèlhof op 21 Maart 1919 borgtog aan al agt verweerders toegestaan, en op 26 Maart is hulle in Brooklyn op borgtog van $10 000 elk vrygelaat. Op 5 Mei 1920 is J. F. Rutherford en die ander vrygespreek.”
Nadat hulle gevonnis is, maar voordat hulle na die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, gestuur is, het die agt hulle eerste paar dae van opsluiting in die Raymondstraat-gevangenis in Brooklyn, New York, deurgebring. My oupa het uit die gevangenis geskryf hoe dit voel om in ’n sel opgesluit te wees wat 1,8 by 2,4 meter groot is en wat “ontsettend vuil en deurmekaar is”. Hy het gesê: “’n Mens kry ’n hoop koerante, en as jy aan die begin nie veel daarvan dink nie, besef jy gou dat hierdie koerante en seep en ’n waslap jou enigste kans is om skoon te bly en jou selfrespek te behou.”
En tog het my oupa sy sin van humor behou en na die tronk verwys as “Hôtel de Raymondie” en gesê: “Ek sal hier weggaan sodra ek nie meer welkom is nie.” Hy het ook sy wandelings in die binnehof beskryf. Eenkeer toe hy stilgestaan het sodat iemand sy hare kon kam, het ’n sakkeroller sy sakhorlosie gegryp, maar soos hy geskryf het, “het die ketting gebreek en het ek dit gered”. Toe ek die Brooklynse Bethel in 1958 besoek het, het Grant Suiter, wat toe die sekretaris-tesourier van die Wagtoringgenootskap was, my na sy kantoor geroep en daardie horlosie vir my gegee. En dit is nog steeds vir my ’n kleinood.
Uitwerking op my pa
Toe my oupa in 1918 ten onregte in die gevangenis gesit is, was my pa net 12. My ouma het hulle huis toegesluit en hom saam met haar geneem om by haar ma en haar drie susters te gaan woon. My ouma se nooiensvan was Arthur, en die familie het met trots beweer dat een van hulle familielede, Chester Alan Arthur, die 21ste president van die Verenigde State was.
Nadat my oupa Woodworth ’n lang vonnis opgelê is vir beweerde misdade teen die Verenigde State, het die Arthurs klaarblyklik gevoel dat hy hulle familienaam oneer aangedoen het. Dit was vir my pa ’n emosioneel pynlike tyd. Hierdie behandeling was moontlik ’n rede waarom hy aanvanklik huiwerig was om aan die openbare bediening deel te neem.
Toe my oupa uit die tronk vrygelaat is, het hy en sy gesin in ’n groot gepleisterde huis in Quincystraat in Scranton ingetrek. As kind het ek daardie huis—sowel as my ouma se mooi porselein—goed geken. Ons het dit haar heilige borde genoem omdat my ouma niemand anders toegelaat het om dit te was nie. Nadat my ouma in 1943 oorlede is, het my ma dikwels mense onthaal en daardie pragtige borde gebruik.
Besig in Koninkryksdiens
Op ’n ander dag by die Patterson-kampus het ek op ’n foto afgekom van broer Rutherford wat by die streekbyeenkoms in 1919 in Cedar Point, Ohio, ’n toespraak hou. Daar het hy almal aangespoor om God se Koninkryk ywerig te verkondig en om die nuwe tydskrif te gebruik wat by daardie byeenkoms vrygestel is, The Golden Age. My oupa is as die redakteur daarvan aangestel, en hy het tot die 1940’s, tot kort voor sy dood, artikels daarvoor geskryf. In 1937 is die tydskrif se naam verander na Vertroosting en in 1946 na Ontwaak!
My oupa het sy skryfwerk by die huis in Scranton sowel as by die Wagtoringgenootskap se hoofkantoor sowat 240 kilometer daarvandaan in Brooklyn gedoen en twee weke op ’n slag op elke plek deurgebring. My oupa se tikmasjien kon baie oggende al vyfuur gehoor word, het my pa vertel. Maar my oupa het ook die verantwoordelikheid om aan die openbare predikingswerk deel te neem ernstig opgeneem. Trouens, hy het ’n mansonderbaadjie ontwerp wat groot sakke aan die binnekant gehad het vir Bybellektuur. My 94-jarige tannie, Naomi Howell, het nog een. Hy het ook ’n velddienssak vir vroue ontwerp.
Eenkeer, ná ’n lewendige Bybelbespreking, het my oupa se velddiensmaat gesê: “C. J., jy het een fout gemaak.”
“Wat was fout?” het my oupa gevra. Hy het in sy onderbaadjie gekyk. Albei sakke was leeg.
“Jy het vergeet om hom ’n intekening op The Golden Age aan te bied.” Hulle het lekker gelag oor die feit dat die redakteur vergeet het om sy eie tydskrif aan te bied.
Herinneringe van my kinderjare
Ek onthou hoe ek as kind op my oupa se skoot gesit het met my klein handjie in syne terwyl hy vir my die vingerrympie opgesê het. Hy het begin met “Duimpie” en dan aangegaan na “Duimpie se maat” en vir my ’n storietjie oor elke vinger vertel. Dan het hy al die vingers saggies teen mekaar vasgedruk en die les gegee: “Saam werk hulle op hulle bes; elkeen help die res.”
Nadat my ouers getroud is, het hulle na Cleveland, Ohio, getrek en goed bevriend geraak met Ed en Mary Hooper. Hulle gesinne was al van die begin van die eeu af Bybelstudente. My ouers en oom Ed en tannie Mary, soos ek hulle genoem het, was onafskeidelik van mekaar. Die Hoopers het hulle enigste kind, ’n babadogtertjie, verloor, en toe ek dus in 1934 gebore is, het ek hulle spesiale “dogter” geword. Aangesien ek in so ’n geestelike ryk milieu grootgemaak is, het ek my aan God toegewy en is ek gedoop voor ek agt geword het.
Bybellees was ’n deel van my kinderjare. Die beskrywing van die lewe in God se nuwe wêreld in Jesaja 11:6-9 was een van my geliefkoosde Skrifgedeeltes. Ek het in 1944 vir die eerste keer probeer om die Bybel deur te lees, nadat ek my eie eksemplaar van die American Standard Version ontvang het, wat as ’n spesiale uitgawe by die streekbyeenkoms in Buffalo, New York, vrygestel is. Hoe opgewonde was ek tog om hierdie vertaling te lees waarin God se naam, Jehovah, byna 7 000 keer tot sy regmatige plek in die “Ou Testament” herstel is!
Naweke was gelukkige tye. My ouers en die Hoopers het my saamgeneem om op die platteland te gaan getuig. Ons het middagete ingepak en by ’n stroompie piekniek gehou. Dan het ons na iemand se plaas toe gegaan vir ’n Bybeltoespraak in die ope lug waarheen ons al die bure genooi het. Die lewe was eenvoudig. Ons was gelukkig as gesinne. ’n Hele paar van hierdie vroeë huisvriende het reisende opsieners geword, insluitende Ed Hooper, Bob Rainer en sy twee seuns. Richard Rainer doen nog steeds hierdie werk saam met sy vrou, Linda.
Somers was veral aangename tye. Ek het op die Howell-plaas gebly saam met my niggies. In 1949 is my niggie Grace met Malcolm Allen getroud. Ek het natuurlik toe nie besef dat ek jare later met sy jonger broer sou trou nie. My jonger niggie Marion was ’n sendeling in Uruguay. Sy is in 1966 met Howard Hilborn getroud. Albei hierdie niggies het ’n hele paar jaar saam met hulle mans by die Brooklyn-hoofkantoor gedien.
My oupa en my diplomaplegtigheid
Gedurende my hoërskooljare het my oupa dikwels vir my geskryf. Sy briewe het talle ou familiefoto’s ingesluit met heelwat besonderhede oor die familiegeskiedenis agterop getik. Dit is hoe ek my afdruk van die foto ontvang het van hom en die ander wat ten onregte tronk toe gestuur is.
Teen die einde van 1951 het my oupa se stemkas ingegee weens kanker. Hy was nog steeds vlug van begrip, maar hy moes sy woorde neerskryf in ’n klein notaboekie wat hy by hom gedra het. Ons hoërskoolklas sou in Januarie 1952 hulle diplomas ontvang. Vroeg in Desember het ek ’n skets van my toespraak vir die diplomaplegtigheid aan my oupa gestuur. Hy het dit op ’n paar plekke geredigeer en toe op die laaste bladsy twee woorde geskryf wat my hart diep geraak het: “Oupa verheug.” Hy het op 18 Desember 1951 op die ouderdom van 81 sy aardse loopbaan voltooi.a Ek bewaar daardie verbleikte skets van my toespraak met daardie twee woorde op die laaste bladsy nog soos ’n kleinood.
Direk nadat ek my skoolopleiding voltooi het, het ek die pionierdiens betree, soos Jehovah se Getuies die voltydse predikingswerk noem. In 1958 het ek die ontsaglike groot streekbyeenkoms in die stad New York bygewoon, waar daar ’n opkomshoogtepunt van 253 922 mense uit 123 lande was wat in die Yankee-stadion en die Polo-terrein bymekaargekom het. Daar het ek die een dag ’n afgevaardigde uit Afrika ontmoet wat ’n lapelkaartjie gedra het waarop die naam “Woodworth Mills” gestaan het. Hy is ongeveer 30 jaar tevore na my oupa vernoem!
Bly oor my erfenis
Toe ek 14 was, het my ma weer as ’n pionier begin dien. Sy is 40 jaar later, in 1988, oorlede terwyl sy nog steeds ’n pionier was! My pa het aan die pionierdiens deelgeneem wanneer hy kon. Hy het nege maande voor my ma gesterf. Diegene met wie ons gestudeer het, het lewenslange goeie vriende geword. Party van hulle seuns het by die hoofkantoor in Brooklyn gaan dien, en ander het die pionierdiens betree.
Vir my was 1959 ’n baie spesiale jaar. Dit was toe ek aan Paul Allen voorgestel is. Hy is in 1946 as ’n reisende opsiener aangestel toe hy gegradueer het aan die sewende klas van Gilead, ’n skool wat sendelinge van Jehovah se Getuies oplei. Toe ons ontmoet het, het nie een van ons geweet dat Paul se volgende toewysing Cleveland, Ohio, sou wees waar ek as ’n pionier gedien het nie. My pa was baie lief vir hom, en my ma ook. Ons is in Julie 1963 op die Howell-plaas getroud, en ons families het dit bygewoon en Ed Hooper het die troutoespraak gehou. Dit was ’n droom wat bewaarheid is.
Paul het nooit voorheen ’n motor besit nie. Toe ons Cleveland verlaat het om na sy volgende toewysing te gaan, het al ons besittings in my 1961-model Volkswagen Kewer gepas. Die broers het dikwels Maandae, die dag wanneer ons na ’n ander gemeente gegaan het, by ons aangekom om te kyk hoe ons die motor pak. Dit was soos ’n sirkusvertoning om te sien hoe die tasse, aktetasse, lêers, tikmasjien, ensovoorts in daardie klein motortjie gepak word.
Ek en Paul het saam tallose kilometers gereis, terwyl ons die goeie tye geniet het en die moeilike tye van die huidige lewe verduur het—dit alles het ons gedoen in die krag wat net Jehovah kan voorsien. Dit was gelukkige jare, vol liefde vir Jehovah, vir mekaar en vir ou en nuwe vriende. Die twee maande wat ons in Patterson deurgebring het terwyl Paul opleiding ontvang het, was tot dusver die hoogtepunt van ons lewe. Om Jehovah se aardse organisasie van naderby te sien, het ’n oortuiging herbevestig wat aan my oorgedra is as deel van my kosbare geestelike erfenis: Hierdie organisasie is inderdaad God se organisasie. Wat ’n vreugde is dit tog om selfs net ’n klein deeltjie daarvan te wees!
[Voetnoot]
a Sien The Watchtower van 15 Februarie 1952, bladsy 128.
[Prent op bladsy 25]
Saam met Ed Hooper net voor die streekbyeenkoms van 1941 in St. Louis, waar ek my persoonlike eksemplaar van die boek “Kinders” ontvang het
[Prent op bladsy 26]
My oupa in 1948
[Prent op bladsy 26]
Op die Howell-plaas toe my ouers (in die sirkel) getroud is
[Prent op bladsy 27]
Die agt Bybelstudente wat in 1918 ten onregte in die tronk gesit is (My oupa staan heel regs)
[Prent op bladsy 29]
Al ons aardse besittings het in ons Volkswagen gepas
[Prent op bladsy 29]
Saam met my man, Paul