Die werk in die “saailand”—Voor die oes
DIE dissipels van die Groot Onderwyser was dronkgeslaan. Jesus het pas ’n kort verhaal oor koring en onkruid vertel. Dit is een van ’n hele paar gelykenisse wat hy daardie dag vertel het. Toe hy klaar is, het die meeste in sy gehoor weggegaan. Maar sy volgelinge het geweet dat sy gelykenisse ’n besondere betekenis moet hê—veral die een oor die koring en die onkruid. Hulle het geweet dat Jesus nie net interessante verhale vertel het nie.
Matteus berig dat hulle gevra het: “Verduidelik vir ons die illustrasie van die onkruid in die saailand.” In antwoord hierop het Jesus die gelykenis uitgelê en ’n groot afvalligheid voorspel wat onder sy verklaarde dissipels sou ontstaan (Matteus 13:24-30, 36-38, 43). Dit het wel gebeur, en afvalligheid het vinnig versprei ná die dood van die apostel Johannes (Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:6-12). Die gevolge daarvan was so verreikend dat die vraag wat Jesus geopper het, soos opgeteken in Lukas 18:8, baie gepas gelyk het: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?”
Jesus se koms sou die begin van “die oes” van koringagtige Christene aandui. Dit sou ’n teken van die ‘voleinding van die stelsel van dinge’ wees, wat in 1914 begin het. Dit moet ons dus nie verbaas dat sommige mense in die tydperk voor die begin van die oes in Bybelwaarheid begin belangstel het nie.—Matteus 13:39.
’n Ondersoek van die geskiedkundige verslag toon duidelik dat mense veral van die 15de eeu af belangstelling begin toon het, selfs mense onder die massas in die Christendom wat soos die “onkruid” was, oftewel naamchristene. Namate die Bybel vryelik beskikbaar geword het en Bybelkonkordansies voorberei is, het opregtes van hart die Skrif sorgvuldig begin ondersoek.
Die lig word helderder
Aan die begin van die 19de eeu was Henry Grew (1781-1862), van Birmingham, Engeland, een van hierdie mense. Toe hy 13 was, het hy saam met sy gesin oor die Atlantiese Oseaan na die Verenigde State gevaar en op 8 Julie 1795 daar aangekom. Hulle het hulle in Providence, Rhode-eiland, gevestig. Sy ouers het ’n liefde vir die Bybel by hom ingeboesem. In 1807, op die ouderdom van 25, is Grew genooi om as pastoor van die Baptistekerk in Hartford, Connecticut, te dien.
Hy het sy verantwoordelikhede as ’n onderrigter ernstig opgeneem en diegene in sy sorg probeer help om in ooreenstemming met die Skrif te lewe. Maar hy het daarin geglo om die gemeente rein te hou van enige persoon wat moedswillig sonde beoefen het. Soms moes hy, saam met ander verantwoordelike manne in die kerk, diegene uitsit wat hoerery gepleeg het of wat ander onrein gebruike beoefen het.
Daar was ander probleme in die kerk wat hom gehinder het. Hulle het manne wat nie kerklede was nie, toegelaat om die sakebelange van die kerk te behartig en om tydens die dienste voorsangers te wees. Hierdie manne kon ook stem oor belangrike sake in die gemeente en sodoende ’n mate van beheer oor die aangeleenthede daarvan hê. Grew het op grond van die beginsel van afgeskeidenheid van die wêreld vas geglo dat net getroue manne hierdie funksies moet verrig (2 Korintiërs 6:14-18; Jakobus 1:27). Na sy mening was dit godslastering wanneer ongelowiges lofliedere tot God gesing het. Weens hierdie standpunt is Henry Grew in 1811 deur die kerk verwerp. Ander lede met soortgelyke beskouings het terselfdertyd die kerk verlaat.
Afgeskeie van die Christendom
Hierdie groep, wat Henry Grew ingesluit het, het die Bybel begin bestudeer met die doel om hulle lewe en bedrywighede in ooreenstemming met die raad daarin te bring. Hulle studies het hulle spoedig ’n beter begrip van Bybelwaarheid laat verkry en het daartoe gelei dat hulle die dwalinge van die Christendom blootgelê het. Grew het byvoorbeeld in 1824 ’n goed beredeneerde weerlegging van die Drie-eenheid geskryf. Let op die logika in hierdie gedeelte van sy geskrifte: “‘Van daardie dag en daardie uur weet geen mens nie, nee, nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie, maar net die VADER’ [Markus 13:32]. Let hier op die volgorde in die posisie van die wese. Mense, Engele, Seun, Vader. . . . Ons Heer leer ons dat die Vader alleen van daardie dag geweet het. Maar dit is nie waar as die Vader, Woord en Heilige Gees, soos party veronderstel, drie persone in een God is nie; want volgens hierdie [leerstelling, die Drie-eenheidsleer,] het die . . . Seun dit ook soos die Vader geweet.”
Grew het die huigelary van die geestelikes en militêre bevelvoerders blootgelê wat voorgegee het dat hulle Christus dien. In 1828 het hy verklaar: “Kan ons aan ’n groter ongerymdheid dink, as ’n Christen wat van sy binnekamer, waar hy vir sy vyande gebid het, gaan en sy troepe beveel om die wapens van die dood met duiwelse wreedheid deur die harte van daardie selfde vyande te steek? In die een geval kom hy met sy sterwende Heer ooreen; maar met wie kom hy ooreen in die ander geval? Jesus het vir sy moordenaars gebid. Christene vermoor diegene vir wie hulle bid.”
Grew het selfs kragtiger woorde geskryf: “Wanneer gaan ons die Almagtige glo wat ons verseker dat hy ‘hom nie laat bespot nie’? Wanneer gaan ons die aard, die gees, van daardie heilige godsdiens verstaan wat vereis dat ons ons selfs van die ‘voorkoms van boosheid’ onthou? . . . Is dit nie laster teen die Seun van die geseënde om te veronderstel dat sy godsdiens vereis dat ’n man in een situasie soos ’n engel moet optree en hom toelaat om in ’n ander soos ’n demoon op te tree nie?”
Mense word nie met ewige lewe gebore nie
Gedurende die jare voor radio en televisie het mense pamflette geskryf en versprei, wat ’n gewilde manier was om hulle mening oor iets te lug. Omstreeks 1835 het Grew ’n belangrike pamflet geskryf wat die leerstellings oor die onsterflikheid van die siel en die helse vuur as onskriftuurlik blootgelê het. Hy het gemeen dat hierdie leerstellings God gelaster het.
Hierdie pamflet sou verreikende gevolge hê. In 1837 het die 40-jarige George Storrs een van hierdie pamflette op ’n trein gevind. Storrs is in Lebanon, New Hampshire, gebore en het teen dié tyd in Utica, New York, gewoon.
Hy was ’n hoogs gerespekteerde predikant in die Metodis-Episkopaalse Kerk. Toe hy die pamflet lees, was hy beïndruk dat so ’n sterk argument aangevoer kon word teen hierdie basiese leerstellings van die Christendom, waaroor hy nooit voorheen getwyfel het nie. Hy het nie geweet wie die skrywer was nie, en dit was eers ’n hele paar jaar later, ten minste omstreeks 1844, dat hy Henry Grew ontmoet het terwyl hulle albei in Philadelphia, Pennsilvanië, gewoon het. Maar Storrs het die saak drie jaar lank op sy eie bestudeer en net met ander predikante daaroor gepraat.
Uiteindelik, aangesien niemand die dinge wat hy geleer het, kon weerlê nie, het George Storrs besluit dat hy nie aan God getrou kon wees as hy in die Metodistekerk bly nie. Hy het in 1840 bedank en na Albany, New York, getrek.
Vroeg in die lente van 1842 het Storrs ’n reeks van ses lesings in ses weke gehou oor die onderwerp “’n Ondersoek—Is die goddeloses onsterflik?” Daar was soveel belangstelling dat hy dit hersien het vir publikasie, en gedurende die volgende 40 jaar het dit ’n sirkulasie van 200 000 in die Verenigde State en Groot-Brittanje gehad. Storrs en Grew het saamgewerk in debatte teen die leerstelling oor die onsterflike siel. Grew het tot sy dood op 8 Augustus 1862, in Philadelphia, voortgegaan om ywerig te getuig.
Kort nadat Storrs die ses lesings gehou het wat pas gemeld is, het hy begin belangstel in die prediking van William Miller, wat die sigbare wederkoms van Christus in 1843 verwag het. Storrs was ongeveer twee jaar lank ywerig betrokke by die verkondiging van hierdie boodskap in die hele noordoostelike deel van die Verenigde State. Ná 1844 het hy nie meer daarmee saamgestem om ’n datum vir Christus se wederkoms vas te stel nie, maar hy het nie daarteen beswaar gemaak as ander ’n ondersoek wou instel na chronologie nie. Storrs het geglo dat Christus se wederkoms naby is en dat dit vir Christene belangrik is om wakker en geestelik waaksaam te bly, gereed vir die dag van inspeksie. Maar hy het Miller se groep verlaat omdat hulle onskriftuurlike leerstellings aanvaar het, soos die onsterflikheid van die siel, die vernietiging van die wêreld deur vuur en die afwesigheid van enige hoop op ewige lewe vir diegene wat in onkunde sterf.
Waartoe sou die liefde vir God lei?
Storrs is afgestoot deur die Adventistiese beskouing dat God goddelose mense sou opwek bloot met die doel om hulle weer dood te maak. Hy kon geen bewyse in die Skrif sien dat God so ’n sinlose en wraaksugtige daad sou verrig nie. Storrs en sy metgeselle het na die ander uiterste toe gegaan en tot die gevolgtrekking gekom dat die goddeloses glad nie opgewek sou word nie. Hoewel dit vir hulle moeilik was om sekere tekste te verduidelik wat na die opstanding van die onregverdiges verwys het, het hulle gevolgtrekking vir hulle meer in ooreenstemming met God se liefde gelyk. Hulle sou binnekort God se voorneme beter verstaan.
In 1870 het Storrs baie siek geword en kon hy ’n paar maande lank nie werk nie. Gedurende hierdie tyd kon hy alles wat hy gedurende sy 74 jaar geleer het weer ondersoek. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat hy ’n noodsaaklike deel van God se voorneme met die mens, soos aangedui in die Abrahamitiese verbond, nie raakgesien het nie—dat ‘al die geslagte van die aarde geseën sou word omdat Abraham na God se stem geluister het’.—Genesis 22:18; Handelinge 3:25.
Dit het hom aan ’n nuwe gedagte laat dink. As “al die geslagte” geseën sou word, sou almal dan nie die goeie nuus moes hoor nie? Hoe sou hulle dit hoor? Was miljoene der miljoene nie reeds dood nie? Nadat hy die Skrif verder ondersoek het, het hy tot die slotsom gekom dat daar twee klasse van afgestorwe “goddelose” mense was: diegene wat sonder twyfel die liefde van God verwerp het en diegene wat in onkunde gesterf het.
Storrs se gevolgtrekking was dat laasgenoemdes uit die dood opgewek sou moes word om hulle ’n kans te gee om by die losprysofferande van Christus Jesus baat te vind. Diegene wat dit aanvaar het, sou vir ewig op die aarde lewe. Diegene wat dit verwerp het, sou vernietig word. Ja, Storrs het geglo dat niemand deur God opgewek sou word sonder dat hy ’n hoop het nie. Uiteindelik sou niemand behalwe Adam dood wees weens die sonde van Adam nie! Maar wat van diegene wat gedurende die wederkoms van die Here Jesus Christus lewe? Storrs het eindelik besef dat ’n wêreldwye predikingskampanje onderneem sou moes word om hulle te bereik. Hy het nie die vaagste benul gehad van hoe so iets gedoen kon word nie, maar hy het in geloof geskryf: “En tog is daar te veel mense wat iets verwerp as hulle nie kan sien presies hoe dit gedoen kan word nie, asof dit vir God onmoontlik is om dit te doen omdat hulle nie die proses kan sien nie.”
George Storrs het in Desember 1879 in sy huis in Brooklyn, New York, gesterf, net ’n paar blokke van wat later die middelpunt sou word van die wêreldwye predikingskampanje wat hy so gretig verwag het.
Verdere lig nodig
Het manne soos Henry Grew en George Storrs die waarheid so duidelik verstaan soos ons dit vandag verstaan? Nee. Hulle was bewus van hulle stryd, soos Storrs in 1847 gesê het: “Dit sal goed wees as ons onthou dat ons nou net uit die donker eeue van die kerk gekom het; en dit sou glad nie vreemd wees as ons vind dat ons nog ’n paar ‘Babiloniese kledingstukke’ as waarheid dra nie.” Grew het byvoorbeeld die losprys waardeer wat Jesus voorsien het, maar hy het nie verstaan dat dit ’n “ooreenstemmende losprys” was nie, dit wil sê die volmaakte menselewe van Jesus wat in ruil gegee is vir die volmaakte menselewe wat Adam verloor het (1 Timoteus 2:6). Henry Grew het ook verkeerdelik geglo dat Jesus sou terugkeer en sigbaar op die aarde sou heers. Maar Grew was besorg oor die heiliging van Jehovah se naam, ’n onderwerp waarin baie min mense sedert die tweede eeu G.J. belanggestel het.
George Storrs het eweneens nie die regte begrip van ’n paar belangrike punte gehad nie. Hy kon onwaarhede sien wat deur die geestelikes verkondig is, maar hy het soms na die ander uiterste gegaan. Storrs het byvoorbeeld blykbaar oorreageer op die ortodokse geestelikes se beskouing van Satan en die idee van die Duiwel as ’n werklike persoon verwerp. Hy het die Drie-eenheid verwerp; en tog was hy tot kort voor sy dood onseker of die heilige gees ’n persoon is. Terwyl George Storrs verwag het dat Christus se wederkoms aanvanklik onsigbaar sou wees, het hy gedink dat daar uiteindelik ’n sigbare verskyning sou wees. Dit lyk nietemin asof albei manne opreg van hart was, en hulle het baie nader aan die waarheid gekom as die meeste mense.
Die “saailand” wat Jesus in die gelykenis van die koring en die onkruid beskryf het, was nog nie heeltemal reg om geoes te word nie (Matteus 13:38). Grew, Storrs en ander het ter voorbereiding van die oes in die “saailand” gewerk.
Charles Taze Russell, wat hierdie tydskrif in 1879 begin uitgee het, het aangaande sy vroeë jare geskryf: “Die Here het ons baie hulpe gegee in die studie van Sy woord, waaronder ons geliefde en bejaarde broer, George Storrs, uitstaande was; hy het ons baie gehelp deur die gesproke sowel as die geskrewe woord; maar ons het altyd daarna gestrewe om nie volgelinge van mense te wees nie, ongeag hoe goed en wys hulle is, maar om ‘Volgelinge van God as geliefde kinders’ te wees.” Ja, opregte Bybelstudente kon baat vind by die pogings van manne soos Grew en Storrs, maar dit was nog steeds noodsaaklik om God se Woord, die Bybel, as die werklike bron van die waarheid te ondersoek.—Johannes 17:17.
[Venster/Prent op bladsy 26]
Wat Henry Grew geglo het
Daar is oneer op Jehovah se naam gebring, en dit moet geheilig word.
Die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en die helse vuur is valse leerstellings.
Die Christengemeente moet afgeskeie wees van die wêreld.
Christene moet geen deel hê aan die oorloë van die nasies nie.
Christene is nie onder ’n Saterdag- of Sondag-Sabbatswet nie.
Christene moet nie aan geheime genootskappe, soos die Vrymesselaars, behoort nie.
Daar moet geen geestelike- en lekeklas onder Christene wees nie.
Godsdienstitels kom van die antichris.
Alle gemeentes moet ’n liggaam van ouer manne hê.
Ouer manne moet in al hulle handelinge heilig, bo verdenking, wees.
Alle Christene moet die goeie nuus verkondig.
Daar sal mense wees wat vir ewig in die Paradys op aarde sal lewe.
Christelike sang moet lofliedere tot Jehovah en Christus wees.
[Erkenning]
Foto: Collection of The New-York Historical Society/69 288
[Venster/Prent op bladsy 28]
Wat George Storrs geglo het
Jesus het sy lewe gegee as die losprys vir die mensdom.
Die verkondiging van die goeie nuus is (in 1871) nog nie gedoen nie.
Gevolglik kon die einde op daardie tydstip (in 1871) nog nie naby wees nie. Daar sou ’n toekomstige tydperk moes wees waarin die predikingswerk gedoen sou word.
Daar sal mense wees wat die ewige lewe op die aarde sal beërf.
Daar sal ’n opstanding wees van almal wat in onkunde gesterf het. Diegene wat die losprysofferande van Christus aanvaar, sal die ewige lewe op die aarde ontvang. Diegene wat dit verwerp, sal vernietig word.
Die onsterflikheid van die siel en die helse vuur is valse leerstellings wat God oneer aandoen.
Die Here se Aandmaal is ’n jaarlikse viering op 14 Nisan.
[Erkenning]
Foto: SIX SERMONS, by George Storrs (1855)
[Prent op bladsy 29]
In 1909 het C. T. Russell, die redakteur van “Zion’s Watch Tower”, na Brooklyn, New York, VSA, getrek