Lewensverhaal
Ons was ’n Span
SOOS VERTEL DEUR MELBA BARRY
Op 2 Julie 1999 het ek en my man ’n groot byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon, soos ons al duisende kere in ons 57 jaar van getroude lewe gedoen het. Lloyd het daardie Vrydag die slottoespraak by die streekbyeenkoms in Hawaii gehou. Skielik het hy inmekaargesak. Ten spyte van al die pogings om hom by te kry, het hy gesterf.a
HOE waardeer ek tog daardie Christenbroers en -susters in Hawaii wat my tydens hierdie tragedie bygestaan en gehelp het! Lloyd het ’n invloed op die lewe van baie van hulle gehad, sowel as op dié van baie ander regoor die wêreld.
In die byna twee jaar sedert sy dood het ek nagedink oor ons kosbare jare saam—baie daarvan in ’n buitelandse sendingtoewysing sowel as by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Ek het ook gedink aan my jonger dae in Sydney, Australië, en watter uitdagings ek en Lloyd te bowe moes kom om gedurende die vroeë deel van die Tweede Wêreldoorlog te trou. Maar laat ek eers vertel hoe ek ’n Getuie geword het en hoe ek Lloyd in 1939 ontmoet het.
Hoe ek ’n Getuie geword het
James en Henrietta Jones was my liefdevolle en dierbare ouers. Ek was maar 14 toe ek in 1932 klaar was met skool. Die wêreld was op daardie stadium in die middel van die Groot Depressie. Ek het begin werk om ons gesin te help, wat my twee jonger sussies ingesluit het. Binne ’n paar jaar het ek ’n goed besoldigde werk gehad met ’n hele paar meisies wat onder my gewerk het.
Intussen het my ma, in 1935, Bybellektuur by een van Jehovah se Getuies geneem, en sy was spoedig oortuig dat sy die waarheid gevind het. Die res van ons het gedink dat sy besig is om van haar kop af te raak. Maar eendag het ek die boekie met die titel Waar is die dode? gesien, en die titel het my belangstelling geprikkel. Ek het dus die boekie stilletjies gelees. Dit was die keerpunt! Ek het onmiddellik saam met my ma na ’n middelweekse vergadering begin gaan wat die Modelstudie genoem is. Die boekie met die titel Modelstudie—waarvan daar uiteindelik drie was—het vrae en antwoorde bevat sowel as tekste om die antwoorde te staaf.
Om en by daardie tyd, in April 1938, het Joseph F. Rutherford, ’n verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, Sydney besoek. Sy openbare toespraak was die heel eerste toespraak wat ek bygewoon het. Dit sou in die stadsaal in Sydney gehou word, maar teenstanders het daarin geslaag om ons gebruik van die saal te kanselleer. Die toespraak is toe eerder by die veel groter Sydney-sportterrein gehou. Weens die ekstra publisiteit as gevolg van die teenstand, het ongeveer 10- 000 dit bygewoon, ’n verbasende groot groep as ’n mens in gedagte hou dat daar destyds net 1 300 Getuies in Australië was.
Kort daarna het ek vir die eerste keer aan die veldbediening deelgeneem—en sonder enige opleiding. Toe ons groep by ons velddiensgebied aankom, het die persoon wat die leiding geneem het, vir my gesê: “Dit is jou huis daar oorkant.” Ek was so senuweeagtig dat ek vir die vrou wat die deur oopgemaak het, gevra het: “Kan u asseblief vir my sê hoe laat dit is?” Sy het ingegaan, gekyk hoe laat dit is en teruggekom om vir my te sê. En dit was die einde van die gesprek. Ek het na die motor toe teruggegaan.
Maar ek het nie moed opgegee nie, en weldra het ek gereeld die Koninkryksboodskap aan ander verkondig (Matteus 24:14). In Maart 1939 het ek my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur in ons buurvrou, Dorothy Hutchings, se bad gedoop te word. Omdat daar geen broers beskikbaar was nie, het ek kort ná my doop gemeentelike verantwoordelikhede ontvang wat gewoonlik deur Christenmans behartig word.
Ons het oor die algemeen ons vergaderinge in huise gehou, maar soms het ons ’n saal vir openbare toesprake gehuur. ’n Aantreklike jong broer van Bethel, ons takkantoor, het na ons gemeentetjie toe gekom om ’n toespraak te hou. Wat ek nie geweet het nie, is dat hy om ’n ander rede gekom het—om my te leer ken. Ja, dit was hoe ek Lloyd ontmoet het.
Ek ontmoet Lloyd se familie
Ek het spoedig die begeerte ontwikkel om Jehovah voltyds te dien. Maar toe ek aansoek doen om as pionier te dien (om aan die voltydse predikingswerk deel te neem), is ek gevra of ek daarvan sal hou om by Bethel te dien. In September 1939, die maand waarin die Tweede Wêreldoorlog begin het, het ek dus ’n lid van die Bethelgesin in Strathfield, ’n voorstad van Sydney, geword.
In Desember 1939 het ek vir ’n streekbyeenkoms na Nieu-Seeland gereis. Aangesien Lloyd van Nieu-Seeland afkomstig was, het hy ook soontoe gegaan. Ons het op dieselfde skip gereis en het mekaar beter leer ken. Lloyd het seker gemaak dat ek sy ma, pa en susters by die byeenkoms in Wellington ontmoet en hulle later by hulle huis in Christchurch besoek.
Ons werk word verbied
Op Saterdag, 18 Januarie 1941, het amptenare van die Statebond in ’n stuk of ses swart limousines by die takkantoor aangekom om op die eiendom beslag te lê. Aangesien ek in die waghuisie by die ingang na Bethel gewerk het, het ek hulle eerste gesien. Ons is omtrent 18 uur vroeër van die verbod in kennis gestel, en byna al die lektuur en lêers is dus uit die takkantoor verwyder. Die daaropvolgende week is vyf lede van die Bethelgesin, insluitende Lloyd, in die tronk gesit.
Ek het geweet dat die broers in die tronk veral geestelike voedsel nodig gehad het. Om Lloyd geestelik aan te moedig, het ek besluit om “liefdesbriewe” vir hom te skryf. Ek het dit begin soos ’n mens gewoonlik so ’n brief skryf, maar dan hele Wagtoring-artikels oorgeskryf en dan soos sy beminde afgesluit. Ná vier en ’n half maande is Lloyd vrygelaat.
Ons troue en voortgesette diens
In 1940 het Lloyd se ma Australië besoek, en Lloyd het vir haar gesê dat ons daaraan dink om te trou. Sy het hom afgeraai omdat dit gelyk het of die einde van die stelsel van dinge so naby is (Matteus 24:3-14). Hy het ook sy vriende van sy planne vertel, maar hulle het hom elke keer oorreed om nie te trou nie. Uiteindelik, eendag in Februarie 1942, het Lloyd my stilletjies—tesame met vier Getuies wat belowe het dat hulle niks sal sê nie—na die landdroskantoor geneem, en ons is getroud. Destyds was daar geen voorsiening in Australië vir Jehovah se Getuies om huwelike te voltrek nie.
Hoewel ons nie as ’n getroude paartjie by Bethel kon aanbly nie, is ons gevra of ons daarvan sal hou om spesiale pionierdiens te doen. Ons het met graagte ’n toewysing na ’n plattelandse dorp met die naam Wagga Wagga aanvaar. Ons predikingswerk was nog steeds verbied, en ons het geen geldelike bystand gehad het; daarom moes ons werklik ons sorge op Jehovah werp.—Psalm 55:23.
Ons het met ’n tandemfiets na die buitedistrikte gery, gawe mense ontmoet en lang gesprekke met hulle gehad. Min het tot ’n Bybelstudie ingestem. Maar ’n winkelier het die werk wat ons gedoen het so waardeer dat hy ons elke week vrugte en groente gegee het. Nadat ons ses maande in Wagga Wagga gedien het, is ons weer Bethel toe genooi.
Die Bethelgesin het in Mei 1942 die kantoor in Strathfield ontruim en hulle in huise gevestig. Hulle het elke paar weke of wat verhuis sodat hulle nie opgespoor kon word nie. Toe ek en Lloyd in Augustus na Bethel terugkeer, het ons by een van hierdie huise ingetrek. Ons toewysing was om gedurende die dag by een van die geheime drukkerye te werk. Uiteindelik, in Junie 1943, is die verbod op ons werk opgehef.
Voorbereiding vir diens in die buiteland
In April 1947 het ons voorlopige aansoekvorms gekry om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, wat in South Lansing, New York, VSA, gehou is. Intussen is ons gevra om gemeentes in Australië te besoek en hulle geestelik te versterk. Ná ’n paar maande het ons ons uitnodiging ontvang om die 11de klas van Gilead by te woon. Ons het drie weke gehad om al ons sake te reël en ons goed in te pak. In Desember 1947 het ons ons familie en vriende agtergelaat en na New York vertrek saam met 15 ander van Australië wat na dieselfde klas genooi is.
Ons paar maande by die Gileadskool het verbygevlieg, en ons sendingtoewysing was Japan. Aangesien dit tyd geneem het om ons dokumente in orde te kry om Japan toe te gaan, is Lloyd weer eens as ’n kringopsiener van Jehovah se Getuies aangestel. Die gemeentes wat ons moes besoek, het van die stad Los Angeles tot aan die grens van Mexiko gestrek. Ons het nie ’n motor gehad nie; daarom het die Getuies ons elke week uit liefde van een gemeente na die volgende geneem. Die gebied wat deur daardie groot kring gedek is, is nou ’n deel van drie Engelse en drie Spaanse streke, en elke streek bestaan uit omtrent tien kringe!
Toe ons ons kom kry, was dit Oktober 1949, en ons was op pad Japan toe op ’n skip wat voorheen ’n troepeskip was. Een kant van die skip is deur die mans en die ander kant deur die vroue en kinders gebruik. Net ’n dag voordat ons in Jokohama sou aankom, het ’n tifoon ons getref. Dit het klaarblyklik die lug gesuiwer, want toe die son die volgende oggend, 31 Oktober, opkom, kon ons die berg Foedji in sy volle prag sien. Wat ’n hartlike verwelkoming in ons nuwe toewysing!
Ons werk saam met die Japannese
Toe ons die hawe nader, het ons honderde mense met swart hare gesien. ‘Wat ’n lawaaierige klomp!’ het ons gedink toe ons ’n groot gekletter hoor. Almal het houtskoene gedra wat op die houtpiere gekletter het. Ná ’n nag in Jokohama het ons per trein na ons sendingtoewysing in Kobe gegaan. Daar het Don Haslett, ’n Gileadklasmaat wat ’n paar maande vroeër in Japan aangekom het, ’n sendinghuis gehuur. Dit was ’n pragtige, groot dubbelverdiepinghuis in die Westerse boustyl—heeltemal leeg!
Ons het die lang gras op die werf afgesny en dit op die vloer gepak sodat ons daarop kon slaap. So het ons sendinglewe begin, met niks meer as ons bagasie nie. Ons het klein koolstofies gekry, wat hibatsji genoem is, om ons warm te hou en om op te kook. Een aand het Lloyd twee van ons medesendelinge, Percy en Ilma Iszlaub, bewusteloos gevind. Hy kon hulle bybring deur die vensters oop te maak om vars, koue lug in te laat. Ek het ook eenkeer flou geword terwyl ek op die koolstofies gekook het. Dit het ’n rukkie geneem om aan party dinge gewoond te raak!
Dit was belangrik om die taal aan te leer, en ons het ’n maand lank 11 uur per dag Japannees geleer. Daarna het ons in die bediening begin uitgaan met ’n sin of twee wat ons neergeskryf het om ons aan die gang te kry. Op my heel eerste dag in die bediening het ek ’n gawe vrou, Mijo Takagi, ontmoet wat my vriendelik ontvang het. Gedurende my besoeke het ons met behulp van Japannees-Engelse woordeboeke voortgesukkel totdat ’n goeie Bybelstudie ontwikkel het. In 1999, met die toewyding van die uitgebreide takkantoor in Japan, het ek Mijo weer gesien, sowel as ’n hele paar ander dierbares met wie ek gestudeer het. Vyftig jaar het verloop, maar hulle is nog steeds ywerige Koninkryksverkondigers wat hulle bes in Jehovah se diens doen.
In Kobe het ongeveer 180 op 1 April 1950 die herdenking van Christus se dood bygewoon. Tot ons verbasing het 35 persone die volgende oggend gekom om aan die veldbediening deel te neem. Elke sendeling het drie of vier van hierdie nuwelinge saam in die diens geneem. Huisbewoners het nie met my—die buitelander wat min verstaan het—gepraat nie, maar eerder met die Japannese Gedenkmaalbywoners wat my vergesel het. Hulle het lang gesprekke gehad, maar ek het geen idee gehad waaroor hulle gepraat het nie. Ek is bly om te sê dat party van hierdie nuwelinge in kennis gevorder het en tot vandag toe in die predikingswerk bedrywig is.
Talle voorregte en toewysings
Ons het tot 1952 as sendelinge in Kobe gedien en is toe na Tokio gestuur, waar Lloyd oor die werk in die takkantoor moes toesig hou. Met verloop van tyd moes hy weens sy werkstoewysings deur die hele Japan en na ander lande reis. Later het Nathan H. Knorr van die wêreldhoofkwartier tydens een van sy besoeke aan Tokio vir my gesê: “Terloops, weet jy waarheen jou man met sy volgende sonebesoek gaan? Australië en Nieu-Seeland.” Hy het bygevoeg: “Jy kan ook gaan as jy vir jouself betaal.” Hoe opwindend tog! Dit was immers al nege jaar vandat ek van die huis af weg is.
Ek moes nou inderhaas ’n klomp briewe skryf. My ma het my gehelp om my kaartjie te kry. Ek en Lloyd was in ons toewysings besig, en ons het nie geld gehad om ons families te besoek nie. Dit was dus ’n antwoord op my gebede. Soos jy jou kan indink, was my ma baie bly om my te sien. Sy het gesê: “Wel, ek gaan spaar sodat jy weer oor drie jaar kan kom.” Ons het met dít in gedagte van mekaar afskeid geneem, maar ongelukkig is my ma die daaropvolgende Julie oorlede. Hoe wonderlik sal dit tog wees om haar weer in die nuwe wêreld te sien!
Tot en met 1960 was die sendingwerk my enigste toewysing, maar toe het ek ’n brief ontvang wat verduidelik het: “Die reëling sal van nou af wees dat jy die was- en strykwerk vir die hele Bethelgesin doen.” Ons gesin het toe net uit ongeveer twaalf mense bestaan; gevolglik kon ek hierdie werk asook my sendingwerk behartig.
In 1962 is ons Japannese styl huis gesloop, en ’n nuwe Bethelhuis met ses verdiepings is op die perseel opgerig en die daaropvolgende jaar voltooi. Dit was my werk om die jong, nuwe Bethelbroers te help om self hulle kamers skoon te maak en netjies te hou. Oor die algemeen is seuns in Japan nie by die huis geleer om enigiets te doen nie. Klem is op sekulêre opvoeding gelê, en hulle ma’s het alles vir hulle gedoen. Hulle het gou geleer dat ek nie hulle ma was nie. Mettertyd het baie van hulle vooruitgang gemaak en kon hulle nuwe, verantwoordelike toewysings in die organisasie ontvang.
Een baie warm somersdag het ’n Bybelstudent wat op ’n toer van ons fasiliteite was, gesien hoe ek die stortbaddens skrop. Sy het gesê: “Sê asseblief vir die een wat oor julle is dat ek graag wil betaal vir ’n bediende om hierdie werk vir jou te kom doen.” Ek het aan haar verduidelik dat ek haar bedagsaamheid waardeer, maar dat ek gewillig is om enigiets te doen wat ek in Jehovah se organisasie gevra word om te doen.
Omstreeks hierdie tyd het ek en Lloyd ’n uitnodiging ontvang om die 39ste klas van Gilead by te woon! Wat ’n voorreg was dit tog om in 1964, op die ouderdom van 46, weer skool toe te gaan! Die doel van die kursus was veral om diegene te help wat by takkantore dien om na hulle verantwoordelikhede om te sien. Ná die tien maande lange kursus is ons weer na Japan gestuur. Teen dié tyd het ons meer as 3 000 Koninkryksverkondigers in daardie land gehad.
Die vermeerdering het so vinnig plaasgevind dat daar teen 1972 meer as 14 000 Getuies was, en ’n nuwe takkantoor met vyf verdiepings is in Noemazoe, suid van Tokio, gebou. Van ons geboue af het ons ’n pragtige uitsig op die berg Foedji gehad. Meer as ’n miljoen tydskrifte in Japannees het toe maandeliks van die groot, nuwe rotasieperse begin rol. Maar ’n verandering het op ons gewag.
Laat in 1974 het Lloyd ’n brief van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn ontvang waarin hy gevra is om op die Bestuursliggaam te dien. Ek het aanvanklik gedink: ‘Wel, daar gebeur dit nou. Aangesien Lloyd die hemelse hoop en ek die aardse hoop het, sal ons paaie in elk geval vroeër of later moet skei. Miskien moet Lloyd sonder my Brooklyn toe gaan.’ Maar ek het spoedig my denke reggestel en in Maart 1975 gewillig saam met Lloyd vertrek.
Seëninge by die hoofkwartier
Selfs in Brooklyn was Lloyd se hart in werklikheid in die Japannese veld, en hy het altyd gepraat van die ondervindinge wat ons daar gehad het. Maar nou was daar geleenthede om verruim te word. Die laaste 24 jaar van sy lewe is Lloyd baie gebruik vir sonewerk, wat reise om die wêreld behels het. Ek het hom baie keer om die wêreld vergesel.
Ons besoeke aan ons Christenbroers in ander lande het my gehelp om te besef onder watter omstandighede baie van hulle lewe en werk. Ek sal nooit die gesig vergeet van die tienjarige Entellia, ’n dogtertjie wat ek in Noord-Afrika ontmoet het nie. Sy was lief vir God se naam en het drie uur heen en weer na die Christelike vergaderinge geloop. Ten spyte van hewige vervolging deur haar gesin het Entellia haar aan Jehovah toegewy. Toe ons haar gemeente besoek het, was daar net een flou liggie wat oor die spreker se notas gehang het—die res van die vergaderplek was stikdonker. In daardie donkerte was dit wonderlik om te hoor hoe pragtig die broers en susters sing.
’n Hoogtepunt van ons lewe was in Desember 1998 toe ek en Lloyd onder die afgevaardigdes was wat die “God se weg van die lewe”-streekbyeenkomste in Kuba bygewoon het. Hoe beïndruk was ons tog deur die waardering en vreugde van die broers en susters omdat hulle deur persone van die hoofkwartier in Brooklyn besoek word! Ek het soveel kosbare herinneringe van dierbares wat ek ontmoet het en wat ywerig werk om groot lof aan Jehovah te bring.
Tuis by God se volk
Hoewel my geboorteland Australië is, het ek die mense leer liefkry waar Jehovah se organisasie my ook al gestuur het. Dit was die geval in Japan, en dit is nou dieselfde in die Verenigde State waar ek al meer as 25 jaar is. Toe ek my man verloor het, het ek nie daaraan gedink om terug Australië toe te gaan nie, maar om by die Brooklynse Bethel te bly, waarheen Jehovah my gestuur het.
Ek is nou in my tagtigerjare. Ná 61 jaar in die voltydse bediening is ek nog steeds gewillig om Jehovah te dien waar hy ook al wil hê ek moet. Hy het waarlik goed vir my gesorg. Ek koester die meer as 57 jaar wat ek saam met ’n dierbare maat kon lewe wat lief was vir Jehovah. Ek het die vertroue dat Jehovah ons voortdurend sal seën, en ek weet dat Hy nie ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het nie.—Hebreërs 6:10.
[Voetnoot]
[Prent op bladsy 25]
Saam met my ma in 1956
[Prent op bladsy 26]
Saam met Lloyd en ’n groep Japannese verkondigers in die vroeë 1950’s
[Prente op bladsy 26]
Saam met my eerste Bybelstudent in Japan, Mijo Takagi, in die vroeë vyftigerjare en in 1999
[Prent op bladsy 28]
Saam met Lloyd in straatgetuieniswerk in Japan