Lewensverhaal
’n Onvergelyklike vreugde!
SOOS VERTEL DEUR REGINALD WALLWORK
“Daar is niks in hierdie wêreld wat vergelyk kan word met die vreugde wat ons as sendelinge in ons voltydse diens aan Jehovah geniet het nie!” Ek het hierdie notatjie tussen my vrou se papiere gekry kort ná haar dood in Mei 1994.
WANNEER ek oor Irene se woorde nadink, onthou ek die 37 gelukkige, bevredigende jare wat ons as sendelinge in Peru deurgebring het. Ons het ’n kosbare Christelike kameraadskap geniet sedert ons troue in Desember 1942—en dit is ’n goeie beginpunt vir my verhaal.
Irene het as een van Jehovah se Getuies in Liverpool, Engeland, grootgeword. Sy was een van drie dogters wat hulle pa in die Eerste Wêreldoorlog verloor het. Later is haar ma met Winton Fraser getroud, en hulle het ’n seun, Sidney, gehad. Net voor die Tweede Wêreldoorlog het die gesin na Bangor, Noord-Wallis, getrek, waar Irene in 1939 gedoop is. Sidney is die vorige jaar gedoop, en hy en Irene het toe saam as pioniers—voltydse evangeliedienaars—gedien aan die noordkus van Wallis, van Bangor tot by Caernarvon, asook op die eiland Anglesey.
Op daardie stadium was ek in die Runcorn-gemeente, sowat 20 kilometer suidoos van Liverpool, waar ek gedien het as die presiderende opsiener, soos dit vandag bekend staan. Irene het my by ’n kringbyeenkoms genader om gebied te kry waar sy getuieniswerk kon doen, aangesien sy ’n ruk lank by Vera, haar getroude suster in Runcorn, sou bly. Ek en Irene het goed oor die weg gekom gedurende die twee weke wat sy by ons was, en later het ek ’n paar keer in Bangor by haar gaan kuier. Hoe bly was ek tog toe Irene een naweek ingestem het om met my te trou!
Nadat ek die Sondag tuisgekom het, het ek onmiddellik planne begin maak vir ons troue, maar die Dinsdag het ek ’n telegram ontvang. “Ek is jammer as hierdie telegram jou gaan seermaak”, het dit gesê. “Ek wil ons troue kanselleer. Brief volg.” Ek was geskok. Wat kon verkeerd geloop het?
Ek het Irene se brief die volgende dag gekry. Sy het gesê dat sy na Horsforth in Yorkshire gaan om saam met Hilda Padgett te pionier.a Sy het verduidelik dat sy 12 maande vroeër ingestem het om te dien waar hulp nodig is as sy gevra word. Sy het geskryf: “Dit is vir my soos ’n gelofte aan Jehovah, en omdat ek hom dit belowe het voordat ek jou leer ken het, voel ek dat ek dit moet nakom.” Al was ek hartseer, het ek haar getrouheid bewonder en haar per telegram laat weet: “Gaan gerus. Ek sal vir jou wag.”
Terwyl Irene in Yorkshire was, het sy drie maande tronkstraf gekry omdat sy op grond van haar gewete geweier het om die oorlogspoging te steun. Maar 18 maande later, in Desember 1942, is ons getroud.
My vroeë jare
In 1919 het my ma die stel boeke, Studies in the Scriptures,b gekoop. Hoewel sy, soos my pa destyds tereg gesê het, nog nooit ’n boek gelees het nie, was my ma vasbeslote om hierdie boeke noukeurig saam met haar Bybel te bestudeer. Dit het sy toe gedoen, en sy is in 1920 gedoop.
My pa was ’n inskiklike mens en hy het my ma baie vryheid gegee, soos om hulle vier kinders—my twee susters, Gwen en Ivy; my broer, Alec, en ek—in die weg van die waarheid groot te maak. Stanley Rogers en ander getroue Getuies van Liverpool het na Runcorn gekom om Bybeltoesprake te hou, waar daar kort voor lank ’n nuwe gemeente gevorm is. Ons gesin het saam met die gemeente geestelike vooruitgang gemaak.
Gwen was in die Anglikaanse Kerk se katkisasieklas, maar sy het dit opgegee toe sy en my ma die Bybel begin bestudeer het. Toe die predikant ons kom besoek het om uit te vind waarom sy nie meer die klasse bywoon nie, het sy hom ’n hele klomp vrae gevra wat hy nie kon beantwoord nie. Gwen het hom oor die betekenis van die Onse Vader uitgevra, en op die ou end het sy dit aan hom verduidelik! Sy het afgesluit deur 1 Korintiërs 10:21 aan te haal en te verduidelik dat sy nie meer ‘by twee tafels kan eet nie’. Toe hy vertrek, het die predikant gesê dat hy vir Gwen sal bid en sal terugkom om haar vrae te beantwoord, maar hy het dit nooit gedoen nie. Kort nadat sy gedoop is, het Gwen ’n voltydse evangeliedienaar geword.
Die aandag wat in ons gemeente aan kinders gegee is, was uitsonderlik. Ek onthou nog hoe ek na ’n toespraak van ’n besoekende ouer man geluister het toe ek sewe jaar oud was. Agterna het hy met my kom gesels. Ek het hom vertel dat ek gelees het van Abraham en hoe hy sy seun, Isak, probeer offer het. “Gaan staan ’n bietjie op die hoek van die verhoog en dan vertel jy my daarvan”, het hy gesê. Hoe opgewonde was ek tog om daar te staan en my eerste “openbare toespraak” te hou!
My ma is in 1931, toe ek 15 was, oorlede, en ek is daardie jaar gedoop. Dieselfde jaar het ek skool verlaat en ’n vakleerling by ’n elektrisiën geword. In 1936 is opnames van Bybeltoesprake in die openbaar gespeel, en ’n bejaarde suster het my en my broer aangemoedig om by hierdie aspek van die bediening betrokke te raak. Daarom het ek en Alec na Liverpool toe gegaan om ’n fiets te koop en ’n syspan daarvoor te laat maak waarin ons ons transkripsiemasjien kon sit. ’n Luidspreker is op die agterkant van die syspan vasgemaak, bo-op ’n twee meter lange verstelbare buis. Die werktuigkundige het vir ons gesê dat hy nog nooit so iets gemaak het nie, maar dit het goed gewerk! Ons het ons gebied geesdriftig gedek, dankbaar vir die aanmoediging wat die suster ons gegee het en die voorregte wat ons gekry het.
Die Tweede Wêreldoorlog—’n tyd van toetsing
Terwyl die oorlogswolke saamgepak het, het ek en Stanley Rogers die openbare toespraak “Hou rekening met die feite” geadverteer, wat op 11 September 1938 by die Royal Albert-saal in Londen gehou sou word. Later het ek gehelp om ’n boekie te versprei wat hierdie toespraak bevat het, saam met die boekie Fascisme of vryheid, wat die volgende jaar uitgegee is. Albei boekies het die totalitêre ambisies van Hitler se Duitsland aan die kaak gestel. Teen hierdie tyd was ek goed bekend in Runcorn vir my openbare bediening, en mense het my daarvoor gerespekteer. Trouens, die feit dat ek so druk besig was met teokratiese bedrywighede, was tot my voordeel.
Die firma waarvoor ek gewerk het, het ’n kontrak gekry om die bedrading te doen van ’n nuwe fabriek in die buitewyke van die dorp. Toe ek uitvind dat hulle oorlogswapens daar sou vervaardig, het ek dit duidelik gestel dat ek nie daar kon werk nie. Hoewel my werkgewers ontevrede was, het my voorman vir my opgekom, en ek is ander werk gegee. Ek het later gehoor dat sy tante ook een van Jehovah se Getuies is.
Dit was vir my baie aanmoedigend toe een van my kollegas vir my gesê het: “Ons sou niks anders van jou verwag het nie, Reg, want jy doen hierdie Bybelwerk nou al soveel jare lank.” Ek moes nogtans waaksaam wees omdat baie van my werksmaats dinge vir my moeilik wou maak.
Ek is in Junie 1940 deur die hof in Liverpool as ’n gewetensbeswaarde geregistreer op voorwaarde dat ek in my beroep bly. So kon ek natuurlik met my Christelike bediening voortgaan.
Ek begin met voltydse diens
Teen die einde van die oorlog het ek besluit om uit my werk te bedank en by Irene in die voltydse diens aan te sluit. In 1946 het ek ’n vyf meter lange woonwa gebou wat ons huis geword het, en die volgende jaar is ons gevra om na Alveston, ’n dorpie in die graafskap Gloucester, te gaan. Daarna het ons in die eeue oue dorp Cirencester en in die stad Bath gepionier. In 1951 is ek genooi om gemeentes in die suide van Wallis as ’n reisende opsiener te besoek, maar skaars twee jaar later was ons op pad na die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir opleiding as sendelinge.
Die skool se 21ste klas is in South Lansing, noord van New York, gehou, en ons het in 1953 gegradueer by die Nuwewêreldgemeenskap-byeenkoms wat in New York-stad gehou is. Ek en Irene het tot die dag van ons graduering nie geweet wat ons toewysing sou wees nie. Hoe opgewonde was ons tog om te hoor dat ons Peru toe sou gaan. Waarom? Omdat Sidney Fraser, Irene se halfbroer, en sy vrou, Margaret, toe reeds meer as ’n jaar by die takkantoor in Lima gedien het nadat hulle in die 19de Gileadklas was!
Terwyl ons vir ons visums gewag het, het ons ’n kort tydjie by die Brooklynse Bethel gewerk, maar ons was spoedig op pad na Lima. Die eerste van ons tien sendingtoewysings was Callao, die vernaamste hawe van Peru, net wes van Lima. Hoewel ons ’n bietjie Spaans geleer het, kon nie ek of Irene op daardie stadium ’n gesprek in die taal voer nie. Hoe sou ons regkom?
Probleme en voorregte in die predikingswerk
By Gilead is daar vir ons gesê dat ’n ma nie vir haar baba ’n taal leer nie. Die baba leer eerder terwyl sy ma met hom praat. Die raad aan ons was dus: “Gaan dadelik in die predikingswerk uit en leer die taal by die publiek. Hulle sal julle help.” Stel jou voor hoe ek gevoel het toe ek, binne twee weke ná ons aankoms, as presiderende opsiener van die Callao-gemeente aangestel is, en dit terwyl ek nog die nuwe taal probeer leer het! Ek het met Sidney Fraser gaan gesels, maar sy raad was dieselfde as dié wat by Gilead gegee is—meng met die gemeente en met die mense in julle gebied. Ek het my voorgeneem om hierdie raad toe te pas.
Een Saterdagoggend het ek ’n skrynwerker in sy werkswinkel ontmoet. “Ek moet eintlik aangaan met my werk”, het hy gesê, “maar kom sit gerus en praat met my.” Ek het gesê dat ek dit op een voorwaarde sou doen: “As ek ’n fout maak, moet jy my asseblief reghelp. Ek sal nie aanstoot neem nie.” Hy het gelag en ingestem. Ek het hom twee keer per week besoek en gevind dat dit ’n ideale manier is om my nuwe taal aan te leer, net soos daar vir my gesê is.
Heel toevallig het ek in Ica, ons tweede sendingtoewysing, ook ’n skrynwerker ontmoet en vir hom die reëling verduidelik wat ek in Callao gehad het. Hy het ingestem om my ook op hierdie manier te help, en my Spaans het dus bly verbeter, hoewel dit drie jaar geneem het voordat ek werklik vlot kon praat. Hierdie man was altyd baie besig, maar ek kon ’n Bybelstudie hou deur die tekste vir hom te lees en dit dan te verduidelik. Toe ek hom een week gaan besoek het, het sy werkgewer vir my gesê dat hy ’n ander werk in Lima gekry het. ’n Ruk later, toe ek en Irene vir ’n byeenkoms in Lima was, het ek hierdie man weer raakgeloop. Hoe verheug was ek tog om te hoor dat hy met die plaaslike Getuies in aanraking gekom het om sy studie voort te sit en dat hy en sy gesin almal toegewyde knegte van Jehovah geword het!
In een gemeente het ons uitgevind dat ’n jong paartjie gedoop is, hoewel hulle nie getroud was nie. Nadat ons die betrokke skriftuurlike beginsels met hulle bespreek het, het hulle besluit om hulle huwelik te wettig sodat hulle kon kwalifiseer om gedoopte Getuies te wees. Ek het dus gereël om hulle na die registrasiekantoor te neem sodat hulle hulle huwelik kon registreer. Maar daar was ’n probleem, want hulle vier kinders was ook nie geregistreer nie, en dit was ’n wetlike vereiste. Ons het natuurlik gewonder wat die burgemeester sou doen. “Omdat hierdie goeie mense, julle vriende, Jehovah se Getuies, toegesien het dat julle julle huwelik wettig”, het die burgemeester gesê, “gaan ek nie ’n dagvaarding vir elke kind uitreik nie, maar hulle gratis in die register inskryf.” Hoe dankbaar was ons tog, want hulle was ’n arm gesin en ’n boete sou vir hulle ’n groot las gewees het!
Albert D. Schroeder van die Brooklyn-hoofkwartier van Jehovah se Getuies het ons later besoek en aanbeveel dat ’n nuwe sendinghuis in ’n ander deel van Lima geopen word. Daarom het ek en Irene, saam met twee susters, Frances en Elizabeth Good van die Verenigde State, en ’n Kanadese egpaar na die San Borja-distrik verhuis. Binne twee of drie jaar is ons met nog ’n florerende gemeente geseën.
Toe ons in Huancayo gedien het, wat meer as 3 000 meter bo seevlak in die sentrale hoogland geleë is, het ons met ’n gemeente van 80 Getuies geassosieer. Daar het ek gehelp om die tweede Koninkryksaal in die land te bou. Ek is as die wetlike verteenwoordiger van Jehovah se Getuies aangestel, aangesien ons drie keer hof toe moes gaan om ons wetlike reg op die grond wat ons gekoop het, te bevestig. Dít, tesame met die intensiewe dissipelmaakwerk van al die getroue sendelinge in daardie vroeë jare, het ’n stewige grondslag gelê vir die wonderlike vermeerdering wat ons nou in Peru sien—van 283 Getuies in 1953 tot meer as 83 000 vandag.
’n Hartseer afskeid
Ons het opbouende omgang met die ander sendelinge in al ons sendinghuise geniet, waar ek dikwels die voorreg gehad het om as opsiener van die sendinghuis te dien. Ons het elke Maandagoggend bymekaargekom om ons bedrywighede vir die week te bespreek en aan elkeen take in die huis toe te wys. Ons het almal besef dat die predikingswerk die hoofsaak is, en daarom het almal goed saamgewerk. Ek is bly om te kan sê dat daar nooit groot onenigheid in enige van ons sendinghuise was nie.
Ons laaste toewysing was Breña, ’n ander voorstad van Lima. Die liefdevolle gemeente van 70 Getuies het vinnig tot meer as 100 verkondigers gegroei en nog ’n gemeente is in Palominia gestig. Op hierdie stadium het Irene begin siek word. Ek het aanvanklik opgemerk dat sy soms nie kon onthou wat sy gesê het nie, en met tye kon sy nie mooi onthou hoe om by die huis te kom nie. Hoewel sy goeie mediese sorg ontvang het, het haar toestand geleidelik versleg.
Ongelukkig moes ek in 1990 reël dat ons na Engeland terugkeer, waar my suster Ivy ons vriendelik in haar huis ingeneem het. Vier jaar later, voordat sy 81 geword het, is Irene oorlede. Ek het in die voltydse bediening gebly en dien as ’n ouer man in een van die drie gemeentes in my tuisdorp. Nou en dan besoek ek die Spaanssprekende groep in Manchester om hulle aan te moedig.
Ek het onlangs ’n hartverblydende ondervinding gehad wat dekades vroeër begin het toe ek vir huisbewoners prekies van vyf minute op my grammofoon gespeel het. Ek kan baie goed onthou hoe ’n jong skooldogter agter haar ma by die deur na die boodskap gestaan en luister het.
Daardie meisie het uiteindelik na Kanada geemigreer, en ’n vriendin wat nog steeds in Runcorn woon en nou ’n Getuie is, het in kontak met haar gebly. Sy het onlangs geskryf dat twee Getuies haar besoek het en uitdrukkings gebruik het wat haar skielik laat terugdink het aan daardie grammofoonopname wat sy gehoor het. Sy het besef dat dit die waarheid is, is nou ’n toegewyde kneg van Jehovah en het gevra dat haar dank oorgedra word aan die jong man wat haar ma se huis meer as 60 jaar gelede besoek het! Ja, ons weet nooit hoe saadjies van waarheid sal wortelskiet en groei nie.—Prediker 11:6.
Ek kyk met diepe waardering terug op my lewe in Jehovah se kosbare diens. Sedert my toewyding in 1931 het ek nie een byeenkoms van Jehovah se volk gemis nie. Hoewel ek en Irene geen kinders van ons eie gehad het nie, is ek bly dat ons meer as 150 geestelike seuns en dogters het, wat almal ons hemelse Vader, Jehovah, dien. Soos my dierbare vrou dit gestel het, was ons voorregte inderdaad ’n onvergelyklike vreugde.
[Voetnote]
a Hilda Padgett se lewensverhaal, “Ek volg in my ouers se voetstappe”, het in Die Wagtoring van 1 Oktober 1995, bladsye 19-24, verskyn.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 24]
My ma, vroeg in die 1900’s
[Prent op bladsy 24, 25]
Bo: Ek en Irene voor ons woonwa
[Prent op bladsy 25]
Links: Hilda Padgett, ek, Irene en Joyce Rowley in Leeds, Engeland, 1940
[Prent op bladsy 27]
Ons adverteer ’n openbare toespraak in Cardiff, Wallis, 1952