Ek het Bybelwaarheid in Roemenië geleer
SOOS VERTEL DEUR GOLDIE ROMOCEAN
In 1970 het ek my familie in Roemenië die eerste keer in bykans 50 jaar besoek. Mense het onder ’n onderdrukkende Kommunistiese regeringstelsel gelewe, en ek is voortdurend gewaarsku om te let op wat ek sê. Toe, terwyl ek in die regeringskantoor in ons tuisdorp gestaan het, het die amptenaar my dringend versoek om die land onmiddellik te verlaat. Voordat ek verduidelik waarom, laat ek vertel hoe ek Bybelwaarheid in Roemenië geleer het.
EK IS op 3 Maart 1903 in die dorp Ortelec in die noordweste van Roemenië naby die stad Zalău gebore. Ons het in ’n pragtige omgewing gewoon. Die water en lug was skoon. Ons het in ons eie voedselbehoeftes voorsien en het materieel niks kortgekom nie. Toe ek jonk was, het daar vrede in die land geheers.
Mense was baie godsdienstig. Trouens, ons familie het aan drie verskillende godsdienste behoort. Een van my oumas was ’n Ortodokse Katoliek, die ander ’n Adventis en my ouers was Baptiste. Omdat ek nie met enige van hulle godsdienste saamgestem het nie, het my familie gesê dat ek ’n ateïs sou word. ‘As daar een God is’, het ek gedink, ‘behoort daar net een godsdiens te wees—nie drie in een familie nie.’
Dinge wat ek in godsdiens gesien het, het my ontstel. Byvoorbeeld, die priester het mense by hulle huis besoek om kerkgelde te kollekteer. Wanneer hulle nie geld gehad het om te gee nie, het hy hulle beste wolkomberse in die plek daarvan geneem. In die Katolieke kerk het ek gesien hoe my ouma kniel om voor ’n prent van Maria te bid. ‘Waarom tot ’n prent bid?’ het ek gedink.
Moeilike tye
My pa het in 1912 na die Verenigde State gegaan om geld te verdien om ’n skuld af te betaal. Kort daarna het oorlog uitgebreek, en die mans in ons dorp het gaan veg—net vrouens, kinders en ou mans het agtergebly. Ons dorp het ’n ruk lank onder Hongaarse bewind gekom, maar toe het die Roemeense soldate teruggekeer en die dorp herower. Hulle het ons beveel om die dorp onmiddellik te verlaat. In die haas en warboel om ons besittings en die kleintjies op ’n oskar te laai, is ek agtergelaat. Sien, ek was die oudste van vyf kinders.
Ek het na ’n buurman gehardloop, ’n ou man wat agtergebly het, en hy het gesê: “Gaan huis toe. Sluit die deure en moet niemand inlaat nie.” Ek het gou gedoen wat hy gesê het. Nadat ek ’n bietjie hoendersop en gevulde kool geëet het wat agtergelaat is toe almal inderhaas vertrek het, het ek langs my bed gekniel en gebid. Ek was gou vas aan die slaap.
Toe ek my oë oopmaak, was dit dag, en ek het gesê: “O, dankie God! Ek lewe!” Die mure was vol koeëlgate aangesien daar die hele nag skietery was. Toe my ma agterkom dat ek nie saam met hulle in die volgende dorp is nie, het sy jong George Romocean gestuur, wat my gevind en saam met hom geneem het. Dit was nie lank nie of ons kon na ons tuisdorp terugkeer en ons lewe daar voortsit.
My begeerte na Bybelwaarheid
My ma wou hê dat ek as ’n Baptis gedoop moes word, maar ek wou nie omdat ek nie kon glo dat ’n liefdevolle God mense vir ewig in die hel sal brand nie. My ma het probeer verduidelik en het gesê: “Wel, as hulle sleg is.” Maar ek het geantwoord: “As hulle sleg is, maak hulle dood, maar moet hulle nie martel nie. Ek sal nie eers ’n hond of ’n kat martel nie.”
Ek onthou dat my ma my op ’n pragtige lentedag, toe ek 14 jaar oud was, gestuur het om die beeste te laat wei. Terwyl ek op die gras langs ’n rivier gelê het, met ’n woud agter my, het ek na die hemel opgekyk en gesê: “God, ek weet u is daar; maar ek hou nie van enige van hierdie godsdienste nie. U moet een goeie godsdiens hê.”
Ek glo werklik dat God my gebed verhoor het, want daardie selfde somer van 1917 het twee Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is) na ons dorp gekom. Hulle was kolporteurs, of voltydse bedienaars, en hulle het na die Baptistekerk gekom terwyl ’n diens gehou is.
Bybelwaarheid versprei in Roemenië
’n Paar jaar tevore, in 1911, het Carol Szabo en Josif Kiss, wat in die Verenigde State Bybelstudente geword het, na Roemenië teruggekeer om Bybelwaarheid daarheen te neem. Hulle het hulle in Tîrgu-Mureş gevestig, minder as 160 kilometer suidoos van ons dorp. Binne ’n paar jaar het letterlik honderde mense gunstig gereageer op die Koninkryksboodskap en aan die Christelike bediening begin deelneem.—Matteus 24:14.
Wel, toe die twee jong Bybelstudente na die Baptistekerk in ons dorp Ortelec gekom het, het George Romocean, al was hy net 18 jaar oud, die diens gehou en die betekenis van Romeine 12:1 probeer verduidelik. Uiteindelik het een van die jong kolporteurs opgestaan en gesê: “Broers, vriende, wat probeer die apostel Paulus hier vir ons sê?”
Toe ek dit hoor, was ek so opgewonde! Ek het gedink: ‘Hierdie manne moet weet hoe om die Bybel te verduidelik.’ Maar die meeste van dié wat teenwoordig was, het geskree: “Valse profete! Ons weet wie julle is!” Daarna het ’n groot rumoer ontstaan. Maar toe het George se pa opgestaan en gesê: “Bly stil almal van julle! Watter soort gees is dié—die soort wat uit ’n bottel kom? As hierdie manne ons iets wil vertel en julle nie daarna wil luister nie, nooi ek hulle na my huis toe. Enigiemand wat wil kom, is welkom.”
Ek het opgewonde huis toe gehardloop en vir my ma vertel wat gebeur het. Ek was een van dié wat die uitnodiging na die Romoceans se huis aanvaar het. Hoe verheug was ek tog daardie aand om uit die Bybel te leer dat daar geen brandende hel is nie en om in my eie Roemeense Bybel God se naam, Jehovah, te sien! Die kolporteurs het gereël dat ’n Bybelstudent die Romoceans se huis elke Sondag besoek om ons te leer. Die volgende somer, op 15-jarige ouderdom, is ek gedoop as simbool van my toewyding aan Jehovah.
Mettertyd het feitlik die hele Prodan-familie en die Romocean-familie Bybelwaarheid aangeneem en hulle lewe aan Jehovah toegewy. Baie ander van ons dorp het dit ook gedoen, waaronder die jong paartjie wie se huis vroeër as die Baptistekerk gedien het. Daarna het hulle dit in ’n plek verander waar die Bybelstudente bymekaar kon kom om te studeer. Skriftuurlike waarheid het vinnig in nabygeleë dorpe versprei, en teen 1920 was daar ongeveer 1800 Koninkryksverkondigers in Roemenië!
Na die Verenigde State
Ons was gretig om my pa, Peter Prodan, die dinge te vertel wat ons geleer het. Maar, wonder bo wonder, voordat ons kon skryf, het ons ’n brief van hom ontvang waarin hy vir ons gesê het dat hy ’n gedoopte kneg van Jehovah geword het. Hy het met die Bybelstudente in Akron, Ohio, gestudeer, en hy wou hê dat ons almal by hom in die Verenigde State aansluit. My ma het egter geweier om Roemenië te verlaat. Ek het dus in 1921, met die geld wat my pa my gestuur het, by hom in Akron aangesluit. George Romocean en sy broer het reeds die vorige jaar na Amerika geëmigreer.
Toe ek per skip by Ellis-eiland, New York, aankom, het die immigrasiebeampte nie geweet hoe om my naam, Aurelia, in Engels te vertaal nie en het gevolglik gesê: “Jy is Goldie.” Van toe af is dit my naam. Kort daarna, op 1 Mei 1921, is ek en George Romocean getroud. Om en by ’n jaar later het my pa na Roemenië teruggekeer en in 1925 het hy my jonger suster, Mary, teruggebring Akron toe. Daarna het my pa na Roemenië teruggegaan om by my ma en die res van die familie te wees.
Ons vroeë bediening in Amerika
George was ’n baie lojale, toegewyde kneg van Jehovah. Tussen 1922 en 1932 is ons geseën met vier pragtige dogters—Esther, Anne, Goldie Elizabeth en Irene. ’n Roemeense gemeente is in Akron gestig, en in die begin is die vergaderinge in ons huis gehou. Uiteindelik het ’n verteenwoordiger van die wêreldhoofkwartier van die Bybelstudente in Brooklyn, New York, ons gemeente elke ses maande besoek en by ons tuisgegaan.
Ons het baie Sondae die hele dag lank aan die predikingswerk deelgeneem. Ons het ons velddienssakke en middagete gepak, die meisies in ons Model T-Ford gelaai en die hele dag in plattelandse gebied velddiens gedoen. Dan het ons in die aand die Wagtoring-studie bygewoon. Ons dogters het die predikingswerk leer liefkry. In 1931 was ek in Columbus, Ohio, toe die Bybelstudente die onderskeidende naam Jehovah se Getuies aangeneem het.
Teregwysing wat ek nodig gehad het
’n Paar jaar later het ek kwaad geword vir Joseph F. Rutherford, destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. ’n Nuwe Getuie het gevoel dat broer Rutherford hom onregverdig behandel het deur hom nie te laat uitpraat nie. Volgens my was broer Rutherford verkeerd. Wel, een Sondag het my suster Mary en haar man, Dan Pestrui, ons kom besoek. Ná ete het Dan gesê: “Kom ons maak klaar om vergadering toe te gaan.”
“Ons gaan nie meer vergaderinge toe nie”, het ek gesê. “Ons is kwaad vir broer Rutherford.”
Dan het sy hande agter sy rug saamgevou en heen en weer geloop, en toe het hy gesê: “Het jy broer Rutherford geken toe jy gedoop is?”
“Natuurlik nie”, het ek geantwoord. “Jy weet ek is in Roemenië gedoop.”
“Waarom het jy jou laat doop?” het hy gevra.
“Omdat ek geleer het dat Jehovah die ware God is en ek my lewe daaraan wou wy om hom te dien”, het ek geantwoord.
“Moet dit nooit vergeet nie!” het hy gesê. “Gestel broer Rutherford verlaat die waarheid, sal jy dieselfde doen?”
“Nee, nooit!” het ek gesê. Dit het my tot besinning gebring, en ek het gesê: “Kom julle almal, maak klaar vir die vergadering.” En sedertdien het ons nooit opgehou nie. Hoe dankbaar was ek tog teenoor Jehovah vir my swaer se liefdevolle teregwysing!
Lewe gedurende die depressiejare
Gedurende die Depressie in die dertigerjare was tye baie swaar. Eendag het George baie terneergedruk by die huis aangekom ná werk en vir my gesê dat hy tydelik ontslaan is uit sy werk by die rubberfabriek. “Moenie jou kwel nie”, het ek gesê, “ons het ’n ryk Vader in die hemel, en hy sal ons nie verlaat nie.”
Daardie selfde dag het George ’n vriend teëgekom wat ’n groot mandjie sampioene gehad het. Nadat George uitgevind het waar sy vriend dit gepluk het, het hy huis toe gekom met ’n skepel sampioene. Toe het hy ons laaste drie dollar aan klein mandjies bestee. “Hoe kon jy dit doen”, het ek gevra, “terwyl ons dogtertjies het wat melk nodig het?”
“Toe maar”, het hy geantwoord, “doen net wat ek sê.” Die volgende paar weke het ons ’n klein fabriek in ons huis gehad waar ons sampioene skoongemaak en verpak het. Ons het dit aan die deftiger restaurante verkoop en tussen 30 en 40 dollar per dag huis toe gebring, wat destyds vir ons ’n fortuin was. Die boer wat ons toestemming gegee het om die sampioene in sy weiveld te pluk, het gesê dat hy al 25 jaar daar woon en nog nooit soveel sampioene gesien het nie. Kort voor lank het die rubberfabriek George gevra om weer vir hulle te kom werk.
Ons behou ons geloof
In 1943 het ons na Los Angeles, Kalifornië, verhuis, en vier jaar later het ons ons in Elsinore gevestig. Ons het ’n kruidenierswinkel daar geopen, en ons hele gesin het beurte gemaak om daarin te werk. Destyds was Elsinore net ’n klein dorpie met omtrent 2000 inwoners, en ons moes 30 kilometer ver na ’n ander dorp reis vir ons Christelike vergaderinge. Hoe bly was ek tog nie toe ’n klein gemeente in 1950 in Elsinore gestig is nie! Nou is daar 13 gemeentes in daardie gebied.
In 1950 het ons dogter Goldie Elizabeth (wat die meeste mense nou as Beth ken) aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, gegradueer en is sy na Venezuela as sendeling gestuur. In 1955 was ons jongste dogter, Irene, bly dat haar man genooi is om as ’n reisende bedienaar in die kringwerk te dien. Toe is hulle in 1961, nadat hulle die Koninkryksbedieningskool in South Lansing, New York, bygewoon het, na Thailand gestuur. Soms het ek so na my dogters verlang dat ek gehuil het, maar dan het ek gedink: ‘Dis wat ek wou hê hulle moes doen.’ Dan het ek my velddienssak geneem en in die predikingswerk uitgegaan. Ek het altyd gelukkig teruggekom huis toe.
In 1966 het my dierbare man, George, ’n beroerte gehad. Beth, wat weens gesondheidsprobleme van Venezuela teruggekeer het, het hom help versorg. George is die volgende jaar oorlede, en ek is vertroos deur die feit dat hy getrou aan Jehovah gebly het en sy hemelse beloning ontvang het. Daarna het Beth Spanje toe gegaan om te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. My oudste dogter, Esther, het siek geword aan kanker en is in 1977 oorlede, en in 1984 het Anne aan leukemie gesterf. Hulle al twee was hulle hele lewe lank getroue knegte van Jehovah.
Teen die tyd van Anne se dood het Beth en Irene teruggekeer van hulle predikingstoewysings in die buiteland. Hulle het hulle susters help versorg, en ons het almal bitterlik getreur. Ná ’n tyd het ek vir my dogters gesê: “Goed, dis nou genoeg! Ons het ander met kosbare Bybelbeloftes vertroos. Nou moet ons toelaat dat ons vertroos word. Satan wil ons van ons vreugde in Jehovah se diens beroof, maar ons mag hom nie toelaat om dit te doen nie.”
Ons getroue familie in Roemenië
Ek en my suster Mary het in 1970 daardie onvergeetlike reis onderneem om by ons familie in Roemenië te gaan kuier. Een van ons susters was al dood, maar ons kon ons broer John en ons suster Lodovica besoek, wat nog in die dorp Ortelec gewoon het. Teen die tyd van ons besoek was my pa en ma reeds oorlede; hulle het getrou aan Jehovah gebly. Baie het vir ons vertel dat my pa ’n steunpilaar in die gemeente was. Selfs party van sy agterkleinkinders in Roemenië is nou Getuies. Ons het ook baie familielede van my man se kant van die familie besoek wat standvastig in Bybelwaarheid gebly het.
In 1970 was Roemenië onder die wrede Kommunistiese regeringstelsel van Nicolae Ceauşescu, en Jehovah se Getuies is kwaai vervolg. My broer John se seun, Flore, asook ander familielede het baie jare in konsentrasiekampe deurgebring weens hulle Christelike geloof, en so ook my man se neef, Gábor Romocean. Toe ons met die taak toevertrou is om korrespondensie by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York af te lewer, was dit dus nie verbasend dat ons Roemeense broers gesê het dat hulle nie sou rus voor hulle hoor ons is veilig uit die land nie!
Toe ons agterkom dat ons visums verval het, het ons na die regeringskantoor in Ortelec gegaan. Dit was Vrydagmiddag, en daar was net een beampte aan diens. Toe hy uitvind wie ons besoek het en dat ons neef in ’n konsentrasiekamp was, het hy gesê: “Dames, sorg dat julle hier wegkom!”
“Maar daar is geen trein wat vandag vertrek nie”, het my suster geantwoord.
“Dit maak nie saak nie”, het hy dringend gesê. “Neem ’n bus. Neem ’n trein. Neem ’n taxi. Loop. Sorg net dat julle so gou as moontlik hier wegkom!”
Net toe ons wou gaan, is ons teruggeroep en ingelig dat ’n ongelyste militêre trein om 6:00 nm. daar verbykom. Wat ’n bestiering was dit tog! Op ’n gewone trein sou ons dokumente herhaaldelik gekontroleer word, maar aangesien hierdie trein militêre personeel vervoer het en ons die enigste twee burgerlikes daarop was, het niemand gevra om ons paspoorte te sien nie. Hulle het dalk aangeneem dat ons die oumas van party van die offisiere was.
Ons het die volgende oggend in Timisoara aangekom, en danksy die hulp van ’n vriend van ’n familielid kon ons ons visums kry. Die volgende dag was ons die land uit. Ons het baie aangename en onvergeetlike herinneringe van ons lojale Christenbroers en -susters in Roemenië met ons huis toe geneem.
In die jare ná ons besoek aan Roemenië het ons nie veel besonderhede aangaande die predikingswerk agter die Ystergordyn gehoor nie. Ons was nietemin vol vertroue dat ons Christenbroers en -susters lojaal aan ons God sou bly—ongeag wat gebeur. En hulle het inderdaad! Hoe bly was ons tog om uit te vind dat Jehovah se Getuies in April 1990 wetlike erkenning as ’n godsdiensorganisasie in Roemenië ontvang het! Die volgende somer het die verslae oor die streekbyeenkomste wat in Roemenië gehou is ons groot vreugde verskaf. Meer as 34 000 het dit in agt stede bygewoon, en 2260 is gedoop! Nou is daar meer as 35000 wat aan die predikingswerk in Roemenië deelneem, en verlede jaar het 86 034 die herdenking van Christus se dood bygewoon.
Die waarheid is steeds vir my kosbaar
Ek het ’n paar jaar lank opgehou om die embleme by die Gedenkmaal te gebruik. Ek het broers gesien wat baie bekwaam is wat dit nie gebruik nie en geredeneer: ‘Waarom sal Jehovah my die voorreg gee om ’n mede-erfgenaam met sy Seun in die hemel te wees wanneer ander sulke vlot sprekers is?’ Maar toe ek dit nie gebruik het nie, was ek baie verontrus. Dit was asof ek iets verwerp. Ná baie studie en smeekbedes het ek die embleme weer begin gebruik. My vrede en vreugde het teruggekeer en het my nooit verlaat nie.
Hoewel ek nie meer kan sien om te lees nie, luister ek elke dag na bandopnames van die Bybel en Die Wagtoring en Ontwaak! Ek neem ook nog steeds aan die predikingswerk deel. Gewoonlik versprei ek tussen 60 en 100 tydskrifte per maand, maar toe ons verlede April die spesiale kampanje met die Ontwaak! gehad het, het ek 323 versprei. Met my dogters se hulp kan ek ook dele op die Teokratiese Bedieningskool doen. Ek is bly dat ek ander nog kan aanmoedig. Omtrent almal in die Koninkryksaal noem my Ouma.
Noudat ek terugkyk op byna 79 jaar van toegewyde diens aan Jehovah dank ek hom elke dag dat hy my toegelaat het om sy kosbare waarheid te ken en om my lewe in sy diens te gebruik. Ek is so dankbaar dat ek die vervulling kon sien van die wonderlike Bybelprofesieë wat die insameling van God se skaapgeaardes in hierdie laaste dae voorspel het.—Jesaja 60:22; Sagaria 8:23.
[Prent op bladsy 23]
My suster Mary en my pa staan; ek, George en ons dogters Esther en Anne
[Prent op bladsy 24]
Met my dogters Beth en Irene en Irene se man en hulle twee seuns, wat almal Jehovah getrou dien