Jesus Christus—Getuienis dat hy wel op die aarde was
GLO jy dat die man met die naam Albert Einstein bestaan het? Jy antwoord dalk geredelik ja, maar waarom? Die meeste mense het hom nie persoonlik ontmoet nie. En tog bevestig betroubare verslae van sy prestasies dat hy wel bestaan het. Die invloed van sy bestaan kan gesien word in wetenskaplike toepassings van sy ontdekkings. Baie vind byvoorbeeld baat by elektrisiteit wat opgewek word deur kernenergie, waarvan die vrystelling ten nouste verband hou met die toepassing van Einstein se welbekende vergelyking E=mc2 (energie is gelyk aan massa maal die snelheid van lig kwadraat).
Dieselfde redenasie is van toepassing op Jesus Christus, wat ongetwyfeld die invloedrykste man in die geskiedenis was. Dít wat oor hom geskryf is, asook die sigbare bewyse van die invloed wat hy uitgeoefen het, toon sonder enige twyfel dat hy bestaan het. Hoewel die onlangse argeologiese vonds van die Jakobus-inskripsie wat in die vorige artikel beskryf word, dalk baie interessant is, is die historisiteit van Jesus nie van hierdie of enige ander artefak afhanklik nie. Feit is dat ons getuienis van Jesus se bestaan kan vind in wat sekulêre geskiedskrywers oor hom en sy volgelinge geskryf het.
Getuienis deur geskiedskrywers
Beskou byvoorbeeld die getuienis van Flavius Josefus, ’n eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer en Fariseër. Hy het in die boek Jewish Antiquities na Jesus Christus verwys. Hoewel party twyfel aan die egtheid van die eerste verwysing waar Josefus van Jesus as die Messias praat, sê professor Louis H. Feldman van Yeshiva-universiteit dat min mense die egtheid van die tweede verwysing betwyfel. Daar het Josefus gesê: “[Die hoëpriester Ananus] het die regters van die Sanhedrin byeengeroep en voor hulle ’n man met die naam Jakobus gebring, die broer van Jesus wat die Christus genoem is” (Jewish Antiquities, XX, 200). Ja, ’n Fariseër, ’n lid van die sekte waarvan baie aanhangers geswore vyande van Jesus was, het die bestaan van “Jakobus, die broer van Jesus”, erken.
Die invloed van Jesus se bestaan is in die bedrywighede van sy volgelinge weerspieël. Toe die apostel Paulus omstreeks 59 G.J. in Rome opgesluit was, het die vernaamste manne van die Jode vir hom gesê: “Wat hierdie sekte betref, ons weet dat daar oral daarteen gepraat word” (Handelinge 28:17-22). Hulle het Jesus se dissipels “hierdie sekte” genoem. As daar oral teen hulle gepraat is, sou sekulêre geskiedskrywers tog sekerlik iets oor hulle geskryf het, of hoe?
Tacitus, wat omstreeks 55 G.J. gebore is en as een van die wêreld se grootste geskiedskrywers beskou word, het van die Christene gepraat in sy Annals. In die verslag oor Nero wat hulle die skuld gegee het vir die groot brand in Rome in 64 G.J., het hy geskryf: “Nero het die skuld gepak op ’n klas wat gehaat is vir hulle aanstootlike dade en deur die volk Christene genoem is, en hy het hulle aan die wreedste soort marteling onderwerp. Christus, aan wie die naam [Christen] ontleen is, is tydens die regering van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus.” Die besonderhede van hierdie verslag stem ooreen met die inligting oor die Jesus van die Bybel.
Nog ’n skrywer wat oor Jesus se volgelinge kommentaar gelewer het, was Plinius die Jongere, die goewerneur van Bitinië. Omstreeks die jaar 111 G.J. het Plinius aan keiser Trajanus geskryf en gevra wat hy met die Christene moet doen. Plinius het geskryf dat mense wat valslik daarvan beskuldig is dat hulle Christene is, ’n smeekbede aan die gode sou opsê en die beeld van Trajanus sou aanbid, net om te bewys dat hulle nie Christene is nie. Plinius het bygevoeg: “Daar word gesê dat diegene wat werklik Christene is, glad nie gedwing kan word om aan hierdie gebruike deel te neem nie.” Dit bevestig dat Christus werklik bestaan het, want sy volgelinge was bereid om hulle lewe op te offer weens hulle geloof in hom.
The Encyclopædia Britannica (2002-uitgawe) gee ’n opsomming van die geskiedskrywers van die eerste twee eeue se verwysings na Jesus Christus en sy volgelinge en maak dié gevolgtrekking: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in die ou tyd nooit getwyfel het dat Jesus ’n geskiedkundige persoon was nie. Dit is vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu betwis.”
Getuienis deur Jesus se volgelinge
“Die Nuwe Testament voorsien byna al die nodige getuienis vir ’n geskiedkundige rekonstruksie van Jesus se lewe en dood en vir die vroegste Christelike interpretasies van sy belangrikheid”, sê The Encyclopedia Americana. Skeptici aanvaar dalk nie die Bybel as bewys van Jesus se bestaan nie. Maar twee redenasies wat op skriftuurlike verslae gegrond is, help veral om te bevestig dat Jesus werklik op die aarde was.
Soos ons gesien het, word Einstein se bestaan deur sy briljante teorieë bewys. So ook bewys Jesus se leringe dat hy werklik bestaan het. Neem byvoorbeeld die Bergpredikasie, ’n welbekende toespraak wat Jesus gehou het (Matteus, hoofstukke 5-7). Die apostel Matteus het oor die trefkrag van daardie preek geskryf: “Die skare [was] verstom . . . oor die manier waarop hy geleer het; want hy het hulle geleer soos iemand wat gesag het” (Matteus 7:28, 29). Aangaande die uitwerking wat daardie preek al op mense deur die eeue heen gehad het, het professor Hans Dieter Betz gesê: “Die invloed wat die Bergpredikasie uitoefen, strek oor die algemeen baie verder as die grense van Judaïsme en die Christelike godsdiens, of selfs die Westerse kultuur.” Hy het bygevoeg dat hierdie preek “’n buitengewoon universele aantrekkingskrag” het.
Beskou die volgende bondige en praktiese woorde van wysheid wat in die Bergpredikasie gevind word: “As iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe.” “Pas noukeurig op dat julle nie julle regverdigheid voor die mense beoefen . . . nie.” “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê.” “Moenie . . . julle pêrels voor die varke gooi nie.” “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word.” “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.” “Gaan in deur die nou poort.” “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken.” “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort.”—Matteus 5:39; 6:1, 34; 7:6, 7, 12, 13, 16, 17.
Jy het ongetwyfeld al sommige van hierdie uitdrukkings gehoor, of uitdrukkings wat dieselfde gedagte bevat. Dalk het dit spreekwoorde in jou taal geword. Dit kom almal uit die Bergpredikasie. Die invloed wat hierdie preek op baie mense en kulture het, is ’n kragtige bewys dat “die groot leermeester” wel bestaan het.
Kom ons stel ons voor dat iemand ’n karakter met die naam Jesus Christus versin het. Gestel daardie persoon was slim genoeg om die leringe uit te dink wat in die Bybel aan Jesus toegeskryf word. Sou hy nie probeer het om Jesus en sy leringe so aanvaarbaar moontlik vir mense oor die algemeen te maak nie? En tog het die apostel Paulus gesê: “Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid; maar ons verkondig Christus wat aan die paal gehang is, vir die Jode ’n oorsaak van struikeling maar vir die nasies dwaasheid” (1 Korintiërs 1:22, 23). Die boodskap van Christus wat aan die paal gehang is, was nie vir die Jode of die nasies aantreklik nie. Maar dít was die Christus wat eerste-eeuse Christene verkondig het. Waarom is Christus uitgebeeld as aan die paal gehang? Die enigste bevredigende verduideliking is dat die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte die waarheid oor Jesus se lewe en dood opgeteken het.
Nog ’n redenasie wat bevestig dat Jesus ’n geskiedkundige persoon is, is die feit dat sy volgelinge sy leringe onvermoeid verkondig het. Net sowat 30 jaar nadat Jesus met sy bediening begin het, kon Paulus sê dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Ja, Jesus se leringe het ondanks teenstand dwarsdeur die eertydse wêreld versprei. Paulus, wat self as ’n Christen vervolg is, het geskryf: “As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs” (1 Korintiërs 15:12-17). As dit tevergeefs sou wees om ’n Christus te verkondig wat nooit opgewek is nie, sou dit selfs meer tevergeefs gewees het om ’n Christus te verkondig wat nooit bestaan het nie. Soos ons in Plinius die Jongere se verslag lees, was eerste-eeuse Christene bereid om vir hulle geloof in Christus Jesus te sterf. Hulle het hulle lewe op die spel geplaas vir Christus omdat hy ’n werklike persoon was; hy was werklik op die aarde en het gelewe soos die Evangelieverslae sê.
Jy het bewyse gesien
Geloof in die opstanding van Jesus Christus was noodsaaklik om die Christelike predikingswerk te doen. Jy kan die verrese Jesus ook voor jou geestesoog sien as jy let op die kragtige invloed wat hy vandag uitoefen.
Net voordat Jesus aan die paal gehang is, het hy ’n omvattende profesie oor sy toekomstige teenwoordigheid gegee. Hy het ook aangedui dat hy opgewek sou word en aan God se regterhand sou sit en wag vir die tyd om met sy vyande af te reken (Psalm 110:1; Johannes 6:62; Handelinge 2:34, 35; Romeine 8:34). Daarna sou hy daadwerklik optree en Satan en sy demone uit die hemele werp.—Openbaring 12:7-9.
Wanneer sou dit alles plaasvind? Jesus het sy dissipels ‘die teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge’ gegee. Die teken wat sy onsigbare teenwoordigheid sou kenmerk, was onder meer groot oorloë, voedseltekorte, aardbewings, die verskyning van valse profete, ’n toename in wetteloosheid en verskriklike pessiektes. Sulke rampspoedige gebeure moes verwag word, aangesien die uitwerping van Satan die Duiwel “wee [vir] die aarde” sou beteken. Die Duiwel het na die omgewing van die aarde neergedaal met “groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”. Daarbenewens sluit die teken die verkondiging in van die goeie nuus van die Koninkryk “in die hele bewoonde aarde . . . as ’n getuienis vir al die nasies”.—Matteus 24:3-14; Openbaring 12:12; Lukas 21:7-19.
Soos die stukkies van ’n legkaart wat inmekaarpas, het die dinge wat Jesus voorspel het, plaasgevind. Sedert die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, sien ons oorvloedige getuienis van Jesus Christus se onsigbare teenwoordigheid. Hy heers as die Koning van God se Koninkryk en oefen ’n kragtige invloed uit. Die feit dat jy hierdie tydskrif in jou hand het, is ’n bewys dat die Koninkrykspredikingswerk vandag gedoen word.
Om ’n dieper begrip te kry van die invloed wat Jesus se bestaan het, moet jy die Bybel bestudeer. Vra Jehovah se Getuies gerus vir besonderhede oor Jesus se teenwoordigheid.
[Prente op bladsy 5]
Josefus, Tacitus en Plinius die Jongere het na Jesus Christus en sy volgelinge verwys
[Erkenning]
Al drie voorstellings: © Bettmann/CORBIS
[Prent op bladsy 7]
Vroeë Christene was daarvan oortuig dat Jesus ’n werklike persoon was