Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 6/15 bl. 26-29
  • Aleksander VI—’n Pous wat Rome nie kan vergeet nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aleksander VI—’n Pous wat Rome nie kan vergeet nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy mag neem toe
  • Niks beter as wêreldlike vorste nie
  • Kritiek op pouslike bandeloosheid
  • Ernstige vrae
  • Is dit ware Christelikheid?
  • 1492—Nie net ’n ontdekking nie
    Ontwaak!—1991
  • Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Besluite wat vastelande verdeel het
    Ontwaak!—2015
  • Wat moet gedoen word indien ’n geestelike sondig?
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 6/15 bl. 26-29

Aleksander VI—’n Pous wat Rome nie kan vergeet nie

“VANUIT ’n Katolieke oogpunt is dit onmoontlik om Aleksander VI skerp genoeg te veroordeel” (Geschichte der Päpste seit dem Ausgang des Mittelalters [Geskiedenis van die pouse vanaf die einde van die Middeleeue]). “Sy privaat lewe is totaal onverdedigbaar . . . Ons moet erken dat sy pousskap die Kerk glad nie tot eer strek nie. Hoewel die tydgenote van die Borgia-familie aan sulke wandade gewoond was, het hulle die Borgias se misdade met onuitspreeklike afgryse aanskou, misdade wat meer as vier eeue later nog nie heeltemal vergete is nie.”—L’Église et la Renaissance (1449-1517) (Die Kerk en die Renaissance).

Waarom bevat gerespekteerde geskiedkundige werke oor die Rooms-Katolieke Kerk sulke skerp kritiek oor ’n pous en sy familie? Wat het hulle gedoen om sulke kritiek uit te lok? ’n Uitstalling in Rome (Oktober 2002–Februarie 2003) met die tema I Borgia—l’arte del potere (Die Borgias—Die kuns van mag) het die geleentheid gebied om na te dink oor voorregte wat die pouse hulle toegeëien het, veral hoe dit deur Rodrigo Borgia, oftewel Aleksander VI (pous 1492-1503), gebruik is.

Sy mag neem toe

Rodrigo Borgia is in 1431 gebore uit ’n vooraanstaande familie in Játiva, in die koninkryk van Aragon, nou in Spanje. Sy oom Alfonso de Borgia, biskop van Valencia, het toesig gehou oor sy broerskind se opvoeding en toegesien dat Rodrigo, terwyl hy nog ’n tiener was, kerklike benefisies (geestelike ampte met inkomste) ontvang het. Op 18-jarige ouderdom het Rodrigo onder die beskerming van Alfonso, wat teen dié tyd ’n kardinaal was, na Italië gegaan waar hy in die regte gestudeer het. Toe Alfonso pous Calixtus III geword het, het hy Rodrigo en ’n ander broerskind kardinale gemaak. Pere Lluís Borgia is die goewerneurskap oor verskeie stede gegee. Rodrigo is weldra as visekanselier van die kerk aangestel, ’n amp wat hy onder verskeie pouse beklee het en wat hom in staat gestel het om talle lonende benefisies te verkry, groot rykdom te vergaar, ontsaglike mag uit te oefen en die weelderige lewe van ’n vors te lei.

Rodrigo was intelligent, welsprekend, ’n beskermer van die kunste en iemand met die vermoë om sy doelwitte te bereik. Hy het egter etlike ongeoorloofde verhoudings gehad en het die vader geword van vier kinders by sy lewenslange minnares sowel as van nog kinders by ander vroue. Hoewel pous Pius II hom bestraf het weens sy voorliefde vir “die mees verdorwe” vermaak en “onbeteuelde genot”, het Rodrigo nie verander nie.

Ná die dood van pous Innocentius VIII in 1492 het die kardinale van die kerk vergader om ’n opvolger te kies. Dit is ’n onbestrede feit dat Rodrigo Borgia met wonderlike beloftes en openlike sinisme genoeg stemme van sy medekardinale gekoop het om daardie kardinaalsvergadering as pous Aleksander VI te verlaat. Hoe het hy vir die kardinale se stemme betaal? Deur aan hulle kerkampte, paleise, kastele, stede, kloosters en bisdomme met ontsaglike inkomstes te gee. ’n Mens kan verstaan waarom ’n kerkgeskiedskrywer Aleksander VI se bewind “dae van oneer en skande vir die Roomse Kerk” genoem het.

Niks beter as wêreldlike vorste nie

Op grond van sy geestelike mag as hoof van die kerk het Aleksander VI die geskil besleg tussen Spanje en Portugal oor die verdeling van die pas ontdekte gebiede in die Amerikas. Weens sy wêreldlike mag was hy hoof van die kerklike staat met gebiede in Sentraal-Italië, en hy het sy koninkryk net soos enige ander Renaissanceheerser regeer. Aleksander VI se bewind, soos dié van pouse voor en ná hom, is dus gekenmerk deur omkopery, nepotisme en meer as een dood in verdagte omstandighede.

Mededingende moondhede het gedurende hierdie onstuimige tye beheer oor Italiaanse gebiede probeer verkry, en die pous was geensins ’n passiewe toeskouer nie. Sy politieke sette en bondgenootskappe, wat na willekeur aangegaan en verbreek is, was bedoel om sy mag te vergroot, sy kinders se loopbane te bevorder en die Borgia-familie bo alle ander te verhef. Sy seun Juan, wat met die niggie van die koning van Kastilië getroud was, is hertog van Gandía, Spanje, gemaak. Jofré, ’n ander seun, was getroud met die kleindogter van die koning van Napels.

Toe die pous ’n bondgenoot nodig gehad het om sy betrekkinge met Frankryk te versterk, het hy die verlowing van sy 13-jarige dogter, Lucrezia, met ’n Aragonese edelman verbreek en haar toe aan ’n familielid van die hertog van Milaan gegee. Toe die huwelik nie meer polities wenslik was nie, is ’n voorwendsel gevind om dit te ontbind, en Lucrezia is as vrou gegee aan ’n lid van ’n mededingende vorstehuis, Alfonso van Aragon. Intussen het Lucrezia se ambisieuse en genadelose broer, Cesare Borgia, ’n bondgenootskap met Lodewyk XII van Frankryk aangegaan, en sy suster se onlangse huwelik met ’n Aragonees het ’n verleentheid geword. Die oplossing? Een bron sê dat Alfonso, haar man, “op die trap van die St. Pieterskerk deur vier mans in ’n sluipmoordpoging gewond is. Terwyl hy aangesterk het, is hy deur een van Cesare se diensknegte verwurg.” Die pous, wat nuwe strategiese bondgenootskappe wou aangaan, het ’n derde huwelik vir Lucrezia, nou 21, gereël, met die seun van die magtige hertog van Ferrara.

Cesare se loopbaan is al beskryf as “’n bloedbevlekte verhaal van gewetenloosheid”. Hoewel Cesare op 17-jarige ouderdom deur sy vader as ’n kardinaal aangestel is, was hy meer aangelê vir oorlog as vir kerksake, aangesien hy geslepe, ambisieus en so korrup soos min was. Nadat hy uit sy kerkamp bedank het, het hy met ’n Franse prinses getrou en sodoende die hertogdom van Valentinois verkry. Toe het hy, met die ondersteuning van Franse troepe, ’n veldtog van beleëring en sluipmoord begin om die noorde van Italië onder sy beheer te bring.

Om Frankryk se militêre steun te verseker, wat nodig was om Cesare se oogmerke te bevorder, het die pous toegestem tot ’n gerieflike maar skandalige egskeiding wat Lodewyk XII van Frankryk wou hê sodat hy met Anna van Bretagne kon trou en haar hertogdom by sy koninkryk kon voeg. Volgens een naslaanwerk het die pous in werklikheid “die aansien van die Kerk en beginselvastheid opgeoffer om wêreldlike voordele vir lede van sy familie te verkry”.

Kritiek op pouslike bandeloosheid

Die bandeloosheid van die Borgias het vyande gemaak en kritiek uitgelok. Die pous het diegene wat hom gekritiseer het, eenvoudig geïgnoreer, maar iemand wat nie geïgnoreer kon word nie, was Girolamo Savonarola. Hy was ’n Dominikaanse monnik, ’n vurige prediker en ’n politieke leier van Florence. Hy het die verdorwenheid aan die pouslike hof, die pous as persoon en sy politiek veroordeel en daarop aangedring dat hy uit sy amp verwyder word en dat kerklike hervorming plaasvind. Savonarola het gebulder: “Kerkleiers, . . . snags gaan julle na julle bywywe en soggens na julle sakramente.” Hy het later gesê: “[Daardie leiers] het die gesig van ’n hoer en hulle roem strek die Kerk tot oneer. Ek sê vir julle, hulle hang nie die Christelike geloof aan nie.”

In ’n poging om Savonarola se stilswye te koop, het die pous hom ’n kardinaalskap aangebied, maar hy het dit van die hand gewys. Hetsy dit sy antipouslike politiek of sy prediking was wat sy ondergang bewerk het, Savonarola is uiteindelik geëkskommunikeer, in hegtenis geneem, gemartel tot hy ’n bekentenis afgelê het en toe gehang en verbrand.

Ernstige vrae

Hierdie geskiedkundige gebeure laat belangrike vrae ontstaan. Hoe kan sulke intriges en pouslike gedrag verklaar word? Hoe verklaar geskiedkundiges dit? Verskillende redenasies word aangevoer.

Baie beweer dat Aleksander VI in sy geskiedkundige konteks beskou moet word. Sy politieke en kerklike bedrywighede is glo beïnvloed deur die begeerte om vrede te bewaar, die ewewig tussen mededingende state te handhaaf, vriendskapsbande te versterk met bondgenote wat die pousdom sou verdedig en om die Christendom se heersers teen die Turkse bedreiging verenig te hou.

Maar sy gedrag? “In elke era van die Kerk was daar slegte Christene en onwaardige priesters”, sê een geleerde. “Christus het dit voorspel sodat dit niemand sou skok nie; hy het sy Kerk selfs met ’n saailand vergelyk waarin goeie koring en onkruid groei, of met ’n net waarin daar goeie en slegte vis is, net soos hy selfs ’n Judas onder sy apostels geduld het.”a

Dieselfde geleerde sê verder: “Net soos die waarde van ’n edelsteen nie afneem as dit sleg geset is nie, so kan die sondigheid van ’n priester nie werklik afbreuk doen aan . . . die leerstelling wat hy verkondig nie. . . . Goud bly goud, of dit ’n rein of onrein hand is wat dit uitdeel.” Volgens een Katolieke geskiedskrywer is die reël wat opregte Katolieke in die geval van Aleksander VI moes toegepas het, die raad wat Jesus in verband met die skrifgeleerdes en Fariseërs aan sy dissipels gegee het: ‘Doen wat hulle sê, maar nie wat hulle doen nie’ (Matteus 23:2, 3). Maar oortuig hierdie redenasies jou werklik?

Is dit ware Christelikheid?

Jesus het ’n eenvoudige riglyn gegee waarvolgens die gehalte van verklaarde Christene getoets moet word: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken. Mense pluk nooit druiwe van dorings of vye van dissels nie, of hoe? Net so bring elke goeie boom goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort; ’n goeie boom kan nie waardelose vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte voortbring nie. So sal julle daardie mense dan aan hulle vrugte herken.”—Matteus 7:16-18, 20.

In watter mate het godsdiensleiers deur die eeue heen gebly by die patroon van ware Christelikheid wat deur Jesus vasgestel is en wat op voorbeeldige wyse deur sy ware volgelinge nageleef is, en in watter mate bly hulle vandag daarby? Kom ons kyk na net twee gebiede—politieke betrokkenheid en lewenswyse.

Jesus was in geen opsig ’n wêreldlike vors nie. Hy het so ’n beskeie lewe gelei dat hy, soos hy erken het, nie eers ’n plek gehad het “om sy kop neer te lê nie”. Sy Koninkryk was “geen deel van hierdie wêreld nie” en sy dissipels moes “geen deel van die wêreld [wees] nie, net soos [hy] geen deel van die wêreld [was] nie”. Jesus het dus geweier om by die politieke aangeleenthede van sy dag betrokke te raak.—Matteus 8:20; Johannes 6:15; 17:16; 18:36.

Maar het godsdiensorganisasies dan nie al eeue lank die gewoonte om hulle in te laat met politieke heersers ter wille van mag en materiële gewin nie, al het dit lyding vir die gewone mense veroorsaak? Is dit nie ook so dat baie van hulle geestelikes in weelde lewe, terwyl ’n menigte van die mense wat eintlik deur hulle bedien moet word, in armoede lewe nie?

Jesus se halfbroer Jakobus het gesê: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jakobus 4:4). Waarom “’n vyand van God”? Eerste Johannes 5:19 sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”

’n Geskiedskrywer wat in Borgia se tyd gelewe het, het oor Aleksander VI se sedes geskryf: “Hy het ’n losbandige lewe gelei. Hy het geen skaamte of opregtheid, geen geloof of godsdiens gehad nie. Hy was vervul met onversadigbare hebsug, verterende ambisie, barbaarse wreedheid en ’n obsessie met die vooruitgang van sy baie kinders.” Borgia was natuurlik nie die enigste lid van die kerkhiërargie wat so opgetree het nie.

Wat sê die Skrif van sulke gedrag? “Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie?” het die apostel Paulus gevra. “Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of . . . egbrekers of . . . gierigaards . . . sal God se koninkryk beërf nie.”—1 Korintiërs 6:9, 10.

Een van die verklaarde oogmerke van die onlangse uitstalling in Rome oor die Borgias was “om hierdie vername persone in hulle geskiedkundige konteks te plaas . . . , om te verstaan maar beslis nie te verskoon of te veroordeel nie”. Trouens, besoekers moes hulle eie gevolgtrekkings maak. Tot watter gevolgtrekking het jy gekom?

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1995, bladsye 5-6, en 15 Junie 1992, bladsye 17-22, vir ’n juiste uitleg van hierdie gelykenisse.

[Prent op bladsy 26]

Rodrigo Borgia, pous Aleksander VI

[Prent op bladsy 27]

Lucrezia Borgia se vader het haar gebruik om sy mag te vergroot

[Prent op bladsy 28]

Cesare Borgia was ambisieus en korrup

[Prent op bladsy 29]

Omdat Girolamo Savonarola nie stilgemaak kon word nie, is hy gehang en verbrand

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel