Gileadskool—60 jaar van sendingopleiding
“ONS intensiewe Bybelstudie het ons nader aan Jehovah laat kom en ons meer oor sy organisasie geleer. Dit het ons voorberei vir die lewe in ’n buitelandse toewysing.” Dit is hoe ’n sendeling wat aan die eerste klas gegradueer het, die studiekursus aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead beskryf het. Sedert die Gileadskool 60 jaar gelede gestig is, word sendelinge van hier af uitgestuur. Op 8 Maart 2003 is die graduering van die 114de klas by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou. Die 6 404 wat in die ouditorium en by nabygeleë plekke vergader het, het aandagtig na die program geluister, wat toesprake, onderhoude en ’n groepbespreking ingesluit het.
Theodore Jaracz, ’n lid van die Bestuursliggaam, was die voorsitter. In sy inleidingskommentare het hy die aandag gevestig op die multinasionale gehoor, wat bestaan het uit besoekers van Asië, die Karibiese Eilande, Sentraal- en Suid-Amerika en Europa. Broer Jaracz het sy kommentare op 2 Timoteus 4:5 gebaseer en die vernaamste taak van ’n Gileadopgeleide sendeling beklemtoon—naamlik om ‘die werk van ’n evangeliedienaar te doen’. Die sendelinge getuig van die waarheid deur mense die Bybel te leer.
Laaste riglyne aan studente
John Larson, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, het die eerste van ’n reeks kort toesprake gehou en die geloofversterkende tema “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?” bespreek (Romeine 8:31). Die spreker het verduidelik watter Bybelse grondslag die studente het om volkome op Jehovah se krag te vertrou om enige struikelblok in hulle toewysings te oorkom. Aan die hand van Romeine 8:38, 39 het broer Larson die studente aangespoor: “Staan stil en dink aan die krag wat God ten behoewe van jou gebruik, en onthou dat niks Jehovah se persoonlike gehegtheid aan jou kan verbreek nie.”
Volgende op die program was Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het die tema “Hou jou oë gelukkig!” gekies (Lukas 10:23). Hy het verduidelik dat ’n mens ware geluk vind as jy Jehovah ken, sy ewige voorneme verstaan en die vervulling van Bybelprofesieë sien. Die studente kan, waar hulle ook al gaan, waarlik gelukkig bly deur hulle oë gelukkig te hou. Broer Pierce het die gegradueerdes aangemoedig om diep na te dink oor Jehovah se goedheid en om hulle verstand en hart daarop gerig te hou om Sy wil te doen (Psalm 77:12). Deur ’n positiewe gesindheid te behou, kan die gegradueerdes enige probleme die hoof bied waarvoor hulle dalk te staan sal kom.
Toe het die klas bemoedigende afskeidswoorde ontvang van twee van die instrukteurs wat hulle elke dag onderrig het. “Soek jy heerlikheid?” was die tema van Lawrence Bowen se toespraak. Die meeste mense dink aan heerlikheid in die sin van lof, eer en aansien vir hulleself. Die psalmis Asaf het egter besef wat ware heerlikheid is—die kosbare skat van ’n geseënde verhouding met Jehovah (Psalm 73:24, 25). Die studente is aangemoedig om ’n hegte verhouding met Jehovah te behou deur voort te gaan met hulle diep studie van die Bybel. Die engele is “begerig om te tuur” in die dinge wat met die vervulling van Jehovah se voorneme deur Christus verband hou (1 Petrus 1:12). Hulle wil soveel as moontlik oor hulle Vader leer sodat hulle sy heerlikheid kan weerspieël. Toe het die spreker die studente aangespoor om Jehovah in hulle sendingtoewysings te verheerlik deur ander te help om die kosbare skat te kry.
Die registrateur van die skool, Wallace Liverance, het die reeks openingstoesprake afgesluit met ’n bespreking van die tema “Spreek God se wysheid in ’n heilige geheim” (1 Korintiërs 2:7). Wat is hierdie goddelike wysheid waarvan die apostel Paulus tydens sy sendingdiens gepraat het? Dit is Jehovah se wyse en kragtige manier om universele vrede en eenheid te bewerkstellig. Hierdie wysheid hou ten nouste verband met Jesus. Paulus het nie ’n sosiale evangelie verkondig nie, maar het mense eerder gehelp om te sien hoe God die gevolge van Adam se sonde uit die weg sou ruim (Efesiërs 3:8, 9). Die spreker het sy gehoor aangespoor: “Gebruik julle diensvoorreg soos Paulus, wat sy sendingtoewysing as ’n geleentheid beskou het om mense te leer hoe Jehovah sy voorneme sal volbring.”
Hierna het Mark Noumair, ’n ander Gileadinstrukteur, ’n geesdriftige bespreking met ’n hele paar studente van die klas gehou. Die tema “’n Studie van God se Woord bring ywerige bedienaars voort” het Paulus se woorde in Romeine 10:10 beklemtoon. Die klas het verskeie velddiensondervindinge vertel wat hulle geniet het terwyl hulle die skool bygewoon het. Hulle ondervindinge het getoon dat die goeie dinge oor Jehovah God en sy Koninkryk ons harte sal vul en op ons lippe sal wees as ons God se Woord bestudeer en daaroor peins. Gedurende hulle vyf maande by die Wagtoring-onderrigsentrum het die studente meer as 30 tuisbybelstudies begin met belangstellendes in die deeglik gedekte gebiede van nabygeleë gemeentes.
Die stemme van ervarenes
Gedurende die skool het die studente baat gevind by omgang met lede van die Bethelgesin in die Verenigde State. Robert Ciranko en Robert P. Johnson, albei lede van die takkantoorpersoneel, het onderhoude gevoer met ’n paar getroue knegte van Jehovah wat hom al jare lank dien, waaronder reisende opsieners wat tans spesiale opleiding by die Wagtoring-onderrigsentrum ontvang. Almal met wie onderhoude gevoer is, was Gileadgegradueerdes wat in die verlede as sendelinge gedien het. Dit was gerusstellend vir die studente en hulle familie en vriende om hierdie bekwame geestelike manne se woorde van wysheid te hoor.
Hulle het onder meer hierdie raad gegee: “Bly so besig as moontlik in die bediening en in die gemeente.” “Moenie jouself te ernstig opneem nie. Hou jou doel as sendeling voor oë en maak jou toewysing jou tuiste.” Ander nuttige kommentare het toegelig hoe Gileadopleiding ’n bedienaar toerus vir goeie werk, ongeag waarheen hy gestuur word. Hier is party van die kommentare: “Ons het geleer om met mekaar saam te werk.” “Die skool het ons gehelp om nuwe kulture te aanvaar.” “Ons is geleer om die Bybel op bekwamer wyse te gebruik.”
John E. Barr, wat al lank ’n lid van die Bestuursliggaam is, het die hooftoespraak van die program gehou. Sy skriftuurlike tema was “Oor die hele aarde het hulle geluid uitgegaan” (Romeine 10:18). Hy het die vraag gestel: Het God se hedendaagse knegte hierdie uitdaging aanvaar? Ja, beslis! Reeds in 1881 is lesers van Die Wagtoring gevra: “Doen jy die predikingswerk?” Toe het die spreker almal in die gehoor herinner aan die geskiedkundige oproep by die byeenkoms in 1922 by Cedar Point, Ohio, VSA: “Adverteer die Koning en sy Koninkryk!” Oor die jare heen het die ywer van God se getroue knegte hulle beweeg om die wonderlike Koninkrykswaarhede aan al die nasies te verkondig. Deur middel van die gedrukte bladsy en die gesproke woord het die goeie nuus die uithoeke van die bewoonde aarde bereik—tot lof en eer van Jehovah. In ’n roerende slot het broer Barr die gegradueerdes aangespoor om hulle seëninge te tel en gesê: “Dag na dag, wanneer julle daar in julle toewysing tot Jehovah bid, moet julle hom uit die diepte van julle hart bedank vir julle rol in die vervulling van die woorde: ‘Oor die hele aarde het hulle geluid uitgegaan.’”
Ná hierdie toespraak is groeteboodskappe gelees, en die voorsitter het ’n diploma aan elke gegradueerde oorhandig. Met gemengde gevoelens van vreugde en droefheid omdat die geliefde skool ten einde geloop het, het ’n verteenwoordiger van die klas toe ’n hartgrondige resolusie gelees wat tot die Bestuursliggaam en die Bethelgesin gerig was. Hierin het die gegradueerdes hulle vasbeslotenheid uitgespreek om Jehovah “van nou af en tot onbepaalde tyd” te loof.—Psalm 115:18.
Dit is ons bede dat hierdie gegradueerdes by hulle nuwe tuistes sal aanpas en ’n groot bydrae sal lewer tot die vooruitgang van die wêreldwye predikingswerk, net soos hulle voorgangers gedoen het wat die afgelope 60 jaar uitgestuur is.
[Venster op bladsy 23]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 12
Aantal lande waarheen gestuur: 16
Aantal studente: 48
Gemiddelde ouderdom: 34,4
Gemiddelde jare in die waarheid: 17,6
Gemiddelde jare in die voltydse bediening: 13,5
[Prent op bladsy 24]
114de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Rosa, D.; Garrigolas, J.; Lindström, R.; Pavanello, P.; Tait, N. (2) Van Hout, M.; Donabauer, C.; Martínez, L.; Millar, D.; Festré, Y.; Nutter, S. (3) Martínez, P.; Clarke, L.; Maughan, B.; Fischer, L.; Romo, G. (4) Romo, R.; Eadie, S.; Tuynman, C.; Campbell, P.; Millar, D.; Rosa, W. (5) Lindström, C.; Garrigolas, J.; Markevich, N.; Lindala, K.; van den Heuvel, J.; Tait, S.; Nutter, P. (6) Maughan, P.; Pavanello, V.; Eadie, N.; West, A.; Clarke, D.; Markevich, J. (7) Fischer, D.; Donabauer, R.; Curry, P.; Curry, Y.; Carfagno, W.; West, M.; Tuynman, A. (8) Van Hout, M.; Campbell, C.; Festré, Y.; Carfagno, C.; van den Heuvel, K.; Lindala, D.