Die armes word armer
“Geen gemeenskap kan enigsins floreer en gelukkig wees as die oorgrote meerderheid van sy lede arm en ellendig is nie.”
DIE ekonoom Adam Smith het reeds in die 18de eeu hierdie stelling gemaak. Baie is daarvan oortuig dat die waarheid van sy woorde vandag selfs duideliker is. Die kontras tussen dié wat het en dié wat nie het nie, het selfs opvallender geword. In die Filippyne moet ’n derde van die bevolking met minder as $1 (VSA) per dag klaarkom, ’n bedrag wat dikwels binne minute in ryker lande verdien word. Die Verenigde Nasies se Human Development Report 2002 sê dat “die inkomstes van die rykste 5% van die wêreldbevolking 114 keer groter as dié van die armste 5% is”.
Terwyl party in relatiewe gemak lewe, is daar miljoene plakkers wat op enige moontlike plek ’n plakkershut opslaan. Ander is nie so gelukkig nie; hulle lewe op straat, dalk met net ’n stuk karton of plastiek tussen hulle en die grond. Baie van hulle probeer op enige denkbare manier ’n bestaan maak—hulle deursoek vullishope, sleep swaar vragte saam met hulle of maak herwinbare items in trollies bymekaar.
Ongelykhede tussen rykes en armes word nie net in ontwikkelende lande gevind nie. Dit is soos die Wêreldbank sê: “Arm groepe word in alle lande gevind.” Van Bangladesj tot in die Verenigde State, ongeag hoe welgesteld sommige is, is daar diegene wat sukkel om genoeg te kry om te eet of ’n dak oor hulle kop te hê. The New York Times het die Amerikaanse Sensusburo se 2001-verslag aangehaal wat toon dat die kloof tussen die rykes en armes in die Verenigde State al hoe groter word. Dit het gesê: “Die rykste vyfde van die bevolking het verlede jaar die helfte van alle huishoudelike inkomstes ontvang . . . Die armste vyfde het 3,5 persent daarvan ontvang.” Die situasie is in talle ander lande dieselfde of nog erger. ’n Verslag van die Wêreldbank het getoon dat ongeveer 57 persent van die wêreldbevolking met minder as $2 per dag moet klaarkom.
Om sake te vererger, is miljoene in 2002 verontrus deur berigte van mense in bestuursposte wat onder twyfelagtige omstandighede ryk geword het. Selfs al het hulle niks onwettigs gedoen nie, stem baie met die tydskrif Fortune saam dat hierdie maatskappybestuurders “ongelooflik, buitengewoon en ontstellend ryk geword het”. In die konteks van wat in die wêreld gebeur, wonder sommige hoe sulke buitensporige meevallers, wat na raming honderdmiljoene dollar vir party individue beloop, geregverdig kan word wanneer soveel mense in armoede lewe.
Sal daar altyd armoede wees?
Dit beteken nie dat niemand iets omtrent die lot van die armes probeer doen nie. Welmenende regeringsamptenare en hulporganisasies het beslis al veranderinge voorgestel. Die feite bly egter ontmoedigend. Die Human Development Report 2002 sê dat “baie lande armer as 10, 20 en in sommige gevalle 30 jaar gelede is”, ten spyte van talle edele pogings om verbetering teweeg te bring.
Beteken dit dat daar geen hoop vir die armes is nie? Ons nooi jou om die volgende artikel te lees om te kyk na praktiese wysheid wat nou reeds kan help sowel as oplossings waaraan jy dalk nog nie gedink het nie.