Koninkryksverkondigers berig
Geduld en volharding bring blye resultate mee
JESUS CHRISTUS het voorspel dat “die liefde van die meeste [sal] verkoel” in die laaste dae. Vandag is mense in baie dele van die wêreld dus oor die algemeen onverskillig teenoor die goeie nuus van die Koninkryk. Party bejeën godsdiens selfs met minagting.—Matteus 24:12, 14.
Nogtans bied Koninkryksverkondigers hierdie uitdaging suksesvol die hoof deur geloof en geduld aan die dag te lê, soos die volgende ondervinding uit die Tsjeggiese Republiek toon.
Twee Getuies het deur ’n toe deur met ’n vrou gepraat. Na ’n rukkie het die deur op ’n skrefie oopgegaan en ’n hand het verskyn en Die Wagtoring en Ontwaak! gevat wat die Getuies aangebied het. ’n Stem het “dankie” gesê, en die deur is toegemaak. “Moet ons teruggaan?” het die Getuies gewonder. Een van hulle, ’n pionier, of voltydse bedienaar, het besluit om terug te gaan, maar dieselfde het weer gebeur, en dit het ’n jaar lank so aangegaan.
Die pionier het besluit dat sy haar benadering moet verander en het tot Jehovah gebid om haar te help. Die volgende keer toe sy die tydskrifte aanbied, het sy die vrou vriendelike vrae gevra: “Hoe gaan dit? Het jy dit geniet om die tydskrifte te lees?” Aanvanklik was daar geen reaksie nie, maar ná nog ’n paar besoeke het die vrou uit haar dop begin kruip. Eenkeer het sy die deur wyd oopgemaak, maar die gesprek was kort.
Omdat die vrou nie by die deur wou praat nie, het die pionier besluit om vir haar ’n brief te skryf om die doel van haar besoeke te verduidelik en ’n tuisbybelstudie aan te bied. Ná ’n jaar en ’n half se geduld en moeite het die pionier uiteindelik daarin geslaag om ’n Bybelstudie met die vrou te begin. Sy was verbaas maar aangemoedig toe die vrou later vir haar gesê het: “Ek het in God begin glo vandat jy die tydskrifte vir my begin bring het.”
Ja, geduld en volharding kan blye resultate meebring in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.—Matteus 28:19, 20.