Maak seker dat jy teruggaan
1 As bedienaars van die goeie nuus word ons beveel om dissipels te maak (Matt. 28:19). Herbesoeke is ’n uiters noodsaaklike deel van ons dissipelmaakwerk. Ons besef dat lewens daarby betrokke is, en ons wil dus elke poging aanwend om die aanvanklike belangstelling wat getoon is wakker te hou.
2 Ons moet elke persoon by wie ons lektuur gelaat het, beskou as iemand wat ’n herbesoek verdien. Maar ons doen nie net ’n herbesoek as ons lektuur by mense gelaat het nie. Baie mense is bereid om die Bybel se boodskap te bespreek, maar hulle wys lektuur van die hand. As ons dus belangstelling bespeur, kan ons gerus teruggaan en dit probeer wakker hou.
3 Gaan terug na waar jy lektuur gelaat het: Aangesien die syfer vir lektuurverspreiding baie hoër as die syfer vir herbesoeke is, is die potensiaal vir verbetering baie groot. ’n Pionier het ’n boek by iemand gelaat, maar het opgemerk dat die huisbewoner nie baie belangstelling toon nie. Een middag nadat die broer al sy ander besoeke gedoen het, het hy besluit om hierdie persoon te besoek. ’n Bybelstudie is begin.
4 Een broer het twee tydskrifte by ’n man gelaat, maar het van hom vergeet omdat hy gedink het dat die man nie werklik belangstel nie. ’n Paar dae later het die man aan die plaaslike gemeente geskryf en gevra om gedoop te word. Daar is aan ’n sendelingsuster gevra wat na haar mening die belangrikste faktor is waarom sy 74 mense kon help om verkondigers te word. Sy het gesê: “Ons het baie tydskrifwerk gedoen, en ek het aangehou om terug te gaan na mense wat die tydskrifte aanvaar het totdat ek Bybelstudies met hulle kon begin.”
5 Soms kan ons tydens die eerste besoek net ’n traktaat by die huisbewoner laat. Traktate kan dikwels doeltreffend tydens herbesoeke gebruik word om ’n Bybelstudie te demonstreer. ’n Kringopsiener wat saam met ’n ander verkondiger gewerk het, het ’n traktaat by ’n vrou gelaat. Dit was ’n baie kort besoek, maar hy het die suster aangemoedig om terug te gaan. Die suster het ’n herbesoek gedoen en onmiddellik ’n Bybelstudie begin.
6 Wanneer belangstelling getoon word: As die huisbewoner nie lektuur tydens die eerste besoek neem nie, beteken dit nie altyd dat hy nie belangstel nie. Toe ’n verkondiger na ’n jong paartjie teruggegaan het, het hy uitgevind dat hulle reeds van ons lektuur het en voorheen gestudeer het. Hulle het geredelik ingestem om weer te studeer. ’n Spesiale pionier het opgemerk dat ’n vrou wat altyd die tydskrifte van die hand gewys het ’n mate van belangstelling toon. Die pionier het die tydskrifte weggesit, en die vrou was bereid om ’n paar paragrawe in een van die boekies te bespreek. Na nog ’n paar besoeke het sy twee keer ’n week ’n Bybelstudie gehad.
7 Elkeen wat hom aan Jehovah toewy, moet voel dat hy ’n verantwoordelikheid het om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Wanneer ons gereeld teruggaan na almal wat belangstelling toon, sal ons die vrugte pluk wat ryk seëninge vir ons ‘en die wat ons hoor’, sal meebring.—1 Tim. 4:16.