Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 8/1 bl. 23-27
  • Gelukkig is die een wie se God Jehovah is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkig is die een wie se God Jehovah is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kontak met Bybelwaarheid
  • Ek brei my diens aan Jehovah uit
  • Ek ontvang Jehovah se onverdiende goedhartigheid
  • Jehovah laat dit groei in die Noorde
  • Terug in Kanada
  • “U liefderyke goedhartigheid is beter as die lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vereenvoudiging— help ons om ons ’van die belangriker dinge te vergewis’
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Ek het dit geniet om oor Jehovah te leer en om ander van hom te leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Regte keuses het tot lewenslange seëninge gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 8/1 bl. 23-27

Lewensverhaal

Gelukkig is die een wie se God Jehovah is

SOOS VERTEL DEUR TOM DIDUR

Die gemeenskapsaal was reeds gehuur. Omtrent 300 is verwag vir die byeenkoms in Porcupine Plain, Saskatchewan, Kanada. Die Woensdag het dit begin sneeu, en teen Vrydag was daar ’n sneeustorm met absoluut geen sigbaarheid nie. Die temperatuur het tot 40 grade onder vriespunt gedaal. Daar was 28 in die gehoor, insluitende ’n paar kinders. Dit was my eerste byeenkoms as ’n nuwe kringopsiener. Ek was maar 25 en baie senuweeagtig. Maar laat ek eers vertel hoe ek hierdie spesiale diensvoorreg ontvang het voordat ek vertel wat verder gebeur het.

EK IS die sewende van agt kinders, almal seuns. Die oudste was Bill, gevolg deur Metro, John, Fred, Mike en Alex. Ek is in 1925 gebore, en Wally is die jongste. Ons het naby die dorp Ukraina, Manitoba, gewoon, waar my ouers, Michael en Anna Didur, ’n plasie gehad het. My pa het as ’n baanwerker by die spoorweë gewerk. Aangesien slaapkwartiere langs ’n spoorlyn in ’n afgeleë gebied nie ’n goeie plek was om ’n klomp kinders groot te maak nie, het ons op die plaas gebly. My pa was meestal weg van die huis af, en daarom moes my ma ons maar grootmaak. Sy het elke nou en dan ’n week of wat by my pa gaan bly, maar sy het seker gemaak dat ons kon kook, bak en ander take in die huis kon verrig. En aangesien ons lidmate van die Grieks-Katolieke Kerk was, het my ma ons van kleins af geleer om gebede uit die kop op te sê en aan ander rituele deel te neem.

Kontak met Bybelwaarheid

My begeerte om die Bybel te verstaan, is aangewakker toe ek nog jonk was. ’n Buurman, een van Jehovah se Getuies, het ons gesin gereeld besoek om gedeeltes uit die Bybel te lees oor God se Koninkryk, Armageddon en die seëninge van die nuwe wêreld. My ma het glad nie belanggestel in wat hy te sê gehad het nie, maar Mike en Alex het van die boodskap gehou. Om die waarheid te sê, wat hulle geleer het, het hulle beweeg om tydens die Tweede Wêreldoorlog militêre diens as gewetensbeswaardes te weier. Mike is vir ’n rukkie tronk toe gestuur, maar Alex is na ’n strafkamp in Ontario gestuur. Mettertyd het Fred en Wally ook die waarheid aangeneem. Maar my drie oudste broers het nie. My ma het die waarheid ’n hele paar jaar lank selfs teëgestaan, maar het ons later verras deur haar standpunt vir Jehovah in te neem. Sy is op die ouderdom van 83 gedoop. My ma was 96 toe sy gesterf het. My pa was die waarheid ook voor sy dood goedgesind.

Toe ek 17 was, het ek na Winnipeg gegaan om werk te soek en met diegene te assosieer wat my kon help om die Bybel te bestudeer. Die werk van Jehovah se Getuies was destyds verbied, maar vergaderinge is gereeld gehou. Die eerste vergadering wat ek bygewoon het, is in ’n huis gehou. Aangesien ek volgens die Grieks-Katolieke geloof grootgemaak is, het die dinge wat ek aanvanklik gehoor het, vir my vreemd geklink. Maar ek het geleidelik begin verstaan waarom die reëling van geestelikes en leke onskriftuurlik is en waarom God dit nie goedkeur wanneer die geestelikes die oorlogspoging seën nie (Jesaja 2:4; Matteus 23:8-10; Romeine 12:17, 18). Lewe in ’n paradys op aarde het baie praktieser en redeliker geklink as om vir ewig na ’n verafgeleë plek te gaan.

Ek was oortuig dat dit die waarheid is, en daarom het ek my aan Jehovah toegewy en is ek in 1942 in Winnipeg gedoop. Teen 1943 is die verbod op Jehovah se Getuies in Kanada opgehef, en die predikingswerk het momentum gekry. Bybelwaarheid het ook ’n dieper indruk op my hart gemaak. Ek het die voorreg geniet om as ’n kneg in die gemeente te dien sowel as om aan kampanjes vir openbare vergaderinge deel te neem en om in die ontoegekende gebied te werk. Groot byeenkomste in die Verenigde State wat ek bygewoon het, het baie tot my geestelike vooruitgang bygedra.

Ek brei my diens aan Jehovah uit

In 1950 het ek ’n pionierbedienaar geword, en in Desember van daardie jaar is ek genooi om as ’n kringopsiener te dien. Ek was bevoorreg om my formele opleiding naby Toronto by Charlie Hepworth, ’n ervare en lojale broer, te kry. Ek het ook die vreugde gehad om die laaste week van my opleiding saam met my broer Alex te werk, wat toe alreeds op die kring in Winnipeg gedien het.

My eerste kringbyeenkoms, wat aan die begin beskryf is, sal ek nooit vergeet nie. Ek was natuurlik senuweeagtig oor hoe dit sou afloop. Wel, ons streekopsiener, broer Jack Nathan, het ons almal besig en gelukkig gehou. Ons het die byeenkomsprogram opgesom met die deelnemers wat daar was. Almal het ’n beurt gekry om ondervindinge te vertel, huis-tot-huis-aanbiedings te oefen en demonstrasies van herbesoeke en tuisbybelstudies te hou. Ons het Koninkryksliedere gesing. Daar was oorgenoeg kos. Ons het omtrent elke twee uur koffie en tert gehad. Party het op die banke en op die verhoog geslaap en ander op die vloer. Teen Sondag het die storm effens bedaar sodat 96 die openbare toespraak kon bywoon. Die ondervinding het my geleer hoe om moeilike situasies die hoof te bied.

My volgende toewysing op die kring het my geneem na noordelike Alberta, Brits-Columbië en die Yukon-gebied, die land van die middernagson. Om met die ruwe Alaska-hoofpad van Dawson Creek, Brits-Columbië, na Whitehorse, Yukon (’n afstand van 1 477 kilometer), te reis en langs die pad te getuig, het nie net volharding geverg nie, maar ’n mens moes ook versigtig wees. Die sneeustortings, gladde berghange en swak sigbaarheid weens die warrelende sneeu was ’n groot uitdaging.

Ek was verbaas om te sien hoe die waarheid selfs die Verre Noorde bereik het. By een geleentheid het ek en Walter Lewkowicz ’n nederige huisie naby Lower Post, Brits-Columbië, langs die Alaska-hoofpad naby die grens van die Yukon-gebied besoek. Ons het geweet dat daar iemand in die huisie moes wees omdat ons lig deur ’n klein venstertjie sien flikker het. Dit was omtrent nege-uur die aand, en ons het aan die deur geklop. Ons het ’n man hoor roep dat ons moet inkom, en ons het ingegaan. Hoe verras was ons tog om ’n ou man uitgestrek op sy bed te sien lê, besig om Die Wagtoring te lees! Hy het selfs ’n nuwer nommer van die tydskrif gehad as wat ons aangebied het. Hy het verduidelik dat hy sy pos per lugpos kry. Aangesien ons teen dié tyd al meer as agt dae van die gemeente af weg was, het ons nog nie die jongste tydskrifte gehad nie. Die man het hom as Fred Berg voorgestel, en hoewel hy reeds jare lank ’n intekenaar op die tydskrifte was, was dit die eerste keer dat Jehovah se Getuies hom besoek het. Fred het daarop aangedring dat ons die nag by hom oorbly. Ons kon baie skriftuurlike waarhede met hom bespreek en het gereël dat ander Getuies wat gereeld deur daardie gebied reis, hom besoek.

Ek het jare lank drie klein kringe besoek. Dit het van Grande Prairie, Alberta, in die ooste tot by Kodiak, Alaska, in die weste gestrek, ’n afstand van meer as 3 500 kilometer.

Ek het op ’n wonderlike manier geleer dat mense op afgeleë plekke, net soos op enige ander plek, by Jehovah se onverdiende goedhartigheid kan baat vind en dat God se gees die verstande en harte rig van diegene met die regte gesindheid vir die ewige lewe. Een van hierdie persone was Henry Lepine van die stad Dawson, Yukon. Henry het in ’n afgesonderde gebied gewoon. Om die waarheid te sê, hy het in meer as 60 jaar nie daardie goudmyngebied verlaat nie. Maar Jehovah se gees het hierdie 84-jarige man beweeg om meer as 1 600 kilometer na Anchorage te reis vir ’n kringbyeenkoms, hoewel hy nog nooit tevore ’n gemeentelike vergadering bygewoon het nie. Hy was verheug oor die program en het die assosiasie terdeë geniet. Henry het na die stad Dawson teruggekeer en tot sy dood getrou gebly. Baie wat Henry geken het, het gewonder wat hierdie bejaarde man beweeg het om so ’n lang reis aan te pak. Dit het daartoe gelei dat nog ’n paar oues van dae die waarheid aangeneem het. So het Henry dan op ’n indirekte manier ’n goeie getuienis gegee.

Ek ontvang Jehovah se onverdiende goedhartigheid

In 1955 was ek verheug om ’n uitnodiging na die 26ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead te ontvang. Hierdie opleiding het my geloof versterk en my gehelp om nader aan Jehovah te kom. Ná die skool is ek toegewys om weer kringwerk in Kanada te doen.

Ek het omtrent ’n jaar lank in die provinsie Ontario gedien. Daarna is ek weer na die pragtige Noorde gestuur. Ek sien nog duidelik voor my geestesoog die paaie wat al langs helder mere loop en oor bergreekse met sneeubedekte pieke kronkel. In die somer is die valleie en velde ’n asemrowende tapyt van kleurvolle veldblomme. Die lug is vars en die water suiwer. Bere, wolwe, Amerikaanse elande, kariboes en ander wilde diere beweeg ongestoord in hulle natuurlike habitat rond.

Daar is egter ook uitdagings in Alaska—nie net die onbestendige weer nie, maar ook die groot afstande. My kring het 3 200 kilometer van oos na wes gestrek. Destyds was daar geen voorsiening vir kringopsieners om ’n motor te hê nie. Die plaaslike broers het aangebied om my van een gemeente na die volgende te neem. Soms moes ek egter ’n geleentheid saam met vragmotorbestuurders of toeriste probeer kry.

Dit was eenkeer die geval toe ek op die Alaska-hoofpad tussen die Tok-kruising, Alaska, en Myl 1202, of die gebied van Scotty Creek, was. Die doeanekantore by hierdie twee kontrolepunte was omtrent 160 kilometer uit mekaar. Ek het deur die Amerikaanse doeane by Tok gegaan en ’n geleentheid vir omtrent 50 kilometer gekry. Daarna het geen motor verbygekom nie, en ek het sowat tien uur lank gestap en meer as 40 kilometer afgelê. Eers later het ek uitgevind dat die pad weens ’n sneeustorting naby die doeanekontrolepunt gesluit is kort nadat ek daardeur is. Teen middernag het die temperatuur tot omtrent 23 grade onder vriespunt gedaal, en ek was nog sowat 80 kilometer van die naaste oornagplek af. Ek het dringend skuiling nodig gehad waar ek kon rus.

Terwyl ek voortgestrompel het, het ek ’n verlate motor langs die pad gesien wat gedeeltelik met sneeu bedek was. Ek het gedink dat ek die koue nag sou kon oorleef as ek in die motor kon kom en op die sitplekke kon slaap. Ek het dit uiteindelik reggekry om genoeg sneeu af te skraap sodat ek die deur kon oopmaak, maar daar was nie ’n sitplek of enigiets anders in nie. Gelukkig het ek nie ver daarvandaan nie ’n leë hut gevind. Ná ’n groot gesukkel om in te kom en ’n vuur aan te steek, kon ek ’n paar uur lank rus. In die oggend het ek ’n geleentheid na die volgende verblyfplek gekry, waar ek broodnodige kos gekry het en my stukkende vingers kon versorg.

Jehovah laat dit groei in die Noorde

My eerste besoek aan Fairbanks was baie aanmoedigend. Ons het goeie resultate in die bediening gehad, en sowat 50 mense het daardie Sondag die openbare toespraak bygewoon. Ons het in die klein sendinghuis vergader waar Vernor en Lorraine Davis gewoon het. Mense het hulle koppe by die kombuis, die slaapkamer en die gang uitgesteek om die toespraak te hoor. Hierdie positiewe reaksie het ons laat besef dat ’n Koninkryksaal die predikingswerk stabiliteit in Fairbanks sou gee. Met Jehovah se hulp het ons dus ’n redelike groot gebou gekoop, wat voorheen ’n danssaal was, en dit na ’n geskikte perseel verskuif. ’n Boorgat is gesink, toilette is gebou en ’n verhittingstelsel is geïnstalleer. Binne ’n jaar het Fairbanks ’n bruikbare Koninkryksaal gehad. Nadat ’n kombuis aangebou is, is die saal in 1958 vir ’n streekbyeenkoms gebruik, wat deur 330 bygewoon is.

In die somer van 1960 het ek ’n lang rit per motor na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York afgelê om ’n opknappingskursus vir alle reisende opsieners in die Verenigde State en Kanada by te woon. Terwyl ek daar was, het broer Nathan Knorr en ander verantwoordelike broers met my gepraat oor die moontlikheid om ’n takkantoor in Alaska te open. ’n Paar maande later was ons bly om te hoor dat Alaska van 1 September 1961 af sy eie takkantoor sou hê. Broer Andrew K. Wagner is aangestel om na die tak om te sien. Hy en sy vrou, Vera, het 20 jaar lank by Brooklyn gedien en het ook ondervinding in die reisende werk gehad. ’n Takkantoor in Alaska was ’n welkome voorsiening, want dit het die afstande verminder wat die kringopsiener moes aflê en hom in staat gestel om meer aandag te gee aan die spesifieke behoeftes van die gemeentes en afgesonderde gebiede.

Die somer van 1962 was ’n blye tyd in die Noorde. Die Alaska-takkantoor is toegewy, en ’n streekbyeenkoms is in Juneau, Alaska, gehou. Nuwe Koninkryksale is in Juneau en Whitehorse, Yukon, gebou, en talle afgesonderde groepe is ook gevorm.

Terug in Kanada

Ek het jare lank met Margareta Petras van Kanada gekorrespondeer. Reta, soos almal haar genoem het, het in 1947 begin pionier, in 1955 aan Gilead gegradueer en het daarna in Oos-Kanada gepionier. Ek het haar gevra om met my te trou, en sy het ja gesê. Ons is in Februarie 1963 in Whitehorse getroud. Teen die herfs van daardie jaar is ek gestuur om kringwerk in westelike Kanada te doen, en ons het die vreugde gehad om die volgende 25 jaar daar te dien.

In 1988 is ons weens gesondheidsredes as spesiale pioniers in Winnipeg, Manitoba, aangestel. Ons het onder andere vyf jaar lank toesig oor ’n Byeenkomssaal gehou. Ons neem steeds deel aan die vreugdevolle dissipelmaakwerk na die beste van ons vermoë. In die kringwerk het ons baie Bybelstudies begin wat ons vir ander moes gee om te hou. Nou kan ons, deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid, studies begin en die bykomende vreugde hê om te sien hoe die studente vorder tot toewyding en doop.

Ek is daarvan oortuig dat diens aan Jehovah die beste lewenswyse is. Dit is betekenisvol en bevredigend, en dit versterk elke dag ons liefde vir Jehovah. Dit is wat ware geluk bring. Ongeag watter teokratiese toewysing ons het, of ongeag waar ons ons bevind, ons stem saam met die psalmis wat gesê het: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Psalm 144:15.

[Prent op bladsy 24, 25]

In die kringwerk

[Prent op bladsy 25]

Ek besoek Henry Lepine in die stad Dawson. Ek staan links

[Prent op bladsy 26]

Eerste Koninkryksaal in Anchorage

[Prent op bladsy 26]

Ek en Reta, 1998

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel