Loof Jehovah “in die midde van die gemeente”
CHRISTELIKE vergaderinge is ’n voorsiening van Jehovah om sy knegte geestelik sterk te hou. Deur vergaderinge gereeld by te woon, toon ons ons waardering vir Jehovah se voorsienings. Daarbenewens stel dit ons in staat om ons broers “tot liefde en goeie werke aan te spoor”, wat ’n belangrike manier is om liefde teenoor mekaar te betoon (Hebreërs 10:24; Johannes 13:35). Maar hoe kan ons ons broers by vergaderinge aanspoor?
Kommentare tydens vergaderinge
Koning Dawid het oor homself geskryf: “Ek sal u naam aan my broers bekend maak; in die midde van die gemeente sal ek u loof. Van u sal my lof in die groot gemeente kom.” “Ek sal u in die groot gemeente prys; onder ’n talryke volk sal ek u loof.” “Ek het die goeie nuus van regverdigheid in die groot gemeente verkondig. Kyk! My lippe bedwing ek nie.”—Psalm 22:22, 25; 35:18; 40:9.
In die apostel Paulus se dag het Christene op soortgelyke wyse uiting gegee aan hulle geloof in Jehovah en oor sy heerlikheid getuig wanneer hulle vir aanbidding bymekaargekom het. Op hierdie manier het hulle mekaar aangemoedig en mekaar tot liefde en goeie werke aangespoor. In ons dag, eeue ná Dawid en Paulus, sien ons waarlik hoe “die dag [van Jehovah] nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Satan se stelsel van dinge stuur af op vernietiging, en probleme neem voortdurend toe. Soos nog nooit tevore nie het ons “volharding nodig” (Hebreërs 10:36). Wie anders as ons broers kan ons aanmoedig om te volhard?
Vandag, soos in vroeëre tye, kan individuele gelowiges hulle geloof “in die midde van die gemeente” bekend maak. Een geleentheid wat almal het, is om kommentaar te lewer op vrae wat tydens gemeentelike vergaderinge aan die gehoor gestel word. Moet nooit die waarde hiervan onderskat nie. Byvoorbeeld, kommentare oor hoe probleme oorkom of vermy kan word, maak ons broers meer vasbeslote om Bybelbeginsels toe te pas. Antwoorde wat teksverwysings verduidelik of wat gedagtes uit persoonlike navorsing bevat, kan ander aanmoedig om beter studiegewoontes aan te kweek.
Die wete dat ons en ander daarby baat sal vind as ons by vergaderinge kommentaar lewer, behoort al Jehovah se Getuies te beweeg om skugterheid te bowe te kom en nie terughoudend te wees nie. Dit is veral belangrik dat ouer manne en bedieningsknegte by vergaderinge kommentaar lewer, aangesien daar van hulle verwag word om die leiding te neem wat die deelname aan vergaderinge sowel as die bywoning daarvan betref. Maar hoe kan iemand verbeter as hy vind dat hierdie spesifieke aspek van sy Christelike lewe vir hom moeilik is?
Wenke vir verbetering
Onthou dat Jehovah betrokke is. ’n Christensuster wat in Duitsland woon, verduidelik hoe sy haar kommentare beskou. “Dit is my persoonlike antwoord op Satan se pogings om te keer dat God se volk hulle geloof bekend maak.” ’n Pas gedoopte broer wat met dieselfde gemeente assosieer, sê: “Wanneer dit by kommentare kom, bid ek baie.”
Berei goed voor. As jy nie die materiaal voor die tyd bestudeer nie, sal dit vir jou moeilik wees om kommentaar te lewer, en jou kommentare sal nie so doeltreffend wees nie. Die publikasie Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool,a bladsy 70, bevat wenke oor hoe om tydens gemeentelike vergaderinge kommentaar te lewer.
Stel jou dit ten doel om by elke vergadering ten minste een antwoord te gee. Dit beteken dat jy ’n paar antwoorde sal moet voorberei, want hoe meer jy jou hand opsteek, hoe groter is die kans dat die broer wat die deel behartig, jou sal vra. Jy kan selfs voor die tyd vir hom sê watter vrae jy voorberei het om te antwoord. Dit is veral nuttig as jy ’n beginner is. Jy voel dalk huiwerig om jou hand “in die groot gemeente” op te steek, maar as jy weet dat dit jou paragraaf is en dat die studiehouer vir jou hand gaan uitkyk, sal dit jou aanmoedig om te antwoord.
Lewer vroeg kommentaar. ’n Moeilike taak word nie makliker deur dit uit te stel nie. Dit kan help om vroeg in die vergadering kommentaar te lewer. Jy sal verbaas wees hoeveel makliker dit is om ’n tweede of derde keer te antwoord nadat jy daardie eerste kommentaar gelewer het.
Kies die regte sitplek. Vir sommige is dit makliker om te antwoord wanneer hulle voorlangs in die Koninkryksaal sit. Daar is minder dinge wat hulle aandag aftrek, en die broer wat die leiding neem, sien hulle makliker raak. As jy dít probeer, moet jy onthou om hard genoeg te praat sodat almal jou kan hoor, veral as die gemeente nie mikrofone vir die gehoor het nie.
Luister aandagtig. Dit sal jou help om nie iets te herhaal wat iemand anders so pas gesê het nie. Ander se kommentare kan jou ook aan ’n teks of ’n punt herinner wat kan voortbou op die gedagte wat so pas gemeld is. Nou en dan kan ’n kort ondervinding die punt onder bespreking toelig. Sulke kommentare is baie nuttig.
Leer om in jou eie woorde te antwoord. As jy ’n antwoord direk uit die studiemateriaal lees, wys dit dat jy die regte antwoord gevind het, en dit is dalk ’n goeie manier om te begin. Maar as jy vooruitgang maak en in jou eie woorde antwoord, wys dit dat jy die punt verstaan. Dit is nie nodig om ons publikasies woord vir woord aan te haal nie. Jehovah se Getuies herhaal nie net wat hulle publikasies sê nie.
Bly by die onderwerp. Kommentare wat nie met die onderwerp verband hou nie of wat afwyk van die hoofgedagtes onder bespreking, is onvanpas. Jou antwoorde moet dus betrekking hê op die onderwerp wat bespreek word. Dan sal dit bydra tot ’n geestelik opbouende bespreking van die tema wat ontwikkel word.
Probeer om te bemoedig. ’n Belangrike doel van kommentare is om ander te bemoedig; daarom moet ons nie dinge sê wat hulle kan ontmoedig nie. Verder moet ons nie die paragraaf so deeglik dek dat daar weinig of niks oor is vir ander om te sê nie. Lang of ingewikkelde antwoorde maak dit gewoonlik moeilik om die punt te snap. Kort antwoorde wat uit net ’n paar woorde bestaan, kan baie doeltreffend wees, en dit sal nuwelinge aanspoor om ook hulle kort antwoorde te gee.
Die rol van studiehouers
Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die studiehouer, want hy moet sorg dat die vergadering opbouend is. Hy toon opregte belangstelling in elke kommentaar deur aandagtig daarna te luister, beleef te kyk na die een wat die antwoord gee en nie met iets anders besig te wees nie. Hoe onvanpas sal dit tog wees as hy nie aandag skenk nie en gevolglik onnodig iets herhaal wat so pas gesê is of ’n vraag vra wat so pas beantwoord is!
Dit sal ook ontmoedigend wees as die studiehouer gereeld ’n antwoord wat so pas gegee is, herhaal deur dit effens anders te bewoord, asof die antwoord nie heeltemal voldoende was nie. Hoe bemoedigend is dit daarenteen wanneer kommentare bydra tot ’n verdere bespreking van ’n belangrike punt. ‘Hoe kan ons dit in ons gemeente toepas?’ of ‘Watter teks in die paragraaf ondersteun die punt wat so pas gemaak is?’ is die soort vrae wat positiewe kommentare uitlok en ’n waardevolle bydrae lewer.
Veral nuwelinge of mense wat skugter is, moet geprys word wanneer hulle ’n antwoord gee. Dit kan persoonlik ná die studie gedoen word om moontlike verleentheid te vermy en die studiehouer die geleentheid te gee om enige gepaste voorstelle te maak.
In gewone gesprekke word kommunikasie belemmer as iemand die geselskap oorheers. Dié wat luister, voel nie dat dit nodig is om hulle mening te lug nie. Hulle luister bloot halfhartig na alles, as hulle enigsins luister. Iets soortgelyks kan gebeur wanneer die een wat die leiding neem, die bespreking oorheers deur te veel kommentaar te lewer. Maar soms kan die studiehouer deur middel van bykomende vrae kommentare by die gehoor uitlok en hulle denke oor die onderwerp stimuleer. Sulke vrae moenie dikwels gebruik word nie.
Die studiehouer sal nie noodwendig die eerste persoon vra wat sy hand opsteek nie. Dit kan ontmoedigend wees vir diegene wat ’n bietjie meer tyd nodig het om hulle gedagtes agtermekaar te kry. Deur ’n oomblik te wag, kan hy iemand vra wat nog nie die geleentheid gehad het om te antwoord nie. Hy moet ook onderskeidingsvermoë aan die dag lê en nie klein kindertjies vra om kommentaar te lewer oor onderwerpe wat bo hulle begrip is nie.
Gestel iemand gee ’n verkeerde antwoord. Die studiehouer moet probeer om nie die persoon wat die antwoord gegee het, in die verleentheid te stel nie. Selfs wanneer kommentare verkeerd is, bevat hulle dikwels elemente van waarheid. Deur taktvol die aandag op die korrekte deel te vestig, die vraag anders te verwoord of ’n bykomende vraag te vra, kan die broer wat die deel behartig, sake regstel sonder om enigiemand in die verleentheid te stel.
Wanneer die broer wat die vergadering hou, verdere antwoorde wil uitlok, moet hy eerder algemene vrae vermy soos: ‘Het enigiemand nog ’n kommentaar?’ Die vraag ‘Wie het nog nie geantwoord nie? Dis nou jou laaste kans!’ word dalk goed bedoel, maar dit sal beslis nie iemand aanmoedig om hom vryelik uit te spreek nie. Die studiehouer moenie die broers skuldig laat voel omdat hulle nie vroeër in die studie geantwoord het nie. Hulle moet eerder aangespoor word om hulle gedagtes vryelik uit te spreek, omdat dit ’n blyk van liefde is. Wanneer die studiehouer iemand vra om te antwoord, is dit beter om die volgende te vermy: “Ná hom sal ons na broer So-en-so en dan na suster So-en-so se kommentaar luister.” Die een wat die leiding neem, moet eers na die kommentaar luister en dan besluit of verdere kommentare nodig is.
Dit is ’n voorreg om kommentaar te lewer
Dit is onontbeerlik vir ons geestelikheid om Christelike vergaderinge by te woon; en dit is ’n voorreg om daar kommentaar te lewer. Die mate waarin ons Jehovah op hierdie unieke manier “in die midde van die gemeente” loof, toon in watter mate ons Dawid se voorbeeld navolg en op Paulus se raad ag slaan. Ons deelname aan vergaderinge bewys dat ons ons broers liefhet en dat ons deel is van Jehovah se groot gemeente. Waar anders sal jy wil wees “namate [jy] die dag sien nader kom”?—Hebreërs 10:25.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prente op bladsy 20]
Dit is belangrik dat ons by Christelike vergaderinge luister sowel as kommentaar lewer
[Prent op bladsy 21]
Die studiehouer toon opregte belangstelling in elke kommentaar