Help nuwelinge om by vergaderinge kommentaar te lewer
1 Hoe verblydend is dit tog wanneer ons hoor hoe ’n Bybelstudent die eerste keer by die Koninkryksaal kommentaar lewer! Dit gee ons gewis ’n gevoel van tevredenheid, ’n bevestiging as’t ware, dat die nuweling werklik die waarheid aanneem. Nuwelinge moet besef dat dit noodsaaklik is om ’n openbare belydenis te doen. Dit is ’n bewys van geloof wat tot redding lei.—Rom. 10:10.
2 Jesus het gesê: “Elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leraar wees” (Luk. 6:40, NW). Dit moet die feit by ons tuisbring dat ons nuwelinge kan leer om by vergaderinge kommentaar te lewer as ons dit self doen. Ons kan hulle help besef dat kennis noodsaaklik is as ons kommentaar wil lewer. Leer hulle dat ons moet studeer met die doel om kennis in die vergaderinge en in die veld te gebruik, en ook om ons persoonlike lewe te rig.
3 Sommige nuwelinge is dalk huiwerig en meen dat hulle nie so goed soos ander kommentaar kan lewer nie. Maar ons kan nuwelinge help besef dat eenvoud belangrik is om jou gedagtes goed uit te druk. As ons eie kommentare gepas, kort en pertinent is, sal nuwelinge nie verplig voel om lang antwoorde te gee nie. Hulle kan gehelp word om die vraag te ontleed, die gedagte wat die antwoord gee in die paragraaf te vind, en dan kan hulle daardie gedagte in hulle eie woorde stel. Dit is ook belangrik dat hulle verstaan hoe die teksverwysings of aangehaalde tekste verband hou met die gedagte wat bespreek word. Help hulle om te sien hoe hulle die tekste in die paragraaf kan gebruik om hulle kommentare te steun. Leer hulle om sleutelwoorde te onderstreep en miskien kort aantekeninge in die kantlyn te maak. Moedig hulle aan om hard genoeg en duidelik te praat sodat almal in die gehoor by hulle voorbereide kommentare baat kan vind. As hulle goed voorberei is, sal dit hulle help om nie te bang te wees om kommentaar te lewer nie.
4 Wat kan ons nog doen om nuwelinge aan te moedig om kommentaar te lewer? Dit kan natuurlik gerusstellend en bemoedigend wees as ons by hulle sit. Jy kan aan die hand doen dat hulle in die voorste gedeelte van die saal sit waar daar minder afleidings is. Wys vir hulle die vrae wat met baie min woorde beantwoord kan word.
5 Wanneer die Gemeentelike Boekstudiehouer ’n nuweling in sy groep beter leer ken, kan hy hom vra om ’n teks te lees. Daarna kan ’n opregte betuiging van waardering vir sy pogings die nuweling dalk aanmoedig om aan te hou om by die boekstudie kommentaar te lewer en om later gereeld ’n deelname by ander vergaderinge te hê.
6 Dit is ’n voorreg om by vergaderinge kommentaar te lewer (Hebr. 10: 24, 25). Ons wil nuwelinge help om dit te besef. Dit kan ’n ekstra bemoediging en seën vir almal wees. Hetsy in die velddiens of by ons gemeentelike vergaderinge, ons het geleenthede om te maak soos Hebreërs 13:15 ons maan: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”