Bou mekaar op deur by vergaderinge te antwoord
1 Ons word in Hebreërs 10:24 aangemoedig om ‘mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor’. Dit behels dat ons mekaar opbou deur by gemeentelike vergaderinge betekenisvolle kommentare te lewer. Waarom moet ons kommentaar lewer? Hoe kan ons dit doen? Wie sal daarby baat vind?
2 Dink aan die baie kere wat jy baat vind by ander se eenvoudige, duidelike kommentare wat jou begrip vergroot en jou geestelik versterk. Jy het die voorreg om dieselfde vir hulle te doen. Wanneer jy ’n deelname het, toon jy jou begeerte om almal wat teenwoordig is aan te moedig deur hulle ‘die een of ander geestelike gawe mee te deel’.—Rom. 1:11, 12.
3 Hoe om goeie kommentare te lewer: Moenie lang antwoorde gee wat elke gedagte in die paragraaf dek nie. Lang kommentare vestig gewoonlik nie die aandag op die spesifieke gedagte nie en ontmoedig dalk ander om ’n deelname te hê. Die eerste kommentaar op die paragraaf moet ’n kort, direkte antwoord op die gedrukte vraag wees. Diegene wat verdere kommentare lewer, kan die materiaal dan prakties toepas of toon hoe die tekste van toepassing is. Sien die Skoolhandleiding, bladsye 90-2.
4 As die gedagte om kommentaar te lewer jou ietwat angstig laat voel, kan jy voor die tyd ’n kort kommentaar voorberei en vir die studiehouer sê dat jy graag daardie vraag wil beantwoord. Nadat jy dit by ’n paar vergaderinge gedoen het, sal dit makliker word om ’n deelname te hê. Jy sal onthou dat Moses en Jeremia ’n gebrek aan vertroue gehad het in hulle vermoë om in die openbaar te praat (Ex. 4:10; Jer. 1:6, voetnoot in NW). Maar Jehovah het hulle gehelp om namens hom te praat, en hy sal jou ook help.
5 Wie sal by jou kommentare baat vind? Jy sal self daarby baat vind, want jou kommentare kan die waarheid dieper in jou hart en verstand laat insink en dit vir jou makliker maak om die inligting later te onthou. Ander vind ook daarby baat om jou opbouende antwoorde te hoor. Ons word aangemoedig wanneer almal, hetsy ervare, jonk, skaam of nuut, ’n poging aanwend om by die gemeentelike vergaderinge hulle geloof in woorde uit te druk.
6 Ons sal beslis vind ‘hoe goed woorde op die regte tyd is’ wanneer dit gebruik word om ander by die vergaderinge op te bou!—Spr. 15:23, NW.