Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 10/1 bl. 4-7
  • Goddelike ingryping—Wat kan ons verwag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goddelike ingryping—Wat kan ons verwag?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Was ingryping die norm?
  • “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse”
  • Hoe God vandag ingryp
  • Moet Christene goddelike beskerming verwag?
    Ontwaak!—2002
  • Wag geduldig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Nuwe wêreld sonder lyding
    Ontwaak!—1990
  • Wat het God intussen gedoen?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 10/1 bl. 4-7

Goddelike ingryping—Wat kan ons verwag?

IN DIE agtste eeu v.G.J. het die 39-jarige koning Hiskia van Juda uitgevind dat hy ’n ongeneeslike siekte het. Hiskia was verpletter deur die nuus en het God in gebed gesmeek om hom te genees. God het hom deur middel van sy profeet geantwoord: “Ek het jou gebed gehoor. Ek het jou trane gesien. Kyk, ek voeg vyftien jaar by jou dae.”—Jesaja 38:1-5.

Waarom het God by daardie spesifieke geleentheid ingegryp? Eeue vroeër het God die regverdige koning Dawid belowe: “Jou huis en jou koninkryk sal beslis tot onbepaalde tyd voor jou bestendig wees; jou troon sal tot onbepaalde tyd stewig gevestig word.” God het ook geopenbaar dat die Messias in Dawid se geslagslyn gebore sou word (2 Samuel 7:16; Psalm 89:20, 26-29; Jesaja 11:1). Toe Hiskia siek geword het, het hy nog nie ’n seun gehad nie. Die gevaar het dus bestaan dat die Dawidiese koningslyn verbreek sou word. Goddelike ingryping in Hiskia se geval was met die spesifieke doel om die geslagslyn te bewaar waarin die Messias sou kom.

Om sy beloftes te vervul, het Jehovah by verskeie geleenthede gedurende die voor-Christelike era ten behoewe van sy volk ingegryp. Moses het in verband met Israel se verlossing uit slawerny in Egipte gesê: “Omdat Jehovah julle liefgehad het, en omdat hy gehou het by die beëdigde verklaring wat hy vir julle voorvaders gesweer het, het Jehovah julle met ’n sterk hand uitgelei.”—Deuteronomium 7:8.

In die eerste eeu het God ook ingegryp om sy voornemens te bevorder. Byvoorbeeld, op die pad na Damaskus het ’n Jood met die naam Saulus ’n wonderdadige visioen ontvang om sy vervolging van Christus se dissipels stop te sit. Die bekering van hierdie man, wat later die apostel Paulus geword het, het ’n belangrike rol gespeel in die verspreiding van die goeie nuus onder die nasies.—Handelinge 9:1-16; Romeine 11:13.

Was ingryping die norm?

Was goddelike ingryping die reël of die uitsondering? Die Skrif toon duidelik dat dit nie die norm was nie. Hoewel God die drie jong Hebreërs van teregstelling in ’n vuuroond en die profeet Daniël uit die leeukuil gered het, het hy nie ingetree om ander profete van die dood te red nie (2 Kronieke 24:20, 21; Daniël 3:21-27; 6:16-22; Hebreërs 11:37). Petrus is wonderdadig uit die gevangenis bevry waar Herodes Agrippa I hom laat opsluit het. Tog het dieselfde koning die apostel Jakobus doodgemaak, en God het nie ingegryp om hierdie misdaad te keer nie (Handelinge 12:1-11). Hoewel God die apostels die krag gegee het om siekes te genees en selfs dooies op te wek, het hy nie ingestem om die “doring in die vlees” te verwyder wat die apostel Paulus geteister het en moontlik ’n fisiese kwaal was nie.—2 Korintiërs 12:7-9; Handelinge 9:32-41; 1 Korintiërs 12:28.

God het nie ingegryp om ’n vlaag van vervolging deur die Romeinse keiser Nero teen Christus se dissipels te keer nie. Christene is gemartel, lewend verbrand en vir wilde diere gegooi. Maar hierdie teenstand het nie die vroeë Christene verbaas nie en dit het beslis nie hulle geloof in God se bestaan verswak nie. Jesus het immers sy dissipels gewaarsku dat hulle voor howe gedaag sou word en dat hulle bereid moes wees om te ly en selfs te sterf vir hulle geloof.—Matteus 10:17-22.

Net soos in die verlede is God vandag beslis daartoe in staat om sy knegte uit gevaarlike situasies te verlos, en diegene wat voel dat hulle by sy beskerming baat gevind het, moenie gekritiseer word nie. Dit is egter moeilik om met sekerheid te sê of God in sulke gevalle ingegryp het of nie. Verskeie getroue knegte van Jehovah is in ’n ontploffing in Toulouse beseer, en duisende getroue Christene het gesterf in Nazi- en Kommunistiese kampe of onder ander tragiese omstandighede sonder dat God ingegryp het om dit te keer. Waarom gryp God nie as ’n reël in ten behoewe van almal wat sy goedkeuring geniet nie?—Daniël 3:17, 18.

“Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse”

Wanneer iets rampspoedigs plaasvind, kan dit enigiemand raak, en getrouheid aan God is nie noodwendig ’n faktor nie. Byvoorbeeld, tydens die ontploffing in Toulouse, wat Alain en Liliane vrygespring het, het 30 mense gesterf en is honderde beseer, hoewel dit nie hulle skuld was nie. Op ’n groter skaal is tienduisende mense slagoffers van misdaad, roekelose bestuur of oorloë, en God kan nie vir hulle teëspoed verantwoordelik gehou word nie. Die Bybel herinner ons dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” almal tref.—Prediker 9:11.

Mense is boonop onderworpe aan siekte, ouderdom en die dood. Selfs party wat gedink het dat God hulle lewe wonderdadig gered het of wat ’n onverwagte herstel van hulle siekte aan hom toegeskryf het, het uiteindelik wel gesterf. Die tyd wanneer God siekte en die dood sal verwyder en ‘elke traan van die mens se oë sal afvee’, het nog nie aangebreek nie.—Openbaring 21:1-4.

Vir hierdie dinge om plaas te vind, is iets veel omvangryker en beslissender nodig as om net van tyd tot tyd in te gryp. Die Bybel praat van ’n gebeurtenis wat “die groot dag van Jehovah” genoem word (Sefanja 1:14). Gedurende hierdie grootskaalse ingryping sal God alle goddeloosheid uit die weg ruim. Die mensdom sal die geleentheid gebied word om vir ewig te lewe onder volmaakte toestande, waar ‘die vorige dinge nie onthou sal word nie, en ook nie in die hart sal opkom nie’ (Jesaja 65:17). Selfs die dooies sal tot lewe opgewek word, wat die grootste van alle menslike tragedies ongedaan sal maak (Johannes 5:28, 29). Dan sal God in sy oneindige liefde en goedheid die mensdom se probleme eens en vir altyd opgelos het.

Hoe God vandag ingryp

Maar dit beteken nie dat God intussen net onverskillig toekyk terwyl die skepping ly nie. God bied vandag vir alle mense, ongeag hulle etniese of sosiale agtergrond, die geleentheid om hom te leer ken en ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek (1 Timoteus 2:3, 4). Jesus het hierdie proses met dié woorde beskryf: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). God trek opregtes van hart na hom deur middel van die Koninkryksboodskap wat wêreldwyd deur sy knegte verkondig word.

Boonop raak God direk betrokke by die lewe van diegene wat bereid is om deur hom gelei te word. Deur middel van sy heilige gees maak God ‘hulle hart oop’ om sy wil te verstaan en sy vereistes na te kom (Handelinge 16:14). Ja, deur ons die geleentheid te bied om hom, sy Woord en sy voornemens te leer ken, lewer God bewys van sy liefdevolle belangstelling in elkeen van ons.—Johannes 17:3.

Ten slotte help God vandag sy knegte, nie deur hulle wonderdadig te verlos nie, maar deur hulle sy heilige gees en “die krag wat bo die normale is”, te gee, sodat hulle enige situasie die hoof kan bied (2 Korintiërs 4:7). Die apostel Paulus het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom [Jehovah God] wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

Ons het dus alle rede om elke dag teenoor God dankbaar te wees vir die lewe en vir die hoop wat hy ons bied om vir ewig in ’n wêreld sonder lyding te lewe. “Wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?” het die psalmis gevra. “Die beker van grootse redding sal ek opneem, en die naam van Jehovah sal ek aanroep” (Psalm 116:12, 13). As jy hierdie tydskrif gereeld lees, sal dit jou help om te verstaan wat God reeds gedoen het, tans doen en nog sal doen om jou nou gelukkig te maak en ’n vaste hoop vir die toekoms te gee.—1 Timoteus 4:8.

[Lokteks op bladsy 6]

“Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.”—Jesaja 65:17

[Prente op bladsy 5]

In Bybeltye het Jehovah nie gekeer dat Sagaria gestenig word . . .

en dat Herodes die kinders vermoor nie

[Prent op bladsy 7]

Die tyd is op hande wanneer daar geen lyding meer sal wees nie; selfs die dooies sal opgewek word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel