Die Bybel se beskouing
Moet Christene goddelike beskerming verwag?
Die Bybel verwys dikwels na God se vermoë om sy aanbidders teen onheil te beskerm. Koning Dawid het gesê: “Red my, o Jehovah, van slegte mense; mag u my selfs teen die man van gewelddade beskerm” (Psalm 140:1). Vandag het baie van God se aanbidders wat voor geweld, misdaad of natuurrampe te staan gekom het, naelskraaps aan die dood of besering ontkom. Party het gewonder of God hulle by sulke geleenthede op wonderdadige wyse beskerm het, veral omdat daar ander gevalle is waar godvresende mense nie ontkom het nie, maar deur groot tragedies oorval is of selfs gewelddadig gesterf het.
BESKERM Jehovah God sommige individue teen onheil en ander nie? Moet ons vandag verwag om wonderdadig uit geweld en rampe gered te word?
Wonderdadige beskerming in Bybelverslae
Die Bybel noem baie gevalle waar God wonderdadig ten behoewe van sy aanbidders ingegryp het (Jesaja 38:1-8; Handelinge 12:1-11; 16:25, 26). Die Skrif vertel ook van ander geleenthede waar Jehovah se knegte nie uit rampspoed verlos is nie (1 Konings 21:1-16; Handelinge 12:1, 2; Hebreërs 11:35-38). Dit is dus duidelik dat Jehovah kan besluit wanneer hy om ’n spesifieke rede of met ’n spesifieke doel beskerming wil voorsien. Wanneer individuele Christene nie uit beproewinge verlos word nie, moet hulle dus nie tot die gevolgtrekking kom dat God hulle verlaat het nie. Ons moet die werklikheid aanvaar dat slegte dinge tog gebeur, selfs met getroue knegte van Jehovah. Waarom is dit die geval?
Waarom slegte dinge met getroue knegte van God gebeur
Een rede is omdat ons almal sonde en onvolmaaktheid van Adam en Eva geërf het. Die moontlikheid bestaan dus dat ons voor pyn, lyding en die dood te staan sal kom (Romeine 5:12; 6:23). Nog ’n rede is dat ons in die laaste dae lewe. Die Bybel beskryf mense in ons dag as “sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie” (2 Timoteus 3:1-5). Bewyse hiervan is die algemeenheid van verkragting, ontvoering, moord en ander wrede misdade.
Talle getroue knegte van God woon en werk tussen mense wat hulle maklik tot geweld wend en word partykeer die teiken daarvan. Ons bevind ons dalk in ’n lewensgevaarlike situasie omdat ons eenvoudig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is. Bowendien ondervind ons die werklikheid wat Salomo in die volgende woorde beskryf het: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.”—Prediker 9:11.
Daarbenewens het die apostel Paulus gesê dat Christene vervolg sal word omdat hulle God aanbid. Hy het gesê: “Trouens, almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). In onlangse jare was dit die geval in ’n aantal lande.
Daarom word godvresende mense nie teen die gevolge van geweld, misdaad, natuurrampe of die dood as gevolg van ’n ongeluk gevrywaar nie. Satan het al probeer om die argument te gebruik dat Jehovah ’n heining om Sy mense plaas sodat hulle sonder enige skade deur die lewe gaan (Job 1:9, 10). Dit is nie die geval nie. Maar ons kan seker wees dat Jehovah sy volk beskerm, al voorsien hy nie wonderdadige redding uit ’n situasie nie.
Hoe Jehovah sy volk vandag beskerm
Deur sy Woord voorsien Jehovah Goddelike leiding wat sy volk beskerm. Geestelikheid en Bybelkennis kan ons goeie oordeelsvermoë en gesonde verstand gee, wat ons kan help om onnodige foute te vermy en wyse besluite te neem (Psalm 38:4; Spreuke 3:21; 22:3). Wanneer Christene byvoorbeeld ag slaan op die Bybel se raad oor geslagsedelikheid, hebsug, woede en geweld, word hulle baie moeilikheid gespaar. As ons ook nie noue omgang met slegte mense het nie, is dit minder waarskynlik dat ons sal wees waar die moeilikheid kan ontstaan—dit wil sê op die verkeerde tyd op die verkeerde plek (Psalm 26:4, 5; Spreuke 4:14). Diegene wat volgens Bybelbeginsels lewe, geniet ’n beter lewenswyse, wat dikwels tot beter geestes- en fisiese gesondheid lei.
Selfs as God sou toelaat dat slegte dinge gebeur, is dit uiters bemoedigend om te weet dat hy sy aanbidders die nodige krag sal gee sodat hulle dit kan verduur. Die apostel Paulus verseker ons: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:13). Die Bybel beloof ook “krag wat bo die normale is” om ons te help om moeilikhede te verduur.—2 Korintiërs 4:7.
God tree ooreenkomstig sy wil op
Moet Christene verwag dat God hulle elke keer wanneer rampspoed dreig, wonderdadig sal red? Die Bybelverslag ondersteun nie so ’n verwagting nie.
Natuurlik kan Jehovah God besluit om direk in te gryp ten behoewe van enige van sy knegte. En as enigiemand glo dat hy deur Goddelike ingryping aan ’n ramp ontkom het, moet hy nie gekritiseer word nie. Maar wanneer Jehovah besluit om nie in te gryp nie, moet dit nooit as ’n teken van sy misnoeë beskou word nie.
Ongeag watter beproewing of situasie ons in die gesig staar, mag ons die vertroue hê dat Jehovah vir sy getroue knegte Goddelike beskerming sal voorsien deur of die situasie te verwyder of ons die krag te gee om dit te verduur of, as ons sou sterf, ons op te wek tot ewige lewe in sy nuwe wêreld.—Psalm 37:10, 11, 29; Johannes 5:28, 29.