“Hoe kragtig is God se Woord tog!”
“DIE woord van God is lewend en oefen krag uit” (Hebreërs 4:12). Die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2003 getuig van die onstuitbare krag van God se Woord deur middel van ses lewensverhale van regoor die wêreld. Onder die opskrif “Voor en ná” het die kalender getoon hoe die onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies mense help om hulle sedes te verbeter, skadelike lewenswyses die rug toe te keer, hulle gesinslewe te versterk en ’n persoonlike verhouding met God aan te kweek.
Daar is etlike briewe van waardering vir die 2003-kalender ontvang. Hier volg ’n paar van die kommentare:
“Hierdie kalender is ’n bewys vir ware Christene dat daar ander is wat net soos hulle hard moes stry vir die geloof. Nou kan hulle na die foto’s kyk om hulle te herinner aan die veranderinge wat party moes maak.”—Steven, Verenigde State.
“Ek wou graag hierdie paar woorde skryf om vir julle te sê hoeveel die 2003-kalender my hart geraak het. ’n Kalender het nog nooit so ’n groot indruk op my gemaak nie. Ek gaan hierdie lewensverhale in my velddienssak hou sodat ek vir mense die lewende en indrukwekkende bewyse kan toon van die invloed wat die Bybel op individue het.”—Marc, België.
“Ek is baie diep geraak deur die kalender. Ek het ’n knop in die keel gekry toe ek dit lees en sien hoe Jehovah hierdie individue verander het. Dit het my aangespoor om voortdurend veranderinge in my eie lewe aan te bring. Ek voel nou meer as ooit tevore deel van ons wêreldwye broederskap.”—Mary, Verenigde State.
“Jesus is diep geraak deur die benarde geestelike toestand van die skares. Dankie dat julle Christus se voorbeeld navolg deur die lewensverhale te publiseer wat in ons 2003-kalender verskyn het. Dis die eerste keer in my lewe dat ’n kalender my tot trane beweeg.”—Cassandra, Verenigde State.
“Toe ek 11 was, het ek begin rook; later het ek dwelms gebruik. Ek het dit dikwels oorweeg om selfmoord te pleeg. Toe ek Jehovah leer ken het, is ek gehelp om met daardie gewoontes te breek. Hierdie kalender is vir my baie belangrik. Die voorbeelde van my broers en susters regoor die wêreld versterk my geloof. Nou weet ek dat ek nie alleen in hierdie stryd is nie en dat liefde vir Jehovah en heelhartige diens aan hom van die grootste belang is.”—Margaret, Pole.
“Hoe kragtig is God se Woord tog! Toe ek die 2003-kalender ontvang het, kon ek skaars die trane keer. Hierdie ondervindinge, saam met die foto’s, is baie geloofversterkend.”—Darlene, Verenigde State.
“Die vorige lewenswyse van sommige van hierdie mense kom baie ooreen met mý vorige lewenswyse. Jehovah het my die krag gegee om dinge te oorkom wat onoorwinlik gelyk het. Baie dankie vir hierdie lewensverhale.”—William, Verenigde State.