’n Nuwe kenmerk van die 1989-kalender
1 Ons het ses jaar lank kalenders geniet met kleurryke tonele van ons broers wat in verskeie lande getuig. Maar vir die jaar wat voorlê, sal ons ’n nuwe soort kalender hê waarby julle op ’n ander manier sal baat vind.
2 Die 1989-Kalender van Jehovah se Getuies sal ’n reeks pragtige kleurfoto’s van plekke in die Beloofde Land bevat. Onder elke groot prent sal interessante kommentare wees oor wat ons in die foto sien. Daar sal ook besonderhede oor Bybelse gebeure wees wat by daardie plek plaasgevind het of kommentare wat toon waarom die plek vir ons as ywerige studente van God se Woord belangrik is.
3 Die kalender sal natuurlik steeds die nuttige kenmerke hê wat ons al lank waardeer, soos die rooster vir Skriflesing. Maar julle sal die kalender waarskynlik op nuwe maniere kan gebruik vanweë die groot, duidelike prente van die Beloofde Land. Januarie/Februarie sal byvoorbeeld ’n lugfoto van Megiddo hê, wat julle by ’n Bybelstudie kan gebruik om die betekenis van Armageddon te verduidelik. Hierdie prente sal ons help om Bybelverhale te visualiseer, en dus sal ouers dit waarskynlik gebruik wanneer hulle Bybelverhale met hul kinders bespreek.
4 Die foto’s en kommentare sal genommer wees sodat ’n spesifieke een maklik geidentifiseer kan word as jy ’n Bybelverhaal gedurende ’n vergaderingdeel bespreek. Sommige wil dalk ’n ekstra kalender kry en die prente raam of hulle in ’n omslag vir permanente gebruik plaas. Hierdie prente behoort ’n waardevolle toevoeging tot jou teokratiese biblioteek te wees. Neem dit asseblief in aanmerking wanneer jy jou bestelling plaas.