Gileadgegradueerdes word aangespoor om “luisterryke dinge” te verkondig
’N GROOT skare van 6 635 uit 52 lande het byeengekom vir die gradueringsprogram van die 115de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead wat op 13 September 2003 gehou is.
Hulle het gehoor hoe die 48 studente van die klas skriftuurlike aanmoediging ontvang om die “luisterryke dinge van God” aan mense van 17 lande bekend te maak (Handelinge 2:11). Dit is waar die gegradueerdes hulle sendingwerk sal uitvoer.
In sy openingskommentare het Stephen Lett, wat ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is en as die voorsitter van die graduering gedien het, die studente hieraan herinner: “Wanneer julle na julle toewysings gaan, ongeag waar dit is of in watter omstandighede julle julle bevind, onthou dat daar meer by julle is as teen julle.” Broer Lett het sy bespreking op die verslag in hoofstuk 6 van Tweede Konings gebaseer en die studente daaraan herinner dat hulle kan staatmaak op die ondersteuning van Jehovah God en tienduisende engele terwyl hulle “die luisterryke dinge van God” verkondig (2 Konings 6:15, 16). Die eerste-eeuse Christene het in hulle predikings- en onderrigtingswerk voor teenstand en onverskilligheid te staan gekom, en hedendaagse Christensendelinge kom voor soortgelyke uitdagings te staan. Maar hulle kan vertrou op ondersteuning wat van die hemel sowel as van Jehovah se aardse organisasie kom.—Psalm 34:7; Matteus 24:45.
Verkondig “die luisterryke dinge van God”
Ná die voorsitter se openingskommentare het Harold Corkern van die Verenigde State se Takkomitee die tema “Realistiese verwagtinge—’n sleutel tot vreugdevolle en suksesvolle diens” bespreek. Broer Corkern het daarop gewys dat onvervulde verwagtinge tot teleurstelling kan lei, soos Spreuke 13:12 toon. Maar teleurstelling is dikwels die gevolg van onrealistiese verwagtinge wat nie vervul word nie. Die gegradueerdes moet ’n gebalanseerde, realistiese beskouing van hulleself en ander hê. Hulle moet verwag dat hulle soms foute sal begaan, maar dit moet hulle nie mismoedig laat voel terwyl hulle daarna streef om ander te help om “die luisterryke dinge van God” te verstaan nie. Broer Corkern het die nuwe sendelinge aangemoedig om op Jehovah te vertrou, “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”.—Hebreërs 11:6.
Volgende op die program was Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, wat die tema ontwikkel het: “Die Christelike hoop—Wat is dit?” Hy het gesê: “Hoop is ’n Christelike deug. Dit is ’n standaard van wat reg is en bring ’n mens in ’n goeie verhouding met God. Dit is onmoontlik vir iemand wat nie ’n Christen is nie, om dieselfde hoop as ons te hê.” Broer Sydlik het toe verskillende aspekte van die Christelike hoop beskryf wat ’n mens help om optimisties te bly ondanks probleme in die lewe. “Met hoop kan ons die lewe met hernieude ywer en ’n vreugdevolle gesindheid aandurf.” ’n Christen se hoop help hom om Jehovah te sien as ’n God met voornemens en om hom met blydskap te dien.—Romeine 12:12.
Wallace Liverance, die registrateur van die Gileadskool, het die studente aangespoor met sy toespraak “Hou aan om deur gees te wandel” (Galasiërs 5:16). Hy het getoon hoe Barug, Jeremia se sekretaris, amper opgehou het om deur gees te wandel. Op een stadium het Barug moeg geword en groot dinge vir homself begin soek (Jeremia 45:3, 5). Broer Liverance het toe daarop gewys dat party opgehou het om Jesus te volg en geestelike waarheid, wat nodig is vir redding, verwerp het. Dit was omdat hulle nie verstaan het wat hy hulle geleer het nie, en hulle was teleurgesteld omdat hulle vleeslike verwagtinge nie op daardie stadium vervul is nie (Johannes 6:26, 27, 51, 66). Wat kan sendelinge, wie se werk dit is om mense se aandag op die Skepper en sy voorneme te vestig, uit hierdie verslae leer? Die studente is aangespoor om nie ’n posisie of die erkenning van mense na te jaag nie en om ook nie ’n teokratiese toewysing vir eie gewin te gebruik nie.
“Sal jy iemand wees wat gee of neem?” was die vraag wat die Gileadinstrukteur Mark Noumair geopper het. Hy het sy kommentare op Rigters 5:2 gebaseer, waar individuele Israeliete geprys is omdat hulle onselfsugtig aangebied het om in Barak se leër te dien. Die Gileadstudente is geprys vir hulle gesindheid, want hulle het gehoor gegee aan die oproep van die Grotere Barak, Jesus Christus, om meer betrokke te raak by geestelike oorlogvoering. Soldate van Christus moet daarin belangstel om die goedkeuring te verkry van die een wat hulle gewerf het. Broer Noumair het die studente hieraan herinner: “Wanneer ons behep raak daarmee om onsself te behaag, hou ons op om teen die vyand te veg. . . . Sendingdiens draai nie om jou nie. Dit draai om Jehovah, sy soewereiniteit en die uitvoering van sy wil. Ons dien nie as sendelinge omdat ons wil hê dat Jehovah ons gelukkig moet maak nie; ons dien hom omdat ons hom liefhet.”—2 Timoteus 2:4.
Die Gileadinstrukteur Lawrence Bowen het hierna die bespreking gelei met die tema “Heilig hulle deur middel van die waarheid” (Johannes 17:17). Hy het gesê dat die studente van die 115de klas geheiligde bedienaars van God is. Terwyl hulle die skool bygewoon het, het hulle ook aan die veldbediening deelgeneem en gesoek na opregte liefhebbers van waarheid. Soos Jesus en sy vroeë dissipels het die studente nie “op eie ingewing” gepraat nie (Johannes 12:49, 50). Hulle het die geïnspireerde, lewegewende woord van die waarheid ywerig bekend gemaak. Die ondervindinge wat die studente gedemonstreer en vertel het, het getoon watter kragtige invloed die Bybel gehad het op diegene met wie hulle gepraat het.
Aangemoedig deur raad en persoonlike ondervinding
Anthony Pérez en Anthony Griffin, lede van die Diensafdeling van die Verenigde State se takkantoor, het onderhoude gevoer met Takkomiteelede van verskillende lande. Hierdie manne het van die uitdagings bespreek waarvoor nuwe sendelinge te staan kom en praktiese raad gegee op grond van hulle persoonlike ondervinding. Die uitdagings het dinge ingesluit soos kultuurverskille, ’n tropiese klimaat dwarsdeur die jaar of ’n godsdiens- en politieke klimaat wat anders is as dié waaraan die studente gewoond is. Wat kan nuwe sendelinge help om by hulle nuwe omstandighede aan te pas? Liefde vir Jehovah, liefde vir mense, om nie terug te kyk nie en nie oorhaastig op te tree nie. Een takkomiteelid het gesê: “Daar woon al eeue lank mense in die land waarheen ons gaan. Ons kan sekerlik ook daar woon en aanpas. Elke keer wanneer ons probleme ondervind het, het ons dit beskou as deel van ons karakterontwikkeling. Jy vertrou op gebed en op Jehovah se gees, en jy sien hoe Jesus se woorde bewaarheid word: ‘Ek is met julle.’”—Matteus 28:20.
Samuel Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die program tot ’n klimaks gebring met sy toespraak “Hou aan om oor die luisterryke dinge van God te praat”. Toe die heilige gees op Pinksterdag 33 G.J. uitgestort is, het dit Jesus se dissipels met krag besiel om oor “die luisterryke dinge van God” te praat. Wat kan nuwe sendelinge vandag help om met soortgelyke ywer oor God se Koninkryk te praat? Dieselfde heilige gees. Broer Herd het die gegradueerdes aangespoor om te “gloei van die gees”, om opgewonde te raak oor hulle toewysings en om nooit die opleiding te vergeet wat hulle ontvang het nie (Romeine 12:11). “Die Bybel is een van die luisterryke dinge van God”, het broer Herd gesê. “Moet nooit die waarde daarvan onderskat nie. Die boodskap daarin is lewend. Dit dring reg tot die hart van sake deur. Gebruik dit om dinge reg te stel in julle lewe. Laat dit julle denke verander. Bewaar julle denkvermoë deur die Skrif te bestudeer, te lees en daaroor te peins . . . Stel julle dit ten doel en wees vasbeslote om julle Gileadopleiding te gebruik om aan te hou praat oor ‘die luisterryke dinge van God’.”
Nadat groeteboodskappe uit alle wêrelddele gelees is en die diplomas oorhandig is, het een van die gegradueerdes ’n brief van die klas gelees om waardering vir hulle opleiding uit te spreek. Broer Lett het daarna die vreugdevolle geleentheid afgesluit deur na 2 Kronieke 32:7 en Deuteronomium 20:1, 4 te verwys. Hy het sy slot met sy openingskommentare verbind deur te sê: “Liewe studente, onthou dus wanneer julle in die stryd optrek, wanneer julle in julle nuwe toewysings die geestelike stryd betree, dat Jehovah saam met julle is. Moet nooit vergeet nie dat daar meer by julle is as teen julle.”
[Venster op bladsy 25]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 7
Aantal lande waarheen gestuur: 17
Aantal studente: 48
Gemiddelde ouderdom: 33,7
Gemiddelde jare in die waarheid: 17,8
Gemiddelde jare in die voltydse bediening: 13,5
[Prent op bladsy 26]
115de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Brown, T.; Goller, C.; Hoffman, A.; Bruzzese, J.; Trahan, S. (2) Smart, N.; Cashman, F.; Garcia, K.; Lojan, M.; Seyfert, S.; Gray, K. (3) Beckett, M.; Nichols, S.; Smith, K.; Gugliara, A.; Rappenecker, A. (4) Gray, S.; Vacek, K.; Fleming, M.; Bethel, L.; Hermansson, T.; Hermansson, P. (5) Rappenecker, G.; Lojan, D.; Dickey, S.; Kim, C.; Trahan, A.; Washington, A.; Smart, S. (6) Goller, L.; Burghoffer, T.; Gugliara, D.; Nichols, R.; Washington, S.; Kim, J. (7) Beckett, M.; Dickey, J.; Smith, R.; Garcia, R.; Hoffman, A.; Seyfert, R.; Brown, H. (8) Fleming, S.; Bruzzese, P.; Burghoffer, W.; Bethel, T.; Cashman, J.; Vacek, K.