Jehovah se grootheid is ondeurgrondelik
“Jehovah is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.”—PSALM 145:3.
1, 2. Watter soort persoon was Dawid, en hoe het hy homself in verhouding tot God beskou?
DIE skrywer van Psalm 145 is een van die bekendste manne in die geskiedenis. As ’n jong man het hy voor ’n gewapende reus te staan gekom en hom doodgemaak. En as ’n stryder-koning het hierdie psalmis baie vyande verslaan. Sy naam was Dawid, en hy was die tweede koning van eertydse Israel. Dawid se goeie naam het ná sy dood voortgeleef sodat miljoene mense selfs vandag nog iets omtrent hom weet.
2 Ten spyte van sy prestasies het Dawid ’n nederige beskouing van homself gehad. Hy het met verwysing na Jehovah gesing: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?” (Psalm 8:3, 4). Dawid het nie ’n hoë dunk van homself gehad nie, maar eerder erken dat Jehovah hom van al sy vyande verlos het en gesê: “U sal my u skild van redding gee, en u nederigheid maak my groot” (2 Samuel 22:1, 2, 36). Jehovah lê nederigheid aan die dag deur barmhartig teenoor sondaars op te tree, en Dawid het God se onverdiende goedhartigheid waardeer.
‘Ek sal God die Koning verhef’
3. (a) Wat was Dawid se beskouing van die koningskap van Israel? (b) Hoe sterk was Dawid se begeerte om Jehovah te loof?
3 Hoewel Dawid God se aangestelde koning was, het hy Jehovah as die ware Koning van Israel beskou. Dawid het gesê: “Aan u behoort die koninkryk, o Jehovah, u wat u ook as hoof oor alles verhef” (1 Kronieke 29:11). En watter groot waardering het Dawid tog vir God as Heerser gehad! “Ek sal u verhef, o my God die Koning”, het hy gesing, “en ek sal u naam loof tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig. Die hele dag sal ek u loof, en ek sal u naam loof tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Psalm 145:1, 2). Dit was Dawid se begeerte om Jehovah God die hele dag en tot in alle ewigheid te loof.
4. Watter valse aantygings word in Psalm 145 weerlê?
4 Psalm 145 voorsien ’n kragtige antwoord op Satan se aantyging dat God ’n selfsugtige heerser is wat vryheid van sy skepsele weerhou (Genesis 3:1-5). Hierdie psalm weerlê ook Satan se leuen dat diegene wat God gehoorsaam, dit slegs om selfsugtige redes doen, nie omdat hulle God liefhet nie (Job 1:9-11; 2:4, 5). Soos Dawid voorsien ware Christene vandag ’n antwoord op die Duiwel se valse aantygings. Hulle beskou hulle hoop op die ewige lewe onder Koninkryksheerskappy as kosbaar omdat hulle Jehovah graag tot in alle ewigheid wil loof. Miljoene het dit reeds begin doen deur geloof in Jesus se losprysoffer te beoefen en deur Jehovah gehoorsaam en uit liefde te dien as sy toegewyde, gedoopte aanbidders.—Romeine 5:8; 1 Johannes 5:3.
5, 6. Watter geleenthede is daar om Jehovah te loof en te prys?
5 Dink aan die talle geleenthede wat ons as Jehovah se knegte het om hom te loof en te prys. Ons kan dit doen in gebed wanneer ons diep getref word deur iets wat ons in sy Woord, die Bybel, lees. Ons kan ons waardering en dankbaarheid uitspreek wanneer ons diep geraak word deur God se handelswyse met sy knegte of wanneer ons in vervoering is oor ’n sekere aspek van sy wonderlike skepping. Ons loof Jehovah God ook wanneer ons met medegelowiges oor sy voornemens gesels by Christelike vergaderinge of in ons persoonlike gesprekke. Trouens, alle “goeie werke” wat in die belang van God se Koninkryk gedoen word, bring lof aan Jehovah.—Matteus 5:16.
6 Onlangse voorbeelde van sulke goeie werke sluit die talle plekke van aanbidding in wat deur Jehovah se volk in arm lande gebou is. Baie daarvan is met die finansiële bystand van medegelowiges in ander lande gedoen. Party Christene het aangebied het om na sulke gebiede te gaan om te help met die bou van Koninkryksale. En die vernaamste van alle goeie werke is om Jehovah te loof deur die goeie nuus van sy Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Soos latere verse in Psalm 145 toon, het Dawid God se heerskappy waardeer en Sy koningskap geprys (Psalm 145:11, 12). Toon jy soortgelyke waardering vir God se liefdevolle heerskappy? En praat jy gereeld met ander oor sy Koninkryk?
Voorbeelde van God se grootheid
7. Gee ’n vername rede om Jehovah te loof.
7 Psalm 145:3 gee ’n vername rede om Jehovah te loof. Dawid sing: “Jehovah is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.” Jehovah se grootheid is onbeperk. Mense kan dit nie ten volle naspeur, begryp of meet nie. Maar ons sal beslis daarby baat vind as ons nou na voorbeelde van Jehovah se ondeurgrondelike grootheid kyk.
8. Wat openbaar die heelal oor Jehovah se grootheid en krag?
8 Probeer onthou toe jy laas ver van die helder stadsliggies af was en opgekyk het na ’n wolklose naghemel. Was jy nie verstom oor hoeveel sterre jy kon sien teen die donker hemelruim nie? Het dit jou nie beweeg om Jehovah te loof vir sy grootheid, aangesien hy al daardie hemelliggame geskep het nie? Wat jy gesien het, was egter net ’n breukdeel van die aantal sterre in die sterrestelsel waarvan die aarde deel is. Bowendien is daar na raming meer as ’n honderdmiljard sterrestelsels, waarvan net drie met die blote oog gesien kan word. Ja, die tallose sterre en sterrestelsels wat die ontsaglike heelal vorm, is ’n bewys van Jehovah se skeppingskrag en ondeurgrondelike grootheid.—Jesaja 40:26.
9, 10. (a) Watter aspekte van Jehovah se grootheid is in verband met Jesus Christus geopenbaar? (b) Hoe moet Jesus se opstanding ons geloof raak?
9 Dink aan ander aspekte van Jehovah se grootheid—dié met betrekking tot Jesus Christus. God se grootheid is geopenbaar toe hy sy Seun geskep en hom eeue lank as Sy “meesterwerker” gebruik het (Spreuke 8:22-31). Die grootheid van Jehovah se liefde is geopenbaar toe hy sy enigverwekte Seun as ’n losprysoffer vir die mensdom gegee het (Matteus 20:28; Johannes 3:16; 1 Johannes 2:1, 2). En iets wat ver bo die mens se begrip is, is die glorieryke en onsterflike geesliggaam wat Jehovah vir Jesus by sy opstanding gegee het.—1 Petrus 3:18.
10 Jesus se opstanding het talle indrukwekkende aspekte van Jehovah se ondeurgrondelike grootheid behels. God het ongetwyfeld al Jesus se herinneringe in verband met die skepping van sigbare sowel as onsigbare dinge aan hom terugbesorg (Kolossense 1:15, 16). Dit sluit ander geesskepsele in, asook die heelal, die vrugbare aarde en alle fisiese lewensvorme op ons planeet. Jehovah het nie net sy Seun se kennis herstel van alles wat tydens die Seun se voormenslike bestaan in die hemel en op aarde gebeur het nie, maar hy het Jesus ook alles laat onthou wat hy as ’n volmaakte mens ervaar het. Ja, Jehovah se ondeurgrondelike grootheid kan duidelik gesien word in Jesus se opstanding. Verder is daardie grootse daad ’n waarborg dat die opstanding van ander moontlik is. Dit behoort ons geloof te versterk dat God die miljoene afgestorwenes wat in sy volmaakte geheue is, kan opwek.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 17:31.
Wonderlike werke en magtige dade
11. Watter groot werk van Jehovah het op Pinkster 33 G.J. begin?
11 Sedert Jesus se opstanding het Jehovah baie ander groot en wonderlike werke verrig (Psalm 40:5). Op Pinkster 33 G.J. het Jehovah ’n nuwe nasie in aansyn gebring, “die Israel van God”, wat bestaan uit Christus se dissipels wat met heilige gees gesalf is (Galasiërs 6:16). Op ’n magtige wyse het hierdie nuwe geestelike nasie uitgebrei tot aan die uithoeke van die destyds bekende wêreld. Ten spyte van die afvalligheid wat ná die dood van Jesus se apostels tot die ontwikkeling van die Christendom gelei het, het Jehovah wonderlike werke bly verrig om die vervulling van sy voorneme te verseker.
12. Waarvan getuig die feit dat die Bybel in al die hooftale van die aarde beskikbaar is?
12 Die Bybelkanon is byvoorbeeld bewaar en uiteindelik vertaal in al die hooftale wat vandag op die aarde gebruik word. Bybelvertaling is dikwels onder moeilike omstandighede gedoen, en vertalers het dikwels die gevaar geloop om deur Satan se agente doodgemaak te word. Een ding is seker, Bybelvertaling sou nie in meer as 2 000 tale gedoen kon word as dit nie die wil van die ondeurgrondelike groot God, Jehovah, was nie!
13. Hoe is Jehovah se grootheid sedert 1914 in verband met sy Koninkryksvoornemens geopenbaar?
13 Jehovah se grootheid is ook in verband met sy Koninkryksvoornemens geopenbaar. Byvoorbeeld, in die jaar 1914 het hy sy Seun, Jesus Christus, as Koning in die hemel gekroon. Kort daarna het Jesus teen Satan en sy demone opgetree. Hulle is uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk, waar hulle nou wag om in die afgrond opgesluit te word (Openbaring 12:9-12; 20:1-3). Van toe af is Jesus se gesalfde volgelinge hewiger vervolg. Maar Jehovah het hulle onderskraag gedurende hierdie tyd van Christus se onsigbare teenwoordigheid.—Matteus 24:3; Openbaring 12:17.
14. Watter wonderlike werk het Jehovah in 1919 verrig, en wat is daardeur bereik?
14 In die jaar 1919 het Jehovah nog ’n wonderlike werk verrig wat sy grootheid getoon het. Jesus se gesalfde volgelinge, wat tot ’n toestand van geestelike onbedrywigheid verlaag is, is met nuwe lewe besiel (Openbaring 11:3-11). In die jare sedertdien het die gesalfdes die goeie nuus van die opgerigte hemelse Koninkryk ywerig verkondig. Ander gesalfdes is ingesamel om die getal 144 000 volledig te maak (Openbaring 14:1-3). En deur middel van Christus se gesalfde volgelinge het Jehovah die grondslag gelê vir “’n nuwe aarde”, ’n regverdige mensegemeenskap (Openbaring 21:1). Maar wat sal van die “nuwe aarde” word wanneer al die getroue gesalfdes in die hemel is?
15. Met watter werk het gesalfde Christene die voortou geneem, en wat was die resultate?
15 In 1935 het hierdie tydskrif se nommers van 1 Augustus en 15 Augustus deurslaggewende artikels bevat aangaande die “groot menigte”, wat in Openbaring hoofstuk 7 genoem word. Gesalfde Christene het ywerig na hierdie medeaanbidders uit alle nasies, stamme, volke en tale begin soek en hulle in hulle geledere verwelkom. Hierdie “groot menigte” sal die naderende “groot verdrukking” oorleef, en die vooruitsig hê om vir ewig te lewe in die Paradys as permanente lede van die “nuwe aarde” (Openbaring 7:9-14). Vanweë die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk, waarmee gesalfde Christene die voortou neem, het meer as sesmiljoen mense nou die hoop om vir ewig op ’n aardse paradys te lewe. Wie moet die eer kry vir hierdie vermeerdering ondanks teenstand deur Satan en sy verdorwe wêreld? (1 Johannes 5:19). Net Jehovah kon dit alles deur sy heilige gees verrig.—Jesaja 60:22; Sagaria 4:6.
Jehovah se glorieryke prag en waardigheid
16. Waarom kan mense ‘die glorieryke prag van Jehovah se waardigheid’ nie letterlik sien nie?
16 Ongeag watter vorm die “wonderlike werke” en “magtige dade” van Jehovah aanneem, dit sal nooit vergeet word nie. Dawid het geskryf: “Geslag na geslag sal u werke prys, en u magtige dade sal hulle verkondig. Die glorieryke prag van u waardigheid en die aangeleenthede van u wonderlike werke sal ek oordink. En hulle sal praat oor die sterkte van u vreesinboesemende dinge; en wat u grootheid betref, ek sal dit bekend maak” (Psalm 145:4-6). Maar hoeveel kennis kon Dawid van Jehovah se glorieryke prag hê, aangesien ‘God ’n gees is’ en derhalwe onsigbaar vir menseoë is?—Johannes 1:18; 4:24.
17, 18. Hoe kon Dawid sy waardering vergroot vir ‘die glorieryke prag van Jehovah se waardigheid’?
17 Hoewel Dawid God nie kon sien nie, was daar maniere waarop hy sy waardering vir Jehovah se waardigheid kon vergroot. Hy kon byvoorbeeld die skriftuurlike verslag oor God se magtige dade lees, soos die vernietiging van ’n goddelose wêreld deur middel van ’n wêreldvloed. Dawid het heel waarskynlik opgemerk hoe Egipte se valse gode verneder is toe God die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het. Daardie gebeure getuig van Jehovah se waardigheid en grootheid.
18 Dawid het ongetwyfeld groter waardering vir God se waardigheid opgebou deur nie net die Skrif te lees nie, maar ook daaroor te peins. Hy het moontlik gepeins oor wat gebeur het toe Jehovah die Wet aan Israel gegee het. Daar was donderslae, weerligstrale, ’n swaar wolk en ’n baie harde geluid van ’n horing. Die berg Sinai het gebewe en gerook. Die Israeliete wat aan die voet van die berg vergader het, het selfs “die Tien woorde” uit die vuur en die wolk gehoor toe Jehovah met hulle gespreek het deur middel van ’n engeleverteenwoordiger (Deuteronomium 4:32-36; 5:22-24; 10:4; Eksodus 19:16-20; Handelinge 7:38, 53). Watter kragtige bewyse tog van Jehovah se grootsheid! Liefhebbers van God se Woord wat oor hierdie verslae peins, kan nie anders nie as om diep geraak te word deur ‘die glorieryke prag van Jehovah se waardigheid’. Vandag het ons natuurlik die hele Bybel, wat verskeie glorieryke visioene bevat wat ons vervul met ontsag vir Jehovah se grootheid.—Esegiël 1:26-28; Daniël 7:9, 10; Openbaring, hoofstuk 4.
19. Wat sal ons waardering vir Jehovah se waardigheid vergroot?
19 Nog ’n manier waarop Dawid ontsag vir God se waardigheid kon verkry, was deur die wette te bestudeer wat God aan die Israeliete gegee het (Deuteronomium 17:18-20; Psalm 19:7-11). Gehoorsaamheid aan Jehovah se wette het die nasie Israel verhef en hulle afgeskeie gemaak van al die ander volke (Deuteronomium 4:6-8). Soos met Dawid die geval was, sal dit ons waardering vir Jehovah se waardigheid vergroot as ons die Skrif gereeld lees, diep daaroor peins en dit ywerig bestudeer.
God se ander voortreflike eienskappe
20, 21. (a) Psalm 145:7-9 beklemtoon Jehovah se grootheid met betrekking tot watter eienskappe? (b) Watter uitwerking het God se eienskappe wat hier gemeld word, op almal wat hom liefhet?
20 Soos ons gesien het, gee die eerste ses verse van Psalm 145 ons gegronde redes om Jehovah te loof vir dinge wat verband hou met sy ondeurgrondelike grootheid. Verse 7 tot 9 beklemtoon God se grootheid deur na sy ander voortreflike eienskappe te verwys. Dawid sing: “Hulle sal die vermelding van u oorvloedige goedheid laat uitborrel, en weens u regverdigheid sal hulle met vreugde uitroep. Jehovah is genadig en barmhartig, word nie gou toornig nie en is groot in liefderyke goedhartigheid. Jehovah is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke.”
21 Hier vestig Dawid eerstens die aandag op Jehovah se goedheid en regverdigheid—eienskappe wat Satan die Duiwel bevraagteken het. Watter uitwerking het hierdie eienskappe op almal wat God liefhet en hulle aan sy heerskappy onderwerp? Jehovah se goedheid en die regverdige manier waarop hy regeer, verskaf sy aanbidders soveel blydskap dat hulle eenvoudig nie kan ophou om sy lof te laat uitborrel nie. Wat meer is, Jehovah bewys sy goedheid aan “almal”. Hopelik sal dit nog baie ander help om berou te toon en aanbidders van die ware God te word voordat dit te laat is.—Handelinge 14:15-17.
22. Hoe behandel Jehovah sy knegte?
22 Dawid het ook die eienskappe waardeer wat God self beklemtoon het toe Hy “voor [Moses se] aangesig verbygegaan en uitgeroep [het]: ‘Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid’” (Eksodus 34:6). Daarom kon Dawid sê: “Jehovah is genadig en barmhartig, word nie gou toornig nie en is groot in liefderyke goedhartigheid.” Hoewel Jehovah ondeurgrondelik groot is, verleen hy waardigheid aan sy aardse knegte deur genadig teenoor hulle te wees. Hy is vol barmhartigheid, bereid om berouvolle sondaars te vergewe op grond van Jesus se losprysoffer. Jehovah word ook nie gou toornig nie, want hy gee sy knegte die geleentheid om swakhede te oorkom wat kan verhinder dat hulle sy nuwe wêreld van regverdigheid beërf.—2 Petrus 3:9, 13, 14.
23. Watter kosbare eienskap sal ons in die volgende artikel bespreek?
23 Dawid prys God vir sy liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde. Trouens, die res van Psalm 145 toon hoe Jehovah hierdie eienskap aan die dag lê en hoe sy lojale knegte op sy liefderyke goedhartigheid reageer. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter geleenthede is daar om Jehovah “die hele dag” te loof?
• Watter voorbeelde toon dat Jehovah se grootheid ondeurgrondelik is?
• Hoe kan ons ons waardering vergroot vir Jehovah se glorieryke waardigheid?
[Prent op bladsy 10]
Die sterrestelsels van die heelal getuig van Jehovah se grootheid
[Erkenning]
Courtesy of Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin
[Prent op bladsy 12]
Hoe is Jehovah se grootheid in verband met Jesus Christus geopenbaar?
[Prent op bladsy 13]
Toe die Israeliete die Wet by die berg Sinai ontvang het, het hulle bewyse van Jehovah se glorieryke waardigheid gesien