Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 2/1 bl. 23-27
  • Ek ondervind Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sorg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek ondervind Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sorg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Soeke na die waarheid in Australië
  • ’n Deur wat tot bedrywigheid lei, word oopgemaak
  • ’n Onverwagte seëning
  • Gesondheidsprobleme
  • Ek keer terug na Engeland
  • Ek het my glanslewe vir iets beters verruil
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Jehovah het my gewilligheid geseën
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • “Elke dag op die markplein”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “Hier is ek, stuur my”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 2/1 bl. 23-27

Lewensverhaal

Ek ondervind Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sorg

SOOS VERTEL DEUR FAY KING

My ouers was dierbare mense, maar soos baie ander het hulle glad nie in godsdiens belanggestel nie. My ma het altyd gesê: “Daar moet ’n God wees; wie anders het die blomme gemaak, en wie het die bome gemaak?” Maar dit het net daarby gebly.

MY PA is in 1939 oorlede, toe ek 11 jaar oud was, en ek en my ma het in Stockport, net suid van Manchester, Engeland, gewoon. Ek wou altyd meer omtrent my Skepper geweet het en het eerbied vir die Bybel gehad, hoewel ek niks daarvan geweet het nie. Ek het derhalwe besluit om die Anglikaanse Kerk by te woon om te sien wat hulle mense leer.

Die kerkdienste het nie vir my veel sin gemaak nie, maar wanneer die Evangelies gelees is, het Jesus se woorde my om die een of ander rede oortuig dat die Bybel waar moet wees. Wanneer ek terugdink, is dit vir my vreemd dat ek die Bybel nooit self gelees het nie. Selfs later, toe een van ons huisvriende vir my ’n moderne vertaling van die “Nuwe Testament” gegee het, het ek nooit sover gekom om dit te lees nie.

Toe die Koreaanse Oorlog in 1950 uitgebreek het, het dit my regtig laat dink. Sou die konflik versprei, soos met die Tweede Wêreldoorlog? As dit gebeur, hoe sou ek Jesus se opdrag kon gehoorsaam om my vyande lief te hê? Maar aan die ander kant, sou ek bloot kon toekyk hoe mense my land binneval en niks doen om hulle te keer nie? As ek dit sou doen, sou ek beslis my verantwoordelikheid ontduik. Hoewel ek verward was, was ek nog steeds daarvan oortuig dat die Bybel al my vrae kon beantwoord, al het ek nie geweet hoe of waar om die antwoorde te vind nie.

Soeke na die waarheid in Australië

In 1954 het ek en my ma besluit om na Australië te emigreer, waar my suster Jean gewoon het. ’n Paar jaar later het Jean my vertel dat sy Jehovah se Getuies gevra het om my te besoek omdat sy geweet het dat ek in die Bybel belangstel en kerk toe gaan. Sy wou weet wat ek van hulle dink. “Ek weet nie of hulle verduidelikings reg is of nie,” het sy gesê, “maar ten minste het hulle verduidelikings, wat meer is as wat die kerke jou kan bied.”

Bill en Linda Schneider, die egpaar wat my besoek het, was aangename mense. Hulle was in hulle laat sestigerjare en was al jare lank Getuies. Hulle het by die radiostasie van Jehovah se Getuies in Adelaide gewerk, en toe ’n verbod gedurende die Tweede Wêreldoorlog op die predikingswerk in Australië geplaas is, het hulle as voltydse evangeliedienaars begin dien. Hoewel Bill en Linda my baie gehelp het, het ek nog steeds verskillende gelowe ondersoek.

’n Kollega het my na ’n vergadering van die evangelis Billy Graham geneem, en daarna het ’n paar van ons ’n geestelike ontmoet wat ons die geleentheid gegee het om vrae te vra. Ek het die vraag gevra wat my steeds gepla het: “Hoe kan ’n mens ’n Christen wees en jou vyande liefhê as jy oorlog toe gaan en hulle doodmaak?” Die hele groep was onmiddellik in rep en roer—daardie vraag het hulle almal blykbaar gekwel! Uiteindelik het die geestelike gesê: “Ek ken nie die antwoord op daardie vraag nie. Ek dink nog daaroor.”

Intussen het my Bybelstudie met Bill en Linda voortgegaan, en ek is in September 1958 gedoop. Ek het my voorgeneem om die voorbeeld van my studiehouers te volg; daarom het ek die volgende jaar Augustus as ’n gewone pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, begin dien. Agt maande later is ek genooi om ’n spesiale pionier te word. Hoe verheug was ek tog om te hoor dat my suster Jean ook vooruitgang gemaak het met haar studie en gedoop is!

’n Deur wat tot bedrywigheid lei, word oopgemaak

Ek het met een van die gemeentes in Sydney geassosieer en ’n aantal tuisbybelstudies gehou. Op ’n dag het ek ’n afgetrede Anglikaanse geestelike ontmoet en hom gevra wat die kerk omtrent die einde van die wêreld sê. Hoewel hy my vertel het dat hy 50 jaar lank kerkleerstellings vir mense geleer het, het sy antwoord my verbaas: “Ek sal navorsing hieroor moet doen, aangesien ek die Bybel nie so goed soos Jehovah se Getuies ken nie.”

Kort hierna is daar ’n beroep op vrywilligers gedoen om in Pakistan te gaan dien. Ek het aansoek gedoen, maar nie geweet dat net ongetroude mans en getroude paartjies gestuur word, nie ongetroude vroue nie. My aansoek is blykbaar na ons Brooklyn-hoofkwartier aangestuur, want kort daarna het ek ’n brief ontvang wat gesê het dat hulp nodig was in Bombaai (nou Moembaai), Indië, as ek daarheen wou gaan. Dit was in 1962. Ek het die toewysing aanvaar en het 18 maande lank in Bombaai gebly voordat ek na Allahabad gestuur is.

Kort nadat ek daar aangekom het, het ek my voorgeneem om Hindi te leer. Hierdie Indiese taal is oor die algemeen konsekwent wat spelling sowel as uitspraak betref en was dus nie te moeilik om aan te leer nie. Dit was egter dikwels frustrerend wanneer die huisbewoners my gevra het om eerder Engels te praat as om met hulle taal te sukkel! Maar hierdie nuwe land het interessante en opwindende uitdagings gebied, en ek het die assosiasie met mede-Getuies van Australië geniet.

Toe ek jonger was, het ek aan trou gedink, maar teen die tyd dat ek gedoop is, was ek te besig in Jehovah se diens om verder daaroor te dink. Maar nou het ek weer die behoefte aan ’n lewensmaat begin voel. Ek wou natuurlik nie my buitelandse toewysing verlaat nie; daarom het ek tot Jehovah daaroor gebid en nie weer daaraan gedink nie.

’n Onverwagte seëning

Edwin Skinner het op daardie stadium toesig gehou oor die werk van die takkantoor in Indië. Hy het in 1946 die agtste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon saam met baie ander getroue broers, waaronder Harold King en Stanley Jones, wat na China gestuur is.a In 1958 is Harold en Stanley, weens hulle predikingswerk in Sjanghai, tronk toe gestuur en in alleenopsluiting geplaas. Toe Harold in 1963 vrygelaat is, het Edwin vir hom geskryf. Nadat Harold van sy reise na die Verenigde State en Brittanje teruggekeer het na Hongkong, het hy teruggeskryf en genoem dat hy graag wou trou. Hy het vir Edwin gesê dat hy dit ’n saak van gebed gemaak het terwyl hy in die tronk was en het gevra of Edwin weet van ’n Getuie wat ’n geskikte maat sou wees.

In Indië word die meeste huwelike gereël, en Edwin is gedurig gevra om sulke reëlings te tref, maar hy het verkies om dit nie te doen nie. Hy het gevolglik Harold se brief vir Ruth McKay gegee, wie se man, Homer, ’n reisende opsiener was. Ruth het uiteindelik vir my geskryf om te sê dat ’n sendeling wat al jare lank in die waarheid is, ’n maat soek, en sy het gevra of ek daarvan sal hou om vir hom te skryf. Sy het my nie gesê wie die broer is of enigiets meer oor hom vertel nie.

Niemand het van my gebed vir ’n maat geweet nie, behalwe natuurlik Jehovah, en my eerste reaksie was om nee te sê. Maar hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek tot die slotsom gekom dat Jehovah selde ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag. Ek het dus vir Ruth teruggeskryf en gesê dat sy die broer kon vra om weer te skryf, solank ek onder geen verpligting was nie. Die tweede brief van Harold King was aan my.

Foto’s van Harold en sy verhaal het in verskeie koerante en tydskrifte verskyn nadat hy uit die Chinese tronk vrygelaat is. Teen hierdie tyd was hy wêreldbekend, maar dit was sy jare van getroue teokratiese diens wat my beïndruk het. Ons het vyf maande lank gekorrespondeer, en daarna is ek Hongkong toe. Ons is op 5 Oktober 1965 getroud.

Ons wou albei graag trou en in die voltydse bediening bly, en namate ons ouer geword het, het ons ’n sterker behoefte aan kameraadskap gehad. Ek het baie lief geword vir Harold, en hoe meer ek die liefdevolle en bedagsame manier gesien het waarop hy mense behandel en probleme in verband met ons diens hanteer het, hoe groter het my respek vir hom geword. Ons was 27 jaar lank baie gelukkig getroud en het baie seëninge uit Jehovah se hand ontvang.

Die Chinese is hardwerkende mense, en ek hou baie van hulle. In Hongkong praat die mense Kantonnees, ’n Chinese dialek wat baie meer klanke, of verbuigings, as Mandaryns het en dus redelik moeilik is om aan te leer. Ek en Harold het eers in die sendinghuis by die takkantoor van Jehovah se Getuies gedien, en daarna het ons in toewysings in verskillende dele van die gebied gedien. Ja, ons was baie gelukkig, maar in 1976 het ek baie siek geword.

Gesondheidsprobleme

Ek het ’n paar maande lank bloeding ondervind en my bloedtelling het geweldig gedaal. Ek moes ’n operasie kry, maar die dokters by die hospitaal het geweier om sonder bloed te opereer omdat ek, volgens hulle, waarskynlik weens skok sou sterf. Op ’n dag, terwyl die dokters my geval bespreek het, het die verpleegsters probeer om my van plan te laat verander deur te sê dat ek geen reg het om my lewe weg te gooi nie. Daar is 12 operasies vir daardie dag gereël, waarvan 10 aborsies was, maar ek het opgemerk dat niemand met die swanger vroue gepraat het oor die feit dat hulle hulle babas se lewens wou neem nie.

Eindelik het Harold ’n brief geskryf om die hospitaal van alle aanspreeklikheid vry te stel indien ek sou sterf, en die dokters het ingestem om die operasie te doen. Ek is na die operasiekamer geneem en vir narkose voorberei. Op die laaste oomblik het die narkotiseur egter geweier om voort te gaan, en die hospitaal moes my ontslaan.

Toe het ons ’n privaat ginekoloog besoek. Aangesien hy besef het hoe ernstig my toestand was, het hy aangebied om die operasie teen ’n lae tarief te doen—solank ons vir niemand sê hoeveel hy ons vra nie. Die operasie was suksesvol—en geen bloed is gebruik nie. Op hierdie tydstip was Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sorg baie duidelik vir my en Harold.

In 1992 het Harold terminaal siek geword. Ons het na die takkantoor getrek, waar ons albei liefdevolle versorging ontvang het. My dierbare man het sy aardse loopbaan in 1993 op die ouderdom van 81 voltooi.

Ek keer terug na Engeland

Ek het dit geniet om ’n lid van die Bethelgesin in Hongkong te wees, maar het dit al hoe moeiliker gevind om die hitte en vogtigheid te verduur. Toe het ek ’n onverwagte brief van die hoofkwartier in Brooklyn ontvang waarin ek gevra is of ek, met die oog op my gesondheid, daarvan sal hou om na ’n takkantoor met meer fasiliteite te trek. In die jaar 2000 het ek dus na Engeland teruggetrek en by die Bethelgesin in Londen aangesluit. Wat ’n liefdevolle voorsiening was dit tog! Ek is hartlik verwelkom, en ek geniet my verskillende werkstoewysings terdeë, soos om te help om na die Bethelbiblioteek met sy 2 000 boeke om te sien.

Ek assosieer ook met die Chinese gemeente wat in Londen vergader, maar hier het dinge verander. Deesdae kom min mense van Hongkong, maar baie kom van die vasteland van China. Hulle praat Mandaryns, en dit bied ’n nuwe uitdaging in die predikingswerk. Van oor die hele land is daar ondervindinge van talle interessante Bybelstudies wat met Chinese universiteitstudente gehou word. Hulle is hardwerkend en hulle waardeer die Bybelwaarhede wat hulle leer. Dit is ’n plesier om hulle te help.

In die stilte van my nuwe tuiste dink ek dikwels na oor my gelukkige lewe en verwonder ek my steeds oor Jehovah se liefderyke goedhartigheid. Dit word gesien in alles wat met sy voorneme verband hou, en dit is baie duidelik dat hy vir sy knegte as individue sorg. Ek het alle rede om dankbaar teenoor hom te wees vir sy liefdevolle sorg.—1 Petrus 5:6, 7.

[Voetnoot]

a Die lewensverhale van hierdie twee sendelinge het verskyn in Die Wagtoring van 1 Oktober 1963, bladsye 450-455, en 15 April 1966, bladsye 175-179, 195-198, 243-245.

[Prent op bladsy 24]

In Indië

[Prente op bladsy 25]

Harold King in 1963 en terwyl hy in die 1950’s in China gedien het

[Prente op bladsy 26]

Ons troudag op 5 Oktober 1965, in Hongkong

[Prent op bladsy 26]

Saam met lede van die Bethelgesin in Hongkong, die Liangs in die middel en die Gannaways regs

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel