Vrae van lesers
Ná die Vloed het Noag ’n duif uit die ark gestuur wat met ’n “olyfblaar” teruggekeer het. Waar het die duif die blaar gevind?
Die Bybel sê vir ons dat “die waters . . . die aarde so erg oorweldig [het] dat al die hoë berge wat onder die ganse hemel was, bedek is” (Genesis 7:19). Terwyl die vloedwaters gesak het, het Noag by drie geleenthede—’n week na mekaar—’n duif uitgestuur. Die tweede keer het die duif teruggekeer met “’n vars geplukte olyfblaar in sy snawel, en so het Noag te wete gekom dat die waters van die aarde afgeneem het”.—Genesis 8:8-11.
Dit is vandag natuurlik baie moeilik om te sê hoe lank ’n sekere deel van die aarde onder water was, want die aarde se topografie is ongetwyfeld deur die Vloed verander. Maar die meeste streke was waarskynlik lank genoeg onder water sodat baie bome doodgegaan het. Tog het party klaarblyklik aan die lewe gebly, en kon groen lote gevolglik uitspruit toe die water gesak het.
Aangaande die olyfboom sê The New Bible Dictionary: “As dit afgekap word, loop daar nuwe lote by die wortels uit, en tot vyf nuwe stamme kan sodoende ontstaan. Olyfbome wat feitlik dood is, loop ook gewoonlik op hierdie manier uit.” Dit is “asof sy lewenskrag onuitwisbaar is”, sê The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge. Geen mens ken vandag al die besonderhede, soos die soutgehalte en temperatuur, van die vloedwaters nie. Ons kan dus nie seker wees oor die uitwerking wat dit op olyfbome en ander plantegroei kon gehad het nie.
Die wildeolyf kan egter nie koue temperature, soos dié op hoër berge, deurstaan nie. Dit groei gewoonlik in gebiede laer as 1 000 meter, waar die gemiddelde temperatuur bo tien grade Celsius is. “Daarom”, sê die boek The Flood Reconsidered, “was die vars geplukte blaar vir Noag ’n aanduiding dat die water in die laer valleie begin sak het.” Toe Noag die duif ’n week later uitgestuur het, het hy nie teruggekeer nie, wat daarop gedui het dat daar meer plantegroei en meer moontlike rusplekke vir die duif was.—Genesis 8:12.