Lewensverhaal
Godvrugtige vergenoegdheid het my deurgehelp
SOOS VERTEL DEUR BENJAMIN IKECHUKWU OSUEKE
Kort nadat ek die voltydse bediening betree het, het ek vir my ouers gaan kuier. Toe my pa my sien, het hy my aan my hemp gegryp en begin skree: “Dief!” Hy het sy kapmes geneem en my met die plat kant geslaan. Die ander dorpsmense het die geraas gehoor en voor ons huis saamgedrom. Wat het ek gesteel? Kom ek verduidelik.
EK IS in 1930 in die dorpie Umuariam in die suidooste van Nigerië gebore, en ek was die eerste van sewe kinders. My oudste suster is op 13-jarige ouderdom oorlede. My ouers was Anglikane. My pa was ’n boer, en my ma het op klein skaal goed verkoop. Sy het na plaaslike markte omtrent 30 kilometer van ons dorpie af geloop om ’n blik palmolie te koop en het laat dieselfde dag teruggekeer. Dan het sy vroeg die volgende oggend na ’n spoorwegdorp ongeveer 40 kilometer van ons af geloop om die olie te verkoop. As sy ’n profyt gemaak het, gewoonlik nie meer as ongeveer een rand nie, het sy vir die gesin kos gekoop en dieselfde dag teruggekeer. Dit was sowat 15 jaar lank haar roetine totdat sy in 1950 oorlede is.
Ek het my opvoeding in ons dorpie begin by ’n skool wat deur die Anglikaanse Kerk bestuur is, maar om laerskool klaar te maak, moes ek in ’n koshuis ongeveer 35 kilometer van die huis af bly. Aangesien my ouers nie geld gehad het sodat ek verder kon skoolgaan nie, het ek begin werk soek. Aanvanklik het ek as ’n huisbediende vir ’n spoorwegbeampte in Lagos, Wes-Nigerië, gewerk en toe vir ’n staatsamptenaar in Kaduna, Noord-Nigerië. In Beninstad, in Midde-Westelike Nigerië, het ek werk gekry as ’n klerk vir ’n prokureur, en later het ek as ’n arbeider by ’n saagmeule gewerk. In 1953 het ek van daar af na Kameroen gereis om by een van my ooms te gaan bly, wat my gehelp het om werk op ’n rubberplantasie te kry. My maandelikse loon was ongeveer 62 rand. Ek het ’n baie nederige werk gehad, maar ek was tevrede solank ek genoeg gehad het om te eet.
’n Arm man deel rykdom uit
Silvanus Okemiri, wat saam met my gewerk het, was een van Jehovah se Getuies. Hy het elke geleentheid gebruik om Bybelkennis aan my mee te deel terwyl ons gras gesny en ’n deklaag om rubberplante gesit het. Hoewel ek na hom geluister het, het ek op daardie stadium niks verder daaromtrent gedoen nie. Nietemin het my oom sy bes gedoen om my te ontmoedig toe hy uitvind dat ek met die Getuies kontak het. Hy het my gewaarsku: “Benji, moenie by mnr. Okemiri gaan kuier nie. Hy is ’n Jehovah-man en arm. Enigiemand wat met hom te doen het, sal net soos hy word.”
Vroeg in 1954 het ek teruggegaan huis toe omdat ek nie meer die moeilike werksomstandighede op die plantasie kon verdra nie. In daardie dae was die Anglikaanse Kerk baie streng wat sedes betref. As ’n volwassene het ek onsedelikheid verafsku. Maar kort voor lank het die skynheiligheid onder medekerkgangers my teen die bors gestuit. Terwyl hulle beweer het dat hulle Bybelse standaarde volg, het hulle lewenswyse hulle woorde weerspreek (Matteus 15:8). Ek en my pa het dikwels gestry, en dit het veroorsaak dat ons verhouding baie gespanne was. Een aand het ek eenvoudig die huis verlaat.
Ek het in Omoba, ’n spoorwegdorpie, gaan bly. Daar het ek weer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Priscilla Isiocha, ’n kennis uit my tuisdorpie, het vir my die boekies “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk” en Na Armageddon—God se nuwe wêrelda gegee. Ek het hulle verslind en was oortuig dat ek die waarheid gevind het. In my kerk het ons nie die Bybel bestudeer nie; ons het meer aandag aan menslike tradisies gegee. Maar die lektuur van die Getuies het deurgaans uit die Bybel aangehaal.
Minder as ’n maand later het ek broer en suster Isiocha gevra wanneer hulle na hulle kerk toe gaan. Toe ek vir die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies bywoon, het ek niks verstaan nie. Die Wagtoring-artikel was oor die aanval deur ‘Gog van Magog’, wat in die profetiese boek Esegiël gemeld word (Esegiël 38:1, 2). Baie van die terme was vir my vreemd, maar ek was so beïndruk deur die hartlike verwelkoming wat ek ontvang het, dat ek besluit het om weer die volgende Sondag te gaan. Tydens die tweede vergadering het ek van die predikingswerk gehoor. Ek het dus vir Priscilla gevra wanneer hulle in die predikingswerk uitgaan. Op die derde Sondag het ek saam met hulle gegaan en ’n klein Bybeltjie saamgedra. Ek het nie ’n velddienssak of enige Bybellektuur gehad nie. Nietemin het ek ’n Koninkryksverkondiger geword en aan die einde van daardie maand velddiens gerapporteer!
Niemand het die Bybel met my gestudeer nie, maar wanneer ek ook al by die Isiochas gekuier het, het ek geloofversterkende en aanmoedigende woorde uit die Skrif gehoor en Bybellektuur gekry. Op 11 Desember 1954 het ek by ’n streekbyeenkoms in Aba my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Die familielid by wie ek gebly het en as vakleerling ingeskryf was, het geweier om my langer van kos te voorsien, het my opleiding gestaak en my nie ’n sent betaal vir die werk wat ek vir hom gedoen het nie. Maar ek het geen wrok teen hom gekoester nie; ek was net dankbaar dat ek nou ’n persoonlike verhouding met God gehad het. Dit het my vertroos en my gemoedsrus gegee. Die plaaslike Getuies het my gehelp. Die Isiochas het vir my kos gegee, en ander het vir my geld geleen om op klein skaal goed te verkoop. In die middel van 1955 het ek ’n tweedehandse fiets gekoop en in Maart 1956 het ek ’n gewone pionier geword. Kort daarna het ek my skuld betaal. Ek het baie min profyt met my koop- en verkooptransaksies gemaak, maar ek kon nou ten minste vir myself sorg. Wat Jehovah voorsien het, was genoeg vir my.
Ek “steel” my broers en susters
Nadat ek my eie verblyf gekry het, wou ek heel eerste my broers en susters geestelik help. As gevolg van my pa se vooroordeel en groot agterdog was hy sterk daarteen gekant dat ek ’n Getuie word. Hoe kon ek dan my broers en susters help om Bybelwaarheid te leer? Ek het aangebied om my jonger broer Ernest te onderhou, en my pa het dus toegelaat dat hy by my kom bly. Ernest het gou die waarheid aangeneem en is in 1956 gedoop. Sy verandering het my pa se teenstand vererger. Nietemin het my suster, wat alreeds getroud was, en haar man ook in die waarheid gekom. Toe ek gereël het dat my tweede suster, Felicia, haar skoolvakansies by my deurbring, het my pa teësinnig ingestem. Felicia is ook kort voor lank as een van Jehovah se Getuies gedoop.
In 1959 het ek huis toe gegaan om Bernice, my derde suster, na Ernest toe te neem om by hom te bly. Dit is toe dat my pa my aangeval en daarvan beskuldig het dat ek sy kinders steel. Hy het nie verstaan dat dit hulle eie besluit was om Jehovah te dien nie. My pa het gesweer dat hy nooit sou toelaat dat Bernice saam met my gaan nie. Maar Jehovah se hand was nie te kort nie, want net die volgende jaar het Bernice haar skoolvakansie by Ernest gaan deurbring. Net soos haar susters het sy die waarheid aangeneem en is sy gedoop.
‘Ek leer die geheim’
In September 1957 het ek as ’n spesiale pionier begin dien en ongeveer 150 uur per maand aan die predikingswerk bestee. Ek en my pioniermaat, Sunday Irogbelachi, het in die uitgestrekte gebied in Akpu-na-abuo, Etche, gedien. By die eerste kringbyeenkoms wat ons bygewoon het terwyl ons daar was, is 13 mense uit ons groep gedoop. Hoe verheug is ons tog om nou 20 gemeentes in daardie gebied te sien!
In 1958 het ek Christiana Azuike leer ken, ’n gewone pionier wat met die Aba-Oos-gemeente geassosieer het. Ek het haar ywer bewonder, en ons is in Desember daardie jaar getroud. Vroeg in 1959 is ek as ’n reisende opsiener aangestel, wat gemeentes van ons geestelike broers besoek en versterk. Ek en my vrou het van toe af tot 1972 amper al die gemeentes van Jehovah se volk in Oos- en Midde-Westelike Nigerië besoek.
Die gemeentes was ver van mekaar af, en fietse was ons vernaamste vervoermiddel. Wanneer ons gemeentes in die groot dorpe gedien het, het ons broers ’n taxi gehuur om ons na die volgende gemeente te neem. In sommige gevalle het die kamers waarin ons gebly het, kleivloere en geen plafon gehad nie. Ons het op beddens geslaap wat van raffiapalmpale gemaak is. Sommige van die beddens het ’n grasmatras gehad wat met ’n mat bedek was; ander het glad nie ’n matras gehad nie. Die hoeveelheid en gehalte van die kos was nie vir ons ’n probleem nie. Aangesien ons in die verlede geleer het om met karige lewensmiddele vergenoeg te wees, het ons enige kos wat vir ons voorgesit is, geniet, en ons gashere het dit waardeer. Omdat sommige stede destyds geen elektrisiteit gehad nie, het ons altyd ons paraffienlamp met ons saamgedra. Maar ondanks moeilike omstandighede het ons talle aangename tye saam met die gemeentes gehad.
Gedurende daardie jare het ons die waarde besef van die apostel Paulus se vermaning: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:8). Paulus het deur teëspoed ’n geheim geleer wat hom gehelp het om tevrede, of vergenoeg, te wees. Wat was dit? Hy het verduidelik: “Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” Ons het dieselfde geheim geleer. Paulus het ook gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:12, 13). Hoe waar was dit tog in ons geval! Ons is geseën met vergenoegdheid, ’n volle maat van opbouende Christelike bedrywighede en gemoedsrus.
Ons dien gemeentes as ’n gesin
Laat in 1959 is ons eerste seun, Joel, gebore, en in 1962 is ons tweede seun, Samuel, gebore. Ek en Christiana het voortgegaan in die reisende werk en het gemeentes saam met ons seuns besoek. In 1967 het die Nigeriese burgeroorlog uitgebreek. Die skole is weens aanhoudende lugaanvalle gesluit. My vrou was ’n onderwyseres voordat sy my in die reisende werk begin vergesel het; gevolglik het sy die kinders gedurende die oorlog by die huis onderrig. Teen die tyd dat Samuel ses jaar oud was, kon hy al lees en skryf. Toe hy ná die oorlog skool toe gegaan het, was hy twee klasse voor sy ouderdomsgroep.
Op daardie stadium het ons nie ten volle besef hoe moeilik dit sou wees om kinders groot te maak terwyl ons in die reisende werk bly nie. Maar toe ons in 1972 as spesiale pioniers aangestel is, het dit ons gehelp. Dit het ons in staat gestel om op een plek te bly sodat ons genoeg aandag aan die geestelikheid van ons gesin kon gee. Ons het ons seuns van kleins af die waarde van godvrugtige vergenoegdheid geleer. Samuel is in 1973 gedoop, en Joel het daardie selfde jaar gewone pionierdiens begin doen. Albei ons seuns het met goeie Christenvroue getrou en maak nou hulle eie gesinne in die waarheid groot.
Die ellende van burgeroorlog
Toe die burgeroorlog uitbreek, was ek, saam met my gesin, besig om ’n gemeente in Onitsha as kringopsiener te bedien. Daardie oorlog het dit verder by ons ingeskerp hoe nutteloos dit is om materiële dinge te versamel of daarop te vertrou. Ek het mense vir hulle lewe sien vlug—terwyl hulle hulle kosbare besittings in die strate los.
Die oorlog het hewiger geword en alle mans is vir diensplig opgeroep. Baie broers wat geweier het om by die leër aan te sluit, is gemartel. Ons kon nie vryelik rondbeweeg nie. Voedseltekorte het ’n verwoestende uitwerking op die land gehad. Die prys van ’n halwe kilogram kassawe het van 48 sent tot 96 rand gestyg en die prys van ’n koppie sout van 55 rand tot 290 rand. Melk, botter en suiker was onbekombaar. Om aan die lewe te bly, het ons groen papajas gemaal en met ’n bietjie kassawemeel gemeng. Ons het ook sprinkane, kassaweskille, hibiskusblare en olifantsgras geëet—enige blare wat ons kon vind. Vleis was ’n luukseartikel; gevolglik het ek vir die kinders akkedisse gevang om te eet. Maar ongeag hoe moeilik dinge geword het, Jehovah het altyd in ons behoeftes voorsien.
Die tekort aan geestelike voorsienings weens die oorlog het egter selfs groter gevaar ingehou. Die meeste broers het uit die oorlogsgebied na die woud of na ander dorpies gevlug en het sodoende die meeste van hulle Bybelpublikasies, indien nie alles nie, verloor. Daarbenewens het die blokkade wat deur die regeringstroepe ingestel is, verhoed dat nuwe Bybellektuur in Biafra inkom. Hoewel die meeste van die gemeentes probeer het om vergaderinge te hou, het die broers geestelik swaar gekry omdat leiding van die takkantoor hulle nie kon bereik nie.
Die stryd teen geestelike verhongering
Reisende opsieners het hulle bes gedoen om voort te gaan met die reëling om elke gemeente te besoek. Aangesien baie broers uit die dorpe gevlug het, het ek na hulle gaan soek waar hulle ook al gevind kon word. Eenkeer het ek my vrou en kinders op ’n veilige plek gelos en ses weke lank alleen gereis terwyl ek die verskillende dorpies en dele van die woud besoek het op soek na die broers.
Terwyl ek ’n gemeente in Ogbunka besoek het, het ek gehoor dat daar ’n groot groep Getuies naby Isuochi in die Okigwe-streek was. Ek het dus gevra dat die boodskap aan die broers in daardie gebied oorgedra word dat hulle by ’n kasjoeplantasie naby die dorpie Umuaku moet bymekaarkom. Ek en ’n bejaarde broer het ongeveer 15 kilometer op ons fietse na die plantasie gery, waar ongeveer 200 Getuies, insluitende vroue en kinders, vergader het. Met die hulp van ’n pioniersuster kon ek nog ’n groep van ongeveer honderd Getuies opspoor, wat in die Lomara-bos skuiling gesoek het.
Lawrence Ugwuegbu was een van ’n groep moedige broers wat in die oorloggeteisterde dorpie Owerri gewoon het. Hy het vir my gesê dat daar baie Getuies in die Ohaji-gebied is. Hulle kon nie vryelik rondbeweeg nie omdat soldate die gebied beset het. Ons twee het in die nag daarheen gery en met ongeveer 120 Getuies in ’n broer se kampong vergader. Ons het ook daardie geleentheid gebruik om ’n paar ander Getuies in hulle skuilplekke te besoek.
Broer Isaac Nwagwu het sy lewe gewaag om my te help om ander ontwortelde broers op te spoor. Hy het my in ’n kano oor die Otamiririvier geneem om meer as 150 Getuies te besoek wat in Egbu-Etche vergader het. Een van die broers daar het uitgeroep: “Dit is die beste dag van my lewe! Ek het nie gedink ek sou ooit weer in my lewe ’n kringopsiener sien nie. As ek nou in hierdie oorlog sterf, is ek tevrede.”
Ek kon te eniger tyd opgeroep word vir diensplig, maar ek het herhaaldelik Jehovah se beskerming ervaar. Terwyl ek een middag op pad terug na my blyplek was nadat ek saam met ongeveer 250 broers vergader het, het ’n militêre kommando my by ’n padblokkade voorgekeer. “Waarom het jy nie by die leër aangesluit nie?” het hulle gevra. Ek het verduidelik dat ek ’n sendeling is wat God se Koninkryk verkondig. Ek het besef dat hulle vasbeslote was om my in hegtenis te neem. Ná ’n skietgebed het ek vir hulle kaptein gesê: “Laat my asseblief gaan.” Tot my verbasing het hy gesê: “Sê jy dat ons jou moet laat gaan?” “Ja,” het ek geantwoord, “laat my gaan.” Hy het gesê: “Jy kan maar gaan.” Nie een van die soldate het enigiets verder gesê nie.—Psalm 65:1, 2.
Vergenoegdheid bring nog seëninge
Na afloop van die oorlog in 1970 het ek voortgegaan in die kringwerk. Dit was ’n voorreg om te help met die herorganisering van die gemeentes. Daarna het ek en Christiana tot 1976 as spesiale pioniers gedien, toe ek weer as ’n kringopsiener aangestel is. Teen die middel van daardie jaar is ek as streekopsiener aangestel. Sewe jaar later is ek en my vrou genooi om by die Nigerië-takkantoor van Jehovah se Getuies, ons huidige tuiste, te dien. Hier by die tak is dit altyd vir ons ’n bron van groot vreugde om weer broers en susters te sien wat ons gedurende die burgeroorlog en op ander tye ontmoet het en wat Jehovah nog getrou dien.
Christiana was deur die jare heen vir my ’n wonderlike ondersteuning en ’n lojale metgesel. Haar positiewe gesindheid en vasberadenheid, ondanks voortdurende gesondheidsprobleme wat sy van 1978 af verduur, het my gehelp om aan die gang te bly. Ons het gesien hoe waar die psalmis se woorde is: “Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag.”—Psalm 41:3.
Wanneer ek terugdink aan al hierdie jare van teokratiese bedrywigheid, kan ek nie anders nie as om Jehovah vir sy wonderlike seëninge te dank. Omdat ek vergenoeg is met wat hy voorsien, kan ek werklik sê dat ek groot geluk gevind het. Die vreugde wat ek smaak om te sien hoe my broers en susters, my kinders en hulle gesinne Jehovah almal saam met my en my vrou dien, is ’n onvergelyklike seën. Jehovah het my geseën met ’n bevredigende en sinvolle lewe. Nie een van my begeertes het onvervuld gebly nie.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Tans uit druk.
[Venster op bladsy 27]
’n Tydige reëling help om die broederskap te onderskraag
In die middel van die 1960’s het vyandskap tussen etniese groepe in Noord- en Oos-Nigerië tot onrus, opstande, wetteloosheid en etniese geweld gelei. Hierdie verwikkelinge het groot druk op Jehovah se Getuies geplaas, wat vasbeslote was om streng neutraal in die konflik te bly. Ongeveer 20 van hulle is vermoor. Die meeste het al hulle besittings verloor.
Die oostelike state van Nigerië het op 30 Mei 1967 van die federasie afgeskei en die Republiek van Biafra gevorm. Die federale leër is gemobiliseer, en ’n algehele blokkade is teen Biafra ingestel. ’n Bloedige en gewelddadige burgeroorlog het gevolg.
Die neutraliteit van Jehovah se Getuies in die Biafraanse gebied het hulle die teiken van aanvalle gemaak. Die koerante het venynige kommentare gepubliseer en sodoende die openbare mening teen hulle opgesweep. Maar Jehovah het seker gemaak dat sy knegte geestelike voedsel ontvang. Hoe?
Vroeg in 1968 het ’n staatsamptenaar ’n pos in Europa gekry en ’n ander is by die Biafraanse vliegveld aangestel. Albei was Getuies. Hulle werkstoewysings het hulle by die teenoorgestelde punte van die enigste skakel tussen Biafra en die buitewêreld geplaas. Hierdie twee Getuies het aangebied om die gevaarlike taak te onderneem om geestelike voedsel in Biafra in te bring. Hulle het ook gehelp om ons behoeftige broers van noodlenigingsvoorrade te voorsien. Die twee broers kon hierdie lewensbelangrike reëling tot aan die einde van die oorlog in 1970 volhou. Een van hulle het later gesê: “Hierdie reëling was beslis nie iets wat mense kon teweeggebring het nie.”
[Prent op bladsy 23]
In 1956
[Prent op bladsy 25]
In 1965, met ons seuns, Joel en Samuel
[Prent op bladsy 26]
Wat ’n seën is dit tog om Jehovah as ’n gesin te dien!
[Prent op bladsy 27]
Vandag dien ek en Christiana by die takkantoor in Nigerië