Die uitdaging om vandag kinders groot te maak
LAAT een aand maak ’n restauranteienaar gereed om die restaurant toe te maak en huis toe te gaan. Dan kom daar twee vroue en ’n kind in en bestel ’n ete. Aangesien die eienaar baie moeg is, is hy lus om vir hulle te sê dat die restaurant toe is, maar hy besluit om hulle maar te bedien. Terwyl die twee vroue gesels en eet, hardloop die kind in die restaurant rond en laat hy koekies op die vloer val, wat hy met sy voete fyntrap. In plaas daarvan om hom te keer, glimlag die kind se ma net. Wanneer die klante uiteindelik vertrek, moet die uitgeputte eienaar die gemors skoonmaak.
Soos jy waarskynlik weet, lig hierdie werklike situasie toe dat kinders in baie gesinne nie goed opgevoed word nie. Die redes daarvoor verskil. Sommige ouers is permissief en laat hulle kinders hulle eie gang gaan omdat hulle dink dat kinders in ’n atmosfeer van vryheid grootgemaak moet word. Of die ouers se lewens is so besig dat hulle dalk nie die tyd neem om hulle kinders genoeg aandag en die nodige opvoeding te gee nie. Party ouers voel dat hulle kind se skoolloopbaan die belangrikste is, en daarom gee hulle die kind amper onbeperkte vryheid solank hy goeie punte op skool kry en by ’n hoogaangeskrewe universiteit aanvaar word.
Tog sê party dat die waardes van ouers en van die gemeenskap in die algemeen moet verander. Hulle voer aan dat kinders by allerhande misdade betrokke raak en dat geweld op skool daagliks toeneem. Gevolglik het die hoof van ’n hoërskool in Seoel, Republiek Korea, beklemtoon dat persoonlikheidsvorming voorkeur moet geniet. Hy het gesê: “Eers nadat jy ’n goeie karakter gebou het, kan jy kennis begin oordra.”
Baie ouers wat wil hê dat hulle kind universiteit toe moet gaan en sukses in die lewe moet behaal, sluit hulle ore vir waarskuwings. As jy ’n ouer is, watter soort mens wil jy hê jou kind moet wees? ’n Volwassene met ’n sedelikheid- en verantwoordelikheidsin? Iemand wat ander in ag neem, wat aanpasbaar is en ’n positiewe gesindheid het? Lees dan asseblief die volgende artikel.