Die prag van Jehovah se skepping
‘Somer en winter sal nooit ophou nie’
’N GLOEIENDE son brand genadeloos neer op die woestyn. In ander dele van die aarde bring dit warmte ná ’n koue winter. Ja, die hitte van die son is een van die vernaamste faktore wat die klimaat en seisoene beïnvloed.
Seisonale toestande is nie oral op die aarde dieselfde nie. Maar hoe raak seisoene jou? Geniet jy die verkwikkende varsheid van lente wanneer jy bome en blomme sien ontwaak? Hoe voel jy oor heerlike someraande? Geniet jy koel herfsdae en die pragtige kleurskakerings van die herfsblare? Het die toneel van ’n sneeubedekte woud ’n kalmerende uitwerking op jou?
Wat gee aanleiding tot seisoene? Kortom, die helling van die aarde. Die aarde se omwentelingsas vorm ’n hoek van omtrent 23,5 grade met die vlak van sy wentelbaan om die son. As die aardas geen helling gehad het nie, sou daar geen seisoene gewees het nie. Die klimaat sou deurentyd dieselfde gewees het. Dit sou ’n uitwerking gehad het op plantegroei sowel as op saai- en oestye.
Ons kan die Skepper se hand in die opeenvolging van die seisoene sien. Die psalmis het heel gepas hierdie woorde tot Jehovah God gerig: “U het al die grense van die aarde vasgestel; somer en winter—u het hulle geformeer.”—Psalm 74:17.a
Vir ’n waarnemer op aarde is die hemelliggame onmiskenbare aanwysers van seisoene. Toe God ons sonnestelsel geskep het, het hy beveel: “Laat daar ligte aan die uitspansel van die hemel wees . . . , en hulle sal dien as tekens en vir seisoene en vir dae en jare” (Genesis 1:14). In die loop van ’n jaar bereik die aarde twee punte in sy wentelbaan waar die son twaalfuur die middag loodreg bo die ewenaar is. Hierdie verskynsels word dag-en-nageweninge genoem, en in baie lande dui dit die begin van die lente en herfs aan. Gedurende dag-en-nageweninge is die dag en nag oor die hele aarde feitlik ewe lank.
Seisoene bestaan en begin nie net weens astronomiese bewegings nie. Seisoene, die klimaat en die weer werk alles ten nouste saam in ’n komplekse stelsel wat lewe onderhou. Toe die Christenapostel Paulus en sy metgesel Barnabas met mense van Klein-Asië gepraat het—waarvan talle goed vertroud was met landbou en voedselproduksie—het hulle gesê dat God die Een is wat “reëns uit die hemel en vrugbare tye . . . gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid . . . vul”.—Handelinge 14:14-17.
Die wonderlike proses van fotosintese onderhou plantegroei op land terwyl fitoplankton dit in die see doen. As gevolg hiervan reageer die huidige voedselketting en die web van biodiversiteit op komplekse maniere op die weer en klimaat. Paulus het gepas na Jehovah se hand in dit alles verwys en gesê: “Die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val en wat dan plantegroei voortbring wat geskik is vir diegene vir wie dit ook bewerk word, ontvang in ruil daarvoor ’n seën van God.”—Hebreërs 6:7.
Die woord “seën” neem groter betekenis aan wanneer ’n mens stilstaan en dink aan wat gebeur op plekke waar lente tot gematigde temperature, langer dae, meer sonskyn en goeie reëns lei. Blomme verskyn en insekte kom uit hulle winterskuilings, gereed om plante te bestuif. Voëls, soos die blougaai wat jy hier sien, vul die woud met kleur en sang, en die landskap kry nuwe lewe. Die lewenstempo versnel, en organismes sit hulle lewenskringloop van geboorte, hergeboorte en groei voort (Hooglied 2:12, 13). Dit berei die weg vir die oestyd in die laat somer of in die herfs.—Eksodus 23:16.
’n Wonderlike bewys van Jehovah se werke is die manier waarop hy die aarde in posisie geplaas het, sodat daar dag en nag, seisoene, asook saai- en oestyd is. Ons glo vas dat somer op winter sal volg. Dit is immers God wat beloof het: “Al die dae dat die aarde bly staan, sal saaityd en oestyd, en koue en hitte, en somer en winter, en dag en nag nooit ophou nie.”—Genesis 8:22.
[Voetnoot]
a Sien die 2004 Kalender van Jehovah se Getuies, Julie/Augustus.
[Venster/Prente op bladsy 9]
’n Satelliet wat onontbeerlik is vir lewe
Deur die eeue heen het die maan mense geïnspireer en met verwondering vervul. Maar besef jy dat die maan ’n invloed op die seisoene het? Die maan help om die aarde se helling, dit wil sê die aantal grade waarmee sy omwentelingsas oorhel, te reguleer. Dit speel “’n noodsaaklike rol om toestande op Aarde voort te bring wat lewe kan onderhou”, sê die wetenskapskrywer Andrew Hill. As daar geen groot natuurlike satelliet was om die helling van ons planeet se as te stabiliseer nie, sou temperature al hoe hoër gestyg het en waarskynlik lewe op aarde onmoontlik gemaak het. ’n Span sterrekundiges het dus tot dié slotsom gekom: “’n Mens kan sê dat die Maan in werklikheid as ’n klimaatreguleerder vir die Aarde optree.”—Psalm 104:19.
[Erkennings]
Maan: U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./Bart O’Gara
[Prent op bladsy 9]
Kamele, Noord-Afrika en Arabiese Skiereiland