Wat maak die lewe werklik sinvol?
TOE Jesse, ’n 17-jarige hoërskoolleerling, gevra is wat hy dink oor die sin van die lewe, het hy geantwoord: “’n Mens moet soveel pret as moontlik hê, so lank as wat jy lewe.” Suzie het ’n ander beskouing gehad. “Ek glo eerlikwaar dat die lewe so sinvol is as wat jy dit maak”, het sy gesê.
Het jy al gewonder oor die sin van die lewe? Is daar een enkele universele doel vir die mens? Of is Suzie reg—dat die lewe hoofsaaklik is wat elkeen daarvan maak? Ongeag hoeveel vordering ons samelewing op tegnologiese gebied maak, dit is asof daar iets binne-in ons is wat na betekenis hunker. Op die een of ander stadium in ons lewe wonder die meeste van ons: ‘Waarom is ons hier?’
Die moderne wetenskap sukkel om daardie vraag te beantwoord. Met watter gevolg? “In evolusie het die lewe op sigself geen sin nie”, het David P. Barash, ’n professor in sielkunde en dierkunde, gesê. Vir evolusionêre bioloë het lewende dinge net een doel: om te oorleef en voort te plant. Gevolglik voer professor Barash aan: “In ’n ontsaglike heelal wat geen doel het nie en wat onbesorg is oor mense, is dit die mens se plig om ons lewe sinvol te maak deur ons vrye, ingeligte en deurdagte keuses.”
Die Bron van ’n sinvolle lewe
Is dit dan al wat die lewe behels—dat elkeen van ons maar doen wat hy of sy wil? Die Bybel het lank gelede reeds geopenbaar dat ons nie net aan ons eie lot oorgelaat is in ’n heelal wat geen doel of sin het nie, maar dat daar ’n rede vir ons bestaan is. Ons bestaan nie weens die een of ander kosmiese ongeluk nie. Daar word vir ons gesê dat die Skepper jare geneem het om die aarde vir die mens se koms voor te berei. Niks is aan die toeval oorgelaat nie. Hy het seker gemaak dat alles “baie goed” is (Genesis 1:31; Jesaja 45:18). Waarom? Omdat God die mens met ’n doel geskep het.
Wat egter interessant is, is dat God nie die toekoms van elke individu voorbestem het nie, hetsy deur goddelike ingryping of deur ’n biologiese proses. Hoewel ons deur ons genetiese erfenis beïnvloed word, is ons grotendeels in beheer van ons dade. Ons het almal die vryheid om ons eie lewensweg te kies.
Hoewel elkeen van ons kan kies wat ons met ons lewe wil doen, sou dit verkeerd wees om die Skepper heeltemal buite rekening te laat. Baie het in werklikheid uitgevind dat die ware sin en doel van die lewe direk verband hou met ’n verhouding met God. Die noodsaaklike verband tussen God en ons doel in die lewe kan duidelik gesien word in God se persoonlike naam, Jehovah, wat letterlik beteken “Hy laat word” (Eksodus 6:3; Psalm 83:18). Dit wil sê, hy vervul stelselmatig wat hy ook al beloof en verwesenlik altyd wat hy hom voorneem om te doen (Eksodus 3:14; Jesaja 55:10, 11). Dink daaraan. Die naam Jehovah is ’n waarborg aan ons almal dat hy die oorspronklike en blywende Bron van ’n sinvolle lewe is.
Net die feit dat ’n mens erken dat die Skepper bestaan, het ’n kragtige uitwerking op jou lewensbeskouing. Linet, ’n 19-jarige, sê: “Wanneer ek al die wonderlike dinge sien wat Jehovah geskep het en aan die doel daarvan dink, bewys dit vir my dat ek ook met ’n doel geskep is.” Amber sê: “Wanneer mense van ‘die onbekende’ praat, herinner dit my altyd daaraan dat dit vir my nie onbekend is nie. Die bewyse dat Jehovah bestaan, kan duidelik gesien word in die dinge wat hy geskep het” (Romeine 1:20). Dit is natuurlik een ding om te erken dat die Skepper bestaan, maar iets heel anders om ’n betekenisvolle verhouding met hom op te bou.
Vriendskap met God
Weer eens kan die Bybel help. Die eerste hoofstukke daarvan voorsien duidelike bewyse dat Jehovah God ’n liefdevolle Vader is. Byvoorbeeld, hy het Adam en Eva nie net geskep en toe oningelig gelaat oor wie hy is nie. Hy het eerder gereeld met hulle gekommunikeer. Hy het hulle nie in Eden geplaas en hulle toe maar aan hulleself oorgelaat terwyl hy na ander belange omgesien het nie. Nee, hy het hulle spesifieke leiding gegee oor hoe hulle hulle lewe ten beste kon benut. Hy het hulle bevredigende werk gegee om te doen, en hy het gereël dat hulle voortdurend meer kennis sou kon inneem (Genesis 1:26-30; 2:7-9). Is dit nie wat jy van ’n bekwame, liefdevolle ouer sal verwag nie? Dink aan wat dit beteken. “Die wete dat Jehovah die aarde geskep en ons die vermoë gegee het om sy skepping te geniet”, sê Denielle, “verseker my dat hy wil hê ons moet gelukkig wees.”
Wat meer is, soos enige goeie vader wil Jehovah hê dat al sy kinders ’n persoonlike verhouding met hom moet geniet. Daarom verseker Handelinge 17:27 ons: “Hy [is] nie ver van elkeen van ons af . . . nie.” Watter verskil maak dit? Amber sê: “Kennis van Jehovah gee my die versekering dat ek nooit heeltemal alleen is nie. Wat ook al gebeur, ek het altyd iemand tot wie ek my kan wend.” En namate jy Jehovah leer ken, sal jy vind dat hy goedhartig, regverdig en goed is. Jy kan op hom staatmaak. “Toe Jehovah my intieme vriend geword het”, sê Jeff, “het ek geweet dat niemand anders meer bereid sal wees om my te help nie.”
Ongelukkig is daar al baie negatiewe dinge oor Jehovah gesê. Hy word verantwoordelik gehou vir baie van die menselyding en slegte dinge wat in die naam van godsdiens gedoen word. Hy word die skuld gegee vir party van die verskriklikste gruweldade wat in die mensegeskiedenis gepleeg is. Maar Deuteronomium 32:4, 5 verduidelik: “Al sy weë is geregtigheid. . . . Hulle het self verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulle.” Dit is derhalwe ons plig om self die feite te ondersoek.—Deuteronomium 30:19, 20.
God se voorneme word vervul
Maar ongeag wat ons besluit om te doen, niks sal keer dat God sy voorneme met hierdie aarde en die mensdom ten volle uitvoer nie. Hy is immers die Skepper. Wat is daardie voorneme dan? Jesus Christus het in sy Bergpredikasie daarna verwys toe hy gesê het: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.” Later het hy aan sy apostel Johannes bekend gemaak dat dit God se voorneme is “om die verderwers van die aarde te verderf” (Matteus 5:5; Openbaring 11:18). Aangesien Jesus gedurende die skeppingstydperk saam met God was, weet hy dat dit van die begin af God se voorneme was dat ’n volmaakte mensegesin vir ewig in ’n paradys op aarde lewe (Genesis 1:26, 27; Johannes 1:1-3). En God verander nie (Maleagi 3:6). “Waarlik, net soos ek gedink het”, beloof God ons, “so moet dit gebeur; en net soos ek besluit het, so sal dit tot stand kom.”—Jesaja 14:24.
In ons tyd het Jehovah reeds die grondslag begin lê vir ’n verenigde mensegemeenskap wat gegrond is op liefde vir God en naaste en nie op gierigheid en selfsug wat so algemeen in vandag se wêreld is nie (Johannes 13:35; Efesiërs 4:15, 16; Filippense 2:1-4). Dit is ’n groep progressiewe en hoogs gemotiveerde vrywilligers met ’n duidelike doel voor oë—om die goeie nuus van God se inkomende Koninkryk te verkondig voordat hierdie stelsel van dinge tot ’n einde kom (Matteus 24:14; 28:19, 20). In meer as 230 lande is daar reeds meer as sesmiljoen Christene wat God as ’n liefdevolle, verenigde internasionale broederskap aanbid.
Maak jou lewe sinvol
As jy op soek is na ’n sinvoller lewe, moet jy onthou dat Jehovah God jou nooi om nou met sy volk—sy “regverdige nasie”—te assosieer (Jesaja 26:2). Maar jy wonder dalk: ‘Hoe is die lewe in hierdie Christengemeenskap? Wil ek werklik betrokke raak?’ Luister na die kommentare van ’n paar jongmense:
Quentin: “Die gemeente is my beskerming teen die wêreld. Die wete dat Jehovah deel is van my lewe, help my om te besef dat hy bestaan en wil hê dat ek gelukkig moet wees.”
Jeff: “Die gemeente is die beste plek waarheen ek kan gaan vir aanmoediging. My broers en susters is daar, en hulle ondersteun en prys my. Hulle is werklik soos my familie.”
Linet: “Die vreugde om te sien dat iemand Bybelwaarheid aanneem en besluit om Jehovah te dien, kan met niks anders vergelyk word nie. Dit gee my groot bevrediging in die lewe.”
Cody: “Sonder Jehovah sou my lewe sinloos gewees het. Ek sou soos soveel ander mense maar doelloos rondgedwaal het in my soeke na geluk, sonder om dit te vind. In plaas daarvan het Jehovah my die ongelooflike voorreg gegee om ’n verhouding met hom te hê, en dit maak my lewe sinvol.”
Stel gerus self ondersoek in. Jy sal vind dat jou lewe ook waarlik sinvol sal wees as jy nader aan jou Skepper, Jehovah God, kom.
[Prente op bladsy 31]
’n Verhouding met God maak ons lewe sinvol
[Foto-erkenning op bladsy 29]
NASA photo