Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 9/1 bl. 19-25
  • ’n Vol en gelukkige lewe van gewillige opofferinge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Vol en gelukkige lewe van gewillige opofferinge
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Klein Pole”
  • ’n Kosbare geestelike erfenis
  • Die voltydse bediening
  • Nog verantwoordelikhede
  • ’n Vol lewe
  • Veranderde omstandighede
  • Jehovah het nog altyd vir ons gesorg
  • Bybellees —My lewenslange bron van krag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die pionierdiens was die dryfkrag in my lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2008 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • “Ek het so baie by ander geleer!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 9/1 bl. 19-25

Lewensverhaal

’n Vol en gelukkige lewe van gewillige opofferinge

SOOS VERTEL DEUR MARIAN EN ROSA SZUMIGA

“In gewilligheid wil ek offerandes aan u bring”, sê Psalm 54:6. Hierdie woorde was nog altyd die tema in die lewe van Marian Szumiga en sy vrou, Rosa, wat in Frankryk woon. Hulle het onlangs vertel van die hoogtepunte in hulle lang, vol lewe in Jehovah se diens.

MARIAN: My ouers was Rooms-Katolieke immigrante uit Pole. My pa was ’n nederige man. Hy het nooit die kans gehad om skool te gaan nie. Maar gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hy leer lees en skryf terwyl hy tyd in die loopgrawe deurgebring het. My pa was ’n godvresende man, maar die kerk het hom dikwels teleurgestel.

Daar was een voorval wat hy nooit vergeet het nie. Op ’n dag gedurende die oorlog het ’n kapelaan my pa se eenheid besoek. Toe ’n bom daar naby ontplof, het die kapelaan paniekbevange gevlug en sy perd met ’n kruis geslaan om hom aan te hits. My pa was geskok dat ’n “verteenwoordiger” van God ’n “heilige” voorwerp gebruik het om vinniger weg te kom. Ten spyte van sulke ondervindinge en die oorlogsgruwels wat hy aanskou het, het my pa se geloof in God nie verswak nie. Hy het dikwels gesê dat dit te danke is aan God dat hy veilig van die oorlog af teruggekeer het.

“Klein Pole”

In 1911 het my pa met ’n meisie van ’n naburige dorpie getrou. Haar naam was Anna Cisowski. Kort ná die oorlog, in 1919, het my pa en ma uit Pole na Frankryk geëmigreer waar my pa werk as ’n steenkoolmynwerker gekry het. Ek is in Maart 1926 in Cagnac-les-Mines, in die suidweste van Frankryk, gebore. Daarna het my ouers hulle in ’n Poolse gemeenskap in Loos-en-Gohelle, naby Lens in noordelike Frankryk, gevestig. Die bakker was Pools, die slagter was Pools en die plaaslike priester was Pools. Geen wonder dat die gebied Klein Pole genoem is nie. My ouers was betrokke by gemeenskapsbedrywighede. My pa het dikwels opvoerings gereël, wat ’n toneelstuk, musiek en sang ingesluit het. Hy het ook gereelde besprekings met die priester gehad, maar hy was nie tevrede wanneer die priester gewoonlik geantwoord het: “Daar is baie verborgenhede” nie.

Eendag in 1930 het twee vroue aan ons deur geklop. Hulle was Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. My pa het ’n Bybel by hulle geneem, ’n boek wat hy jare lank graag wou lees. Hy en my ma het ook die Bybelpublikasies wat die vroue by hulle gelaat het, ywerig gelees. Wat my ouers in hierdie publikasies gelees het, het ’n diep indruk op hulle gemaak. Ten spyte van hulle besige lewe het my ouers vergaderinge van die Bybelstudente begin bywoon. Besprekings met die priester het al hoe driftiger geword totdat hy my ouers eendag gedreig het dat hy my suster Stéphanie uit die katkisasieklas sou sit as hulle voortgaan om met die Bybelstudente te assosieer. “Spaar jou die moeite”, het my pa geantwoord. “Van nou af sal my dogter en die ander kinders saam met ons na die Bybelstudente se vergaderinge gaan.” My pa het uit die kerk bedank, en my ouers is vroeg in 1932 gedoop. Op daardie stadium was daar maar omtrent 800 Koninkryksverkondigers in Frankryk.

Rosa: My ouers was van Hongarye en het hulle, soos Marian se gesin, in die noorde van Frankryk gevestig om op ’n steenkoolmyn te werk. Ek is in 1925 gebore. In 1937 het een van Jehovah se Getuies, Auguste Beugin, of papa Auguste soos ons hom genoem het, vir my ouers Die Wagtoring in Hongaars begin bring. Hulle het die tydskrifte interessant gevind, maar nie een van hulle het ’n Getuie van Jehovah geword nie.

Hoewel ek nog jonk was, is my hart geraak deur wat ek in Die Wagtoring gelees het, en papa Auguste se skoondogter, Suzanne Beugin, het my onder haar vlerke geneem. My ouers het toegelaat dat sy my na die vergaderinge neem. Later, toe ek begin werk het, het my vergaderingbywoning op Sondae my pa geïrriteer. Hoewel hy oor die algemeen ’n goedgeaarde mens was, het hy gekla: “Jy is nooit hier gedurende die week nie, en op Sondae gaan jy na jou vergaderinge toe!” Maar ek het nie opgehou om te gaan nie. Eendag het my pa dus gesê: “Pak jou goed en loop!” Dit was laat in die aand. Ek was maar 17 jaar oud, en ek het nie geweet waarheen om te gaan nie. Op die ou end het ek by Suzanne se huis aangekom en bitterlik gehuil. Ek het omtrent ’n week by Suzanne gebly voordat my pa my suster gestuur het om my te kom haal. Ek was van nature skaam, maar die gedagte in 1 Johannes 4:18 het my gehelp om standvastig te bly. Daardie teks sê dat ‘volmaakte liefde vrees uitwerp’. In 1942 is ek gedoop.

’n Kosbare geestelike erfenis

Marian: Ek is in 1942 gedoop, tesame met my susters Stéphanie en Mélanie en my broer Stéphane. Tuis het ons gesinslewe om die Woord van God gedraai. Wanneer ons almal om die tafel gesit het, het my pa vir ons uit die Poolse Bybel gelees. In die aand het ons dikwels na ons ouers se ondervindinge in die Koninkrykspredikingswerk geluister. Hierdie geestelik opbouende tye het ons geleer om Jehovah lief te hê en al hoe meer op hom te vertrou. Weens swak gesondheid moes my pa ophou werk, maar hy het steeds geestelik en materieel vir ons gesorg.

Aangesien my pa nou meer vrye tyd gehad het, het hy een keer per week ’n Bybelstudie in Pools met die jongmense in die gemeente gehou. Daar het ek Pools leer lees. My pa het die jongmense ook op ander maniere aangemoedig. Toe broer Gustave Zopfer, wat destyds toesig oor die werk van Jehovah se Getuies in Frankryk gehou het, eenkeer ons gemeente besoek het, het my pa ’n koor en ’n Bybeldrama georganiseer, wat gebaseer was op koning Belsasar se feesmaal en die skrif aan die muur (Daniël 5:1-31). Die rol van Daniël is vertolk deur Louis Piéchota, wat later ’n ferm standpunt teen die Nazi’s ingeneem het.a Dit was die soort atmosfeer waarin ons as kinders grootgeword het. Ons het gesien dat ons ouers altyd besig was met geestelike dinge. Vandag besef ek wat ’n kosbare erfenis my ouers aan ons nagelaat het.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, is die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Frankryk verbied. By een geleentheid is ons dorpie deursoek. Al die huise is deur Duitse soldate omsingel. My pa het ’n vals bodem onder in ’n hangkas gemaak, en ons het ’n aantal Bybelpublikasies daaronder weggesteek. Maar ’n paar eksemplare van die boekie Fascism or Freedom was in die eetkamerkas se laai. My pa het dit gou versteek in die sak van ’n baadjie wat in die gang gehang het. Twee soldate en ’n Franse polisieman het ons huis deursoek. Ons het ons asem opgehou. Een van die soldate het die klere wat in die gang gehang het, begin deursoek, en kort daarna het hy by die kombuis ingekom, waar ons was, met die boekies in sy hand. Hy het stip na ons gekyk, die boekies op die tafel gesit en sy soektog voortgesit. Ek het die boekies gou opgetel en dit in ’n laai gesit wat die soldate reeds deursoek het. Die soldaat het nooit kom vra waar die boekies is nie—dit was asof hy heeltemal daarvan vergeet het!

Die voltydse bediening

In 1948 het ek besluit om Jehovah voltyds as ’n pionier te dien. ’n Paar dae later het ek ’n brief van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk ontvang. In die brief is ek gevra om as ’n pionier in die Sedan-gemeente, naby België, te dien. My ouers was verheug om te sien dat ek Jehovah op dié manier wou dien. My pa het nietemin vir my gesê dat pionierdiens nie ’n vakansie is nie. Dit is harde werk. Maar hy het gesê dat ek altyd welkom sal wees in sy huis en dat ek op hom kan reken as ek probleme ondervind. Hoewel my ouers nie baie geld gehad het nie, het hulle vir my ’n nuwe fiets gekoop. Ek het nog steeds die kwitansie vir daardie fiets, en wanneer ek daarna kyk, skiet my oë vol trane. My pa en ma is in 1961 oorlede, maar my pa se wyse woorde sal my altyd bybly; dit het my deur my jare van diens aangespoor en bemoedig.

Nog ’n bron van aanmoediging was ’n 75-jarige Christensuster in die Sedan-gemeente, Elise Motte. Gedurende die somer het ek met my fiets na die afgeleë dorpies gery om die predikingswerk te doen, en Elise het per trein gereis en my daar ontmoet. Maar eendag het die masjiniste gestaak, en Elise kon nie by die huis kom nie. Die enigste oplossing waaraan ek kon dink, was om haar op my fiets se bagasierak te laat sit en haar so huis toe te neem—nie ’n gemaklike rit nie. Die volgende oggend het ek ’n kussing saamgeneem en Elise by haar huis opgelaai. Sy het opgehou om met die trein te ry, en met die geld wat sy gespaar het, kon sy vir ons met middagete iets warms koop om te drink. Wie sou kon dink dat my fiets as openbare vervoer sou dien?

Nog verantwoordelikhede

In 1950 is ek gevra om as kringopsiener in die hele noordelike Frankryk te dien. Aangesien ek maar 23 was, was my eerste reaksie vrees. Ek het gedink dat die takkantoor ’n fout begaan het! Allerhande vrae het deur my kop gemaal: ‘Is ek geestelik en fisies bevoeg vir hierdie taak? Hoe sal ek dit hanteer om elke week by ander mense te bly?’ Wat meer is, vandat ek ses is, sukkel ek met ’n oogafwyking wat divergente strabismus genoem word. Hierdie toestand veroorsaak dat een van my oë uitwaarts gedraai is. Ek was nog altyd baie selfbewus hieroor en was bekommerd oor hoe ander sou reageer. Gelukkig het ek op daardie stadium baie hulp van Stefan Behunick, ’n gegradueerde van die Gileadsendingskool, ontvang. Broer Behunick is weens sy predikingsbedrywighede uit Pole gesit en het ’n toewysing in Frankryk ontvang. Sy moed het ’n groot indruk op my gemaak. Hy het diepe eerbied vir Jehovah en die waarheid gehad. Party het gedink dat hy my te streng behandel het, maar ek het soveel by hom geleer. Sy vrymoedigheid het my gehelp om selfvertroue op te bou.

Kringwerk het my die geleentheid gegee om wonderlike velddiensondervindinge te geniet. In 1953 is ek gevra om ’n meneer Paoli te besoek, wat suid van Parys gewoon het en ’n intekenaar op Die Wagtoring was. Ek het hom besoek en uitgevind dat hy uit die leër getree het en dat hy baie daarvan gehou het om Die Wagtoring te lees. Hy het my vertel dat hy, nadat hy ’n artikel oor die herdenking van Christus se dood in ’n onlangse tydskrif gelees het, die Gedenkmaal op sy eie gevier het en toe die res van die aand die Psalms gelees het. Ons bespreking het byna die hele middag geduur. Voordat ek daar weg is, het ons ook kortliks oor doop gepraat. Ek het hom later ’n uitnodiging gestuur na ons kringbyeenkoms, wat vroeg in 1954 gehou sou word. Hy het gekom, en onder die 26 persone wat by daardie byeenkoms gedoop is, was broer Paoli. Hierdie soort ondervindinge is nog steeds vir my ’n bron van vreugde.

Rosa: Ek het in Oktober 1948 as ’n pionier begin dien. Nadat ek in Anor, naby België, gedien het, is ek na Parys gestuur, saam met ’n ander pionier, Irène Kolanski (nou Leroy). Ons het in ’n klein kamertjie in Saint-Germain-des-Près, in die hartjie van die stad, gewoon. Omdat ek ’n plattelandse meisie was, het die Parysenaars my gefassineer. Ek het gedink dat hulle almal gesofistikeerd en baie intelligent is. Maar in die predikingswerk het ek spoedig uitgevind dat hulle dieselfde as ander mense is. Ons is dikwels deur die deurwagters weggejaag, en dit was moeilik om Bybelstudies te begin. Nietemin het party mense ons boodskap aangeneem.

Gedurende ’n kringbyeenkoms in 1951 is ’n onderhoud oor pionierdiens met my en Irène gevoer. Raai wie het die onderhoud gevoer? ’n Jong kringopsiener met die naam Marian Szumiga. Ons het eenkeer tevore ontmoet, maar ná daardie byeenkoms het ons vir mekaar begin skryf. Ek en Marian het baie in gemeen gehad, onder andere die feit dat ons in dieselfde jaar gedoop is en dieselfde jaar begin pionier het. Maar nog belangriker, ons wou albei in die voltydse bediening bly. Nadat ons die saak dus biddend oorweeg het, is ons op 31 Julie 1956 getroud. Dit het ’n heel nuwe lewe vir my beteken. Ek moes nie net gewoond raak aan die getroude lewe nie, maar ook daaraan om Marian in die kringwerk te vergesel, wat beteken het dat ek elke week op ’n ander bed moes slaap. Aan die begin was dit glad nie maklik nie, maar groot vreugdes het op ons gewag.

’n Vol lewe

Marian: Deur die jare heen het ons die voorreg gehad om te help met voorbereidings vir etlike streekbyeenkomste. Ek het veral aangename herinneringe van die byeenkoms wat in 1966 in Bordeaux gehou is. Destyds was die werk van Jehovah se Getuies in Portugal verbied. Die byeenkomsprogram is dus ook in Portugees aangebied tot voordeel van dié Getuies wat na Frankryk kon reis. Honderde van ons Christenbroers en -susters het uit Portugal aangekom, maar die uitdaging was waar om hulle te huisves. Aangesien die Getuies in Bordeaux nie genoeg plek in hulle huise gehad het nie, het ons ’n bioskoop wat nie meer in gebruik was nie, gehuur om as ’n slaapsaal te dien. Ons het al die sitplekke verwyder en die gordyn van die verhoog gebruik om die saal in twee te verdeel, een kant vir die broers en die ander kant vir die susters. Ons het ook storte en wasbakke ingesit, hooi op die betonvloer gegooi en dit met seile bedek. Almal was tevrede met hierdie reëling.

Ná die byeenkomssessies het ons ons broers en susters by die bioskoopsaal besoek. Daar het ’n wonderlike atmosfeer geheers. Hoe is ons tog bemoedig deur die ondervindinge wat hulle ten spyte van jare lange teenstand geniet het! Toe hulle aan die einde van die byeenkoms vertrek het, het ons almal trane in ons oë gehad.

Twee jaar vroeër, in 1964, het ek nog ’n voorreg ontvang toe ek gevra is om as streekopsiener te dien. Weer eens het ek gewonder of ek bevoeg was vir die taak. Maar ek het vir myself gesê dat die verantwoordelike broers sekerlik gedink het dat ek die toewysing sou kon uitvoer, anders sou hulle my nie gevra het nie. Dit was ’n wonderlike ondervinding om ten nouste met ander reisende opsieners saam te werk. Ek het baie by hulle geleer. Baie van hulle is uitstekende voorbeelde van geduld en volharding, eienskappe wat noodsaaklik is in Jehovah se oë. Ek het tot hierdie besef gekom: as ons leer om te wag, weet Jehovah waar om ons te vind.

In 1982 het die takkantoor ons gevra om ook om te sien na ’n klein groepie van 12 Poolse verkondigers in Boulogne-Billancourt, in die buitewyke van Parys. Dit was ’n verrassing. Ek het teokratiese terme in Pools geken, maar het gesukkel om sinne te bou. Die goedhartigheid en gewillige samewerking van daardie broers het my egter baie gehelp. Vandag is daar ongeveer 170 verkondigers in daardie gemeente, waaronder sowat 60 pioniers. Later het ek en Rosa ook Poolse groepe en gemeentes in Denemarke, Duitsland en Oostenryk besoek.

Veranderde omstandighede

Dit was ons lewe om verskillende gemeentes te besoek, maar weens my verslegtende gesondheid moes ons in 2001 die reisende werk vaarwel sê. Ons het ’n woonstel in die dorp Pithiviers gekry, waar my suster Ruth woon. Die takkantoor het ons goedgunstiglik as spesiale pioniers aangestel met ’n uurvereiste wat aangepas is vir ons omstandighede.

Rosa: Die eerste jaar nadat ons die kringwerk verlaat het, was vir my baie moeilik. Die verandering was so drasties dat ek nutteloos gevoel het. Toe het ek my daaraan herinner: ‘Jy kan nog steeds jou tyd en beskikbare energie goed gebruik deur as ’n pionier te dien.’ Vandag is ek bly om saam met ander pioniers in ons gemeente te werk.

Jehovah het nog altyd vir ons gesorg

Marian: Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah dat Rosa die afgelope 48 jaar my metgesel was. Deur al daardie jare in die reisende werk was sy vir my ’n ware steunpilaar. Ek het haar nie een keer hoor sê nie: ‘Ek wens ons kan ons êrens vestig en ons eie huis hê.’

Rosa: Partykeer het mense vir my gesê: “Julle lei nie ’n normale lewe nie. Julle bly altyd by ander mense.” Maar wat is werklik ’n “normale lewe”? Ons omring ons dikwels met ’n klomp goed wat kan voorkom dat ons geestelike dinge nastreef. Al wat ons werklik nodig het, is ’n gemaklike bed, ’n tafel en ’n paar ander noodsaaklikhede. As pioniers het ons baie min materieel gehad, maar ons het alles gehad wat nodig is om Jehovah se wil te doen. Soms is ek gevra: “Wat sal julle doen wanneer julle oud is en nie julle eie huis en ’n pensioen het nie?” Dan het ek die woorde van Psalm 34:10 aangehaal: “Wat dié betref wat Jehovah soek, dit sal hulle aan niks goeds ontbreek nie.” Jehovah het nog altyd vir ons gesorg.

Marian: Beslis! Jehovah het in werklikheid vir ons baie meer gegee as wat nodig is. Byvoorbeeld, in 1958 is ek gekies om ons kring by die internasionale byeenkoms in New York te verteenwoordig. Maar ons het nie geld gehad om ’n kaartjie vir Rosa te koop nie. Een aand het ’n broer ’n koevert vir ons gegee met “New York” daarop geskryf. Die geskenk in die koevert het Rosa in staat gestel om saam met my te gaan!

Ek en Rosa is nie vir een oomblik spyt oor ons jare in Jehovah se diens nie. Ons het niks verloor nie maar alles gewen—’n vol en gelukkige lewe in die voltydse diens. Jehovah is so ’n wonderlike God. Ons het geleer om volkome op hom te vertrou, en ons liefde vir hom het verinnig. Party van ons Christenbroers het hulle lewe verloor weens hulle getrouheid. Maar ek glo dat iemand sy lewe ook oor die jare geleidelik kan opoffer. Dit is wat ek en Rosa tot dusver probeer doen het, en dit is wat ons vasbeslote is om in die toekoms te doen.

[Voetnoot]

a Louis Piéchota se lewensverhaal, “Ek het die ‘tog na die dood’ oorleef”, het verskyn in Die Wagtoring van 1 November 1980.

[Prent op bladsy 20]

François en Anna Szumiga en hulle kinders, Stéphanie, Stéphane, Mélanie en Marian omstreeks 1930. Marian staan op die stoel

[Prent op bladsy 22]

Bo: Ons versprei Bybelpublikasies by ’n markstalletjie in Armentières, noordelike Frankryk, in 1950

[Prent op bladsy 22]

Links: Stefan Behunick saam met Marian in 1950

[Prent op bladsy 23]

Marian en Rosa die dag voor hulle troue

[Prent op bladsy 23]

Rosa (heel links) saam met haar pioniermaat Irène (vierde van links af) adverteer ’n byeenkoms in 1951

[Prent op bladsy 23]

Kringbesoeke is meestal per fiets gedoen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel