Die voordele daarvan om vrede te maak
ED HET op sterwe gelê, en Bill het hom gehaat. Twee dekades vroeër het Ed ’n besluit geneem wat Bill sy werk gekos het, en dit het hierdie eens hegte vriende uitmekaargedryf. Nou het Ed om verskoning probeer vra sodat hy in vrede kon sterf. Maar Bill het geweier om na hom te luister.
Amper 30 jaar later het Bill, toe hy sterwend was, verduidelik waarom hy nie vergifnis geskenk het nie. “Dit was nie vir Ed nodig om te doen wat hy aan sy beste vriend gedoen het nie. Ek was net nie lus om ná twintig jaar vrede te maak nie. . . . Miskien was ek verkeerd, maar dis hoe ek gevoel het.”a
Persoonlike geskille het nie gewoonlik so ’n tragiese einde nie, maar dit lei dikwels daartoe dat mense gekwets of verbitterd voel. Dink byvoorbeeld aan iemand wat soos Ed voel. Omdat so ’n persoon besef dat sy besluit iemand skade berokken het, lewe hy dalk met ’n skuldige gewete en ’n oorweldigende gevoel van verlies. Tog voel hy gekwets wanneer hy dink aan hoe sy vriend wat hy aanstoot gegee het, hulle vriendskap verwerp het asof dit absoluut niks beteken het nie.
Maar iemand wat soos Bill voel, beskou homself as ’n niksvermoedende slagoffer en kan baie bitter en gegrief voel. Volgens hom het sy voormalige vriend van beter geweet en hom moontlik opsetlik skade berokken. Dikwels wanneer daar onenigheid tussen twee mense is, is elkeen daarvan oortuig dat hy reg is en dat die ander een al die skuld dra. Gevolglik vind twee voormalige vriende dat hulle as ’t ware in ’n oorlog met mekaar gewikkel is.
Hulle voer ’n stryd met geluidlose wapens—die een draai weg wanneer die ander een verbyloop, en hulle ignoreer mekaar wanneer hulle hulle in dieselfde groep bevind. Hulle hou mekaar van ver af met onderlangse blikke dop of gluur mekaar kil en haatdraend aan. Wanneer hulle wel praat, is hulle kortaf of slinger hulle beledigings na mekaar wat soos messe sny.
Maar terwyl hulle blykbaar glad nie langs dieselfde vuur sit nie, stem hulle waarskynlik oor sekere sake saam. Hulle erken moontlik dat hulle ernstige probleme het en dat dit pynlik is om ’n hegte vriendskap te beëindig. Albei ervaar miskien die pyn van die swerende wond, en albei weet dat iets gedoen moet word om dit te genees. Maar wie sal die eerste stap neem om die beskadigde verhouding te heel en vrede te maak? Nie een van die twee is bereid om dit te doen nie.
Tweeduisend jaar gelede het die apostels van Jesus Christus soms heftige argumente gehad (Markus 10:35-41; Lukas 9:46; 22:24). Ná een van hulle woordewisselings het Jesus gevra: “Waaroor het julle op die pad geargumenteer?” Hulle was so verleë dat nie een van hulle geantwoord het nie (Markus 9:33, 34). Jesus se leringe het hulle gehelp om weer met mekaar vrede te maak. Sy raad, en dié van party van sy dissipels, help mense nog steeds om geskille op te los en gebroke vriendskappe te herstel. Kom ons kyk hoe.
Probeer vrede maak
“Ek wil nie met daardie persoon praat nie. As ek haar ooit weer sien, is dit te gou.” As jy dít van iemand gesê het, moet jy iets doen, soos die volgende Bybelgedeeltes toon.
Jesus het geleer: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer” (Matteus 5:23, 24). Hy het ook gesê: “As jou broer ’n sonde begaan, gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot” (Matteus 18:15). Hetsy jy iemand aanstoot gegee het of iemand jou aanstoot gegee het, Jesus se woorde beklemtoon die feit dat jy die saak gou met daardie persoon moet uitpraat. Jy moet dit “in ’n gees van sagmoedigheid” doen (Galasiërs 6:1). Die doel van so ’n gesprek is nie om jou aansien te red deur jou te probeer regverdig of jou teenstander te intimideer sodat hy om verskoning vra nie, maar om vrede te maak. Werk hierdie Bybelraad?
Ernest is ’n toesighouer in ’n groot kantoor.b Sy werk vereis al jare lank dat hy delikate sake met allerhande soorte mense behartig en goeie werksverhoudings met hulle behou. Hy het gesien hoe maklik geskille tussen mense kan ontstaan. Hy sê: “Ek het soms meningsverskille met ander. Maar wanneer dit gebeur, gaan sit ek en die persoon en bespreek ons die probleem. Gaan dadelik na hulle toe. Praat dit uit met hulle, met die doel om vrede te maak. Dit werk altyd.”
Alicia het vriende uit baie kulture en sy sê: “Soms sê ek iets, en dan besef ek dat ek iemand miskien aanstoot gegee het. Ek gaan vra daardie persoon om verskoning. Dalk vra ek meer dikwels om verskoning as wat nodig is, want al het die ander persoon nie aanstoot geneem nie, voel ek beter. Dan weet ek daar is geen misverstand nie.”
Kom struikelblokke te bowe
Maar die weg tot vrede in persoonlike geskille word dikwels deur struikelblokke versper. Het jy al ooit gesê: “Waarom moet ek eerste vrede maak? Hy het die probleem veroorsaak.” Of het jy al ooit na iemand toe gegaan om ’n probleem uit te praat en dan het hy gesê: “Ek het niks om vir jou te sê nie”? Party mense reageer op hierdie maniere as gevolg van hulle gekwetste gevoelens. Spreuke 18:19 sê: “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad; en daar is twiste wat soos die grendel van ’n woontoring is.” Neem dus die ander persoon se gevoelens in ag. As hy jou afjak, wag ’n rukkie en probeer weer. Dalk maak die “sterk stad” dan oop en word die “grendel” verwyder van die deur wat tot versoening lei.
Nog ’n struikelblok in die weg tot vrede kan verband hou met ’n persoon se selfrespek. Vir party mense is dit ’n vernedering om om verskoning te vra of selfs net met ’n teenstander te praat. Dit is gepas dat iemand besorg is oor sy selfrespek, maar laat dit sy selfrespek toeneem of afneem as hy weier om vrede te maak? Is hierdie besorgdheid oor selfrespek miskien ’n dekmantel vir trots?
Die Bybelskrywer Jakobus toon dat daar ’n verband is tussen ’n twisgierige gees en trots. Nadat hy die “oorloë” en “bakleiery” onder party Christene blootgelê het, sê hy verder: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (Jakobus 4:1-3, 6). Hoe belemmer hoogmoed, of trots, die vredesproses?
Trots bedrieg mense en laat hulle dink dat hulle beter is as ander. Hoogmoedige mense voel dat hulle die gesag het om die sedelike waarde van hulle medemens te beoordeel. In watter opsig? Wanneer meningsverskille ontstaan, beskou hulle dikwels hulle teenstanders as ’n verlore saak vir wie daar geen hoop op verbetering is nie. Trots beweeg party mense om te besluit dat diegene wat met hulle verskil, geen aandag werd is nie, wat nog te sê ’n opregte apologie. Gevolglik laat diegene wat deur persoonlike trots gedryf word, dikwels toe dat geskille voortduur pleks van dit behoorlik op te los.
Soos ’n versperring wat verkeer op ’n hoofweg tot stilstand bring, bring trots dikwels die stappe wat tot vrede lei, tot stilstand. As jy dus vind dat jy pogings weerstaan om met iemand vrede te maak, worstel jy dalk met trots. Hoe kan jy trots te bowe kom? Deur die teenoorgestelde eienskap te ontwikkel—nederigheid.
Doen die teenoorgestelde
In die Bybel word nederigheid sterk aanbeveel. “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe” (Spreuke 22:4). In Psalm 138:6 lees ons hoe God nederige mense asook trotse mense beskou: “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af.”
Baie mense stel nederigheid gelyk met vernedering. Dit is blykbaar hoe wêreldheersers voel. Hoewel hele nasies hulle aan die wil van politieke leiers onderwerp, skram hierdie leiers weg van die uitdaging om hulle foute nederig te erken. Om ’n leier te hoor sê: “Ek is jammer”, is groot nuus. Toe ’n voormalige regeringsamptenaar onlangs om verskoning gevra het vir sy onvermoë om ’n noodlottige ramp te voorkom, het sy woorde groot opslae in die nuus gemaak.
Let op hoe een woordeboek nederigheid omskryf: “Die eienskap van nederig te wees of ’n beskeie mening van jouself te hê . . . die teenoorgestelde van trots of hoogmoed.” Nederigheid beskryf dus ’n persoon se beskouing van homself, nie ander se mening van hom nie. Dit verneder ’n persoon nie as hy sy foute nederig erken en opreg vergifnis vra nie; dit verbeter eerder sy reputasie. Die Bybel sê: “Voor ’n ineenstorting is die hart van ’n man verwaand, en nederigheid gaan heerlikheid vooraf.”—Spreuke 18:12.
Aangaande politici wat nie vir hulle foute om verskoning vra nie, het een waarnemer gesê: “Ongelukkig dink hulle blykbaar dat so ’n bekentenis ’n teken van swakheid is. Swak en onseker mense sê amper nooit ‘Jammer’ nie. Dit is groothartige en moedige mense wat nie verneder voel as hulle sê: ‘Ek het ’n fout gemaak’ nie.” Dieselfde geld vir diegene wat nie politieke mag het nie. As jy ’n poging aanwend om trots met nederigheid te vervang, is jou kanse baie groter om vrede in ’n persoonlike geskil te herstel. Let op hoe een familie hierdie waarheid ontdek het.
’n Misverstand het spanning tussen Julie en haar broer William veroorsaak. William het so kwaad geword vir Julie en haar man, Joseph, dat hy alle kontak met hulle verbreek het. Hy het selfs al die geskenke wat Julie en Joseph oor die jare heen vir hom gegee het, teruggegee. Die maande het verbygegaan en verbittering het die gehegtheid verdring wat daar voorheen tussen hierdie broer en suster was.
Joseph het egter besluit om Matteus 5:23, 24 toe te pas. Hy het sy swaer in ’n gees van sagmoedigheid probeer nader en briewe aan hom gestuur waarin hy om verskoning gevra het dat hy hom aanstoot gegee het. Joseph het sy vrou aangespoor om haar broer te vergewe. Mettertyd het William gesien dat Julie en Joseph werklik vrede wou maak, en sy gesindheid het versag. William en sy vrou en Julie en Joseph het bymekaargekom; hulle almal het om verskoning gevra, mekaar omhels en hulle vriendskap herstel.
As jy graag ’n persoonlike geskil met iemand wil oplos, moet jy Bybelleringe geduldig toepas en vrede met dié persoon probeer maak. Jehovah sal jou help. Wat God vir eertydse Israel gesê het, sal in jou geval geld: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word.”—Jesaja 48:18.
[Voetnote]
a Gebaseer op The Murrow Boys—Pioneers on the Front Lines of Broadcast Journalism deur Stanley Cloud en Lynne Olson.
b Van die name is verander.
[Prente op bladsy 7]
Vreedsame verhoudings word dikwels herstel as ’n mens om verskoning vra