Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 3/15 bl. 15-20
  • “Julle is met ’n prys gekoop”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Julle is met ’n prys gekoop”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Doen alles tot heerlikheid van God”
  • “Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het”
  • Moenie “na die dinge kyk wat agter is” nie
  • ‘Julle het julle vrug’
  • “Dien Jehovah as slawe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die lang stryd teen slawerny
    Ontwaak!—2002
  • Keur die Bybel slawerny goed?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 3/15 bl. 15-20

“Julle is met ’n prys gekoop”

“Julle is met ’n prys gekoop. Verheerlik God dan.”—1 KORINTIËRS 6:20.

1, 2. (a) Hoe moes Israelitiese slawe volgens die Mosaïese Wet behandel word? (b) Watter keuse het die slaaf gehad wat sy heer liefgehad het?

“IN DIE oudheid was slawerny baie algemeen en is dit oral aanvaar”, sê die Holman Illustrated Bible Dictionary. Dit voeg by: “Die ekonomie van Egipte, Griekeland en Rome was op slawearbeid gegrond. In die eerste Christelike eeu was een uit drie persone in Italië en een uit vyf elders ’n slaaf.”

2 Hoewel slawerny ook in eertydse Israel bestaan het, het die Mosaïese Wet verseker dat Hebreeuse slawe beskerm word. Die Wet het byvoorbeeld vereis dat ’n Israeliet nie langer as ses jaar as ’n slaaf kon dien nie. In die sewende jaar moes “hy as vrygelatene verniet weggaan”. Maar die voorskrifte in verband met die behandeling van slawe was so regverdig en menslik dat die Wet van Moses die volgende voorsiening gemaak het: “As die slaaf nadruklik sê: ‘Ek het my heer, my vrou en my seuns werklik lief; ek wil nie as vrygelatene weggaan nie’, dan moet sy heer hom nader bring voor die ware God en hom tot by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor, en hy moet tot onbepaalde tyd sy slaaf wees.”—Eksodus 21:2-6; Levitikus 25:42, 43; Deuteronomium 15:12-18.

3. (a) Watter soort slawerny het die eerste-eeuse Christene aanvaar? (b) Wat beweeg ons om God te dien?

3 Die voorsiening van vrywillige knegskap het ’n voorskou gegee van die soort slawerny waaronder ware Christene is. Byvoorbeeld, die Bybelskrywers Paulus, Jakobus, Petrus en Judas het hulle as slawe van God en van Christus geïdentifiseer (Titus 1:1; Jakobus 1:1; 2 Petrus 1:1; Judas 1). Paulus het die Christene in Tessalonika daaraan herinner dat hulle hulle “van [hulle] afgode tot God gekeer het om ’n lewende en ware God as slawe te dien” (1 Tessalonisense 1:9). Wat het daardie Christene beweeg om gewillige slawe van God te word? Wel, wat het die Israelitiese slaaf beweeg om van sy persoonlike vryheid afstand te doen? Was dit nie liefde vir sy heer nie? Ons slawerny as Christene is gegrond op liefde vir God. Wanneer ons die ware en lewende God leer ken en liefkry, word ons beweeg om hom “met [ons] hele hart en [ons] hele siel” te dien (Deuteronomium 10:12, 13). Maar wat behels dit om slawe van God en van Christus te word? Hoe raak dit ons daaglikse lewe?

“Doen alles tot heerlikheid van God”

4. Hoe word ons slawe van God en van Christus?

4 ’n Slaaf is al omskryf as “iemand wat die wettige eiendom van ’n ander persoon of persone is en van wie algehele gehoorsaamheid vereis word”. Ons word Jehovah se wettige eiendom wanneer ons ons lewe aan hom toewy en gedoop word. “Julle [behoort] nie aan julleself nie, want julle is met ’n prys gekoop”, verduidelik die apostel Paulus (1 Korintiërs 6:19, 20). Daardie prys is natuurlik Jesus Christus se losprysoffer, aangesien God ons op grond daarvan as sy knegte aanvaar, hetsy ons gesalfde Christene of hulle metgeselle met ’n aardse hoop is (Efesiërs 1:7; 2:13; Openbaring 5:9). Gevolglik “behoort [ons] aan Jehovah” van ons doop af (Romeine 14:8). Aangesien ons met die kosbare bloed van Jesus Christus gekoop is, word ons ook sy slawe en is ons onder verpligting om sy gebooie te bewaar.—1 Petrus 1:18, 19.

5. Wat is ons vernaamste verpligting as slawe van Jehovah, en hoe kan ons dit nakom?

5 Slawe moet hulle heer gehoorsaam. Ons knegskap is vrywillig en spruit voort uit ons liefde vir die Heer. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, sê 1 Johannes 5:3, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.” Ons gehoorsaamheid is dus ’n bewys van ons liefde sowel as van ons onderworpenheid. Dit blyk uit alles wat ons doen. “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen”, het Paulus gesê, “doen alles tot heerlikheid van God” (1 Korintiërs 10:31). Ons wil in ons daaglikse lewe, selfs in klein dingetjies, toon dat ons “Jehovah as slawe [dien]”.—Romeine 12:11.

6. Hoe raak die feit dat ons slawe van God is, die besluite wat ons in die lewe neem? Lig dit toe met ’n voorbeeld.

6 Wanneer ons byvoorbeeld besluite neem, wil ons seker maak dat ons die wil van ons hemelse Heer, Jehovah, in ag neem (Maleagi 1:6). Moeilike besluite kan ons gehoorsaamheid aan God op die proef stel. Sal ons dan eerder sy raad volg as die neigings van ons ‘verraderlike’ en ‘desperate’ hart? (Jeremia 17:9). Melisa, ’n ongetroude Christen, was net ’n kort rukkie gedoop toe ’n jong man belangstelling in haar begin toon het. Hy het na ’n gawe man gelyk, en hy was reeds besig om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. ’n Ouer man het nietemin met Melisa gepraat oor die wysheid daarvan om Jehovah se gebod te gehoorsaam om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39; 2 Korintiërs 6:14). “Dit was nie vir my maklik om hierdie raad te volg nie”, erken Melisa. “Maar ek het besluit om God se duidelike instruksies te gehoorsaam, aangesien ek my aan hom toegewy het om sy wil te doen.” Sy vertel wat gebeur het: “Ek is so bly dat ek die raad gevolg het. Die man het kort daarna ophou studeer. As ek voortgegaan het met daardie verhouding, was ek nou met ’n ongelowige getroud.”

7, 8. (a) Waarom moet ons nie onnodig daaroor besorg wees om mense te behaag nie? (b) Lig toe hoe mensevrees te bowe gekom kan word.

7 As slawe van God moet ons nie slawe van mense word nie (1 Korintiërs 7:23). Niemand van ons hou weliswaar daarvan om ongewild te wees nie, maar ons moet in gedagte hou dat Christene standaarde het wat verskil van dié in die wêreld. Paulus het gevra: “Probeer ek mense behaag?” Sy slotsom was: “As ek nog steeds mense behaag het, sou ek nie Christus se slaaf wees nie” (Galasiërs 1:10). Ons kan eenvoudig nie voor portuurdruk swig en mensebehaers word nie. Wat kan ons dan doen wanneer ons voor sulke portuurdruk te staan kom?

8 Beskou die voorbeeld van Elena, ’n jong Christen in Spanje. ’n Hele paar van haar klasmaats het bloed geskenk. Hulle het geweet dat Elena, wat een van Jehovah se Getuies is, nie bloed sou skenk of bloedoortappings sou aanvaar nie. Toe die geleentheid hom voordoen om haar standpunt aan die hele klas te verduidelik, het Elena gesê dat sy ’n aanbieding sou doen. “Om eerlik te wees, ek was baie senuweeagtig daaroor”, verduidelik Elena. “Maar ek het goed voorberei, en die resultate was verbasend. Ek het die respek van baie van my skoolmaats gewen, en die onderwyser het vir my gesê hy bewonder die werk wat ek doen. Bowenal het ek tevrede gevoel dat ek Jehovah se naam verdedig het en die redes vir my skriftuurlike standpunt goed kon verduidelik” (Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:28, 29). Ja, as slawe van God en van Christus is ons opvallend anders. Maar ons sal heel moontlik mense se respek wen as ons bereid is om ons opvattings respekvol te verdedig.—1 Petrus 3:15.

9. Wat leer ons by ’n engel wat aan die apostel Johannes verskyn het?

9 As ons in gedagte hou dat ons slawe van God is, kan dit ons ook help om nederig te bly. By een geleentheid was die apostel Johannes so beïndruk deur ’n luisterryke visioen van die hemelse Jerusalem dat hy neergeval het om te aanbid voor die voete van die engel wat as God se woordvoerder gedien het. “Pas op!” het die engel vir hom gesê. “Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers wat profete is en van dié wat die woorde van hierdie boekrol bewaar. Aanbid God” (Openbaring 22:8, 9). Wat ’n uitstekende voorbeeld het die engel tog vir al God se slawe gestel! Sekere Christene beklee dalk posisies van spesiale verantwoordelikheid in die gemeente. Maar Jesus het gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:26, 27). As Jesus se volgelinge is ons almal slawe.

“Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het”

10. Gee skriftuurlike voorbeelde om te toon dat dit nie vir getroue knegte van God altyd maklik was om sy wil te doen nie.

10 Dit is nie vir onvolmaakte mense altyd maklik om God se wil te doen nie. Die profeet Moses was teësinnig om te gehoorsaam toe Jehovah hom gevra het om die kinders van Israel uit slawerny in Egipte te gaan lei (Eksodus 3:10, 11; 4:1, 10). Toe Jona ’n toewysing ontvang het om ’n oordeelsboodskap aan die mense van Nineve te verkondig, het hy “opgestaan en na Tarsis gevlug, weg van Jehovah af” (Jona 1:2, 3). Barug, die sekretaris van die profeet Jeremia, het gekla dat hy moeg geword het (Jeremia 45:2, 3). Hoe moet ons reageer wanneer ons persoonlike begeertes of voorkeure met die uitvoering van God se wil bots? ’n Illustrasie wat Jesus gegee het, verskaf die antwoord.

11, 12. (a) Gee ’n kort opsomming van Jesus se illustrasie in Lukas 17:7-10. (b) Watter les leer ons uit Jesus se illustrasie?

11 Jesus het vertel van ’n slaaf wat sy heer se kudde die hele dag lank in die veld opgepas het. Toe die slaaf terugkom by die huis, moeg ná ongeveer 12 uur se harde werk, het sy heer hom nie genooi om te sit en ’n lekker aandete te geniet nie. Die heer het eerder gesê: “Maak iets vir my aandete gereed, en sit ’n voorskoot aan en bedien my totdat ek klaar geëet en gedrink het, en agterna kan jy eet en drink.” Die slaaf kon eers na sy eie behoeftes omsien nadat hy sy heer gedien het. Jesus het die illustrasie afgesluit deur te sê: “So ook moet julle, wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het.’”—Lukas 17:7-10.

12 Jesus het nie hierdie illustrasie gegee om te toon dat Jehovah nie waardeer wat ons in sy diens doen nie. Die Bybel sê duidelik: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Die punt van Jesus se gelykenis is eerder dat ’n slaaf nie homself kan behaag of hom op sy eie gemak kan toespits nie. Toe ons ons aan God toegewy het en besluit het om sy slawe te word, het ons ingestem om sy wil bo ons eie te stel. Ons moet óns wil aan die wil van God onderwerp.

13, 14. (a) Onder watter omstandighede moet ons miskien ons eie neigings onderdruk? (b) Waarom moet ons God se wil laat seëvier?

13 Dit verg dalk groot inspanning van ons om God se Woord en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” gereeld te bestudeer (Matteus 24:45). Dit kan veral die geval wees as ons dit nog altyd moeilik gevind het om te lees of as ’n publikasie “die diep dinge van God” bespreek (1 Korintiërs 2:10). Maar behoort ons nie tyd in te ruim vir persoonlike studie nie? Ons moet ons moontlik dissiplineer om te gaan sit en tyd aan die studiemateriaal te bestee. Hoe sal ons andersins ’n aptyt ontwikkel vir “vaste voedsel [wat] vir volwasse mense [is]”?—Hebreërs 5:14.

14 Wat van die tye wanneer ons ná ’n lang dag se werk moeg tuiskom? Ons moet ons dalk inspan om Christelike vergaderinge by te woon. Of dit druis miskien teen ons natuurlike neiging in om vir vreemdelinge te preek. Paulus self het erken dat daar tye kan wees wanneer ons die goeie nuus ‘teen ons sin’ verkondig (1 Korintiërs 9:17). Maar ons doen hierdie dinge omdat Jehovah—ons hemelse Heer, vir wie ons lief is—vir ons sê ons moet. En voel ons nie altyd tevrede en verkwik nadat ons ons ingespan het om te studeer, vergaderinge by te woon en die predikingswerk te doen nie?—Psalm 1:1, 2; 122:1; 145:10-13.

Moenie “na die dinge kyk wat agter is” nie

15. Hoe het Jesus ’n voorbeeld van onderworpenheid aan God gestel?

15 Jesus Christus het sy onderworpenheid aan sy hemelse Vader op ’n voortreflike wyse getoon. “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het”, het Jesus vir sy dissipels gesê (Johannes 6:38). Toe hy in die tuin van Getsemane in sielsangs verkeer het, het hy gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan. Nogtans nie soos ek wil nie, maar soos u wil.”—Matteus 26:39.

16, 17. (a) Hoe moet ons die dinge beskou wat ons agtergelaat het? (b) Toon hoe Paulus realisties was deur sy wêreldse vooruitsigte as “’n klomp vullis” te beskou.

16 Jesus Christus wil hê dat ons getrou moet bly aan ons besluit om slawe van God te wees. Hy het gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie” (Lukas 9:62). Om gedurig te dink aan die dinge wat ons agtergelaat het, is beslis nie die regte ding om te doen wanneer ons God as slawe dien nie. Ons moet eerder dit wat ons verkry het omdat ons besluit het om God se slawe te wees, as kosbaar beskou. Paulus het aan die Filippense geskryf: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen.”—Filippense 3:8.

17 Dink aan alles wat Paulus as ’n klomp vullis beskou het en prysgegee het ter wille van die geestelike belonings as ’n slaaf van God. Hy het nie net die geriewe van die wêreld agtergelaat nie, maar ook die moontlikheid om ’n toekomstige leier van Judaïsme te word. As Paulus voortgegaan het om Judaïsme te beoefen, sou hy later heel moontlik ’n soortgelyke posisie beklee het as dié van Simeon, die seun van Paulus se opvoeder, Gamaliël (Handelinge 22:3; Galasiërs 1:14). Simeon het ’n leier van die Fariseërs geword en—ondanks sekere voorbehoude—’n prominente rol in die Joodse opstand teen Rome in 66-70 G.J. gespeel. Hy het in daardie botsing gesterf, deur die toedoen van Joodse ekstremiste of die Romeinse leër.

18. Gee ’n voorbeeld van hoe geestelike strewes belonings meebring.

18 Baie van Jehovah se Getuies het Paulus se voorbeeld gevolg. “Binne ’n paar jaar nadat ek die skool verlaat het, het ek ’n werk as ’n organiserende sekretaresse vir ’n vooraanstaande prokureur in Londen gekry”, sê Jean. “Ek het my werk geniet en ’n goeie salaris verdien, maar in my hart het ek geweet dat ek meer in Jehovah se diens kon doen. Uiteindelik het ek my bedanking ingedien en pionierdiens begin doen. Ek is so dankbaar dat ek bykans 20 jaar gelede daardie stap geneem het! My voltydse diens het my lewe meer verryk as wat enige sekretariële werk ooit sou kon. Niks verskaf groter bevrediging as om te sien hoe Jehovah se Woord iemand se lewe kan verander nie. Dit is wonderlik om ’n aandeel aan dié proses te hê. Wat ons Jehovah gee, is niks in vergelyking met wat ons ontvang nie.”

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen, en waarom?

19 Ons omstandighede verander dalk met verloop van tyd. Maar ons toewyding aan God bly dieselfde. Ons is nog steeds Jehovah se slawe, en hy laat dit aan ons oor om te besluit hoe ons ons tyd, energie, talente en ander bates ten beste kan benut. Die besluite wat ons in hierdie opsig neem, kan dus ons liefde vir God weerspieël. Dit toon ook in watter mate ons bereid is om persoonlike opofferings te maak (Matteus 6:33). Moet ons nie vasbeslote wees om Jehovah ons beste te gee nie, ongeag ons omstandighede? Paulus het geskryf: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie.”—2 Korintiërs 8:12.

‘Julle het julle vrug’

20, 21. (a) Watter vrug bring slawe van God voort? (b) Hoe beloon Jehovah diegene wat hom hulle beste gee?

20 Dit is nie onderdrukkend om slawe van God te wees nie. Inteendeel, dit bevry ons van ’n skadelike vorm van slawerny wat ons ons geluk ontneem. “Omdat julle van die sonde vrygemaak is maar slawe van God geword het”, het Paulus geskryf, “[het julle] julle vrug ten opsigte van heiligheid, en die uiteinde—die ewige lewe” (Romeine 6:22). Ons diens aan God as slawe dra vrug ten opsigte van heiligheid deurdat ons die voordele van heilige, of sedelike rein, gedrag maai. Daarbenewens lei dit tot die ewige lewe in die toekoms.

21 Jehovah is vrygewig teenoor sy slawe. Wanneer ons ons bes doen in sy diens, maak hy vir ons “die sluise van die hemel” oop en stort hy op ons “’n seën [uit] totdat daar geen gebrek meer is nie” (Maleagi 3:10). Wat ’n vreugde sal dit tog wees om voort te gaan om tot in alle ewigheid as Jehovah se slawe te dien!

Onthou jy?

• Waarom word ons slawe van God?

• Hoe toon ons ons onderworpenheid aan die wil van God?

• Waarom moet ons bereid wees om Jehovah se wil bo ons eie te stel?

• Waarom moet ons nie “na die dinge kyk wat agter is” nie?

[Prent op bladsy 16, 17]

Die voorsiening van vrywillige slawerny in Israel was ’n voorskou van ons knegskap as Christene

[Prent op bladsy 17]

Ons word God se slawe wanneer ons gedoop word

[Prente op bladsy 17]

Christene stel God se wil eerste

[Prent op bladsy 18]

Moses was teësinnig om sy toewysing te aanvaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel