Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 6/22 bl. 4-6
  • Die lang stryd teen slawerny

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lang stryd teen slawerny
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stryd teen slawerny
  • Was die stryd tevergeefs?
  • Bevryding uit slawerny—Destyds en vandag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Het God die slawehandel goedgekeur?
    Ontwaak!—2001
  • Keur die Bybel slawerny goed?
    Ontwaak!—2011
  • “Julle is met ’n prys gekoop”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 6/22 bl. 4-6

Die lang stryd teen slawerny

“Dit is wat dit beteken om ’n slaaf te wees: om mishandel te word en dit te verdra, om deur geweld verplig te wees om onreg te ly.”—Euripides, ’n Griekse toneelskrywer van die vyfde eeu v.G.J.

SLAWERNY het ’n lang en dikwels lelike geskiedenis. Sedert die vroegste beskawings in Egipte en Mesopotamië het magtige nasies hulle swakker bure tot slawe gemaak. So het een van die hartseerste verhale van die mens se ongeregtigheid begin.

Gedurende die tweede millennium v.G.J. het Egipte ’n hele nasie van moontlik etlike miljoene mense tot slawe gemaak (Eksodus 1:13, 14; 12:37). Toe Griekeland oor die Mediterreense lande geheers het, het baie Griekse gesinne ten minste een slaaf gehad—net soos ’n tipiese gesin vandag in sommige lande dalk ’n motor besit. Die Griekse filosoof Aristoteles het hierdie gebruik probeer regverdig deur te beweer dat die mensdom in twee klasse verdeel is, die meesters en die slawe, en dat eersgenoemde die natuurlike reg het om te beveel, terwyl laasgenoemde eenvoudig gebore is om te gehoorsaam.

Die Romeine het slawerny selfs meer as die Grieke bevorder. In die apostel Paulus se dag was moontlik die helfte van die stad Rome se inwoners slawe—klaarblyklik honderdduisende mense. En die Romeinse Ryk moes blykbaar elke jaar ’n halfmiljoen slawe bykry om monumente te bou, in myne te werk, landerye te bewerk en personeel te voorsien vir die groot villas van die rykes.a Krygsgevangenes is gewoonlik as slawe gebruik, en daarom moes Rome se onversadigbare vraag na nog slawe ’n kragtige beweegrede vir die ryk gewees het om voortdurend oorlog te voer.

Hoewel slawerny ná die val van die Romeinse Ryk effens afgeneem het, het die gebruik voortgeduur. Volgens die Domesday Book (1086 G.J.) het slawe 10 persent van die arbeidsmag van Middeleeuse Engeland uitgemaak. En slawe is steeds deur middel van verowering bekom. Die Afrikaanse woord “slaaf” kom van die woord “Slawiër”, want gedurende die vroeë Middeleeue het die Slawiese volke ’n groot deel van Europa se slawebevolking uitgemaak.

Sedert Christus se tyd is geen kontinent egter so deur die slawehandel geplunder soos Afrika nie. Selfs voor Jesus se tyd het die eertydse Egiptenare in Etiopiese slawe handel gedryf. Oor ’n tydperk van sowat 1 250 jaar is ongeveer 18 miljoen Afrikane na Europa en die Midde-Ooste geneem om op daardie plekke in die vraag na slawe te voorsien. Toe daar in die 16de eeu begin is om die Amerikas te koloniseer, het ’n nuwe mark vir slawe ontstaan, en kort voor lank het transatlantiese slawehandel een van die winsgewendste ondernemings op aarde geword. Geskiedkundiges reken dat daar tussen 1650 en 1850 meer as 12 miljoen slawe uit Afrika geneem is.b Baie is op slawemarkte verkoop.

Stryd teen slawerny

Deur die eeue heen het individue sowel as nasies geveg om hulleself van slawerny te bevry. In die eerste eeu voor Christus het Spartakus ’n leër van 70 000 Romeinse slawe gelei in ’n vergeefse stryd om vryheid. Die opstand van Haïtiese slawe, sowat twee eeue gelede, was suksesvoller en het gelei tot die stigting van ’n onafhanklike regering in 1804.

In die Verenigde State het slawerny natuurlik langer voortgeduur. Daar was slawe wat hard gestry het om hulle en hulle geliefdes te bevry. En daar was vrygeborenes wat slawerny opreg beveg het deur die afskaffing daarvan te bepleit of deur wegloperslawe te help. Tog is die gebruik eers laat in die 19de eeu uiteindelik regdeur daardie land verbied. Maar wat van vandag?

Was die stryd tevergeefs?

“Niemand sal in slawerny of knegskap gehou word nie; alle vorme van slawerny en die slawehandel sal verbode wees”, sê die Universele Verklaring van Menseregte. Daardie oogmerk wat in 1948 met soveel geesdrif afgekondig is, is beslis edel. Talle opregte mense het hulle tyd, energie en middele daaraan gewy om hierdie doelwit te bereik. Maar sukses word nie so maklik behaal nie.

Soos die voorafgaande artikel toon, swoeg miljoene mense nog steeds sonder enige vergoeding onder haglike omstandighede, en baie van hulle is teen hulle wil gekoop of verkoop. Ondanks welmenende pogings om slawerny af te skaf—en die feit dat internasionale verdrae onderteken is om dit onwettig te verklaar—bly ware vryheid vir almal ’n ontwykende doelwit. Die wêreldekonomie het die geheime slawehandel winsgewender gemaak. Trouens, dit lyk of slawerny sy greep op dele van die mensdom verstewig. Is dit ’n hopelose situasie? Kom ons kyk.

[Voetnote]

a Volgens ’n eertydse bron het sommige Romeine wat baie ryk was, moontlik tot 20 000 slawe besit.

b Sommige gewetenlose geestelikes het beweer dat hierdie onmenslike handel in menselewens God se steun geniet. Gevolglik het baie mense nog steeds die wanbegrip dat die Bybel sulke wreedheid regverdig, wat nie die geval is nie. Sien asseblief die artikel “Die Bybelse beskouing: Het God die slawehandel goedgekeur?” in die Ontwaak! van 8 September 2001.

[Prente op bladsy 4, 5]

Diegene wat in slaweskepe (bo) uit Afrika geneem is, is vroeër algemeen op Amerikaanse slawemarkte verkoop

[Erkennings]

Godo-Foto

Archivo General de las Indias

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel