Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 4/15 bl. 25-29
  • Beweeg jou geloof jou tot dade?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beweeg jou geloof jou tot dade?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Akademiese werke
  • Intelligente verstande, ongelowige harte
  • “Word daders van die woord”
  • Daar is ’n beloning vir jou werk
  • Hou aan om goed te doen
  • Wat vra Jehovah vandag van ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • “Kom my te hulp waar ek in geloof te kort skiet!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 4/15 bl. 25-29

Beweeg jou geloof jou tot dade?

DIE leëroffisier was daarvan oortuig dat Jesus sy verlamde slaaf kon genees. Maar die leëroffisier het Jesus nie in sy huis ingenooi nie, dalk omdat hy onwaardig gevoel het of omdat hy ’n nie-Jood was. Die offisier het eerder van die ouer manne van die Jode gestuur om Jesus te nader en te sê: “Meneer, ek is dit nie werd dat u onder my dak inkom nie, maar spreek net die woord, en my dienskneg sal gesond word.” Jesus het gesien dat die leëroffisier geglo het dat Jesus selfs van ’n afstand af kon genees, en daarom het hy vir die skare wat hom gevolg het, gesê: “Ek vertel julle die waarheid: By niemand in Israel het ek so ’n groot geloof gevind nie.”—Matteus 8:5-10; Lukas 7:1-10.

Hierdie ondervinding kan ons help om te fokus op ’n noodsaaklike element van geloof. Ware geloof is nie passief nie; dit word deur dade gerugsteun. Die Bybelskrywer Jakobus het verduidelik: “Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood” (Jakobus 2:17). Hierdie feit word selfs duideliker wanneer ons kyk na ’n werklike voorbeeld van wat kan gebeur wanneer geloof onaktief word.

In 1513 v.G.J. is die nasie Israel deur middel van die Wetsverbond aan Jehovah God verbind. As middelaar van daardie verbond het Moses God se woord aan die kinders van Israel oorgedra: “As julle . . . my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis . . . ’n heilige nasie word” (Eksodus 19:3-6). Ja, as Israel heilig wou wees, moes hulle gehoorsaam wees.

Baie eeue later het die Jode meer waarde daaraan begin heg om die Wet te bestudeer as om die beginsels daarvan toe te pas. In sy boek The Life and Times of Jesus the Messiah het Alfred Edersheim geskryf: “Die [rabbi’s]—die ‘grotes van die wêreld’ het lankal besluit dat studie belangriker is as werke.”

Die eertydse Israeliete is weliswaar beveel om God se vereistes ywerig te bestudeer. God het self gesê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kinders inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Maar het Jehovah ooit bedoel dat ’n studie van die Wet belangriker moes wees as dade wat daarmee ooreenstem of daardeur vereis word? Kom ons kyk.

Akademiese werke

Dit het dalk vir die Israeliete sin gemaak om groot klem te plaas op ’n studie van die Wet, aangesien God volgens ’n sekere Joodse oorlewering self drie uur elke dag daaraan bestee om die Wet te bestudeer. Jy kan sien waarom sommige Jode dalk geredeneer het: ‘As God die Wet gereeld bestudeer, behoort sy aardse skepsele hulle dan nie daarin te verdiep nie?’

Teen die eerste eeu G.J. het die rabbi’s se beheptheid met die ontleding en vertolking van die Wet hulle denke heeltemal verdraai. “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs . . . sê maar doen nie”, het Jesus gesê. “Hulle bind swaar vragte saam en sit dit op die skouers van die mense, maar self is hulle nie bereid om dit met hulle vinger te verroer nie” (Matteus 23:2-4). Daardie godsdiensleiers het die gewone mense belas met tallose reëls en voorskrifte, maar hulle was huigelagtig en het skuiwergate geskep wat húlle van daardie selfde wette sou vrystel. Wat meer is, daardie manne wat hulle op akademiese studie toegelê het, “het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid”.—Matteus 23:16-24.

Hoe ironies is dit tog dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs, in ’n poging om hulle eie regverdigheid tot stand te bring, die einste Wet verbreek het wat hulle beweer het hulle onderhou! Al die eeue van debatte oor woorde en ander besonderhede van die Wet het hulle nie nader aan God gebring nie. Die gevolg was soortgelyk aan die afwyking van die geloof wat veroorsaak is deur wat die apostel Paulus beskryf het as “leë praatjies”, “teenstrydighede” en sogenaamde “kennis” (1 Timoteus 6:20, 21). Nog ’n ernstige probleem was die uitwerking wat eindelose navorsing op hulle gehad het. Hulle het nie die soort geloof ontwikkel wat hulle tot die regte dade beweeg het nie.

Intelligente verstande, ongelowige harte

Hoe het die denke van die Joodse godsdiensleiers tog van God se denke verskil! Kort voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses vir hulle gesê: “Rig julle hart op al die woorde wat ek vandag as waarskuwing tot julle spreek, sodat julle julle kinders kan beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig uit te voer” (Deuteronomium 32:46). God se volk moes klaarblyklik nie net ywerige studente van die Wet wees nie, maar ook daders van die Wet.

Die nasie Israel was egter keer op keer ontrou aan Jehovah. In plaas daarvan om die regte soort werke te doen, het die kinders van Israel “nie geloof in hom beoefen en nie na sy stem geluister nie” (Deuteronomium 9:23; Rigters 2:15, 16; 2 Kronieke 24:18, 19; Jeremia 25:4-7). Uiteindelik het die Jode hulle grootste daad van ontrouheid gepleeg toe hulle Jesus as die Messias verwerp het (Johannes 19:14-16). Gevolglik het Jehovah God Israel verwerp en sy aandag op die nasies gerig.—Handelinge 13:46.

Ons moet beslis versigtig wees dat ons nie in dieselfde strik gevang word nie—deur te dink dat ons God met intelligente verstande maar met ongelowige harte kan aanbid. Om dit anders te stel, ons studie van die Bybel moet meer as ’n akademiese oefening wees. Juiste kennis moet ons harte bereik om ons lewens ten goede te beïnvloed. Sou dit sin maak om tuinbou te bestudeer, maar nooit enige saad te plant nie? Ons sal weliswaar ’n mate van kennis inneem oor hoe om tuin te maak, maar ons sal nooit enigiets oes nie! So ook moet mense wat God se vereistes deur middel van ’n Bybelstudie leer, toelaat dat saadjies van waarheid die hart bereik sodat dit kan ontkiem en hulle tot dade kan beweeg.—Matteus 13:3-9, 19-23.

“Word daders van die woord”

Die apostel Paulus het gesê dat “geloof volg . . . op wat gehoor word” (Romeine 10:17). Hierdie natuurlike opeenvolging van gebeure, naamlik dat ’n mens die Woord van God hoor en dan geloof beoefen in sy Seun, Jesus Christus, bied ons die geleentheid om die ewige lewe te verkry. Ja, meer is nodig as om eenvoudig te sê: ‘Ek glo in God en in Christus.’

Jesus het sy volgelinge aangespoor om die soort geloof te hê wat hulle tot dade sou beweeg: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is” (Johannes 15:8). Later het Jesus se halfbroer Jakobus geskryf: “Word daders van die woord en nie net hoorders [nie]” (Jakobus 1:22). Maar hoe kan ons weet wat om te doen? Jesus het deur sy woorde en sy voorbeeld getoon wat ons moet doen om God te behaag.

Terwyl Jesus op die aarde was, het hy hard gewerk om Koninkryksbelange te bevorder en sy Vader se naam te verheerlik (Johannes 17:4-8). Hoe? Baie mense onthou moontlik Jesus se wonderwerke toe hy die siekes en kreupeles genees het. Maar Matteus se Evangelie toon duidelik wat die vernaamste manier was: “Jesus het op ’n reis deur al die stede en dorpies vertrek en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig.” Dit is opmerklik dat Jesus nie sy bediening daartoe beperk het om informeel met ’n paar vriende en kennisse te praat of met diegene met wie hy plaaslik in aanraking gekom het nie. Hy het hom kragtig ingespan en alle middele tot sy beskikking gebruik om mense “deur die hele Galilea” te besoek.—Matteus 4:23, 24; 9:35.

Jesus het sy volgelinge beveel om ook aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Trouens, hy het vir hulle ’n volmaakte voorbeeld gestel om na te volg (1 Petrus 2:21). Jesus het vir sy getroue dissipels gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.

Dit is ongetwyfeld ’n groot uitdaging om aan die predikingswerk deel te neem. Jesus het self gesê: “Kyk! Ek stuur julle soos lammers onder wolwe in” (Lukas 10:3). Wanneer ons teenstand ondervind, is dit maar net natuurlik om terug te deins om ons onnodige droefheid of angs te spaar. Dit is wat gebeur het op die aand toe Jesus in hegtenis geneem is. Die apostels is deur vrees oorweldig en het gevlug. Later daardie aand het Petrus drie maal ontken dat hy Jesus ken.—Matteus 26:56, 69-75.

Verder sal dit jou dalk verbaas om te leer dat selfs die apostel Paulus gesê het dat hy dit moeilik gevind het om die goeie nuus te verkondig. Hy het aan die gemeente in Tessalonika geskryf: “[Ons het] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek.”—1 Tessalonisense 2:1, 2.

Paulus en sy medeapostels het daarin geslaag om hulle vrees te oorkom om met ander oor God se Koninkryk te praat, en jy kan ook. Hoe? Die belangrikste stap is om op Jehovah te vertrou. As ons onwrikbare geloof in Jehovah stel, sal daardie geloof ons tot dade beweeg, en ons sal sy wil kan doen.—Handelinge 4:17-20; 5:18, 27-29.

Daar is ’n beloning vir jou werk

Jehovah is deeglik bewus van die pogings wat ons aanwend om hom te dien. Hy weet byvoorbeeld wanneer ons siek of moeg is. Hy is bewus van ons onsekerhede en gebrek aan selfvertroue. Wanneer ons onder finansiële laste gebuk gaan of wanneer ons gesondheid of ons emosies ons as ’t ware in die steek laat, is Jehovah altyd bewus van ons situasie.—2 Kronieke 16:9; 1 Petrus 3:12.

Hoe verheug moet Jehovah tog wees wanneer ons geloof ons tot dade beweeg ten spyte van ons onvolmaakthede en probleme! Die tere geneentheid wat Jehovah vir sy getroue knegte het, is nie net ’n vae gevoel nie—dit word gerugsteun deur ’n belofte. Die apostel Paulus het onder goddelike inspirasie geskryf: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.

Jy kan vertroue stel in die Bybel se beskrywing van Jehovah as “’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie” en as “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Deuteronomium 32:4; Hebreërs 11:6). Byvoorbeeld, ’n vrou in Kalifornië, VSA, sê: “My pa het tien jaar lank as ’n voltydse bedienaar gedien voordat hy ’n gesin moes begin grootmaak. Ek het die ondervindinge wat hy my vertel het oor hoe Jehovah hom in die bediening onderskraag het, baie geniet. Dikwels het hy sy laaste dollar aan petrol bestee sodat hy in velddiens kon uitgaan. Wanneer hy van velddiens af teruggekom het huis toe, was hy dikwels verras om kruideniersware voor die deur te vind.”

Benewens materiële ondersteuning gee “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” ons emosionele en geestelike ondersteuning (2 Korintiërs 1:3). “Wanneer ’n mens op Jehovah staatmaak, gee dit jou gemoedsrus”, sê ’n Getuie wat deur die jare heen baie beproewinge verduur het. “Dit bied jou die geleentheid om op Jehovah te vertrou en te sien hoe hy jou help.” Jy kan die “Hoorder van die gebed” nederig nader, met die versekering dat hy aandag sal skenk aan die dinge waaroor jy persoonlik besorg is.—Psalm 65:2.

Geestelike oeswerkers ontvang baie seëninge en belonings (Matteus 9:37, 38). Deelname aan die openbare bediening het al vir baie mense gesondheidsvoordele meegebring, en dit kan dieselfde vir jou doen. Maar nog belangriker, wanneer ons vir ander getuig, help dit ons om ons goeie verhouding met God verder te versterk.—Jakobus 2:23.

Hou aan om goed te doen

Dit sal ’n fout wees as een van God se knegte tot die gevolgtrekking kom dat hy Jehovah teleurstel wanneer hy weens siekte of ouderdom nie meer soveel in die bediening kan doen as wat hy graag wil nie. Dieselfde geld vir dié wat beperk word deur swak gesondheid, gesinsverantwoordelikhede of ander omstandighede.

Onthou dat die apostel Paulus, toe hy gevoel het dat ’n gebrek of hindernis hom terughou, ‘die Here drie keer dringend versoek het dat dit van hom sou wyk’. In plaas van Paulus te genees sodat hy meer in Jehovah se diens kon doen, het God gesê: “My onverdiende goedhartigheid is vir jou voldoende; want my krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring” (2 Korintiërs 12:7-10). Jy kan dus daarvan seker wees, ongeag watter moeilike omstandighede jy dalk verduur, dat jou hemelse Vader waardeer wat jy ook al kan doen om sy belange te bevorder.—Hebreërs 13:15, 16.

Ons liefdevolle Skepper verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Hy vra eenvoudig dat ons die soort geloof moet hê wat ons tot dade beweeg.

[Prent op bladsy 26]

Was dit genoeg om die Wet te bestudeer?

[Prente op bladsy 29]

Ons geloof moet deur werke gerugsteun word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel