Die opstanding—’n Wonderlike vooruitsig
GELOOF in ’n opstanding is algemeen. Die heilige boek van Islam, die Koran, wy ’n hele hoofstuk aan die opstanding, oftewel die herrysenis soos dit daarin genoem word. Soera 75 sê gedeeltelik: “Ek sweer by die Dag van Herrysenis . . . Dink die mens dat Ons nie sy beendere bymekaar sal versamel nie? . . . Hy vra: Wanneer is die Dag van die Herrysenis? Is Hy dan nie by magte om die dooie te laat herlewe nie?”—Soera 75:1-6, 40.
“Volgens Zoroastrisme”, sê The New Encyclopædia Britannica, “sal daar ’n finale verowering van Boosheid, ’n algemene opstanding, ’n Laaste Oordeel en die herstelling van ’n gereinigde wêreld vir die regverdiges wees.”
Die Encyclopaedia Judaica omskryf die opstanding as “die opvatting dat die dooies uiteindelik in hulle liggaam opgewek sal word en weer op die aarde sal lewe”. Dieselfde naslaanwerk meld ook dat die opvatting wat in Judaïsme opgeneem is, naamlik dat die mens ’n onsterflike siel het, ’n dilemma skep. Dit erken: “Die twee opvattings, naamlik die opstanding en die onsterflikheid van die siel, is basies teenstrydig.”
Hindoeïsme leer dat die mens ’n reeks hergeboortes, of reïnkarnasies, ondergaan. As dit waar is, moet die mens ’n siel hê wat ná die dood voortleef. Die Hindoes se heilige boek, Bhagavad Gita, sê: “Dit wat die hele liggaam vul, is onvernietigbaar. Niemand kan die onverderflike siel vernietig nie.”
Boeddhisme verskil van Hindoeïsme deurdat dit die bestaan van ’n onsterflike siel verwerp. Nietemin glo baie Boeddhiste in die Verre-Ooste vandag aan die verhuising van ’n onsterflike siel.a
Verwarring oor die opstandingsleer
In begrafnisdienste wat in die Christendom gehou word, word daar dikwels gesê dat die siel ná die dood voortleef en word die opstanding ook genoem. Byvoorbeeld, Anglikaanse geestelikes sê gewoonlik die volgende woorde op: “Aangesien dit die almagtige God in sy groot barmhartigheid behaag het om die siel van ons geliefde broer wat ontslaap het, na hom toe te neem, vertrou ons dus sy liggaam aan die grond toe; grond tot grond, as tot as, stof tot stof; in ’n vaste en gewisse hoop op die Opstanding tot ewige lewe, deur ons Here Jesus Christus.”—The Book of Common Prayer.
Hierdie verklaring kan ’n mens laat wonder of die Bybel die opstanding of die leerstelling van ’n onsterflike siel leer. Let egter op die kommentaar wat deur die Franse Protestantse professor Oscar Cullman gemaak is. Hy skryf in sy boek Immortality of the Soul or Resurrection of the Dead?: “Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die Christelike hoop dat die dooies opgewek sal word en die Griekse opvatting dat die siel onsterflik is. . . . Hoewel die Christelike godsdiens later ’n skakel tussen hierdie twee opvattings gevorm het, en die deursnee-Christen hulle vandag geheel en al met mekaar verwar, sien ek geen rede om te verberg wat ek en die meeste geleerdes as die waarheid beskou nie. . . . Die lewe en denke van die Nuwe Testament word heeltemal oorheers deur geloof in die opstanding. . . . Die hele mens, wat werklik dood is, word deur ’n nuwe skeppingsdaad van God weer lewend gemaak.”
Dit is geen wonder dat mense oor die algemeen verward is oor die dood en die opstanding nie. Om die verwarring uit die weg te ruim, moet ons na die Bybel gaan, wat waarhede bevat wat deur die mens se Skepper, Jehovah God, geopenbaar is. Die Bybel bevat verslae van ’n aantal opstandings. Kom ons ondersoek vier van hierdie verslae en kyk wat dit aan die lig bring.
“Vroue het hulle dooies deur opstanding ontvang”
In die apostel Paulus se brief aan Jode wat Christene geword het, het hy gesê dat vroue van geloof “hulle dooies deur opstanding ontvang” het (Hebreërs 11:35). Een van hierdie vroue het in Sarfat gewoon, ’n Fenisiese dorp naby Sidon aan die Mediterreense kus. Sy was ’n weduwee wat God se profeet Elia gasvry ontvang het en hom selfs gedurende ’n groot hongersnood kos gegee het. Ongelukkig het hierdie vrou se seun siek geword en gesterf. Elia het hom onmiddellik opgedra na die dakvertrek waar die profeet gebly het en Jehovah gesmeek om die seun weer lewend te maak. ’n Wonderwerk het plaasgevind, en die seun het “lewend geword”. Elia het hom teruggeneem na sy moeder en gesê: “Kyk, jou seun lewe.” Hoe het sy gereageer? Verheug het sy gesê: “Nou weet ek inderdaad dat u ’n man van God is en dat Jehovah se woord in u mond waar is.”—1 Konings 17:22-24.
Byna 100 kilometer suid van Sarfat het ’n vrygewige egpaar gewoon wat vir Elia se opvolger, die profeet Elisa, gesorg het. Die vrou was ’n vooraanstaande persoon in haar tuisdorp Sunem. Sy en haar man het besluit om vir Elisa verblyf te gee in ’n dakvertrek in hulle huis. Hulle droefheid oor hulle kinderloosheid het in vreugde verander toe die vrou aan ’n seun geboorte gegee het. Terwyl die seun opgegroei het, het hy dikwels saam met dié wat geoes het, na sy vader op die land gegaan. Op ’n dag het ’n tragedie die gesin getref. Die seun het uitgeroep dat sy kop seer is. ’n Dienaar het hom gou teruggeneem huis toe. Sy moeder het hom op haar skoot vasgehou, maar die kind het uiteindelik gesterf. Die bedroefde moeder het besluit om Elisa om hulp te vra. Vergesel deur ’n dienaar, het sy noordwes gereis in die rigting van die berg Karmel, waar Elisa gebly het.
Die profeet het gereageer deur sy dienaar, Gehasi, vooruit te stuur, en hy het gevind dat die seun wel dood is. Elisa en die vrou het agterna gekom, maar wat het gebeur toe hulle uiteindelik by Sunem aankom? Die verslag in 2 Konings 4:32-37 sê: “Eindelik het Elisa in die huis ingekom, en kyk, die seun was dood, op sy slaapbank neergelê. Toe het hy ingekom en die deur agter hulle twee toegemaak en tot Jehovah begin bid. Uiteindelik het hy opgeklim en op die kind gaan lê en sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy palms op dié se palms gesit en oor hom gebuig gebly, en die kind se vlees het geleidelik warm geword. Toe het hy weer in die huis begin loop, een keer heen en weer, waarna hy opgeklim en oor hom gebuig het. En die seun het begin nies, tot sewe keer toe, waarna die seun sy oë oopgemaak het. Hy het Gehasi toe geroep en gesê: ‘Roep hierdie Sunammitiese vrou.’ Daarop het hy haar geroep, en sy het by hom gekom. Toe het hy gesê: ‘Tel jou seun op.’ En sy het ingekom en voor sy voete geval en haar voor hom na die aarde neergebuig, waarna sy haar seun opgetel en uitgegaan het.”
Soos die weduwee van Sarfat, het die vrou van Sunem geweet dat wat gebeur het, as gevolg van God se krag was. Albei hierdie vroue het groot vreugde ervaar toe God hulle geliefde kinders weer lewend gemaak het.
Opstandings gedurende Jesus se bediening
Sowat 900 jaar later het ’n opstanding net noord van Sunem, buite die dorp Nain, plaasgevind. Toe Jesus Christus en sy dissipels van Kapernaum af gereis het en naby die poort van Nain gekom het, het hulle ’n lykstoet teëgekom, en Jesus het ’n weduwee gesien wat haar enigste seun verloor het. Jesus het vir haar gesê om op te hou huil. Lukas, ’n geneesheer, het beskryf wat daarna gebeur het: “Daarop het [Jesus] nader gegaan en die baar aangeraak, en die draers het gaan staan, en hy het gesê: ‘Jong man, ek sê vir jou: Staan op!’ En die dooie man het regop gaan sit en begin praat, en hy het hom aan sy moeder gegee” (Lukas 7:14, 15). Die mense wat hierdie wonderwerk aanskou het, het God verheerlik. Die nuus van die opstanding het suidwaarts tot in Judea en die omliggende gebied versprei. Interessant genoeg, die dissipels van Johannes die Doper het hiervan gehoor en Johannes van die wonderwerk vertel. Hy het hulle toe gestuur om Jesus te vind en hom te vra of Hy die verwagte Messias is. Jesus het vir hulle gesê: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: die blindes sien, die kreupeles loop, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, die dooies word opgewek, aan die armes word die goeie nuus verkondig.”—Lukas 7:22.
Die bekendste van Jesus se opstandingswonderwerke is die een wat hy ten behoewe van sy goeie vriend Lasarus verrig het. In hierdie geval het daar ’n geruime tyd verloop tussen Lasarus se dood en Jesus se aankoms by die gesin se huis. Toe Jesus uiteindelik in Betanië aangekom het, was Lasarus al vier dae lank dood. Toe Jesus beveel het dat die klip voor die ingang van die graf verwyder word, het Marta beswaar gemaak en gesê: “Here, hy moet nou al ruik, want dit is vier dae” (Johannes 11:39). Maar enige ontbinding van Lasarus se liggaam het nie die opstanding verhinder nie. Op Jesus se bevel het “die man wat dood was, . . . uitgekom, met sy voete en hande met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai”. Die optrede van Jesus se vyande hierna bewys dat dit inderdaad Lasarus was wat weer lewend geword het.—Johannes 11:43, 44; 12:1, 9-11.
Wat lei ons af uit hierdie vier opstandingsverslae? Elkeen wat opgewek is, het as dieselfde persoon weer lewend geword. Almal is herken, selfs deur hulle naaste familielede. Nie een van dié wat opgewek is, het gepraat oor wat gebeur het gedurende die kort tydjie dat hulle dood was nie. Nie een het gesê dat hy na ’n ander wêreld gereis het nie. Hulle het almal blykbaar met goeie gesondheid teruggekeer. Vir hulle was dit asof hulle ’n rukkie geslaap en toe wakker geword het, net soos Jesus te kenne gegee het (Johannes 11:11). Almal van hulle het nietemin na verloop van tyd weer gesterf.
Hereniging met geliefdes—’n wonderlike vooruitsig
’n Kort rukkie ná die tragiese dood van Owen, wat in die vorige artikel gemeld is, het sy pa vir ’n buurman by sy huis gaan kuier. Daar het hy ’n strooibiljet op ’n tafel gesien wat ’n openbare toespraak adverteer wat deur Jehovah se Getuies georganiseer is. Die titel, “Waar is die dooies?” het sy aandag getrek. Dit was juis die vraag waaroor hy gewonder het. Hy het die toespraak bygewoon en ware vertroosting uit die Bybel gekry. Hy het geleer dat die dooies nie ly nie. Die dooies, Owen inkluis, word nie in ’n helse vuur gepynig of deur God geneem om engele in die hemel te word nie, maar hulle wag eerder in die graf totdat dit tyd is om in die opstanding opgewek te word.—Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4.
Het ’n tragedie jou gesin getref? Wonder jy, soos Owen se pa, waar jou afgestorwe dierbares nou is en watter moontlikheid daar is om hulle weer te sien? Dan nooi ons jou om te kyk wat die Bybel verder oor die opstanding leer. Miskien wonder jy: ‘Waar sal die opstanding plaasvind? Presies wie sal daarby baat vind?’ Lees asseblief die volgende artikels vir ’n bespreking van hierdie en ander vrae.
[Voetnoot]
a Sien die boek Die mensdom se soeke na God, bladsye 150-4, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 5]
Elia het Jehovah gesmeek om ’n seun weer lewend te maak
[Prent op bladsy 5]
Jehovah het Elisa gebruik om die seun van die Sunammitiese vrou op te wek
[Prent op bladsy 6]
Jesus het die seun van die weduwee van Nain opgewek
[Prent op bladsy 7]
Die opstanding sal familielede met hulle dierbares herenig