Lewensverhaal
Jehovah stort ryk seëninge uit op diegene wat sy weg hou
SOOS VERTEL DEUR ROMUALD STAWSKI
Toe die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 begin het, het hewige gevegte in die noorde van Pole gewoed. As ’n nuuskierige negejarige seun het ek na ’n slagveld naby ons gegaan om te kyk wat daar gebeur. Ek het ’n verskriklike toneel gesien—lyke het oral op die grond gelê en verstikkende rook het die lug gevul. Hoewel ek hoofsaaklik daarop gekonsentreer het om veilig by die huis te kom, het ’n paar vrae by my opgekom: “Waarom laat God toe dat sulke verskriklike dinge gebeur? Aan wie se kant is hy?”
NABY die einde van die oorlog is jongmense gedwing om vir die Duitse regime te werk. Enigiemand wat dit gewaag het om te weier, is aan ’n boom of ’n brug opgehang met die teken “verraaier” of “saboteur” op sy bors. Ons dorp, Gdynia, was tussen vyandige leërs geleë. Wanneer ons buite die dorp gaan water haal het, het koeëls en bomme oor ons koppe gevlieg, en my jonger broer Henryk is noodlottig gewond. Weens die verskriklike toestande het my ma ons vier kinders vir veiligheid in ’n kelder laat bly. Daar het my tweejarige broertjie, Eugeniusz, aan witseerkeel gesterf.
Weer het ek my afgevra: “Waar is God? Waarom laat hy al hierdie lyding toe?” Hoewel ek ’n ywerige Katoliek was en gereeld kerk toe gegaan het, het ek nie die antwoorde gevind nie.
Ek neem Bybelwaarheid aan
Antwoorde op my vrae het uit ’n onverwagte bron gekom. Die oorlog het in 1945 geëindig, en vroeg in 1947 het een van Jehovah se Getuies ons huis in Gdynia besoek. My ma het met die Getuie gesels, en ek het dele van die gesprek gehoor. Dit het logies geklink, en ons het dus ’n uitnodiging na ’n Christelike vergadering aanvaar. Hoewel ek Bybelwaarheid nog nie baie goed geken het nie, het ek net ’n maand later by ’n groep plaaslike Getuies aangesluit en vir ander gaan vertel van ’n beter wêreld sonder oorloë en gruweldade. Dit het my baie vreugde verskaf.
In September 1947 is ek by ’n kringbyeenkoms in Sopot gedoop. Ek het die daaropvolgende Mei gewone pionierdiens begin doen en die meeste van my tyd daaraan gewy om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig. Die plaaslike geestelikes het ons werk bitterlik teëgestaan en geweld teen ons aangestig. Eenkeer het ’n woedende skare ons aangeval deur ons met klippe te bestook en ons genadeloos te slaan. By ’n ander geleentheid het plaaslike nonne en geestelikes ’n groep mense opgesweep om ons aan te val. Ons het in ’n polisiekantoor skuiling gesoek, maar die skare het die gebou omsingel en gedreig om ons fisies aan te rand. Uiteindelik het polisieversterkings gekom, en ons is onder sterk geleide weggeneem.
Destyds was daar nie ’n gemeente in ons gebied nie. Soms het ons in die woud onder die sterrehemel oornag. Ons was bly dat ons die predikingswerk ten spyte van die moeilike toestande kon doen. Vandag is daar sterk gemeentes in daardie gebied.
Betheldiens en inhegtenisneming
Ek is in 1949 na die Bethelhuis in Łódź genooi. Wat ’n voorreg was dit tog om by so ’n plek te dien! Ongelukkig het ek nie lank daar gebly nie. In Junie 1950, ’n maand voordat ’n amptelike verbod op ons werk geplaas is, is ek saam met ander broers by Bethel in hegtenis geneem. Ek is tronk toe geneem, waar ’n wrede ondervraging op my gewag het.
Omdat my pa op ’n skip gewerk het wat gereeld na New York gevaar het, het die offisiere wat die ondersoek gedoen het, my probeer dwing om te sê dat hy ’n spioen vir die Verenigde State is. Ek is aan genadelose ondervraging onderwerp. Daarby het vier offisiere my terselfdertyd probeer dwing om te getuig teen broer Wilhelm Scheider, wat destyds toesig gehou het oor ons bedrywighede in Pole. Hulle het my met dik stokke op my hakskene geslaan. Toe ek op die vloer gelê en bloei het en gevoel het dat ek dit nie langer kan verduur nie, het ek uitgeroep: “Jehovah, help my!” My vervolgers was verbaas en het opgehou om my te slaan. Binne ’n paar minute het hulle aan die slaap geraak. Ek was verlig en het my kragte herwin. Dit het my oortuig dat Jehovah liefdevol reageer wanneer sy toegewyde knegte tot hom roep. Dit het my geloof versterk en my geleer om my volle vertroue in God te stel.
Die finale verslag van die ondersoek het valse getuienis ingesluit wat ek glo afgelê het. Toe ek beswaar maak, het ’n offisier vir my gesê: “Jy sal dit in die hof verduidelik!” ’n Vriendelike selmaat het vir my gesê om my nie te bekommer nie omdat die finale verslag deur ’n militêre aanklaer nagegaan moes word, wat my ’n geleentheid sou gee om die valse getuienis te weerlê. Dit het toe ook so gebeur.
Kringwerk en nog ’n inhegtenisneming
Ek is in Januarie 1951 vrygelaat. ’n Maand later het ek as ’n reisende opsiener begin dien. Ek het ondanks die verbod saam met ander broers gewerk om die gemeentes op te bou en mede-Getuies te help wat weens die werksaamhede van die veiligheidsdienste verstrooi was. Ons het die broers aangemoedig om in die bediening te volhard. In latere jare het hierdie broers die reisende opsieners moedig ondersteun en Bybellektuur ondergronds gedruk en versprei.
Eendag in April 1951, nadat ek ’n Christelike vergadering bygewoon het, is ek in die straat deur veiligheidsbeamptes in hegtenis geneem wat my al ’n ruk lank fyn dopgehou het. Omdat ek geweier het om hulle vrae te beantwoord, het hulle my na ’n tronk in Bydgoszcz geneem en my daardie selfde nag begin ondervra. Ek is beveel om ses dae en ses nagte teen ’n muur te staan, sonder enigiets om te eet of te drink en in die digte rook van die offisiere se sigarette. Ek is met ’n knuppel geslaan en met sigarette gebrand. Wanneer ek flou geword het, het hulle water op my gegooi en die ondervraging voortgesit. Ek het Jehovah gesmeek vir krag om standvastig te bly, en hy het my onderskraag.
Om in die Bydgoszcz-gevangenis te wees, het nogtans voordele gehad. Daar kon ek Bybelwaarheid verkondig aan mense wat andersins nie bereik sou word nie. En daar was waarlik baie geleenthede om ’n getuienis te gee. Weens hulle droewige, dikwels hopelose, situasie was die gevangenes baie ontvanklik vir die goeie nuus.
Twee belangrike veranderinge
Kort nadat ek in 1952 vrygelaat is, het ek Nela, ’n ywerige pioniersuster, ontmoet. Sy het in die suide van Pole gepionier. Later het sy in ’n “bakkery” gewerk, ’n geheime plek waar ons lektuur gedruk is. Dit was harde werk, wat waaksaamheid en selfopoffering geverg het. Ons is in 1954 getroud, en ons het in die voltydse bediening gebly totdat ons dogter, Lidia, gebore is. Toe het ons besluit dat Nela met haar voltydse diens sal ophou en sal terugkeer huis toe om vir ons dogter te sorg, sodat ek in die reisende werk kon voortgaan.
Daardie selfde jaar het ons voor nog ’n belangrike besluit te staan gekom. Ek is gevra om as streekopsiener te dien in ’n gebied wat een derde van Pole gedek het. Ons het die saak biddend oorweeg. Ek het geweet hoe belangrik dit is om ons broers tydens die verbod te versterk. Daar was baie inhegtenisnemings, en daarom was daar ’n groot behoefte aan geestelike aanmoediging. Nela het my haar ondersteuning gegee, en ek het die toewysing aanvaar. Met Jehovah se hulp het ek 38 jaar lank as streekopsiener gedien.
Toesig oor “bakkerye”
Die streekopsiener was destyds verantwoordelik vir die “bakkerye”, wat in afgeleë plekke was. Die polisie was gedurig op ons spoor en het ons drukkerye probeer vind en toemaak. Soms het hulle daarin geslaag, maar ons het nooit ’n gebrek gehad aan die nodige geestelike voedsel nie. Dit was duidelik dat Jehovah vir ons gesorg het.
Diegene wat genooi is om drukwerk te doen, wat harde en gevaarlike werk was, moes lojaal, wakker, selfopofferend en gehoorsaam wees. Dit was hierdie eienskappe wat dit moontlik gemaak het dat ’n “bakkery” veilig kon bly funksioneer. Dit was ook moeilik om ’n goeie plek te vind om ondergrondse drukwerk te doen. Sommige plekke het geskik gelyk, maar die broers daar was nie baie versigtig nie. Op ander plekke was die situasie andersom. Die broers was gewillig om buitengewone opofferings te maak. Ek het groot waardering gehad vir al die broers en susters met wie ek die voorreg gehad het om saam te werk.
Verdediging van die goeie nuus
Gedurende daardie moeilike jare is ons voortdurend van onwettige, ondermynende bedrywighede beskuldig en hof toe gesleep. Dit was ’n probleem, want ons het nie regsgeleerdes gehad om ons te verdedig nie. Sommige regsgeleerdes was simpatiek, maar die meeste was bang vir die publisiteit en wou nie die risiko loop om hulle die regering se misnoeë op die hals te haal nie. Maar Jehovah was bewus van ons behoeftes, en op sy bestemde tyd het hy sake daarvolgens bewerk.
Alojzy Prostak, ’n reisende opsiener van Krakau, is so wreed behandel gedurende sy ondervraging dat hy na die gevangenishospitaal geneem moes word. Sy standvastigheid ondanks verstandelike en fisiese marteling het die respek en bewondering van die ander gevangenes in die hospitaal afgedwing. Een van hulle was ’n regsgeleerde met die naam Witold Lis-Olszewski, wat beïndruk is deur broer Prostak se moed. Hy het ’n paar keer met hom gesels en belowe: “Sodra ek vrygelaat word en ek my praktyk kan hervat, sal ek bereid wees om Jehovah se Getuies te verdedig.” Hy het bedoel wat hy gesê het.
Mnr. Olszewski het sy eie span prokureurs gehad, wat waarlik bewonderenswaardige toewyding aan die dag gelê het. Gedurende die tyd dat die teenstand op sy ergste was, het hulle die broers in ongeveer 30 verhore per maand verdedig—een per dag! Omdat mnr. Olszewski goed vertroud moes wees met al die sake, was dit my verantwoordelikheid om met hom in kontak te bly. Ek het in die 1960’s en 1970’s sewe jaar lank saam met hom gewerk.
Gedurende daardie jare het ek baie geleer oor regsake. Ek het dikwels die verhore, die regsgeleerdes se kommentare—positief sowel as negatief—die metodes van wetlike verdediging en die getuienis van beskuldigde medegelowiges waargeneem. Dit alles was later baie nuttig om ons broers te help, veral dié wat as getuies geroep is, sodat hulle kon weet wat om voor die hof te sê en wanneer om stil te bly.
Wanneer ’n verhoor aan die gang was, het mnr. Olszewski dikwels in die huise van Jehovah se Getuies oornag. Dit was nie omdat hy nie ’n hotelkamer kon bekostig nie, maar soos hy eenkeer gesê het: “Voor die verhoor, wil ek ’n bietjie van julle gees inasem.” Danksy sy hulp, het baie verhore goed afgeloop. Hy het my ’n paar keer verdedig en het nooit enige geld van my aanvaar nie. By ’n ander geleentheid het hy geweier om betaling vir 30 sake te aanvaar. Waarom? Hy het gesê: “Ek wil ’n bydrae gee vir julle werk, al is dit klein.” En dit was geensins ’n klein bedrag nie. Die bedrywighede van mnr. Olszewski se span het nie deur die owerheid onopgemerk gebly nie, maar dit het hom nie daarvan afgeskrik om ons te help nie.
Dit is moeilik om die goeie getuienis te beskryf wat ons broers gedurende daardie verhore gegee het. Baie het na die howe toe gegaan om die verhore by te woon en die beskuldigde broers te versterk. Gedurende die tyd toe die meeste verhore plaasgevind het, het ek tot 30 000 sulke ondersteuners in een jaar getel. Dit was beslis ’n groot menigte Getuies!
’n Nuwe toewysing
Teen 1989 is die verbod op ons werk opgehef. Drie jaar later is ’n nuwe takkantoor gebou en toegewy. Ek is genooi om daar in die afdeling vir Hospitaalinligtingsdienste te werk; ’n toewysing wat ek met vreugde aanvaar het. Ons was ’n span van drie wat saam gewerk het, en ons het ons broers ondersteun wat voor die bloedkwessie te staan gekom het en hulle gehelp om hulle standpunt, wat hulle op grond van hulle Christelike gewete ingeneem het, te verdedig.—Handelinge 15:29.
Ek en my vrou is baie dankbaar vir die voorreg om Jehovah in die openbare bediening te dien. Nela het my nog altyd ondersteun en aangemoedig. Ek sal altyd dankbaar wees dat sy nooit gekla het oor my afwesigheid van die huis wanneer ek met teokratiese toewysings besig was of in die tronk was nie. Gedurende moeilike tye het sy nie ineengestort nie, maar ander bemoedig.
Byvoorbeeld, in 1974 is ek saam met ander reisende opsieners in hegtenis geneem. ’n Paar van die broers wat daarvan geweet het, wou my vrou taktvol daarvan in kennis stel. Toe hulle haar sien, het hulle gevra: “Suster Nela, is jy gereed vir die ergste?” Eers was sy versteen van skrik omdat sy gedink het dat ek dood is. Toe sy hoor wat werklik gebeur het, het sy verlig gesê: “Hy lewe! Dis nie die eerste keer dat hy in die tronk is nie.” Die broers het my later vertel dat hulle baie beïndruk was deur haar positiewe gesindheid.
Hoewel ons in die verlede pynlike ondervindinge deurgemaak het, het Jehovah altyd ryk seëninge op ons uitgestort omdat ons sy weg hou. Hoe bly is ons tog dat ons dogter, Lidia, en haar man, Alfred DeRusha, ’n voorbeeldige Christenegpaar is. Hulle het hulle seuns, Christopher en Jonathan, as toegewyde knegte van God grootgemaak, wat ons nog gelukkiger maak. My broer, Ryszard, en my suster, Urszula, is ook al baie jare lank getroue Christene.
Jehovah het ons nooit verlaat nie, en ons wil aanhou om hom heelhartig te dien. Ons het persoonlik die waarheid ondervind van die woorde van Psalm 37:34: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem.” Ons sien met ons hele hart uit na daardie tyd.
[Prent op bladsy 17]
By ’n byeenkoms wat in ’n broer se tuin in Krakau gehou is, 1964
[Prent op bladsy 18]
Saam met my vrou, Nela, en ons dogter, Lidia, 1968
[Prent op bladsy 20]
Saam met ’n Getuieseun voor sy bloedlose hartoperasie
[Prent op bladsy 20]
Saam met dr. Wites, hoofchirurg van bloedlose hartchirurgie op kinders, by ’n hospitaal in Katowice
[Prent op bladsy 20]
Saam met Nela, 2002