Die Koninklike Bybel—’n Mylpaal in Bybelkunde
DIE skip het vroeg in die 16de eeu uit Spanje vertrek op pad na die Italiaanse skiereiland. In sy ruim was daar ’n vrag van onskatbare waarde—die meeste van die gedrukte eksemplare van die Complutensiese Poliglot-Bybel wat tussen 1514 en 1517 gedruk is. Skielik het ’n hewige storm opgesteek. Die bemanning het gespook om die skip te red, maar hulle pogings was tevergeefs. Die skip het met sy kosbare vrag gesink.
Daardie ramp het gelei tot die vraag na ’n nuwe uitgawe van die Poliglot-Bybel. Uiteindelik het die meesterdrukker Christophe Plantin die uitdaging aanvaar. Hy het ’n ryk borg nodig gehad om hierdie ontsaglike taak te finansier, en daarom het hy Filips II, koning van Spanje, gevra om die amptelike beskermheer te wees. Voordat die koning sy besluit geneem het, het hy verskeie Spaanse geleerdes geraadpleeg, waaronder die beroemde Bybelgeleerde Benito Arias Montano. Hy het vir koning Filips gesê: “Behalwe dat u ’n diens aan God sal verrig en die algemene kerk sal bevoordeel, sal dit ook die koninklike naam van U Majesteit grootliks tot eer strek en u persoonlike aansien verhoog.”
’n Hersiene uitgawe van die Complutensiese Poliglot sou ’n merkwaardige kulturele prestasie wees, en daarom het Filips besluit om Plantin se projek heelhartig te ondersteun. Hy het Arias Montano die reusetaak opgelê om saam te stel wat later die Koninklike Bybel, of die Antwerpen-Poliglot, genoem is.a
Filips het soveel in die vordering van hierdie Poliglot-Bybel belanggestel dat hy gevra het dat ’n proef van elke bladsy aan hom gestuur word. Plantin wou natuurlik nie wag totdat die bladsy van Antwerpen af na Spanje gegaan het, deur die koning gelees en verbeter is en dan teruggestuur is nie. Op die ou end het Filips net die eerste gedrukte bladsy en miskien party van die vroeë bladsye gekry. Intussen het Montano met die waardevolle hulp van drie professors van Leuven en die drukker se tienderjarige dogter vordering gemaak met die werklike proefleeswerk.
’n Liefhebber van God se Woord
Arias Montano het hom onder Antwerpen se geleerdes tuisgemaak. Sy verdraagsame benadering het hom by Plantin bemind gemaak, en hulle het die res van hulle lewe bevriend gebly en met mekaar saamgewerk. Montano het nie net weens sy geleerdheid uitgemunt nie, maar ook weens sy groot liefde vir God se Woord.b As jong man was hy gretig om sy akademiese studies te voltooi sodat hy hom uitsluitlik aan ’n studie van die Skrif kon wy.
Arias Montano het geglo dat ’n Bybelvertaling so letterlik moontlik moet wees. Hy het daarna gestreef om te vertaal presies wat in die oorspronklike teks geskryf staan en die leser sodoende toegang tot die ware Woord van God te gee. Montano het die leuse van Erasmus gevolg, wat geleerdes aangespoor het “om Christus uit die oorspronklike te verkondig”. Die betekenis van die oorspronklike tale van die Skrif was eeue lank vir die mense verborge omdat dit so moeilik was om die Latynse vertalings te verstaan.
Samestelling van die werk
Arias Montano het al die manuskripte wat Alfonso de Zamora vir die druk van die Complutensiese Poliglot voorberei en hersien het, in die hande gekry en dit vir die Koninklike Bybel gebruik.c
Die Koninklike Bybel sou aanvanklik ’n tweede uitgawe van die Complutensiese Poliglot wees, maar dit het baie meer as bloot ’n hersiening geword. Die Hebreeuse en die Griekse teks van die Septuagint is uit die Complutensiese Bybel geneem; toe is nuwe tekste sowel as ’n uitgebreide aanhangsel bygevoeg. Die nuwe Poliglot het uiteindelik uit agt dele bestaan. Die drukwerk het vyf jaar geneem, van 1568 tot 1572—’n baie kort tydjie in die lig van hoe ingewikkeld die werk was. Uiteindelik is 1 213 eksemplare gedruk.
Hoewel die Complutensiese Poliglot van 1517 ’n “monument ter ere van die drukkuns” was, het die nuwe Antwerpen-Poliglot sy voorganger oortref wat tegniese waarde en inhoud betref. Dit was nog ’n mylpaal in die geskiedenis van drukwerk en, nog belangriker, in die voorbereiding van gesuiwerde meestertekste van die Bybel.
Aanvalle deur vyande van God se Woord
Dit is nie verbasend nie dat vyande van getroue Bybelvertaling kort voor lank hulle verskyning gemaak het. Hoewel die Antwerpen-Poliglot deur die Pous goedgekeur is en Arias Montano welverdiende aansien as ’n eerbare geleerde gehad het, is hy by die Inkwisisie aangekla. Teenstanders het gesê dat sy werk die nuwe hersiene Latynse teks van Santes Pagninus uitbeeld as ’n juister vertaling van die Hebreeuse en Griekse oorspronklikes as die Vulgaat, wat eeue vroeër vertaal is. Hulle het Montano ook daarvan beskuldig dat hy, in sy begeerte om ’n juiste Bybelvertaling voort te bring, die oorspronklike tale geraadpleeg het—’n prosedure wat hulle as kettery beskou het.
Die Inkwisisie het selfs beweer dat “die Koning nie baie eer verkry het deur die werk te borg nie”. Hulle het die feit betreur dat Montano nie die amptelike Vulgaat as gesaghebbend genoeg beskou het nie. Ondanks hierdie beskuldigings kon hulle nie genoeg bewyse vind om Montano of sy Poliglot-Bybel te verdoem nie. Op die ou end is die Koninklike Bybel goed ontvang, en dit het ’n gesaghebbende werk in verskeie universiteite geword.
’n Nuttige hulpmiddel vir Bybelvertaling
Hoewel die Antwerpen-Poliglot nie ’n werk was wat vir die gewone publiek bedoel was nie, het dit gou ’n nuttige hulpmiddel vir Bybelvertalers geword. Soos sy voorganger, die Complutensiese Poliglot, het dit bygedra tot die suiwering van die tekste van die Skrif wat beskikbaar was. Dit het vertalers ook gehelp om ’n beter begrip van die oorspronklike tale te verkry. Bybelvertalings in ’n hele paar vername Europese tale het uit hierdie werk voordeel getrek. The Cambridge History of the Bible berig byvoorbeeld dat vertalers van die beroemde King James Version, of Authorized Version, van 1611 die Antwerpen-Poliglot gebruik het as ’n nuttige hulpmiddel om die ou tale te vertaal. Die Koninklike Bybel het ook ’n groot invloed uitgeoefen op twee belangrike Poliglot-Bybels wat in die 17de eeu uitgegee is.—Sien die venster “Die Poliglot-Bybels”.
Een van die talle voordele van die Antwerpen-Poliglot was die feit dat dit die Siriese vertaling van die Griekse Geskrifte vir die eerste keer aan Europese geleerdes beskikbaar gestel het. Die Siriese teks is langs ’n letterlike Latynse vertaling geplaas. Dit was ’n baie nuttige byvoegsel, want die Siriese vertaling was een van die oudste vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte. Die Siriese vertaling het uit die vyfde eeu G.J. gedateer en was gegrond op manuskripte wat tot die tweede eeu G.J. teruggevoer kon word. Volgens The International Standard Bible Encyclopedia “word die waarde van die [Siriese] Pesjitta vir tekskritiek algemeen erken. Dit is een van die oudste en belangrikste bronne van inligting oor die ou oorleweringe.”
Nie die woeste see of die aanvalle van die Spaanse Inkwisisie kon keer dat ’n verbeterde en uitgebreide weergawe van die Complutensiese Poliglot in 1572 in die vorm van die Koninklike Bybel verskyn nie. Die geskiedenis van die Poliglot-Bybel van Antwerpen is nog ’n voorbeeld van die pogings wat opregte mense aangewend het om die Woord van God te verdedig.
Of hulle dit geweet het of nie, hierdie toegewyde mense het deur hulle onselfsugtige arbeid getuig van die waarheid van die profetiese woorde van Jesaja. Hy het bykans drieduisend jaar gelede geskryf: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—Jesaja 40:8.
[Voetnote]
a Dit is die Koninklike Bybel genoem omdat koning Filips dit geborg het, en die Antwerpen-Poliglot omdat dit in die stad Antwerpen gedruk is, wat destyds ’n deel van die Spaanse Ryk was.
b Hy het ’n goeie kennis gehad van Arabies, Grieks, Hebreeus, Latyn en Siries, die vyf hooftale wat in die Poliglot-Bybel gebruik is. Hy was ook goed vertroud met argeologie, die geneeskunde, die natuurwetenskappe en teologie, kennis wat hy goed gebruik het toe hy die aanhangsel voorberei het.
c Vir ’n verduideliking van die waarde van die Complutensiese Poliglot-Bybel, sien Die Wagtoring van 15 April 2004.
[Lokteks op bladsy 13]
“Wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”
[Venster/Prente op bladsy 12]
DIE POLIGLOT-BYBELS
“’n Poliglot-Bybel is een wat die teks in verskillende tale bevat”, verduidelik die Spaanse geleerde Federico Pérez Castro. “Die woord verwys egter tradisioneel na Bybels wat die Bybelteks in die oorspronklike tale het. In hierdie beperkte sin van die woord is daar baie min poliglot-Bybels.”
1. Die Complutensiese Poliglot (1514-17), wat deur kardinaal Cisneros geborg is, is in Alcalá de Henares, Spanje, gedruk. Die ses dele het die Bybelteks in vier tale bevat: Hebreeus, Grieks, Aramees en Latyn. Dit het 16de-eeuse vertalers voorsien van ’n meesterteks van die Hebreeus-Aramese Geskrifte.
2. Die Antwerpen-Poliglot (1568-72), saamgestel deur Benito Arias Montano, het die Siriese Pesjitta-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte en die Aramese Targoem van Jonatan by die Complutensiese teks gevoeg. Die Hebreeuse teks, wat vokaal- en aksenttekens bevat het, is volgens die aanvaarde Hebreeuse teks van Jakob ben Hajjim hersien. So het dit ’n standaardteks van die Hebreeuse Geskrifte vir Bybelvertalers geword.
3. Die Paryse Poliglot (1629-45) is deur die Franse regsgeleerde Guy Michel le Jay geborg. Dit was op die Antwerpen-Poliglot gegrond, hoewel dit ook ’n paar Samaritaanse en Arabiese tekste bevat het.
4. Die Londense Poliglot (1655-57), saamgestel deur Brian Walton, was ook op die Antwerpen-Poliglot gegrond. Hierdie Poliglot het ou Bybelvertalings in Etiopies en Persies ingesluit, hoewel dié weergawes nie juis die Bybelteks duideliker gemaak het nie.
[Erkennings]
Banner- en Antwerpen-Poliglotte (onderste twee): Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid; Antwerpen-Poliglot (bo): By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen; Londense Poliglot: From the book The Walton Polyglot Bible, Vol. III, 1655-1657
[Prent op bladsy 9]
Filips II, koning van Spanje
[Erkenning]
Filips II: Biblioteca Nacional, Madrid
[Prent op bladsy 10]
Arias Montano
[Erkenning]
Montano: Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid
[Prent op bladsy 10]
Oorspronklike drukperse in Antwerpen, België
[Erkenning]
Pers: By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen
[Prente op bladsy 11]
Links: Christophe Plantin en die titelblad van die Antwerpen-Poliglot
[Erkenning]
Titelblad en Plantin: By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen
[Prent op bladsy 11]
Bo: Eksodus hoofstuk 15 in vier tekskolomme
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Titelblad en Plantin: By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid