Die Complutensiese poliglot—’n Geskiedkundige vertaalhulpmiddel
OMSTREEKS 1455 was daar ’n omwenteling in die publisering van Bybels. Johannes Gutenberg het ’n drukpers gebruik om die eerste Bybel te lewer wat ooit met behulp van los letters gedruk is. Uiteindelik was die Bybel nie meer beperk tot seldsame handgeskrewe dokumente nie. Bybels kon nou in groot hoeveelhede en teen ’n betreklik lae koste gedruk word. Kort voor lank sou die Bybel die boek met die grootste verspreiding ter wêreld word.
Gutenberg se Bybel was in Latyn. Maar Europese geleerdes het gou besef dat hulle ’n betroubare teks van die Bybel in die oorspronklike tale—Hebreeus en Grieks—nodig gehad het. Die Katolieke Kerk het die Latynse Vulgaat as die enigste goedgekeurde Bybelvertaling beskou, maar daar was twee groot probleme daarmee. In die 16de eeu het die meeste mense nie Latyn verstaan nie. En verder het daar, oor ’n tydperk van duisend jaar, ’n aansienlike hoeveelheid kopieerfoute in die teks van die Vulgaat ingesluip.
Vertalers sowel as geleerdes het ’n Bybel in die oorspronklike tale nodig gehad, asook ’n verbeterde Latynse vertaling. In 1502 het kardinaal Jiménez de Cisneros, die politieke en geestelike adviseur van Isabella I van Spanje, besluit om met ’n enkele publikasie in hulle behoeftes te voorsien. Hierdie geskiedkundige vertaalhulpmiddel het bekend geword as die Complutensiese Poliglot. Cisneros het beoog om ’n Poliglot, of veeltalige Bybel, uit te gee wat die beste teks in Hebreeus, Grieks en Latyn bevat, asook sekere dele in Aramees. Aangesien die drukkuns nog in sy aanvangstadium was, sou hierdie prestasie uiteindelik ook ’n mylpaal op dié gebied wees.
Cisneros het met sy ontsaglike taak begin deur antieke Hebreeuse manuskripte, waarvan daar baie in Spanje was, op te koop. Hy het ook verskillende Griekse en Latynse manuskripte bymekaargemaak. Dit sou die grondslag vir die teks van die Poliglot vorm. Cisneros het die samestelling daarvan aan ’n span geleerdes oorgelaat en gereël dat hulle by die nuutgestigte Universiteit van Alcalá de Henares, Spanje, werk. Een van die geleerdes wat gevra is om met die projek te help, was Erasmus van Rotterdam, maar hierdie beroemde taalkundige het die uitnodiging van die hand gewys.
Dit het die geleerdes tien jaar geneem om die enorme werk saam te stel, en daarna het die drukwerk nog vier jaar geneem. Daar was baie tegniese probleme, aangesien Spaanse drukkers nie Hebreeuse, Griekse of Aramese drukletters gehad het nie. Gevolglik het Cisneros die dienste verkry van ’n meesterdrukker, Arnaldo Guillermo Brocario, om die drukletters vir hierdie tale te maak. Die drukkers het uiteindelik in 1514 met produksie begin. Die ses dele is op 10 Julie 1517 voltooi, net vier maande voor die kardinaal se dood. Sowat seshonderd eksemplare van die volledige werk is, ironies genoeg, uitgegee op dieselfde tyd dat die Spaanse Inkwisisie ’n hoogtepunt bereik het.a
Samestelling van die werk
Elke bladsy van die Poliglot het ’n skat van inligting bevat. In die vier dele wat met die Hebreeuse Geskrifte ooreenkom, het die teks van die Vulgaat in die middel van elke bladsy verskyn; die Hebreeuse teks het die buitenste kolom gevorm en die Griekse teks, tesame met ’n interlineêre vertaling in Latyn, was die binneste kolom. Die grondwoorde van talle Hebreeuse woorde het in die kantlyn verskyn. En op die onderste deel van elke bladsy wat met die Pentateug ooreenstem, het die uitgewers ook die Targum of Onkelos (’n Aramese parafrase van die eerste vyf Bybelboeke) sowel as ’n Latynse vertaling ingesluit.
Die vyfde deel van die Poliglot het die Griekse Geskrifte in twee kolomme bevat. Een kolom het die Griekse teks bevat en die ander een die ooreenstemmende Latynse teks uit die Vulgaat. Die ooreenkomste in die teks van die twee tale is aangedui deur middel van klein lettertjies wat die leser se aandag op die ooreenstemmende woord in elke kolom gevestig het. Die Griekse teks van die Poliglot was die eerste volledige versameling van die Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”, wat ooit gedruk is, en kort daarop het die uitgawe gevolg waaraan Erasmus gewerk het.
Die geleerdes het die teks van die vyfde deel so noukeurig geproeflees dat daar slegs 50 drukfoute daarin voorgekom het. Weens die noulettendheid van hierdie geleerdes slaan hedendaagse kritici dit hoër aan as die bekende Griekse teks van Erasmus. Die sierlike Griekse letters het goed gepas by die eenvoudige prag van die unsiaalskrif van die ouer manuskripte. In sy boek The Printing of Greek in the Fifteenth Century sê R. Proctor: “Spanje verdien erkenning vir die feit dat die eerste Griekse drukletters wat dit vervaardig het, ongetwyfeld die sierlikste Griekse lettertipe is wat ooit gesny is.”
Die sesde deel van die Poliglot het verskeie Bybelstudiehulpe bevat: ’n Hebreeuse en Aramese woordeboek, ’n verklaring van Griekse, Hebreeuse en Aramese name, Hebreeuse grammatika en ’n Latynse indeks vir die woordeboek. Dit is geen wonder nie dat die Complutensiese Poliglot al geprys is as ’n “monument ter ere van die drukkuns en Bybelkunde”.
Cisneros wou hê dat hierdie werk “die bestudering van die Skrif, wat op daardie tydstip feitlik doodgeloop het, moes laat herleef”, en tog het hy geen begeerte gehad om die Bybel aan die algemene publiek beskikbaar te stel nie. Hy was van mening dat “die Woord van God in geheimsinnigheid gehul moes wees, ver buite die bereik van die gewone mens”. Hy het ook geglo dat “die Skrif beperk moes word tot die drie eertydse tale wat God op die inskrywing bokant sy gekruisigde Seun se kop toegelaat het”.b Daarom het daar nie ’n Spaanse vertaling in die Complutensiese Poliglot verskyn nie.
Die Vulgaat teenoor die oorspronklike tale
Die blote samestelling van die Poliglot het tot meningsverskille gelei onder die geleerdes wat daarby betrokke was. Die bekende Spaanse geleerde Antonio de Nebrijac het die verantwoordelikheid gehad om die teks van die Vulgaat te hersien wat in die Poliglot-Bybel sou verskyn. Hoewel die Katolieke Kerk Hieronimus se Vulgaat as die enigste gesaghebbende vertaling beskou het, het Nebrija dit nodig geag om die Vulgaat met die oorspronklike Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste te vergelyk. Hy wou die ooglopende foute regstel wat in die bestaande afskrifte van die Vulgaat ingesluip het.
Nebrija wou enige teenstrydighede tussen die Vulgaat en die oorspronklike tale regstel en het Cisneros aangespoor: “Steek weer eens die twee onaangesteekte fakkels van ons geloof aan, die Hebreeuse en die Griekse tale. Beloon dié wat hulle aan hierdie taak wy.” Hy het ook die volgende voorstel gemaak: “Elke keer as daar ’n afwyking in die Latynse manuskripte van die Nuwe Testament is, moet ons teruggaan na die Griekse manuskripte. En elke keer as daar ’n verskil tussen verskeie Latynse manuskripte is, of tussen Latynse en Griekse manuskripte van die Ou Testament, moet ons akkuraatheid in die oorspronklike Hebreeuse bron gaan soek.”
Hoe het Cisneros hierop gereageer? In sy voorwoord by die Poliglot-Bybel het Cisneros geen twyfel gelaat oor sy mening nie. “Ons het die Latynse vertaling van die geseënde Hieronimus tussen dié van die Sinagoge [die Hebreeuse teks] en dié van die Oosterse Kerk [die Griekse teks] geplaas, net soos die diewe gehang is aan beide kante van Jesus, wat die Roomse, of Latynse, Kerk verteenwoordig.” Gevolglik het Cisneros nie toegelaat dat Nebrija die Latynse Vulgaat in ooreenstemming met die teks van die oorspronklike tale bring nie. Uiteindelik het Nebrija besluit om hom eerder aan die projek te onttrek as om sy naam te verbind met ’n gebrekkige hersiening.
Comma Johanneum
Hoewel die Poliglot-Bybel van Alcalá de Henares ’n reusestap vorentoe was om ’n verbeterde teks in die oorspronklike tale van die Bybel te lewer, het tradisie soms oor vakkundigheid geseëvier. Die Vulgaat is so hooggeag dat die redakteurs verplig gevoel het om op verskeie geleenthede eerder die Griekse teks van die “Nuwe Testament” te verander om te verseker dat dit met die Latyn ooreenstem, as anders-om. Een voorbeeld hiervan is die bekende vervalste teks wat as die comma Johanneum bekend staan.d Nie een van die vroeë Griekse manuskripte het hierdie frase bevat nie, wat klaarblyklik ingevoeg is etlike eeue nadat Johannes sy brief geskryf het; ook het dit nie in die oudste Latynse manuskripte van die Vulgaat voorgekom nie. Daarom het Erasmus hierdie invoeging uit sy Griekse “Nuwe Testament” weggelaat.
Die redakteurs van die Poliglot was onwillig om af te sien van ’n vers wat eeue lank al deel van die tradisionele teks van die Vulgaat was. Daarom het hulle die vervalste teks in die Latyn behou en besluit om dit te vertaal en in die Griekse teks in te voeg sodat die twee kolomme ooreen sou stem.
Die grondslag vir nuwe Bybelvertalings
Die waarde van die Complutensiese Poliglot rus nie net op die feit dat dit die eerste gedrukte uitgawe van die volledige Griekse Geskrifte tesame met dié van die Septuagint bevat het nie. Net soos die Griekse “Nuwe Testament” van Erasmus die Aanvaarde Teks van die Griekse Geskrifte (die grondslag vir talle vertalings in ander tale) geword het, het die Hebreeuse teks van die Poliglot ’n grondteks vir die Hebreeus-Aramese Geskrifte voorsien.e William Tyndale het hierdie Poliglot as die basiese Hebreeuse teks vir sy vertaling van die Bybel in Engels gebruik.
Die vakkundige werk van die span wat die Complutensiese Poliglot saamgestel het, het dus ’n wesenlike bydrae gelewer tot die vooruitgang van Bybelkunde. Dit is uitgegee gedurende ’n tyd toe daar oor die hele Europa toenemende belangstelling in die Bybel was, wat tot die vertaling daarvan in die gewone taal van die mense aanleiding gegee het. Die Poliglot was een van die skakels in ’n reeks projekte wat daartoe bygedra het dat die Griekse en Hebreeuse teks verfyn en bewaar is. Dit is alles in harmonie met God se voorneme dat ‘die gelouterde woord van Jehovah’, ‘die woord van ons God, tot onbepaalde tyd sal bly bestaan’.—Psalm 18:30; Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25.
[Voetnote]
a Seshonderd eksemplare is op papier gedruk, en ses op perkament. In 1984 is ’n beperkte faksimilee-uitgawe gedruk.
b Hebreeus, Grieks en Latyn.—Johannes 19:20.
c Nebrija word beskou as die baanbreker vir die Spaanse humaniste (liberale geleerdes). In 1492 het hy die eerste Gramática castellana (Grammatika van die Kastiliaanse Taal) uitgegee. Drie jaar later het hy besluit om die res van sy lewe aan die studie van die Heilige Skrif te wy.
d Die vervalste invoeging wat in party Bybelvertalings in 1 Johannes 5:7 gevind word, is “in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.”
e Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1984, bladsye 25-29, vir ’n artikel oor die werk van Erasmus.
[Prent op bladsy 29]
Kardinaal Jiménez de Cisneros
[Erkenning]
Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid
[Prent op bladsy 30]
Antonio de Nebrija
[Erkenning]
Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Biblioteca Histórica. Universidad Complutense de Madrid