Vrae van lesers
Wat is in eertydse Israel voorgestel deur die wonderdadige lig wat soms Sjekina genoem is en in die Allerheiligste van die tabernakel en die tempel verskyn het?
Jehovah, die liefdevolle Vader en Beskermer van sy volk, het sy teenwoordigheid in Israel duidelik waarneembaar gemaak. Een manier waarop hy dit gedoen het, was deur ’n glimmende wolk wat ten nouste verbonde was aan sy plek van aanbidding.
Daardie merkwaardige lig het Jehovah se onsigbare teenwoordigheid voorgestel. Dit het verskyn in die Allerheiligste van die tabernakel sowel as van die tempel wat Salomo gebou het. Daardie wonderdadige lig het nie beteken dat Jehovah fisies daar teenwoordig was nie. God kan nie tot enige mensgemaakte gebou beperk word nie (2 Kronieke 6:18; Handelinge 17:24). Hierdie bonatuurlike lig in God se heiligdom kon die hoëpriester en deur middel van hom al die Israeliete die vertroue gee dat Jehovah se beskermende teenwoordigheid na hulle en hulle behoeftes omsien.
In na-Bybelse Aramees is hierdie lig Sjekina (shekhi·nahʹ) genoem, ’n woord wat “dit wat woon” of “die woning” beteken. Hierdie woord kom nie in die Bybel voor nie, maar word gevind in Aramese vertalings van die Hebreeuse Geskrifte, wat ook as die Targoems bekend staan.
Toe Jehovah instruksies oor die oprigting van die tabernakel gegee het, het hy vir Moses gesê: “Jy moet die deksel bo-op die Ark sit, en in die Ark moet jy die getuienis sit wat ek jou sal gee. En ek sal my daar voor jou stel en van bokant die deksel af, tussen die twee gerubs uit wat op die ark . . . is, met jou praat” (Eksodus 25:21, 22). Die Ark wat hier genoem word, was ’n kis in die Allerheiligste wat met goud oorgetrek was. Daar was twee goue gerubs op die deksel van die Ark.
Van waar af sou Jehovah praat? Hy het die antwoord verstrek toe hy vir Moses gesê het: “In ’n wolk sal ek bokant die deksel verskyn” (Levitikus 16:2). Hierdie wolk het bo die heilige Ark tussen die twee goue gerubs gehang. Die Bybel sê nie hoe hoog hierdie wolk was of tot hoe ver bokant die gerubs dit gestrek het nie.
Hierdie glimmende wolk het die Allerheiligste verlig. Dit was in werklikheid die enigste ligbron in daardie vertrek. Die hoëpriester het by hierdie lig baat gevind wanneer hy op die Versoendag in hierdie binneste vertrek ingegaan het. Hy het in die teenwoordigheid van Jehovah gestaan.
Het hierdie wonderdadige lig enige betekenis vir Christene? Die apostel Johannes het in ’n visioen ’n stad gesien waar ‘nag nie sal bestaan nie’. Die stad is Nuwe Jerusalem, wat bestaan uit gesalfde Christene wat opgewek is om saam met Jesus te regeer. Die lig van hierdie simboliese stad kom nie van die son of die maan af nie. Jehovah God se heerlikheid voorsien regstreeks lig aan hierdie organisasie, net soos die Sjekina-wolk die Allerheiligste verlig het. En die Lam, Jesus Christus, is die stad se “lamp”. Hierdie “stad” gee op sy beurt sy geestelike lig en guns aan losgekoopte mense uit al die nasies om hulle te lei.—Openbaring 21:22-25.
Omdat Jehovah se aanbidders sulke oorvloedige seëninge van bo ontvang, kan hulle seker wees dat Jehovah hulle beskermende Herder en liefdevolle Vader is.