Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 10/1 bl. 16-20
  • My ouers se voorbeeld het my versterk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My ouers se voorbeeld het my versterk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons leer die waarheid
  • Dwangarbeid gedurende die Tweede Wêreldoorlog
  • Tronkstraf in Masedonië
  • Tronkstraf in Maribor
  • Ons vlug na Oostenryk, daarna Australië
  • God was barmhartig teenoor my
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 10/1 bl. 16-20

Lewensverhaal

My ouers se voorbeeld het my versterk

SOOS VERTEL DEUR JANEZ REKELJ

Dit was 1958. Ek en my vrou, Stanka, was hoog in die Karawanken-Alpe by die grens van Joego-Slawië en Oostenryk omdat ons na Oostenryk wou vlug. Dit was baie gevaarlik, want gewapende Joego-Slawiese grenspatrollies was vasbeslote om te keer dat enigiemand die grens oorsteek. Terwyl ons geloop het, het ons by ’n loodregte afgrond gekom. Ek en Stanka het nooit voorheen die Oostenrykse kant van die berge gesien nie. Ons het in ’n oostelike rigting geloop totdat ons by ’n ruwe skuinste van rots en gruis gekom het. Ons het ons vasgemaak aan ’n seil wat ons saamgedra het en het teen die berg afgegly, na ’n onsekere toekoms.

LAAT ek verduidelik hoe ons in hierdie situasie beland het en hoe my ouers se getroue voorbeeld my aangespoor het om in moeilike tye lojaal aan Jehovah te bly.

Ek het grootgeword in Slowenië, wat vandag ’n klein landjie in Sentraal-Europa is. Dit is in die Europese Alpe geleë, met Oostenryk in die noorde, Italië in die weste, Kroasië in die suide en Hongarye in die ooste. Maar toe my ouers, Franc en Rozalija Rekelj, gebore is, was Slowenië deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het Slowenië deel geword van ’n nuwe staat wat die Koninkryk van die Serwiërs, Kroate en Slowene genoem is. In 1929 is die naam van die land verander na Joego-Slawië, wat letterlik “Suid-Slawië” beteken. Ek is op 9 Januarie van daardie jaar gebore, in die buitewyke van die dorpie Podhom naby die skilderagtige Bled-meer.

My ma het ’n streng Katolieke opvoeding gehad. Een van haar ooms was ’n priester, en drie van haar tannies was nonne. Sy het ’n vurige begeerte gehad om ’n Bybel te besit, dit te lees en te verstaan. My pa het egter nie veel van godsdiens gedink nie. Die rol wat godsdiens in die Groot Oorlog van 1914-18 gespeel het, het hom gewalg.

Ons leer die waarheid

Ná die oorlog het my ma se neef, Janez Brajec, en sy vrou, Ančka, Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Hulle het op daardie stadium in Oostenryk gewoon. Van ongeveer 1936 af het Ančka my ma ’n hele paar keer kom besoek. Sy het my ma ’n Bybel gegee, wat my ma gou begin lees het, asook eksemplare van Die Wagtoring en ander Bybelpublikasies in Sloweens. Uiteindelik het Janez en Ančka na Slowenië teruggetrek omdat Hitler Oostenryk in 1938 geannekseer het. Ek onthou dat hulle ’n geletterde, verstandige egpaar was wat werklik lief was vir Jehovah. Hulle het dikwels Bybelwaarhede met my ma bespreek, wat haar beweeg het om haar lewe aan Jehovah toe te wy. Sy is in 1938 gedoop.

My ma het ’n opskudding in die gemeenskap veroorsaak toe sy weggebreek het van onskriftuurlike gebruike, soos die viering van Kersfees, toe sy opgehou het om bloedwors te eet en veral toe sy al die beelde wat ons besit het, verbrand het. Dit was nie lank voordat sy teenkanting ondervind het nie. My ma se tannies, die nonne, het ’n punt daarvan gemaak om aan haar te skryf, en hulle het haar probeer oortuig om terug te keer na Maria en die kerk. Maar toe my ma aan hulle skryf en antwoorde vra op spesifieke Bybelvrae, het hulle nie teruggeskryf nie. My oupa het haar ook hewig teëgestaan. Hy was nie ’n slegte mens nie, maar ons familie en die gemeenskap het geweldige druk op hom geplaas. As gevolg daarvan het hy etlike kere my ma se Bybellektuur vernietig, maar hy het nooit aan haar Bybel geraak nie. Hy het haar op sy knieë gesmeek om na die kerk terug te keer. Hy het haar selfs met ’n mes gedreig. My pa het hom egter duidelik laat verstaan dat hy nie sulke gedrag sou duld nie.

My pa het my ma se reg om die Bybel te lees en haar eie keuse te maak in verband met haar geloofsoortuiging, altyd ondersteun. In 1946 is hy ook gedoop. Omdat ek gesien het hoe Jehovah my ma versterk het om vreesloos ’n standpunt vir die waarheid in te neem ten spyte van teenstand en hoe Jehovah haar beloon het vir haar geloof, het dit my aangespoor om my eie verhouding met God te ontwikkel. Ek het ook baie baat gevind by my ma se gewoonte om hardop vir my uit die Bybel en uit Bybelpublikasies te lees.

My ma het ook lang besprekings gehad met haar suster, Marija Repe, en uiteindelik is ek en tannie Marija op dieselfde dag in die middel van Julie 1942 gedoop. ’n Broer het gekom om ’n kort toespraak te hou, en ons is by ons huis in ’n groot houtbad gedoop.

Dwangarbeid gedurende die Tweede Wêreldoorlog

In 1942, in die middel van die Tweede Wêreldoorlog, het Duitsland en Italië Slowenië ingeval, en dit is onder hierdie twee lande en Hongarye verdeel. My ouers het geweier om by die Nazi’s se Volksbund aan te sluit. Ek het geweier om “Heil Hitler” by die skool te sê. My onderwyser het blykbaar die owerheid van die situasie in kennis gestel.

Ons is op ’n trein gesit na ’n kasteel naby die dorpie Hüttenbach, Beiere, wat as ’n strafkamp gebruik is. My pa het gereël dat ek by die plaaslike bakker en sy gesin woon en werk. Gedurende hierdie tyd het ek geleer om ’n bakker te wees, wat later baie nuttig was. Later is die res van my familie (insluitende tannie Marija en haar gesin) oorgeplaas na die kamp in Gunzenhausen.

Aan die einde van die oorlog was ek van plan om saam met ’n groep te reis na waar my ouers was. Die aand voordat ek sou vertrek, het my pa onverwags opgedaag. Ek weet nie waar ek vandag sou gewees het as ek saam met daardie groep gegaan het nie, want dit het uit mense van twyfelagtige karakter bestaan. Weer eens het ek Jehovah se liefdevolle sorg ervaar deurdat hy my ouers gebruik het om my te beskerm en op te lei. Ek en my pa het drie dae lank geloop om by die familie aan te sluit. Teen Junie 1945 was ons almal weer by die huis.

Ná die oorlog het die Kommuniste onder leiding van president Josip Broz Tito in Joego-Slawië aan bewind gekom. Gevolglik het toestande vir Jehovah se Getuies moeilik gebly.

In 1948 het ’n broer van Oostenryk gekom, en ons het hom vir ’n ete genooi. Waar hy ook al gegaan het, het die polisie hom gevolg en die broers wat hy besoek het, in hegtenis geneem. Omdat my pa gasvryheid aan hom bewys het en hom nie by die polisie aangemeld het nie, is hy ook in hegtenis geneem en het hy toe twee jaar in die tronk deurgebring. Dit was ’n baie moeilike tyd vir my ma, nie net omdat my pa weg was nie, maar ook omdat sy geweet het dat ek en my jonger broer binnekort voor die toets van neutraliteit te staan sou kom.

Tronkstraf in Masedonië

In November 1949 is ek opgeroep vir militêre diens. Ek het my gaan aanmeld en my gewetensbeswaar teen militêre diens verduidelik. Die owerheid wou nie na my luister nie en het my op ’n trein gesit saam met die rekrute wat op pad was na Masedonië, aan die verste punt van Joego-Slawië.

Ek was drie jaar lank afgesny van my familie en die broederskap en het glad nie lektuur of eens ’n Bybel gehad nie. Dit was baie moeilik. Ek het geestelik sterk gebly deur te peins oor Jehovah en die voorbeeld wat sy Seun, Jesus Christus, gestel het. My ouers se voorbeeld het my ook versterk. Daarbenewens het my volgehoue gebed vir krag my gehelp om nie mismoedig te word nie.

Later is ek na ’n tronk gestuur in Idrizovo, naby Skopje. In hierdie tronk het gevangenes hulle besig gehou met verskillende take en ambagte. Aanvanklik het ek as ’n skoonmaker en as ’n posbode tussen kantore gewerk. Hoewel een gevangene wat ’n voormalige lid van die staatspolisie was, my dikwels getiranniseer het, het ek ’n goeie werksverhouding met al die ander mense gehad—tronkbewaarders, gevangenes, selfs die bestuurder van die fabriek in die tronk.

Later het ek uitgevind dat daar ’n bakker in die tronk se bakkery nodig was. ’n Paar dae later het die bestuurder na die rollesing gekom. Hy het met die ry af geloop, voor my kom staan en gevra: “Is jy ’n bakker?” “Ja, meneer”, het ek gesê. “Meld môre-oggend by die bakkery aan”, het hy geantwoord. Die gevangene wat my mishandel het, het dikwels verby die bakkery geloop maar kon niks daaromtrent doen nie. Ek het van Februarie tot Julie 1950 daar gewerk.

Daarna is ek oorgeplaas na die barak wat Volkoderi genoem is, in die suide van Masedonië naby die Prespa-meer. Van die nabygeleë Otešovo kon ek briewe huis toe stuur. Ek was deel van ’n padbouspan, maar die meeste van die tyd het ek in ’n bakkery gewerk, wat dinge vir my makliker gemaak het. Ek is in November 1952 vrygelaat.

Gedurende die tyd wat ek van Podhom weg was, is ’n gemeente in die gebied gestig. Aanvanklik het die gemeente in ’n gastehuis in Spodnje Gorje bymekaargekom. Later het my pa ’n vertrek in ons huis beskikbaar gestel waar die gemeente kon bymekaarkom. Ek was bly dat ek by hulle kon aansluit toe ek van Masedonië teruggekeer het. Ek het ook my vriendskap met Stanka hervat, met wie ek kennis gemaak het voordat ek tronk toe is. Op 24 April 1954 is ons getroud. My vryheid was egter van korte duur.

Tronkstraf in Maribor

In September 1954 is ek weer opgeroep. Hierdie keer is ek tot meer as drie en ’n half jaar tronkstraf gevonnis in Maribor, wat aan die oostelike punt van Slowenië geleë is. So gou as wat ek kon, het ek papier en potlode gekoop. Ek het alles begin neerskryf wat ek kon onthou—tekste, aanhalings uit Die Wagtoring en gedagtes uit ander Christelike publikasies. Ek het my notas gelees en meer dinge by my boek gevoeg wanneer ek nog iets onthou het. Uiteindelik was die boek vol, en dit het my in staat gestel om op die waarheid gefokus en geestelik sterk te bly. Gebed en bepeinsing was ook vir my van onskatbare waarde om geestelik sterk te bly, en dit het my meer moed gegee om die waarheid aan ander te verkondig.

Gedurende hierdie tyd is ek toegelaat om een brief en een besoek van 15 minute per maand te ontvang. Stanka het die hele nag per trein gereis sodat sy vroeg by die tronk kon wees om my te besoek, en dan kon sy dieselfde dag teruggaan. Ek het hierdie besoeke baie bemoedigend gevind. Toe het ek ’n plan beraam om ’n Bybel in die hande te kry. Ek en Stanka het by ’n tafel oorkant mekaar gesit, met ’n tronkbewaarder wat aangewys is om ons dop te hou. Toe die bewaarder wegkyk, het ek gou ’n brief in haar handsak gesit waarin ek haar gevra het om met haar volgende besoek ’n Bybel in haar sak te sit.

Stanka en my ouers het gedink dat dit te gevaarlik is, en hulle het dus ’n eksemplaar van die Christelike Griekse Geskrifte uitmekaargehaal en die bladsye in ’n paar broodrolletjies gesit. Sodoende het ek die Bybel ontvang wat ek nodig gehad het. Ek het ook op hierdie manier eksemplare van Die Wagtoring ontvang, wat Stanka met die hand geskryf het. Ek het dit dadelik oorgeskryf en die oorspronklike vernietig sodat niemand wat die artikels ontdek, sou kon uitvind waar ek dit gekry het nie.

Weens my volgehoue getuieniswerk het medegevangenes gesê dat ek sekerlik in die moeilikheid sou beland. By een geleentheid was ek besig met ’n redelik lewendige Bybelbespreking met ’n medegevangene. Ons het gehoor hoe die sleutel in die slot gesteek word, en ’n tronkbewaarder het ingeloop. Ek het dadelik gedink dat ek in eensame opsluiting gesit sou word. Maar dit was nie wat hy wou doen nie. Hy het die bespreking gehoor en wou ook daaraan deelneem. Tevrede met die antwoorde op sy vrae, het hy weer geloop en die seldeur agter hom gesluit.

Gedurende die laaste maand van my tronkstraf het die kommissaris wat verantwoordelik was vir die rehabilitasie van gevangenes, my geprys vir my ferm standpunt vir die waarheid. Na my mening was dit ’n goeie beloning vir my pogings om Jehovah se naam bekend te maak. In Mei 1958 is ek weer uit die tronk vrygelaat.

Ons vlug na Oostenryk, daarna Australië

In Augustus 1958 is my ma oorlede. Sy was lank siek. In September 1958 is ek toe vir die derde keer opgeroep. Daardie aand het ek en Stanka die gewigtige besluit geneem wat gelei het tot die dramatiese tog oor die grens wat vroeër genoem is. Sonder om enigiemand te vertel, het ons ’n paar rugsakke en ’n seil gepak en deur die venster geklim, op pad na die Oostenrykse grens net wes van die berg Stol. Dit het gelyk asof Jehovah vir ons die uitweg gegee het toe hy sien dat ons verligting nodig het.

Die Oostenrykse regering het ons na ’n vlugtelingkamp naby Salzburg gestuur. Gedurende ons ses maande daar was ons altyd by die plaaslike Getuies en het ons dus baie min tyd in die kamp deurgebring. Ander in die kamp was verstom dat ons so vinnig vriende gemaak het. Dit was gedurende hierdie tyd dat ons ons eerste byeenkoms bygewoon het. Ons kon ook vir die eerste keer vryelik van huis tot huis getuig. Toe die tyd aanbreek om te vertrek, was dit vir ons baie moeilik om hierdie dierbare vriende agter te laat.

Die Oostenrykse regering het ons die geleentheid gebied om na Australië te immigreer. Ons het nooit eens gedroom dat ons so ver sou gaan nie. Ons is per trein na Genua, Italië, en toe per skip na Australië. Ons het ons uiteindelik gevestig in die stad Wollongong, Nieu-Suid-Wallis. Ons seun, Philip, is op 30 Maart 1965 hier gebore.

In Australië was daar vir ons talle nuwe diensgeleenthede, insluitende die geleentheid om vir ander te getuig wat geëmigreer het uit die gebiede wat voorheen as Joego-Slawië bekend gestaan het. Ons is dankbaar vir Jehovah se seëninge, onder andere die feit dat ons hom as ’n verenigde gesin kan dien. Philip en sy vrou, Susie, het die voorreg om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië te dien, en hulle het selfs die geleentheid gehad om twee jaar by die takkantoor in Slowenië te dien.

Ondanks die uitdagings wat die ouderdom en gesondheidsprobleme meebring, geniet ek en my vrou nog steeds ons diens aan Jehovah. Ek is so dankbaar vir my ouers se goeie voorbeeld! Dit versterk my voortdurend en help my om te doen wat die apostel Paulus gesê het: “Verbly julle in die hoop. Volhard onder verdrukking. Hou vol met gebed.”—Romeine 12:12.

[Prent op bladsy 16, 17]

My ouers in die laat 1920’s

[Prent op bladsy 17]

My ma, heel regs, met Ančka, wat haar die waarheid geleer het

[Prent op bladsy 18]

Saam met my vrou, Stanka, ’n kort tydjie nadat ons getroud is

[Prent op bladsy 19]

Die gemeente wat in 1955 in ons gesin se huis bymekaargekom het

[Prent op bladsy 20]

Saam met my vrou, ons seun Philip en sy vrou, Susie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel