God was barmhartig teenoor my
Soos vertel deur Bolfenk Moc̆nik
“Bly nou sterk.” Dit was die kragtige en dringende woorde van my ma terwyl sy my ’n drukkie gegee het. Soldate het ons van mekaar geskei, en die verhoor het begin. Uiteindelik is die vonnis uitgespreek: vyf jaar tronkstraf. Die meeste mense sou moontlik verpletter gewees het. Maar om die waarheid te sê, ek het uiteindelik diep innerlike vrede ervaar. Kom ek verduidelik.
DIE gebeure wat hierbo beskryf word, het in 1952 in Slowenië plaasgevind.a Maar my verhaal begin eintlik meer as twee dekades vroeër, in 1930. In daardie jaar het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, die eerste keer in die land gereël dat ’n groep persone by dieselfde geleentheid gedoop word. My ouers, Berta en Franz Moc̆nik, was onder die dopelinge. Ek was toe ses, en my suster, Majda, was vier. Ons huis in die stad Maribor was ’n sentrum van Christelike bedrywighede.
Adolf Hitler het in 1933 in Duitsland aan bewind gekom en die Getuies begin vervolg. Talle Duitse Getuies het na Joego-Slawië verhuis om met die predikingswerk te help. My ouers het dit geniet om hierdie getroue mense as gaste te hê. Een gas wat ek goed onthou, is Martin Poetzinger, wat later nege jaar in Nazi-konsentrasiekampe deurgebring het. Hy het jare later, van 1977 tot sy dood in 1988, as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.
Wanneer Martin ons besoek het, het hy altyd in my bed geslaap, en ek en my suster het saam met my ouers in hulle slaapkamer geslaap. Hy het ’n klein, kleurvolle ensiklopedie gehad wat my kinderverbeelding gaande gemaak het. Ek het daarvan gehou om deur dié boek te blaai.
’n Tyd van swaar beproewinge
In 1936, terwyl Hitler se mag toegeneem het, het my ouers die onvergeetlike internasionale byeenkoms in Luzern, Switserland, bygewoon. Omdat my pa ’n mooi baritonstem gehad het, is hy by hierdie geleentheid gekies om opnames te maak van Bybelpreke wat later vir huisbewoners dwarsdeur Slowenië gespeel is. Nie lank ná daardie onvergeetlike byeenkoms nie het die verskriklike vervolging van die Getuies in Europa begin. Baie het in Nazi-konsentrasiekampe gely en gesterf.
In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog begin, en teen April 1941 het Duitse troepe dele van Joego-Slawië beset. Sloweense skole is gesluit. Ons is verbied om ons taal in die openbaar te praat. Omdat Jehovah se Getuies in alle politieke konflikte neutraal bly, het hulle geweier om die oorlogspoging te steun.b Gevolglik is baie in hegtenis geneem en is party tereggestel—onder wie ’n jong man met die naam Franc Drozg, wat ek goed geken het. Die Nazi-vuurpelotonne het hulle werk omtrent honderd meter van ons huis af gedoen. Ek kan nog sien hoe my ma ’n doek om haar ore bind sodat sy nie die skote sou hoor nie. Die laaste woorde van Franc se afskeidsbrief aan ’n goeie vriend was: “Sien jou in God se Koninkryk.”
’n Besluit waaroor ek baie spyt is
Ek was toe 19 jaar oud. Hoewel ek Franc vir sy ferm standpunt bewonder het, was ek bang. Sou ek ook sterf? My geloof was swak, en my verhouding met Jehovah God was oppervlakkig. Toe is ek vir diensplig opgeroep. My vrees was groter as my geloof; daarom het ek my gaan aanmeld.
Ek is na die Russiese front gestuur. Weldra het ek medesoldate oral om my sien sterf. Die oorlog was skrikwekkend en wreed. My gewete het my al hoe meer begin pla. Ek het Jehovah gesmeek om my te vergewe en my die krag te gee om op die regte weg te wandel. Toe ’n hewige aanval verwarring onder ons afdeling gesaai het, het ek die geleentheid aangegryp om te vlug.
Ek het geweet dat ek tereggestel sou word as ek gevang word. Gedurende die volgende sewe maande het ek verskeie wegkruipplekke gevind. Ek het dit selfs reggekry om ’n poskaart aan Majda te stuur met die boodskap: “Ek het my werkgewer verlaat en werk nou vir iemand anders.” Ek het bedoel dat ek nou vir God wou werk, maar dit het ’n hele ruk geneem voordat ek dit werklik gedoen het.
In Augustus 1945, drie maande nadat Duitsland aan die Geallieerdes oorgegee het, kon ek na Maribor terugkeer. Verbasend genoeg het ons almal—my pa, ma en suster—daardie verskriklike oorlog oorleef. Maar teen dié tyd was die Kommuniste in beheer, en hulle het Jehovah se Getuies vervolg. Daar was ’n amptelike verbod op die predikingswerk, maar die Getuies het ondergronds gewerk en aangehou preek.
In Februarie 1947 is drie getroue Getuies—Rudolf Kalle, Dus̆an Mikić en Edmund Stropnik—ter dood veroordeel. Later is die vonnisse egter tot 20 jaar tronkstraf verander. Die nuusmedia het wye publisiteit hieraan gegee, en so het baie mense bewus geword van die onregverdige behandeling van die Getuies. Toe ek daardie nuusberigte gelees het, het dit my diep getref. Ek het geweet wat ek moet doen.
Ek verkry geestelike krag
Ek was pynlik bewus van die feit dat ek my standpunt vir Bybelwaarheid moet inneem, en daarom het ek hard gewerk sodat ek in ons ondergrondse predikingswerk gebruik kon word. Ernstige Bybellees het my gehelp om die geestelike krag te verkry om onrein gewoontes te laat staan, soos die rookgewoonte.
In 1951 is ek gedoop as ’n simbool van my toewyding aan God, en ek was terug op ’n lewensweg wat ek byna ’n dekade vroeër verlaat het. Ek het Jehovah uiteindelik leer ken as ’n ware Vader—getrou, lojaal en onwrikbaar in sy liefde. Hoewel ek as ’n jong man onverstandige besluite geneem het, het die Bybel se versekering van God se vergifnis my diep getref. As ’n liefdevolle Vader het God my “met die koorde van liefde” bly trek.—Hosea 11:4.
Gedurende daardie moeilike tyd het ons in die geheim Christelike vergaderinge in die huise van verskillende Getuies gehou, en ons het ons predikingswerk op ’n informele wyse gedoen. Minder as ’n jaar ná my doop is ek in hegtenis geneem. My ma het my kortliks voor die verhoor gesien. Soos aan die begin genoem is, het sy my ’n stywe drukkie gegee en my aangespoor: “Bly nou sterk.” Toe die vonnis van vyf jaar tronkstraf uitgespreek is, het ek kalm en standvastig gebly.
Ek is in ’n klein sel saam met drie ander gevangenes gesit, wat my die geleentheid gegee het om Bybelwaarheid bekend te maak aan hierdie mans, wat andersins nie bereik sou kon word nie. Al het ek nie ’n Bybel of Bybellektuur gehad nie, was ek verbaas dat ek, danksy my ure van persoonlike Bybelstudie, tekste en die verduidelikings daarvan kon onthou. Ek het vir my medegevangenes bly sê dat Jehovah my, as ek vyf jaar in die tronk moes bly, die krag sou gee om dit te doen. Maar dalk sou hy vroeër vir my ’n deur oopmaak. As hy dit doen, het ek geredeneer, wie sou dit kon toemaak?
’n Mate van vryheid
In November 1953 het die regering ’n amnestie afgekondig; al Jehovah se Getuies is uit die tronk vrygelaat. Ek het toe gehoor dat die verbod op ons predikingswerk twee maande tevore opgehef is. Ons het die gemeentes en ons predikingswerk onmiddellik begin herorganiseer. Ons het ’n vergaderplek in die kelder van ’n gebou in die middel van Maribor gevind. Ons het ’n bord teen die muur opgesit wat sê: “Jehovah se Getuies—Maribor-gemeente.” Die vreugde om Jehovah in vryheid te dien, het ons harte met diepe waardering gevul.
Vroeg in 1961 het ek die voltydse bediening as ’n pionier betree. Omtrent ses maande later is ek genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Joego-Slawië te dien. Dit was geleë in Zagreb, Kroasië. Die tak het destyds uit een klein vertrek en ’n personeel van drie mans bestaan. Mede-Christene wat daar naby gewoon het, het bedags ingekom om te help met die produksie van Die Wagtoring in plaaslike tale.
Christenvroue wat daar naby gewoon het, het ook met die werk gehelp. Hulle het onder andere die bladsye van die tydskrifte aanmekaar gestik. Ek het verskillende take verrig, onder meer proefleeswerk, vertaling, koerierdiens en die opstelling van verslae.
’n Verandering van toewysing
In 1964 is ek aangestel om as ’n reisende opsiener te dien, wat behels het dat ek ’n aantal gemeentes van die Getuies gereeld besoek het om hulle geestelik te versterk. Dit was vir my ’n baie spesiale diensvoorreg. Ek het meestal per bus of trein van die een gemeente na die volgende gereis. Om Getuies in kleiner dorpies te bereik, het ek dikwels per fiets of te voet gereis, soms deur modder wat enkeldiep was.
Maar daar was ook ligter oomblikke. ’n Christenbroer het my eenkeer met ’n perdekar na die volgende gemeente geneem. Terwyl ons op die hobbelrige grondpad gery het, het een van die kar se wiele losgekom en afgeval. Ons het albei op die grond beland. Terwyl ons in die stof gesit en na die perd opgekyk het, het dit vir ons gelyk of hy ons met groot oë verbaas aanstaar. Ons het jare later nog steeds daaroor gelag. Ek sal nooit vergeet hoeveel vreugde die ongeveinsde liefde van daardie dierbare broers op die platteland my verskaf het nie.
In die dorp Novi Sad het ek Marika, wat as ’n pionier gedien het, leer ken. Haar liefde vir Bybelwaarheid en haar ywer in die bediening het my so beïndruk dat ek met haar wou trou. ’n Ruk nadat ons getroud is, het ons die gemeentes saam in die reisende werk begin besoek.
Tydens die verbod het my familie ook ontberinge deurgemaak. My pa is valslik daarvan beskuldig dat hy gedurende die oorlog met die vyand geheul het en het sy werk verloor. Hy het ’n lang en vergeefse stryd gevoer om dit terug te kry en was gevolglik baie mismoedig. Sy geloof het ’n tyd lank verswak, maar voor sy dood was hy weer sterk in die geloof. Hy was bedrywig in sy gemeente toe hy in 1984 oorlede is. My nederige, getroue ma is vroeër oorlede, in 1965. Majda dien nog steeds in die gemeente in Maribor.
Ons diens in Oostenryk
In 1972 is ek en Marika genooi om na Oostenryk te gaan om vir die talle Joego-Slawiese immigrante wat daar gewerk het, te getuig. Toe ons in Wene, die hoofstad, aangekom het, het ons geen idee gehad dat dit ons permanente toewysing sou word nie. Nuwe gemeentes en groepe wat die tale praat wat in Joego-Slawië gebruik word, is mettertyd oor die hele Oostenryk gestig.
Ná verloop van tyd het ek as ’n reisende opsiener begin dien en die toenemende aantal anderstalige gemeentes en groepe regdeur die land besoek. Later is ons genooi om hierdie besoeke ook in Duitsland en Switserland te doen, waar soortgelyke gemeentes gestig is. Ek het gehelp om baie byeenkomste en streekbyeenkomste in hierdie lande te organiseer.
Soms het lede van die Bestuursliggaam hierdie groot streekbyeenkomste besoek, en ek het Martin Poetzinger weer ontmoet. Ons het gesels oor gebeure van omtrent 40 jaar vroeër toe hy ’n gereelde besoeker aan ons huis was. Ek het hom gevra: “Onthou jy nog hoe baie ek daarvan gehou het om deur jou klein ensiklopedie te blaai?”
“Wag so bietjie”, het hy gesê terwyl hy by die vertrek uitgestap het. Hy het met die boek teruggekom en dit vir my gegee. “Neem dit as ’n geskenk van ’n vriend”, het hy gesê. Die boek het nog steeds ’n spesiale plekkie in my biblioteek.
Gesondheidsprobleme —maar nog bedrywig
In 1983 is ek met kanker gediagnoseer. Nie lank daarna nie is daar vir my gesê dat my toestand terminaal is. Dit was ’n stresvolle tyd, veral vir Marika, maar danksy haar liefdevolle sorg en die praktiese hulp van baie Christenbroers geniet ek nog steeds ’n ryk en vol lewe.
Ek en Marika is nou nog in die voltydse bediening in Wene. Ek gaan meestal in die oggend na ons takkantoor toe en doen vertaalwerk, en Marika neem deel aan die predikingswerk in die stad. Dit verskaf my groot vreugde om te sien hoe die klein groepie Joego-Slawiese immigrante in Oostenryk wat Getuies geword het, tot ver oor die 1 300 toegeneem het. Ek en Marika het baie van hulle gehelp om Bybelwaarheid te leer.
In onlangse jare het ek die voorreg gehad om ’n aandeel te hê aan die toewydingsprogramme van nuwe takfasiliteite in voormalige republieke van Joego-Slawië—een in Kroasië in 1999 en ’n ander in Slowenië in 2006. Ek is een van die oues van dae wat gevra is om te vertel hoe die predikingswerk sowat 70 jaar gelede in hierdie lande begin het.
Jehovah is inderdaad ’n liefdevolle Vader wat bereid is om ons tekortkominge en foute ruimhartig te vergewe. Hoe dankbaar is ek tog dat hy nie op oortredings ag gee nie! (Psalm 130:3). Hy was beslis goed en barmhartig teenoor my.
[Voetnote]
a Slowenië was destyds een van die ses republieke waaruit Joego-Slawië bestaan het.
b Vir die skriftuurlike redes waarom Jehovah se Getuies weier om aan oorlog deel te neem, sien die artikel “Ons lesers vra” op bladsy 22 van hierdie tydskrif.
[Prent op bladsy 27]
Van links na regs: My ouers, Berta en Franz Moc̆nik, Majda en ek, in die 1940’s in Maribor, Slowenië
[Prent op bladsy 29]
Saam met my vrou, Marika